Эротические рассказы

As die wind kom draai. Hans du PlessisЧитать онлайн книгу.

As die wind kom draai - Hans du Plessis


Скачать книгу
ion>

      

      As die wind kom draai

      Hans du Plessis

      Tafelberg

      Vir my kleinkinders:

      Julianne, Adelay, Lisa, Hanlu, Christine, Karla en Wian

      Proloog

      Donderdag 22 Augustus 1844

      Lourens Rasmus Botha ontspan eers toe hy deur die oosdrif is en die dorp agter hulle laat. Liggies spoor hy Goewerneur aan, want nie hy of sy ryperd is erg oor die dorp nie. Te besig. Meester Roos sê juis gister daar is nou al meer as twintig huise op die dorp.

      Maar hy kan Goewerneur ook nie te hard dryf nie, al weet hy Petronel verwag hom teen middagete. Skuilhoek is drie uur te perd hier van Mooirivierdorp af. Hy kan nou maar eenmaal nie mooi vat kry aan die naam Potchefstroom nie, klink vir hom té uitlands. Hoe hulle die plek ook al noem, hy is nog ver van die huis af, hy kan die berge nog nie eens sien nie.

      Ná omtrent ’n uur se ry is hy die eerste rante oor en die geil grasvlakte strek voor hom uit. In die verte kan hy die sekelrug van die buitenste berg al regs voor hom sien. Nog net so twee uur oos in die wapad, dan kortpad oor die berg. Skuilhoek is amper die laaste plaas in die bergland. Met ’n wa of ’n perdekar moet mens in die wapad bly, dan deur die poort en weer terug in Skuilhoek se vallei in. ’n Mens kan net te voet of te perd kortpad oor die berg vat, want anderkant val die steil hange en kranse soos versteende watervalle die dieptes van die berglandskap in.

      Skuilhoek in die berge. Die plaas waarvoor hy ses jaar lank moes baklei om dit as burgerplaas teen sy naam aangeteken te kry. Dit is juis die rede hoekom hy moes dorp toe, om die laaste dokumente te teken.

      Dit was goed om meester Joachim Roos weer te sien, al het sy ou leermeester sy kop effens deurmekaargekrap met die nuus dat veldkornet Buys ’n maand of wat terug skielik oorlede is, en of hy wat Lourens is, nie dalk belang sou stel in die Berglandwyk se veldkornetskap nie?

      Stel hy belang? Hy wonder nog self, maar bly tog daaroor dink.

      Wat sal Petronel daarvan sê?

      En Vryheid? Hy sal seker net weer lag en vra of hy nou mal is om politiek toe te wil staan en foeter?

      Ver voor hom op die vlakte hol ’n trop volstruise solank uit Goewerneur se pad uit.

      Toe kom oom Bêrend Prinsloo hom ook nog gister aan Lourens voorstel. Die Prinsloos het uit Natal uit voor die Engelse padgegee en hulle het ’n ruk gelede die buurplaas Rietpoort, gekoop.

      Hy ken die Prinsloos nie juis nie, want hulle was nie deel van oom Hendrik Potgieter se trekgeselskap nie. As hy reg onthou, het hulle net so ’n week of wat voor Vegkop by die laer aangekom, daarna is hulle Natal toe.

      Oom Bêrend het eintlik kom sê hulle sal Saterdagaand graag op Skuilhoek wil oorstaan op pad Rietpoort toe.

      Dit moet al naby tienuur wees toe Goewerneur vanself uit die wapad uit berge toe koersvat.

      Van die eerste dag af het die berge Lourens soos ’n magneet aangetrek omdat dit hom aan die Kango herinner het. Dit was die eerste rêrige berge wat hulle gekry het nadat die trek destyds deur die Grootrivier is.

      ’n Mens misgis jou met dié berge as jy van die dorp se kant af kom. Dit lyk eintlik meer na ’n reeks rante, maar Lourens weet hoe diep die berglandskap anderkant afsak, en dan is dit berg op berg.

      “Halfsirkels, soos ’n klomp perdeskoene,” het meester Roos op ’n keer probeer verduidelik. “’n Reusagtige erdvarkgat,” het hy vervolg toe dit lyk of hulle steeds nie verstaan nie. “As jy op die hoogste berg staan, sien jy die berge soos halwe sirkels lê asof ’n reus dit soos ’n dubbele laer neergesit het. Toe, soos ’n verveelde kind, dit hier en daar gebreek en rondgeskuif het.” Meester sê dit lyk vir hom of dit vroeër die een of ander reusagtige krater moes gewees het.

