Ena Murray Omnibus 21. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
. . .? Ag, Pa!”
“Nee regtig, Andrea!”
“Nee regtig, Pa! Kinders glo aan seerowers!”
“Seerowers het werklik bestaan, my kind. Dis nie stories nie. Dis historiese feite.”
“Dit weet ek, Pa. Maar hul kamtige skatte . . .”
“. . . is meeste nog soek. En Kokos is dié eiland in die Stille Oseaan waar dit versteek kon gewees het. Trouens, die eiland is bekend daarvoor.”
“Dat dit vol versteekte seerowerskatte is? En as dit so is, dink Pa Pa is die eerste een wat daarna gaan soek? Gebruik tog Pa se verstand, asseblief!”
Teësinnig erken hy: “Daar is al baie op die eiland gedolwe, maar niemand het nog die skatte gekry nie.”
“Maar Pá gaan die gelukkige een wees. Ai, Pa, ek weet nie . . . Wanneer kom Pa eendag tot ruste?”
“Maar, my kind, as ’n mens nie soek nie, sal jy nie vind nie. ’n Mens kan nie verwag dinge moet in jou skoot val nie. Jy moet van jou kant af iets daaromtrent dóén.”
Dit is ook waar. Die afgelope week het een van haar kollegas haar verkwalik dat sy die prys gewen het. Sy het sommer bitsig vertel dat sy haar blokraaisel presies net soos Andrea s’n gehad het, maar dat sy dit toe nie ingestuur het nie. Dis soos Pa sê: ’n Mens kan nie verwag om te wen met ’n blokraaisel wat jy nie instuur nie. Maar seerowerskatte soek, is iets anders . . . Of is dit? Sy frons. Sy verkwalik nou haar pa omdat hy na skatte wil gaan soek waar honderde ander voor hom dit nie kon gevind het nie. Maar was haar blokraaisel anders? Sy het saam met duisende ander haar raaisel ingevul en gepos, wetende hoe skraal die kans was om te wen. Tog het sy dit gedoen . . . en gewen! Sy kyk op.
“Hoeveel het Pa hierdie keer nodig?” Hulle kan net sowel ophou skerm.
Tot haar algehele verbasing skud hy die kop ontkennend. “Nee, ek het nie kom geld vra nie . . .”
Sy vererg haar bloedig; sy het ’n moeilike week agter die rug. “Nou wat hét Pa dan hier kom doen?”
Hy frons liggies. “Ek het jou gesê ek het na jou verlang. Ek wou jou net weer ’n slag sien . . .”
“En geld vra. Pa, moenie draaie loop nie. Pa verlang na my wanneer Pa geld nodig het. Dit was nog altyd so. Moenie stry nie!”
Hy maak sy kenmerkende gebaartjie met die hande. “Ja, my kind, ek weet dit is so. Ek het nog elke keer by jou kom geld bedel. Maar my verlange na jou is eg. Of jy dit wil glo of nie. Ek is ’n slegte pa. Ek weet dit. Maar ek het jou opreg lief. Jy is my kind.”
Sy sluit haar oë. Nou laat hy haar weer gemeen voel! “Jammer, Pa. Ek wou Pa nie seermaak nie, maar . . . ek hou nie van valsheid nie.”
“Valsheid?”
“Ja, Pa. Ons weet albei dat dit nie so toevallig is dat Pa hier opdaag ’n week nadat ek geld gewen het nie. Pa het daarvan gehoor en . . .” Sy frons kwaai. “Pa! Moet dit nie ontken nie! Pa weet ek het driehonderd en vyftig duisend rand gewen!”
Stilte. Volslae verbystering op sy gesig.
Sy sluk. Dan kan hy nog toneelspeel ook! O, Pa!
“Dreatjie!”
“Hoeveel wou Pa daarvan gehad het?”
Dis sy beurt om te sluk. Dis . . . so goed soos ’n seerowerskat! Of byna . . .
“Nie ’n sent nie, my kind, dankie. Dankie vir die aanbod, maar Pa wil nie een sent van jou geldjies hê nie.”
Geldjies! Die teësinnige deernis begin weer die oorhand oor haar kry. Arme Pa! Sy lewe lank dwaal hy oor die aardbol rond, en hier vul sy dogter in haar beknopte kamertjie net ’n simpele blokraaisel in en sý kry die skat! Dis nie regverdig nie!
