Bruid uit die vreemde. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
waar jy vandaan kom?”
“Daardie kans sal ek maar moet waag, kaptein.”
Die twee mans som mekaar in stilte op.
“Goed, vreemdeling. Laat ek hoor.”
’n Uur later word die stuurman na die kapteinskajuit ontbied. Sy oë rek toe hy die vreemdeling langs sy kaptein gewaar.
“Liewe genugtig, kaptein! Waar kom u aan hóm?”
“Toe nou, Kasper. Van nuuskierigheid is die see vol en die skepe leeg. Die branders het hom nou net hier ingespoel. Vat hom saam en probeer vir hom ordentlike klere kry. Tot by die Kaap de Goede Hoop is hy jou stuurjonge. Gee hom al die werk waarvoor jy lus het en moenie sy spiere spaar nie.”
“Goed, kaptein,” en Kasper kyk sy nuwe stuurjonge met glinsterende oë aan.
Kaptein Goske draai terug na die vreemdeling. “As ek geen klagte van jou kry gedurende die reis nie, sal ek voldoen aan jou versoek wanneer ons Kaap de Goede Hoop bereik. Anders word jy gekielhaal en aan die goewerneur uitgelewer wanneer ons daar aankom. Reg?”
“Reg, kaptein,” aanvaar die vreemdeling die uitdaging.
“Hoe heet jy, maat?” vra Kasper.
Die twee mans kyk mekaar vinnig aan. Dan lag die kaptein hartlik. “Sy naam, Kasper? Sy naam is … e … Guillaumè … e … le Clercq!”
Die vreemdeling glimlag tevrede. “Ja. Ek is Guillaumè le Clercq!”
2
Dit is twee jaar later.
Die ’t Wapen van Alkmaar, die sierlike skip van die Hollands Oos-Indiese Kompanjie onder bevel van die vermaarde Nederlandse kaptein Isaac Goske, lê voor die hawemond van Amsterdam. Dit is gereed om te vertrek op die maande lange reis na die Ooste wat om die suidpunt van die groot, onbekende vasteland van Afrika lei. Die skip sal by die klein nedersetting Kaap de Goede Hoop aandoen vir vars voorrade en dan sy tog voortsit na Batavia in die Verre Ooste.
Kaptein Isaac Goske, geklee in die netjiese en kleurryke mondering van die kapteins van die Kompanjie, staan langs sy stuurman, Kasper van Kortryk, en laat sy blik vir laas oor die kaai dwaal waar ’n menigte mense vergader het om die groot skip vaarwel toe te roep. Grasieus soos ’n swaan swaai die boog weg en kloof deur die eerste golfies. Die lang reis het begin.
In haar kajuit voel die jong meisie die beweging van die skip aan en sy slaak ’n sug van verligting. Eindelik is sy op pad. As die reis tog net voorspoedig is, sal sy binne ’n paar maande haar voete weer op vaste grond hê.
Sy neem ’n ligte sjaal en maak haar kajuitdeur oop. Noudat hulle reeds onomkeerbaar van die kaai weg is, sal sy dit waag om ’n bietjie op dek te gaan. Met haar rug na die land gekeer, staar sy oor die blougroen watermassa voor haar uit. Maar daar is geen blye verwagting in haar hart nie, eerder ’n gevoel van naderende onheil, ’n vae vrees wat sy nie heeltemal kan begryp nie. Wat wag op haar aan die einde van hierdie reis? wonder sy, maar dan word haar gedagtegang meteens onderbreek.
“Ek hoop u is gerieflik in u kajuit, jonge dame.”
Toe sy haar omdraai, gewaar sy die kaptein agter haar. Sy merk die bewondering in sy oë, maar sy is van kleins af gewoond aan die bewondering van die teenoorgestelde geslag. Daarom glimlag sy nou net vaag en antwoord effens styf: “Ja dankie, kaptein.”
Isaac Goske soek naarstiglik na nog iets om te sê, want hy voel onwillig om sulke beeldskone geselskap sommer te verlaat. Hy sien die weelderig-gekrulde hare wat volgens die jongste modegril hoog bo-op haar kop gestapel is, die amandelvormige, besonderse groen oë wat hom onpersoonlik en effens vanuit die hoogte beskou, die donkerrooi, vol mond wat skone beloftes inhou, en die duur hoepelrok wat in baldadige voue vanaf haar slanke middel ontplooi.
As mensekenner weet hy met die eerste oogopslag dat hy hier met ’n verfynde dame te doen het, ’n dame uit die hoogste kringe van Europa, moontlik van adellike afkoms en ’n vrou wat daaraan gewoond is om bewonder te word, bewus van die bekoring wat sy op die teenoorgestelde geslag uitoefen. En een wat dit ver benede haar stand beskou om ’n eenvoudige Kompanjie-kapteintjie intiem te leer ken.
