Ena Murray Omnibus 21. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
Omnibus 21
Ena Murrya
Ena Murray se 21ste omnibus, waarin drie van haar gewildste stories byeengebring is, bied ’n leesavontuur propvol liefdesintriges en heerlike hospitaalhumor.
Señor die seerower
Toe verpleegsuster Andrea Smit ’n allemintige bedrag in ’n blokraaiselwedstryd wen, het sy nooit kon droom hoe ingrypend dit haar lewe sou verander nie. Sy was aanvanklik vas van plan om met haar beroep voort te gaan, maar toe haar kollegas bly lol om geld te wil leen, raak die hospitaal vir haar te klein.
Toe haar swerwerpa kort daarna op haar drumpel verskyn en haar nooi om hom op een van sy avontuurtogte te vergesel, willig sy in – min wetende dat haar pad op ’n tropiese eiland met dié van ’n aantreklike Spanjaard sal kruis; dat sy ’n skynverhouding met hom sal aanknoop en sodoende in allerhande onmoontlike situasies sal beland . . .
Die vreemde weë waarop geld, die sug na roem en veral die liefde ’n mens se lewe kan lei, is die tema van hierdie lekkerleesverhaal.
Junior in saal 7
Leerlingverpleegster Louwrinda Kemp is siek en sat van haar manmal kollegas se aanhoudende geterg omdat sy nie ’n vaste kêrel het nie. Sy besluit om hul monde eens en vir altyd te snoer – met ’n foto van Oumatjie se kleinseun wat sy aan hulle voorhou as haar sleep wat in die buiteland studeer. Toe die mooie man op die foto egter kort daarna in lewende lywe voor haar staan as die nuwe professor in verloskunde, weet sy nie hoe om haar uit dié benarde situasie te wikkel nie.
Binne ’n dag versprei die nuus soos ’n veldbrand deur die groot stadshospitaal dat die junior in saal 7 ’n verhouding het met die uiters aantreklike professor Len Landman. Hoe Louwrinda ook al die vlamme probeer doodslaan, dit help alles niks. En kort voor lank besef sy dat daar ’n ander soort vuur haar binneste begin brand het . . .
Junior in saal 7 is ’n speelse hospitaalroman vol heerlike komiese momente.
Kaalvoet Katryntjie
Katryn Klem sou ná haar pa se dood veel eerder saam met die klein haasbek Poens op Skaars-van-als verhongerde katte en honde wou vet voer, afpoot-duiwe vertroetel en meerkatte uit slagysters red, maar haar hovaardige voog, Festus Dumas, het ander planne. Met die intrapslag dring hy daarop aan dat sy by hom in sy deftige stadshuis moet kom bly – want, meen hy, dié kaalvoet mensie wat nie ’n dag ouer as sestien lyk nie, het vaderlike toesig nodig.
Sommer vir die grap laat Katryn toe dat Festus dink sy is ’n blote kind. Maar dié grap boemerang sodat sy later glad nie meer kan erken dat sy nie ’n giggelende tiener is nie, maar ’n gekwalifiseerde verpleegster van twintig. Sy moet die rol van kaalvoet Katryn bly speel, en met ’n hart wat pyn van haar onverklaarde liefde, moet sy toekyk hoe die listige Shirley Rossouw haar voog probeer verlei . . .
Kaalvoet Katryntjie is ’n verhaal wat mens plek-plek laat skater, maar wat die leser ook diep sal laat nadink oor die dinge wat werklik waarde het in die lewe.
Ena Murray is op die klein Karoodorpie Loxton gebore, die middelste van drie dogters. Haar pa was die plaaslike geneesheer, en dis hier waar haar groot belangstelling in die geneeskunde ontstaan het. Verskeie van haar verhale het dan ook ’n hospitaal as milieu. Deesdae woon sy op Mosselbaai saam met haar man, Jacques.
Inhoud
Junior in saal 7
Kaalvoet Katryntjie
1
__
“Dis nie waar nie! Dis nie wáár nie!”
Sy praat hardop met haarself, staar na die telegram in haar hand. “Dis nie waar nie!” sê sy weer. Tog . . . sy lees: “Geluk. U is die enigste wenner van ons groot blokraaisel. U kan u tjek en driehonderd en vyftig duisend rand by ons kantoor in die stad kom afhaal.”
Dis nie waar nie! Maar haar ore, oë én tong kan nie al drie verkeerd wees nie. Sy het die blokraaiselwedstryd in die Sondagkoerant gewen! Sy het . . . driehonderd en vyftig duisend rand gewen!
