Ena Murray Omnibus 33. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
jy geen behoefte aan ’n ander nie. Dis die moeite werd om dit op die proef te stel, Vegter. Kom sluit by Jesus se bende aan en oortuig jouself.”
Sy mond smaal. “Wil jy my nou regtig probeer wysmaak as ek vanaand Jesus se gang join, sal die res van my lewe net maanskyn en rose wees?”
“Nee. Só maklik is dit nie. Soos julle Bats jul boek van reëls het, het Jesus syne. Maar hoe kan jy weet dat jy nie te vinde vir Jesus se gang is as jy nie eers sy boek wil lees nie? Kom saam, Vegter, en laat ons jou vertel wat daarin staan. As jy dan regtig nog voel jy wil liewer ’n lid van die Vlermuise bly … Maar gee ons eers ’n kans, sal jy? Gee Jesus ’n kans.”
Daar is meteens ’n vreemde onrus in hom, ’n gevoel asof hy deur hierdie meisietjie in ’n hoek vasgekeer word. Die uitdaging is baie reguit gestel. Hy begin retireer, sy houding skielik aggressief.
“Los my uit! Jy mors jou tyd en myne. Ek wil niks anders wees as wat ek is nie. Ek …”
“Jy jok, Vegter.”
“Na die duiwel met jou, vroumens! Los my uit!”
Met lang, woedende treë stap hy weg. Hoekom het hy in die eerste plek toegelaat dat hulle in ’n woordewisseling betrokke raak? Vegter was nog nooit te vinde vir die straatwerkers se gepreek nie. Hulle weet dit ook, los hom uit. En nou kom hierdie snip van ’n meisiekind – hy wonder of sy al twintig is – en daag hom uit … sê hy is bang … bang om Jesus se boek te lees … bang om Jesus se gang te join …
Hy is in ’n slegte bui toe hy by die ander lede van die bende kom. Hy is ook nie tevrede met die voorstel vir vannag se bedrywighede nie. Waarom sal hy deel hê aan ’n inbraak wat hulle miskien ’n paar honderd rand of meer in die sak sal bring en die risiko loop dat hulle gevang word, en dalk ’n paar jaar hardepad kry? Dit terwyl hy binnekort duisende sal hê? Maar dit kan hy hulle nie vertel nie. Wat hy binnekort gaan kry, gaan sy persoonlike eiendom wees. Hy het klaar besluit. Sodra hy die rykste man in die land klaar afgepers het, gaan hy padgee en nie eens The Bats sal hom kry nie. Hy sal genoeg hê om ver genoeg weg te vlug – waar niemand hom kan opspoor nie. Want hy is moeg vir hierdie soort lewe …
’n Gesiggie verskyn voor hom; stemme sê: Ek wil niks anders wees as wat ek is nie! Jy jok, Vegter. Jy jok …
Ja, hy het gelieg. Hy ís moeg van hierdie soort lewe. Vannag veral is hy siek en sat daarvan. Elke nag kan die laaste wees. Jy weet nooit of jy die son môre sal sien opkom nie. Dalk nog agter tralies … En dis baie jare wat wag as hy weer gevang word …
“Wat makeer jou?”
Hy ruk sy gedagtes terug. “Hoekom?”
“Jy sê niks. Chicken?”
“Luister, jou …”
“Los!” Die bendeleier tree tussenbeide. Maar terselfdertyd gaan sy blik speurend oor Vegter. “Jy was eergisteraand ook teësinnig. Daar skort iets met jou.”
“Daar skort niks.”
“Dan gaan jy saam?”
Vegter aarsel, erken dan reguit: “Ek het nie lus om vanaand ’n move te gaan trek nie.”
“O, ek sien.” Die eerste bendelid kom nader, dik gerook van die dagga, en kyk Vegter vas in die oë. “As ons vannag gevang word, wag daar vir jou ’n carry on, dis ’n promise.”
“Wil jy sê ek sal my eie bende verraai?”
“Stop it!” Weer moet die bendeleier intree, maar ook sý stem is waarskuwend: “Daar is nie plek vir softies in The Bats nie. Jy moet jou regruk óf … Kom, manne. Daar’s werk.”
Hy staan en kyk hulle agterna: sy enigste vriende, want die lede van jou bende is al vriende wat jy veronderstel is om te hê. Maar hy weet hulle is nie. Hy ken die nyd en afguns onder hulle. Jy kan niemand vertrou nie. Mac het hom gewaarsku. Mac is die laksman van die Vlermuise. En hy ken sy werk. Dis een van die nagte wat Vegter, soos so baie ander, ontvlugting in dwelms soek. Want daar is spoke wat hom rondjaag. Spookstemme. Ja, dis Midas Hammond wat praat. Ek betaal nie geld as ek nie waarde terugkry nie. Waarde terugkry! Dis om van te lag! Midas Hammond wil waarde hê as hy geld in ruil vir sy seun betaal. As hy maar net weet waarvoor hy gaan betaal, sal hy nie eens ’n sent vir sy seuntjie wil gee nie!
