Ena Murray Omnibus 21. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
haarself moet erken dat sy teen die end haar Pa behoorlik gesoebat het om haar swaarverdiende spaargeldjies te neem. “Ek het ’n paar rand gespaar. Ek kan Pa daarmee help. Ek sal dit môre gaan trek . . .”
Die volgende middag sal die oorhandiging van die geld plaasvind en sy reaksie sal min of meer wees: “Ag nee, Andreatjie, Pa wil dit regtig nie hê nie. Pa sal ’n plan maak. Pa is al so diep in die skuld by jou, my kind . . .”
Sy is kwaad vir haarself oor die knop wat skielik in haar keel sit. Arme Pa. Ná soveel jare het hy nog steeds net drome. Wat was dit wat Ma eenkeer gesê het? ’n Mens wat nie meer drome het nie, het nie ’n rede om verder te leef nie.
Sy onthou daardie dag baie goed. Sy was in opstand soos so dikwels wanneer Pa sommer net verdwyn op die een of ander vergesogte skattejag, en Ma alleen agterbly om die pot aan die kook te hou en ’n kind alleen groot te maak.
“Maar wat van Má se drome?” het sy vurig gevra.
Haar ma het kalm geantwoord: “Ek het ook my droom, Andrea; Pa se drome kom net altyd eerste.”
“Wat ís Ma se droom?” wou sy weet.
Haar ma het met deernis geglimlag. “Jou pa droom van die dag wanneer hy op roem en rykdom kan aanspraak maak. Dit hou hom aan die gang; maak die lewe vir hom die moeite werd. En ek . . . ek droom van daardie dag wanneer Pa vir goed sal huis toe kom. Dit maak dit vir my die moeite werd om vir hom te wag . . .”
Sy was nog ’n kind en het natuurlik niks van hierdie grootmenswysheid verstaan nie. Sy weet nie of sy vandag al veel meer daarvan verstaan nie: Ma is dood voordat haar droom verwesenlik kon word terwyl Pa steeds voortdroom. En sy . . . sy het besluit: geen onbereikbare sterre vir haar nie; geen drome wat nie verwesenlik kan word nie. Sy het vir haar ’n loopbaan gekies, gesorg dat sy ’n vaste inkomste het en haar voete plat op die aarde gehou. Sy het selfs elke maand ’n paar rand weggesit vir haar oudag . . . en elke keer is Pa en sy drome met haar oudaggeld weg. Soos daardie laaste keer . . .
Sy het die geld voor hom neergesit en haarself hoor sê: “Neem dit maar, Pa. Pa kan maar regmaak wanneer . . . wanneer Pa eendag op die verlore skat afkom.”
Sy het gesien hoe sy oë ophelder en sy stem was pateties van dankbaarheid. En natuurlik het die belofte nie uitgebly nie. “Hierdie keer, my kind . . . hiérdie keer sal jy sien . . . Pa kom terug met sakke vol geld!”
“Ja, Pa.”
Eers toe hy weg is, het sy daaraan gedink dat sy hom nie eens gevra het waar hy hierdie keer na sy aardse rykdom sou gaan soek nie. Dalk was dit hierdie keer die ark op die berg Ararat. Sy het meewarig geglimlag.
Sy doen dit nou weer. As Pa moet weet sy het so ’n kolossale bedrag geld gewen, sal hy na ’n seerowerskat op die maan wil gaan soek! Nee, Pa mag hiervan niks weet nie.
Maar hoe om die nuus nie wêreldkundig te maak nie, is ’n ander kwessie. Natuurlik word die gelukkige wenner in die Sondagkoerant aangekondig, met foto en stamboek – de lot. Natuurlik word sy deur die hele land beny, deur almal wat jaar in en jaar uit daardie verdekselse blokraaisel invul en nog geen sent gewen het nie, en ook deur diegene wat nog nooit in hul lewens ’n enkele blokraaisel ingevul het nie.
En natuurlik is die hospitaal Maandagoggend op horings toe suster Andrea Smit soos gewoonlik aan diens kom.
Net asof ek in die nag sou wegloop met my geld, dink sy amper ergerlik toe sy die mense se verbasing sien. Natuurlik wil almal grappenderwys so ’n ietsie leen, maar sy is ook nie seker nie. Sy het ’n spesmaas dat sy meer as een tranerige storie sal moet aanhoor.
“Jy gaan seker dadelik ophou met werk, nè?” wil ’n kollega met openlike afguns weet.
“Hoekom sal ek? Ek kan tog nie heeldag met my tone sit en speel nie?”
