Ena Murray Omnibus 26. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
aarsel en knik dan. Sy het haar tyd verspeel. Die etensklok het seker al gelui.
“Jy loop en dink diep,” merk hy op toe hulle wegtrek en gee haar ’n lang kyk waarin sy egte verlange kan lees.
Sy draai haar oë weg, en wonder of hy weet van die behandeling op sy vrou.
“Anmar, kan ek vanaand weer ’n paar oomblikke kom inloer?”
Sy sug saggies. “Hoekom, Clive?”
“Jy weet hoekom.”
“Clive . . .”
Hulle hou voor die hospitaal stil en hy sit sy hand vinnig oor hare. “Asseblief, Anmar. Ek sal niks eis nie. Ek vra net om ’n paar oomblikke in jou teenwoordigheid te wees. Ek sal niks sê of doen wat jy nie wil hê nie, maar ek wil net ’n paar minute by jou wees, asseblief!”
Sy kyk hulpeloos, magteloos terug in die pleitende oë. O, as Clive ook net van gister wil afskeid neem! Haar blik dwaal weer weg. Maar kan sy hom kwalik neem? vra sy haarself af terwyl die beeld van Louise voor haar verskyn. Clive is ’n man, ’n swak man. Terwyl hy gesweer het dat hy haar en haar alleen liefhet, het hy by ’n ander meisie geslaap, te swak om die versoeking te weerstaan.
As Louise weer verleidelik kan word . . . Duideliker as tevore weet Anmar dat Louise gesond gemaak moet word, dat sy weer die ou Louise móét word – ’n vrou wat Clive kan verlei. Nie net ter wille van Clive en haarself nie, maar ook ter wille van háár, Anmar. Clive gaan ’n probleem word vir haar.
“Naand, Clive, matrone.”
Sy ruk soos sy skrik toe sy stem langs haar by die motorvenster opklink en ’n skuldige blos vlek openlik oor haar wange. Sy klim uit toe hy die deur vir haar oophou terwyl sy onthou dat sy sy aanbod van die hand gewys het om haar hospitaal toe te bring. En hier betrap hy haar in Clive se motor . . . Sy hoef nie eens in sy oë op te kyk om te weet wat hy dink nie. Sy het dit klaar in sy stem en die formele aanspreekvorm gehoor.
“Ek wil jou graag ’n oomblik spreek, matrone.”
Sy weet sy kan sê dat sy reeds laat is vir ete, maar sy laat dit daar. Dit sal nie help nie. Die een of ander tyd sal sy wel verantwoording moet doen.
In haar kantoor vou sy haar hande styf inmekaar en wag woordeloos.
“Het jy hom vertel dat jy vandag met Louise se behandeling begin het?”
“Nee.” Sy bloos weer skuldig. Sy kan in sy oë lees wat hy dink. Dis die belangrikste gebeurtenis van die dag, maar sy en Clive het nie daaroor gesels nie. Dit klink vreemd, haas ongelooflik dat hulle nie daaroor sou praat nie, maar hulle het nie. Sy sien sy mond trek. Opstandig verweer sy haarself: “Dis nie soos wat jy dink nie, Paul. Ek het gaan stap, die rant uitgeklim, en toe ek terugkom, het hy by my in die straat stilgehou en aangebied om my terug te bring. Ek het die aanbod aanvaar, omdat ek besef het dat ek my tyd verspeel het en laat gaan wees vir ete. Dis al.”
“Dis nie al nie, Anmar. Vir wie probeer jy bluf? Die hele ent pad sit julle swyend langs mekaar en praat nie ’n woord nie. Nie oor Louise nie en ook nie oor julleself nie?”
Sy sprei haar hande oop en hy vervolg ná ’n oomblik: “Ek is nietemin bly dat julle nie oor Louise gepraat het nie. Ek het hom nog nie vertel dat ek weer met haar behandeling gaan begin nie en beslis nie dat jý betrokke is nie, Anmar. Ek maak groot erns hiermee en ek wil nie ’n lastige, verliefde man om jou hê wanneer jy met haar besig is nie.”
“Paul . . .”
“Ons laat dit daar, matrone. Ons weet albei wat is wat. En onthou wat ek gesê het. Ek sal dit nie duld dat jy Clive se gevoel verder aanblaas nie. Jy bly in die toekoms weg van my neef af. Moet my nie dwing om drasties op te tree nie. En as ek sê drasties, bedoel ek presies net dit. Ek het jou reeds gesê – ek is nie Clive Coertze wat een ding sê en die ander ding bedoel en doen nie. As dit nie anders kan nie, beledig jy hom en jak hom af as hy weer toenadering soek. Ek wil hom nie weer in jou woonstel sien of vir jou saam met hom in sy motor nie. Verstaan ons mekaar duidelik?”
