Junior in Saal 7. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
het nog nooit hierdie foto in jou kamer gesien nie. Waar kom dit nou skielik vandaan?” wil ’n derde agterdogtig weet.
Louwrinda hou haar besig met haar tee. Sy kyk nie eens op nie. “O, ek het dit maar net gister in die pos gekry.”
“Waar, sê jy, studeer hy?” wil ’n ander weet, nou met ontsag in haar stem.
Louwrinda dink vinnig. Waar, het oumatjie gesê, studeer haar kleinseun? O ja! “Hy is in Skotland – Edinburg.”
Weer is daar ’n rukkie stilte, en weer kyk almal na die foto. Maggies, met só ’n ou op sleeptou sal hulle ook nie met ander mans bodder nie! Louwrinda kry haar foto terug en een laat amper onwillig hoor: “Hy is ’n . . . e . . . bak ou, Kemp. Geen wonder jy het nie ooghare vir ander ouens nie.”
Louwrinda glimlag maar net en sê kalm.: “Verskoon my, ek wil dit net gou gaan terugsit.”
Sy is bewus van ’n storm van stemme wat agter haar rug losbars toe sy by die deur uitstap. Sy stap vinnig na haar kamer toe, plaas die foto weer terug op sy plek, haar oë onseker daarop gerig. Sy is oortuig dat hulle haar ná dese in vrede sal laat, maar . . . dis amper vir haar asof die oë uit die foto haar vermanend en ontevrede aankyk, asof hulle wil sê: Sulke vermetelheid!
Sy sluk en draai haastig weg. Sy is nou verspot om so skuldig te voel. Dis tog net ’n ou foto! Sodra daar ’n redelike tyd verbygegaan het, sal die foto weer verdwyn en teruggesit word in oumatjie se album.
Toe sy eindelik weer terug is in die sitkamer, is sy dankbaar om te hoor hulle is uitgesels oor haar geheimsinnige kêrel en is besig met ’n ander onderwerp: die nuwe professor wat in die ginekologiese fakulteit aangestel is.
“Hy moet glo môre begin. Ek hoop tog hy is net so gaaf soos ou professor Maritz. Dié oubaas het ’n mens nooit soos ’n junior laat voel nie.”
“Wat is sy van?”
“Nee, om die waarheid te sê het ek nog nie gehoor nie.”
“Ek het gehoor suster sê vanoggend hy moes eintlik aan die begin van die jaar begin het, maar hy het uitstel gevra tot nou. Glo nog ’n ekstra kursus wat hy eers wou loop. Hy het glo vreeslik baie grade.”
Toe Louwrinda die volgende dag aan diens gaan, is die nuwe professor baie ver uit haar gedagtes toe sy saal 7 binnestap. Eintlik hoef sy geen werklike belangstelling in die nuwe hoof van die ginekologiese fakulteit te hê nie. Sy sal hom net in die saal sien. ’n Professor is ver verhewe bo ’n junior verpleegster. Dis dus met ’n halwe oor dat sy na die onderlangse gesprekkies van die senior verpleegsters luister.
“Suster Behrens het hom glo gesien. Sy sê hy is ’n behoorlike hartebreker.”
“Ag so? Dis darem ’n aangename verandering. Die ou spul professors is almal bejaard en beduiweld. So ’n jong professortjie sal baie welkom wees!” lag die stafverpleegster.
“Jy sê vir my! Hy is ook ongetroud, hoor ek. Daar is dus ’n kans vir een van ons om Mevrou Professor te word!”
“Sjuut. Ek hoor voetspore. Ja, daar is hy met die klomp studente in die deur. Genugtig! Wat ’n professor!” fluister suster Bester toe sy haar na die deur toe haas.
Louwrinda staan met ’n pan in haar hand en kyk oor haar skouer na die dubbeldeure waar die nuwe professor en sy gevolg verskyn het.
’n Gevoel van totale verlamming trek deur haar. Selfs toe die pan kletterend uit haar hand val en – met inhoud en al – oor die vloer rol, kan sy nie roer nie, al weet sy elke oog in die saal is nou op haar gerig.
2
__
“Liewe land, verpleegster Kemp, wat makeer jou? Het jy dan pap in jou hande? En dit terwyl die nuwe professor . . .”
Stafverpleegster Deneys sluk byna haar tong in van ontsteltenis, en terselfdertyd wens haar junior dat die aarde háár insluk. Ook die suster het in haar spore verstyf toe die geweldige geraas agter haar opklink. Sy draai om, en in haar oë staan die boodskap duidelik: Junior verpleegster Kemp het haar met hierdie flater ’n deeglike skrobbering op die hals gehaal . . .