Isaac Goske kug ongemaklik. Gewoonlik steur hy hom nie veel aan die paar passasiers op sy skip nie. Maar hy sal wát wil gee om hierdie skone dame van nader te leer ken. Aan die koel blik wat sy egter op hom gerig hou, lyk dit nie juis of sý belang stel in nadere kennismaking nie. “Ek hoop u geniet die reis,” sê hy hoflik en bloos sowaar toe hy die fyn glimlaggie om haar mond gewaar.
“Dankie.”
Goske frons vererg. Allekragtie! Van wanneer af is hy een wat na woorde moet soek, en dit nogal in die geselskap van so ’n pragstuk! Hy kap sy hakke teen mekaar. “Verskoon my dat ek so nalatig was om myself nie voor te stel nie. Ek is kaptein Isaac Goske, tot u diens – te alle tye,” laat hy met meer selfvertroue hoor en buig galant.
Die jong meisie glimlag nou openlik. “Ek het so vermoed.”
Hy kyk haar wantrouig aan, maar toe hy die glinstering in haar oë sien, glimlag hy terug. “Het u my nie nou al lank genoeg geterg nie, skone jong vrou?” vra hy, self verbaas oor die moed wat hy aan die dag lê.
Sy gee ’n geamuseerde laggie, maar hou haar hand geredelik na hom uit. “Ek is Jacqueline de Savoye,” stel sy haarself bekend.
Soos dit ’n galante man betaam, neem hy haar vingerpunte in sy hand en druk sy lippe saggies daaroor. Dan kom hy vinnig orent en kyk haar skerp aan.
“De Savoye?”
“Ja. Wat makeer? Is daar iets mee verkeerd?” vra sy half geïrriteerd.
“Nee. Nee, natuurlik nie. Die … die van klink net vir my bekend. Ek wonder waar ek dit al vantevore gehoor het …”
“Dis nie onmoontlik dat u dit al gehoor het nie, kaptein. Die van De Savoye behoort aan een van die oudste adellike families in Frankryk,” en die familietrots skemer deur in haar stem.
Kaptein Isaac Goske antwoord nie, maar sy belangstelling neem met rasse skrede toe en nie meer net omdat sy ’n beeldskone jong dame is nie. Hy leun terug teen die houtreling agter hom en vra skynbaar ongeërg: “Gaan u na Batavia?”
“Nee. Kaap de Goede Hoop.”
Sy frons verdiep. “Is daar familie van u?” vra hy en hy hou haar tersluiks dop. Hy maak asof hy haar huiwering nie bemerk nie, maar wag gespanne op haar antwoord.
“Ja. My broer is daar.”
Isaac Goske kyk vinnig weg. “Ek sal nou eers moet gaan. As daar enigiets is wat u nodig het, of waarmee ek kan help, moet u net praat.” Dan salueer hy en stap weg.
In sy kajuit aangekom, gaan hy agter die tafel sit en vou sy hande. Die frons verskyn weer op sy gelaat. “De Savoye …” prewel hy. Jacqueline de Savoye. Uit een van die adellike families van Frankryk op pad na die Kaap de Goede Hoop. Na haar … bróér! ’n Raaiselagtige glimlag verskyn om sy mond. Hoe interessant! Werklik baie interessant!
En op die dek draai Jacqueline terug na die see en haar oë versomber weer. Die beeld van haar vader verskyn voor haar geestesoog en haar naels vreet in die sagte vleis van haar handpalms.
Sy sal dit nooit vergeet nie, daardie nag, twee jaar gelede. Sy en haar vader was alleen tuis. Jacques, haar tweelingbroer, het reeds vroeg die aand saam met een van sy vriende vertrek na Rouen. Sy het hom probeer keer, want dit was Oujaarsaand en sy het geweet dat hy dit tot die uiterste toe sou vier. Maar hy wou nie luister nie. Sy het die ou groot horlosie angstig dopgehou. Dit was later amper halfelf en Jacques was nog nie terug nie. En soos die minute verbygetik het, het sy al hoe meer senuweeagtig geraak, want sy het geweet dat as Jacques die aand beskonke tuis kom, daar weer ’n vreeslike rusie tussen vader en seun sou wees wat dae daarna nog sou aanhou.
Sy het stil opgestaan en die koetsier ontbied. Sy het die koets sonder die De Savoye-wapen bestel en van die een drinklokaal na die ander gery, maar hulle kon Jacques nie vind nie. Sy het geweet dat sy verkeerd