Anmar is bleek van woede. Die insinuasies alleen is genoeg om haar alle selfbeheer te laat verloor. Hoe durf hy voorgee dat sy ’n goedkoop slet is wat daarop uit is om getroude mans doelbewus te verlei?
“Dokter Van Drüten, ek dink jy oorskry jou perke. Ek sal my nie so laat beledig nie.”
“Dan moet jy my nie rede gee nie, matrone.” ’n Oomblik kleef hul oë aan mekaar, dan sê hy kortaf terwyl hy self plaasneem: “Sit. Daar is nog ’n sakie wat ek met jou wil bespreek.”
Sy gehoorsaam werktuiglik, soos wat sy in die gewoonte verval het om te doen.
“Ek beoog om ’n groot fondsinsameling te hou. Die kollektelyste wat jaar na jaar uitgestuur word, is nie genoeg nie. Ek wil vanjaar baie meer geld insamel, want ons het baie dingetjies nodig en op die staat kan ’n mens nie vir ewig wag nie. Ek beoog ’n hele Saterdag met boeresport en vleisbraai deur die dag en die aand ’n groot dans. Dit gaan baie harde werk kos, maar ek dink dit sal die moeite werd wees. Ek het jou en die res van jou personeel se volle samewerking nodig. Ons sal natuurlik alles self moet doen, behalwe vir ’n paar buitestanders wat my reeds hulp aangebied het. Wel?”
Sy sit en kyk hom net aan, aan die een kant siedend van woede, aan die ander kant amper hulpeloos. Dis net soos Paul van Drüten is. Hy vra kastig haar opinie, maar eintlik is dit maar net ’n bevel. Hy vra nie werklik haar samewerking nie. Hy sê net sy en haar personeel sal moet werk dat dit klap. Hy vra nie of dit vir haar en haar personeel moontlik sal wees nie, want hy het klaar besluit dat dit moontlik sal wees en hy het reeds met buitestanders gepraat nog voordat hy enigiets met háár as matrone bespreek het.
Op haar styfste en ontegemoetkomendste sê sy: “Dokter, u weet self dat ons ’n tekort aan personeel het. Ek voel regtig nie dat ek nog meer van my personeel kan verwag as wat hulle reeds doen nie.”
“Maar hulle gee nie om nie, matrone. Tewens, die paar met wie ek reeds gepraat het, is vuur en vlam. Hulle het my hul heelhartige steun belowe.”
Anmar voel hoe die styfgespanne draad in haar dwing om mee te gee. Hy het haar weer voorgespring, soos altyd. Die matrone is blykbaar die laaste persoon om van sy planne te hoor. Ag, dis so futiel om hierdie man te probeer teenstaan, besluit sy moedeloos. Hy laat hom net nie keer nie, die minste deur haar.
“In daardie geval het ek mos geen sê nie, dokter. Hoekom nog my verlof vra?”
“Ek vra nie jou verlof nie, matrone. Ek vra jou samewerking.”
Anmar is in stryd met haarself. Sy het dadelik besef dat hy ’n wonderlike idee beethet, maar die manier waarop hy te werk gaan, steek haar dwars in die krop. Koppig hou sy dus vol: “Ek is nie juis een om sosiale funksies te organiseer nie.”
“Ek neem self die grootste deel van die organisasie op my, en suster Dreyer sal my help. Ek het egter gedink om jou te vra om die saal te versier vir die dansparty.”
Anmar ontwyk sy oë. Natuurlik kon sy geweet het dat suster Dreyer ’n prominente plek langs hom in hierdie saak sou inneem.
“Wel, matrone?”
Sy kyk onwillig op. Sy wens sy kon haar liewer heeltemal losmaak van die besigheid. Haar gemoedstoestand is nie nou reg vir jolyt en vrolikheid nie. Sy het in haar lewe nog nooit minder lus gevoel vir dans en danssale versier nie.
“Ek . . . ek weet nie juis van sulke goed af nie.”
“Dan verstaan ons mekaar, matrone. Ek aanvaar dat jy vir die saal verantwoordelik is.” Hy staan op en stap deur toe. “Jy moet maar dadelik aan die werk spring. Daar is skaars drie weke oor. Jy sal dus maar min tyd hê vir ander dinge. Goeienaand.”
Sy sit nog so doodstil agter haar lessenaar toe Clive by die deur inloer en dan binnestap.
“Ek het gewonder of jy nog hier is . . . Anmar, kom eet saam met my vanaand, asseblief? Ons kan uitry na die vakansieplaas . . .”
“Nee, Clive. Jou vrou wag vir jou by die