“Kry onmiddellik ’n lap en maak skoon die gemors, verpleegster Kemp! Onmiddellik!”
Daar kom weer lewe in Louwrinda se lam bene. Hulle beweeg byna vanself. Hoewel sy beslis nie direk in daardie rigting gekyk het nie, is sy bewus van die mediese studente se glimlaggies en dat ’n paar reeds besig is om suggestief sakdoeke uit te haal. Die man wie se foto op haar lessenaar pryk, staan doodstil en toekyk. Op sy uiters aantreklike gesig is daar hoegenaamd geen uitdrukking te bespeur nie.
Die saalsuster se stem klink verskonend agter haar op: “Dit spyt my, professor. Die onhandigheid van die juniors . . . U moet asseblief die gemors verskoon . . .”
Louwrinda verdwyn in die pankamer waar sy desperaat om haar rondsoek na ’n lap. Dan spring sy koorsagtig aan die werk, terwyl sy die optog met een oog dophou. Gelukkig vertoef die nuwe professor by elke bed, natuurlik om sy pasiënte te leer ken en op die hoogte te kom met die aard van hul ongesteldheid. Sy is kwalik bewus van wat sy doen. Sy weet net sy moet weg wees wanneer hulle hierdie hoek bereik.
Toe die optog by die hoek kom, lyk dit reeds beter, maar van die mediese studente raak weer onnodig doenig met hul sakdoeke en van halfpad onder ’n bed uit werp sy hulle ’n moorddadige blik toe. Dis nie só erg nie! Buitendien, as hulle eendag dokters wil word, beter hulle aan alles gewoond raak.
Dan, met ’n hart wat bo in haar keel klop, kyk sy vir die tweede keer in daardie blouste van blou oë vas.
Heel bedaard sê hy: “Ons sal daarbo aangaan.”
Terwyl hy die optog na die bokant van die saal lei, kry Louwrinda kans om die vloer met ’n ontsmettingsmiddel te was en die vensters wyd oop te maak.
Met bewende knieë en na aan trane leun sy teen die wasbak aan. Sy sluit haar oë. Ek droom, maak sy haarself wys. Dis nie hý nie. Dit kán nie hý wees nie! Hulle lyk maar net baie na mekaar . . .
“Kemp, ek het my staan en doodlag vir jou daar agter die skerm!” hoor sy die ander junior se stem langs haar. “Suster gaan jou braai! Wat het jy dan gemaak, man?”
“Niks. Ek . . . weet nie wat gebeur het nie,” fluister sy flou en vee oor haar oë.
Haar kollega geniet nog steeds die situasie. “Ek wens jy kon jou gesig sien toe jy daar onder die bed uitloer! Jy was net oë! Ek dog jy kyk die nuwe professor middeldeur!” Sy frons effens. “Hy is ’n bak ou, nè? Geen filmster kom naby hom nie.” Sy frons effens. “Maar weet jy, dis al of die man se gesig bekend is. Ek weet ek het hom nog nooit tevore gesien nie, maar tog is sy gesig bekend.”
Louwrinda sluk en gryp die naaste pan en begin dit oordadig skoonmaak. “Waar sou jy hom dan ook gesien het? Hy kom so pas van oorsee,” sê sy vinnig en bid dat verpleegster Keuler nie verder in haar gedagtes moet delf nie.
“Dis waar, ja. Hy kom so pas van oorsee, nè? Oorsee . . .” Verpleegster Keuler frons peinsend.
Vinnig sê Louwrinda: “Gee pad hier, man. Jy staan in my pad. Het jy nie werk om te doen nie?”
“Ja. Ek moet gaan rûe invryf. Maar wag ’n bietjie . . . Kemp, daardie man lyk nes jou sleep! Ja! Dis hoekom sy gesig so bekend is!”
Louwrinda moet die begeerte onderdruk om haar kollega sommer met die pan oor die kop te slaan. Maar sy is reeds diep genoeg in die moeilikheid. Sy dwing haarself tot kalmte en probeer ongeërg wees. “Aag, hierdie professor kan gaan slaap teen my sleep.”
“Nee, regtig, sonder grappies nou. Hoe meer ek daaraan dink . . .”
Louwrinda se senuwees kan dit nie hou nie. Sy sê verwoed: “Keuler, gebruik jou verstand vir die toets môre en hou op om kaf te praat. Loop, loop vryf jou rûe in.”
Verpleegster Keuler kyk Louwrinda vererg aan: “Toe nou, dis nie nodig om jou te wip nie. Ek sê mos maar net . . . Goed, goed, ek loop