      Lourens stuur Goewerneur oor die naaste bergrug, en toe hulle anderkant in die dieptes kan afkyk, gaan die perd vanself staan. Asof hy weet jy moet net eers die bergland groet voordat jy in sy binneste kan afdaal. Van hier af strek die landskap alkant toe voor hulle uit. Mistige valleie met heuwels en koppe, dan die volgende berg, vol klowe. Daaragter, weet hy, die silwer luislang van die Vaalrivier, nog berge en nog valleie, woude, koppe en plato’s.

      Hulle is tuis.

      Die vallei voor hulle is Skuilhoek se vallei. Suid daaruit die wye, beboste kloof tussen die berge in, waarin hy vir hom en Petronel op die rand van die plat vlakte die muurhuis gebou het en waar hulle nou al twee jaar aan die boer is.

      Hulle het nog nie baie nie, ’n troppie skaap en 'n klompie beeste, ’n groentetuin by die fontein, vrugteboompies en die mielieland op die gelykte by die bek van die kloof. Klipkrale wat hy en Vryheid en Jakob gepak het. Naby die tuin Vryheid se paaltjiehuis met die twee vertrekke. Anderkant die kraal Jakob Afrikaner met die klein vroutjie en die drie kinders se hut.

      Hulle sak stadig af, deur die vallei en dan in die kloof op werf toe.

      1

      “Waar is Vryheid?” Petronel Botha staan in Skuilhoek se kookskerm met die lang roerlepel in haar hand.

      Lourens sit die pangeweer eers op die geweerrak teen die paaltjieheining voordat hy na haar kyk. ’n Swart haarlok lê oor haar slaap, maar hy kan haar gesig nie sien nie, want sy kyk stip na die vuur asof sy diep ingedagte is. Hy sien die skraal lyf in die lang, blou rok met kort pofmoue en wit knopies. “Hoe vra jy nou na ’n ander man as jou eggenoot tot die dood toe moeg uit die jagveld huis toe kom?” terg hy en loop tot agter haar.

      Sy antwoord nie, bly net in die vlamme staar.

      Toe hy sy arms van agter om haar sit, leun sy met haar kop terug teen sy bors. Hy voel haar ribbebene en onthou soos gister die tenger meisietjie met knieë soos litte in ’n riet. Nou is sy vrou – sý vrou.

      Hy hoor haar liggies snuif. Sy draai in sy arms om en kyk op. Sy huil, trane blink in die donker, hartseer oë.

      “En nou, my duiker?”

      “Ek is toe nie swanger nie.”

      Hy sit sy arms op haar skouers. “Ons is nog jonk,” sê hy.

      “Ons is al twee jaar getroud. Dit lyk my ek sal nooit kinders van my eie hê nie.”

      Sonder woorde hou hy haar teen hom vas. Hy het ook gehoop. “Vryheid is by Jakob-hulle,” antwoord hy haar eerste vraag. “Hulle moet eers slag. Die vel is maklik ’n sak suiker werd.”

      “So, julle het darem iets geskiet?”

      “’n Rooibokooi. Teen my grein in, maar ons vleis is aan die min word.”

      “En ons verwag die Prinsloos môre, onthou?”

      “Dis al hoekom ek geskiet het. Hier kom Vryheid nou.”

      Die jong man kom by die deur in en sit sy Oortman ook op die geweerrak. Die donker kuif hang oor die breë voorkop. Effens verleë kyk hy na die ander twee, dit voel vir hom of hy op die verkeerde tyd opgedaag het. “Vir wat kyk julle my so?”

      Hulle kyk inderdaad na hom, die lang, frisgeboude man net binne die skerm. Bene effe uitmekaar tot in die swart stewels wat hy glo vir ’n beesvel by ’n smous geruil het. Soos altyd het hy sy onderbaadjie aan.

      Die vuur knetter, die ketel sing en by die krale bulk ’n kalf.

      Die drietal praat vir eers nie. Die swartoogvrou met die ernstige trek om haar mond. Langs haar die blonde Lourens met sy blou oë. Hy hou haar hand vas. Vryheid in die kalfsvel-onderbaadjie wat meester Roos nog voor die trek vir hom in die Kango laat maak het. Die onderbaadjie met die bruin kolle. Dis moeilik om te sê watter van die kolle is dié van die oorspronklike kalf en watter is tekens van die baadjie se geskiedenis.

      “Huil jy, Petronel?” vra Vryheid toe hy nader aan haar is.

      Asseblief, dink Lourens, moenie sê nie. Vryheid is nou wel van kleins af my vriend, maar daar is dinge tussen ’n man en sy vrou ...

      “Weet julle watter dag dit is?” vra Petronel huilerig.

      “Vrydag,


Скачать книгу
Яндекс.Метрика