“Pa, ek wíl vir Pa daarvan gee. Ek is jammer ek was lelik. My senuwees is gedaan. Al wat mens is, wil deesdae óf by my geld leen óf met my trou. Ek sal Pa die helfte gee,” bied sy rojaal aan. “Maar, Pa, dan moet Pa belowe dat Pa nou sal ophou ronddwaal. Kom ons koop vir ons ’n huisie en Pa bly tuis.” Skielik voel haar hart seer. Foei tog, hy het oud geword die afgelope maande. “Asseblief, Pa!”
“Ai, my kind . . . wil jy dan nog hierdie ou sleg by jou hê?”
“Pa . . .”
Dan is sy in sy arms, huil sy vir die eerste keer sedert haar ma se dood teen haar pa se bors. Sy besef dat sy na hom verlang het, dat hy, met al sy foute en tekortkominge Pá is . . . Pa bly.
“Ons . . . ons het net vir mekaar, Pa. Asseblief! Moenie weer weggaan nie! Bly hier en laat ons vir ons ’n huisie koop. Asseblief, Pa.”
“My dogtertjie . . .” Hy druk haar teen hom vas, sy hart week. Skielik is daar trane in sy oë. Hy en sy Here alleen weet hoe skuldig hy voel teenoor hierdie dogter van hom. Sy sal hom nie glo nie, maar dit was elke keer baie swaar om van haar en haar ma, en later van haar alleen, weg te gaan. Op sy swerftogte oor die aardbol was hy altyd alleen. Daar was baie lang en eensame nagte waarin hy verskriklik verlang het. Tog kon hy homself nie keer nie. Die swerwersbloed vloei in sy are. Hy is gebore met ’n swerwersgees en die avontuurlus wou hom net nooit begewe nie, ten spyte van die herhaalde teleurstellings waarop alles telkens uitgeloop het. Hy was al op hóéveel skattejagte . . . sonder sukses.
Op hierdie oomblik besef hy dat die enigste en grootste skat wat hy ooit sal hê, sy dogter is. En sy smeek hom om nie weer weg te gaan nie. Sy pleit vir ’n huisie waar hulle saam kan gaan bly.
“Andrea, Pa belowe – en dis ’n waaragtige belofte – dat ek saam met jou in daardie huisie sal kom bly as jy my net nog hierdie één keer sal laat begaan. Ek het klaar my woord gegee, my kind. Maar dis hoekom ek jou gevra het om hierdie keer saam met my te gaan. Ons hóéf nie weer van mekaar geskei te wees nie. Jy sê jy het nou ’n bietjie geld. Ek kan ongelukkig nie aanbied om jou koste te betaal nie, maar as jy vir jouself kan betaal, kan jy saam met my kom. Jou lewe het in ’n sleur verval, my kind. Breek ’n bietjie weg terwyl jy nou die geld en die geleentheid het. Asseblief, Andrea!”
Sy staan terug en kyk hom onseker aan. Sy voorstel was aanvanklik net te vergesog om te oorweeg. Nou . . .
“Hoe lank sal Pa weg wees?”
“Dit kan ek nie sê nie. Jy weet hoe gaan dit met my skattejagte,” sê hy met ’n skewe glimlag.
Sy knik. Ja, sy weet. Dis onbepaald – totdat hy heilig oortuig is daar is niks te vinde waar hy soek nie. Dit kan maande lank duur.
“Maar wat van my werk?” wil sy weet.
“Bedank. Wanneer ons terugkeer, sal jy maklik weer werk kry. Daar is altyd ’n tekort aan opgeleide verpleegsusters.”
Dis ook waar. “Wanneer wou Pa gaan?”
“So gou moontlik.”
“Ek moet ’n maand kennis gee.”
“Gaan praat met die matrone. Sê sy kan maar die kennisgewingmaand se geld hou. Jy wil vier en twintig uur kennis gee.”
“So gou? Wat is die haas?”
“Netnou vind iemand anders Bonito se skat voordat ek daar kom!”
“Bonito? Wie’s dit?”
“Die seerower wie se skat ek gaan soek.”
Sy moet lag. Pa sal altyd Pa bly. “Is dit werklik so noodsaaklik dat Pa dit moet kry? Is driehonderd en vyftig duisend rand nie genoeg vir Pa en my nie?”
“Hoe sal ek nou sê, kindjie? Dis baie geld – maar ’n paar miljoen dollar is meer.”
Haar oë staan rond in haar kop. “Hoeveel?”
Haar pa knik. “Dis waarop die waarde van Bonito se skat geraam word. Ek sal natuurlik net ’n gedeelte daarvan kry, maar selfs ’n kwart sal baie miljoene werd wees. Dis seker nie te versmaai nie, of hoe, my kind?”