Tussendeur ’n ander stem: Jy wil nie regtig leef soos jy leef nie. Diep in jou hart soek jy na iets beters. Kom na Jesus se bende.
Dan is daar ’n ander spookgesig, ’n ander spookstem – ’n vergane vrou, verteer deur dwelms en die soort lewe wat sy gelei het. Jou regte naam is Sean Hammond. Onthou: Hammond. Vertel vir Zia ook. Hammond is julle van. Jul pa … Dit was haar laaste woorde.
Flitse van herinnering sukkel tussen die newels deur. Hy onthou hy het weggestap, byna dadelik vergeet wat sy gesê het. Wat is ’n naam? Dit beteken niks in sy wêreld nie. Net jou bynaam tel in hierdie skemerwêreld. Vegter is sy naam. Vegter beteken iets. Almal ken die naam, weet waarvoor dit staan. Daardie vreemde van op die sterwende vrou se lippe was betekenisloos … tot ’n paar aande gelede.
Ek soek na Sean Hammond – sy pa sal hom graag wil sien, het die vreemdeling gesê.
Die naam het nie dadelik ’n klokkie gelui nie. Nie voordat die man al om die hoek was nie. Toe het die verlede skielik in hom wakker geword. ’n Stem het hom aangespoor om die man te volg. Met elke tree het die gevoel sterker in hom gegroei: dis na hóm wat hierdie vreemde man soek. Hy moes weet waarom.
Daar op die balkon het hy na die telefoongesprek gestaan en luister, verstar van skok, want die man het met Midas Hammond van Babel gepraat. Die moontlikheid van verwantskap het hom soos ’n LSD-hou getref. Dit het gevoel asof hy vasgevang was in daardie helwêreld van sinsbedrog. Hammond en Hammond. Dieselfde van. Dit was Midas Hammond wat na sy seun soek … en die seun se naam is Sean Hammond … en iemand het jare gelede vir hom vertel sý naam is Sean Hammond.
Hy het padgegee van die balkon af. Sy gevoelens in die daaropvolgende ure was ’n onbeskryflike warboel van twyfel en sekerheid, opgewondenheid en wanhoop. Maar soos ’n paal bo water het dié twee feite uitgestaan: Hy kan nie bewys hy is Midas Hammond se verlore seun nie, maar hy wéét hy is. En: Midas Hammond sal hom nie aanvaar nie, al glo hy ook hy is sy seun.
Hy wou daardie nag nie saam met die ander gaan nie. Hy het ’n flou verskoning uitgedink. Hy moes dink. Hy moes sekerheid kry oor wat hy gaan doen. Toe het hy na die telefoon gestap, na Babel geskakel. Hy het besef hy sal nie die erfgenaam van Babel kan word nie, maar hy kon dalk ’n paar rand verdien. Al is dit net genoeg sodat hy kan wegkom van die lewe waarin hy vasgevang is. Dan, later … miskien …
In die volgende paar dae moes Vegter met nuwe sienswyses, nuwe gevoelens kennis maak. ’n Bitterheid het in hom gegroei. ’n Gevoel van veronregting en verwyt wat hom wou verwurg.
As Midas Hammond sy pa is, waarom is sy seun vandag waar hy is? Waar was sy pa al die jare, al daardie bitter kinderjare, toe hy hom so nodig gehad het? Hoekom moes hy eers as volwasse man sy regte van hoor? En waarom soek Midas Hammond nóú eers na sy seun?
Hy is gekul. Deur die lewe en Midas Hammond. Hy is uit sy geboortereg gekul – om as Midas Hammond se seun groot te word en só deur almal geken te word. Hy gaan nie soebat om geglo te word nie. Hy gaan nie voor sy wettige pa kruip en soebat om brood wat na regte syne is nie.
Hy sal betaal. Vir daardie swaarkryjare in die donker wêreld van agterstrate, dwelms, mishandeling, hongerpyne. Hy gaan betaal …
Hy gaan ook betaal vir wat sy seun vandag is.
Hy word eers bewus van hulle toe die eerste skoenpunt hom genadeloos teen die kop tref.
“Ek het jou ’n carry on belowe as ons gevang word! Ons is betrap. Hulle het Jake gaan bêre.”
“Ek het nie …”
Die volgende skoenpunt tref en die kring om hom trek nouer. Nie eens die dwelms in sy liggaam kan die pyn versag en die bloed keer nie. Toe hulle hom eindelik los, stik hy van die bloed in sy mond.
Deur