Haar knieë gee onder haar mee. ’n Oomblik lank voel dit vir haar haar hart het ook meegegee. Dis . . . ’n fortuin! En dis hare! Alles, álles hare! Sy moet dit net gaan haal! ’n Hele, ronde driehonderd en vyftig duisend rand . . . en dis waar!
Die volgende middag, terug in haar woonstel in die verpleegsterstehuis van die hospitaal, is dit weer eens asof haar verstand dit nie wil aanvaar nie. Tog, hier lê dit voor haar: die tjek. Dis ’n astronomiese bedrag vir ’n doodgewone hospitaalsuster met geen ryk ouers of familie of selfs ’n hoop op ’n groot erfporsie nie. En sy weet nie wat om daarmee te maak nie! Dit is wat gebeur wanneer die werklikheid die droom vervang. Natuurlik het sy al soos elke normale mens soms gewens dat sy baie geld moet hê, en dan sou sy dít en dít en wat nog alles daarmee doen. En noudat sy so onverwags daardie duisende gekry het, voel sy hulpeloos en magteloos en denkeloos. Sy het nie ’n benul wat om met so ’n spul geld te maak nie!
Sy kan gaan klere koop, dink sy half verdwaas. Al die skeppings en uitrustings wat sy nog altyd net in tydskrifte kon bewonder. Maar al kom die rokke in haar kas wel uit afdelingswinkels, makeer hulle nog niks nie. Vir ’n meisie wat van kleins af weet wat meet en pas is, is dit ondenkbaar dat sy ’n nog heel bruikbare rok sal weggooi net om ’n peperduur een in sy plek te hang. En wanneer en waarheen wil sy nou so danig die nuwe, peperduur klere dra? Die grootste deel van die dag is sy in ’n uniform. Die bietjie wat sy uitgaan, gaan sekerlik nie daardie koste werd wees nie.
Wat nou gemaak? Die geld belê? Waar? Sy het ’n paar rand in ’n spaarrekening. Sy probeer elke maand ’n paar rand wegsit . . . totdat liewe Pa weer op ’n dag uit die bloute verskyn en met alles wegloop. Haar mond trek wrang. As haar pa hiérvan uitvind . . . Sy lag humorloos. Hy sal hom verbeel hy sal die aarde se skatte daarmee kan opdiep!
Sy sug saggies. Haar arme pa. Die pa wat ná soveel jare van rondswerf oor die aardbol steeds glo dat hy eendag, ééndag, die roem en rykdom gaan vind waarna hy sy lewe lank nog soek. Liewe, goeie, goedige Pa met sy seunsglimlag en verleë oë kry dit klokslag reg om haar swaarverdiende spaargeldjies uit haar te trek vir nog ’n projek wat sy vooraf weet ewe nutteloos en resultaatloos as al die voriges gaan wees.
Sy hoor hom al: “Hierdie bewyse is onomstootlik. Help my nog net hierdie één keer. As ek dit kry, sal ek jou dubbel en dwars vergoed. Ons gaan skatryk wees!”
En dan sal sy met ’n sinkende gevoel in haar hart sê: “Pa het dit laas ook gesê. Én die keer voor dit. Onthou Pa? Pa was laas honderd persent seker Pa gaan die ou Egiptiese graf met al die skatte ontdek wat ons skatryk sou maak!”
“Ek weet, Andreatjie, maar . . .”
“Maar dit het nog nie één keer geslaag nie, Pa. Elke keer loop Pa se soektog na roem en rykdom êrens op die aardbol op ’n ronde nul uit.”
“Ek weet, Dreatjie, maar hiérdie keer . . .”
“Nee, Pa. Ook hiérdie keer gaan dit misluk. Hoekom gaan werk Pa nie liewer nie? Vergeet van roem en rykdom. Soek vaste werk en voer ’n eerbare bestaan, eerder as om . . . as om agter wind aan te hardloop. Asseblief, Pa!”
Sy besef sy loop die toekoms vooruit, maar sy het al so baie soortgelyke gesprekke met haar pa gehad dat sy haarself nie kan keer om die prentjie in haar gedagte te voltooi nie: Sy sal redelikheid en regverdigheid aan haar kant hê, maar haar pa sal haar weer, sonder om ’n woord te sê, laat voel sy laat hom in die steek. Soos altyd sal hy opstaan, sy hande op sy kenmerkend hulpelose, half verlore manier swaai, en net sê: “Dis dan maar goed, Andreatjie. Pa sal nie weer lastig wees nie.”
Dan weet sy sy het klaar verloor. “Waarheen gaan Pa nou? Wat gaan Pa nou doen?”
“Nee, ek sal maar sien, my kind. Moenie jou oor Pa bekommer nie. Pa sal regkom.”
En sonder verdere betoog, sal sy die handdoek ingooi. “Hoeveel het