“O, maar daar is sóveel om te doen! As dit ék was, het ek vier en twintig uur kennis gegee, ’n tas gepak en die wêreld ingevaar . . . O, as jy nie weet wat om daarmee te doen nie, kan jy dit gerus aangee, suster! Ek sal wel weet!”
Aan die einde van die dag is sy behoorlik siek en sat van haar aardse skat. Toe sy haar kamerdeur oopsluit, lê daar nie minder nie as ses visitekaartjies onder haar deur ingestoot. Almal van beleggingsmaatskappye wat haar verseker hulle weet presies waar en hoe sy haar groot prys kan belê. Dank die gode sy het nie ’n telefoon nie, anders was sy seker al skoon gek.
Teen Vrydag verlang sy hartlik terug na haar arm dae. Haar ontnugtering met rykdom is groot. Soos haar gewildheid die afgelope week toegeneem het, is net ongelooflik. Sy begin voel soos ’n bankoutomaat op ’n straathoek: Almal wil ’n ou geldjie leen. Van tien tot tienduisend rand! Al manier om hieruit los te kom, is om blatant ’n leuen te vertel: Sy het nog nie die geld gekry nie. Ook onder haar mansvriende is sy skielik hoog in aanvraag. Almal wil haar geluk vier – op háár koste natuurlik. En saans kruip sy soos ’n haas in ’n gat in haar donker woonplek weg en weier om op die kloppe aan haar deur te reageer, bevrees dat dit daardie een dokter is wat haar nog nooit raakgesien het nie, maar sedert verlede Sondag se koerant verskyn het, suster Andrea Smit net nie genoeg kan prys en vlei nie. Ag nee, besluit sy, dis niks lekker om ryk te wees nie.
Al wat nou nog moet gebeur, is dat Pa ook hier moet aankom . . .
En dit is presies wat gebeur.
Dit is Pa in lewende lywe wat die volgende middag voor haar staan toe sy haar woonsteldeur oopruk en effens onvriendelik losbars: “Kyk, dis my dag vry en ek wil nie gesteur . . . O. Dis Pa.”
“Dag, Andreatjie.”
Sy kyk hom opsommend aan. Pa sal selfs op die berg Ararat van sy dogter se groot geluk verneem! “Dag, Pa.” Dan droog: “Waar kom Pa so gou vandaan?”
Hy lyk verleë. “Ek het verlang na jou, Dreatjie. Toe kom ek maar terug.”
Sy draai haar om. Haar pa verlang altyd na sy dogtertjie wanneer sy fondse uitgeput is. Sy vra nie eens hoe dit met die laaste skattejag gegaan het nie. Sy weet.
“Kom binne, Pa,” nooi sy.
“Hoe gaan dit met jou, my kind?”
Asof hy nie weet nie! “Goed dankie, Pa. Hoe gaan dit met Pa?”
“So-so, my kind. Ek begin voel ek word nie jonger nie.”
“Dan het Pa nou besluit om by die huis te bly?” Die “huis” sal nog gekoop moet word. Pa het nog nooit sy eie huis besit nie.
“Nee, ek voel darem nog nie só gedaan nie! Ek het besluit ek sal nog een keer . . . e . . .”
Haar mondhoeke smaal effens. “Skatte gaan jag?”
Hy lag sy verleë seunslaggie. “Ja. Dis soos jy dit altyd noem, nè? Ja, ek is eintlik al weer op pad na . . .”
Sy hoor hom nie uit nie: Net eers ’n draai by sy ryk dogter kom maak! Sy voel sommer lus en gaan koop vir haar ’n eiland en gaan bly alleen daar sodat niemand haar ooit weer sal kry nie.
“. . . en toe het ek gewonder of jy nie lus voel om hierdie keer sáám met my te gaan nie.”
Hy het nou weer haar volle aandag. “Saam waarheen?”
“Na Kokos toe. Ek het jou dan pas vertel . . .”
“Kokos? Watse plek is dit?”
“Maar ek het mos gesê dis ’n eiland . . .”
“’n Eiland!” Nou toe nou! “Is dit te koop?”
Dries Smit frons en kyk sy dogter ondersoekend aan. Dreatjie is regtig half snaaks vandag. “Nee, natuurlik nie. Hoekom vra jy so ’n vraag?”
Sy sug en dis nou haar beurt om effens verleë te lyk. Sy is klaar besig om gek te word. “Jammer. Dit was ’n flou grappie. Waar is die eiland en wat gaan Pa hierdie keer soek?”
“Die eiland is in die Stille Oseaan aan die oostelike kant van Costa Rica.”
Sy speur in haar gedagtes rond. “Waar lê Costa Rica?”