As die wind kom draai. Hans du PlessisЧитать онлайн книгу.
aan haar sagte stem vermoed sy moet mooi wees, maar só ’n fyn meisiemens het hy nie agter hom verwag nie. Skielik is hy selfbewus oor sy antwoord. Sy sal dink hy is half simpel. Sy kyk egter reguit in sy oë in, byna asof sy hom uitdaag om aan haar te raak. Maar hy kan dit nie waag nie, want sy laat hom aan ’n porseleinpoppie dink, amper soos die roomkleurige enetjie wat Bellie Bekker die hele trek met haar saamgepiekel het, toegedraai in linne. Sy hande voel vir hom te groot, sy lyf enorm langs hierdie breekbare mensie. Hy kan haar maar net in stilte aanstaar.
“Is dit altyd so mooi hier by julle?” vra sy en kyk dromerig oor die mistige vallei.
“Dis mooier in die somer. Wintertyd is alles mos geel, veral nou hier in Augustus. Ons bid elke dag vir reën voordat die vuur die veld vat. Ons het Skuilhoek spesiaal uitgekies, ek en Lourens en Petronel.”
Saam kyk hulle af op die dal wat noord en oos voor hulle tussen die berge lê. Die vroeë son maak dit nog geler, maar dit is ’n sagte geel. Die lang gras buig biddend in die effense wind. In die kloof agter hulle fluit ’n fisant.
“Elande,” sê sy opgewonde en wys na die voet van die hoë kop regs onder hulle.
“Hulle is mooi,” antwoord hy, maar hy bly na háár kyk. Ooglopend kom sy dit nie eens agter nie.
“Ek het gister toe ons gekom het gesien hoe baie wild hier in die kom is.” Sy kyk ’n rukkie stil na ’n paar hartbeeste wat nader aan hulle wei, dan vra sy: “Hoekom wil mense hulle alewig skiet, hulle is dan só pragtig?”
“Eet jy biltong?” vra hy spottend.
“Natuurlik,” sê sy.
Verbeel hy hom of is sy effens iesegrimmig? Dit moet dan die mooi Prinsloo wees waarvan Lourens gister gepraat het – hy het beslis nie gelieg nie! Lourens het gister mos gesê hy verwag oom Bêrend Prinsloo-hulle, die nuwe mense van Rietpoort, die buurplaas wydsbeen oor die Vaalrivier op die vlak. Hulle is op pad terug van Mooirivierdorp af. Hulle gaan net ’n aand of twee oorstaan, want oom Bêrend sê hy kan nie sy smidswinkel so lank laat toe staan nie. Daar is nie nog ’n grofsmid in hierdie distrik nie.
Sover Vryheid weet, is dié nooi die jongste Prinsloo-kind. As hy reg onthou, is sy ’n laatlam, heelwat jonger as haar drie broers. Die mense sê haar oudste broer kon omtrent haar pa gewees het. Vryheid onthou die Prinsloos vaagweg van die trek af, maar hy is nie heeltemal seker hoe die gesin werk nie, want hulle het eers net voor Vegkop by die trek aangekom, toe is hulle eers Natal toe.
Die derde broer, Bennie, sê die mense, is nie heeltemal reg in sy kop nie. Vryheid wens hy kan haar naam onthou. Iets soos Martha of Maria of iets.
“Wat is jou naam?” vra hy omdat hy meteens bang is sy verdwyn, en hy wil na haar bly kyk.
Sy antwoord spontaan: “My broers noem my Sussie.” Sy glimlag. “Ek hoop net nie jy wil my ook Sussie noem nie. My naam is eintlik Margaretha Heletjie Prinsloo.”
“Aangename kennis, Margaretha Heletjie Prinsloo.” Hy steek sy hand uit. Hoe klein lyk haar handjie toe hy dit in sy vingers toevou.
“Sommer Magriet, en ja, jy is Vryheid, weet ek al.”
“Ek wou jou nog vra hoe jy my naam ken.”
“Ek het jou by Vegkop gesien.”
“Vegkop, toe die Matebeles ons amper teruggejaag het Kolonie toe? Dis al agt jaar gelede.”
“Ja, ek weet, en ek was nog klein, skaars tien, maar ek onthou jou.”
“Hoe sal jy my dan onthou? Ek onthou niemand nie; ek onthou net hoe bang ek was en hoe warm die gewere se lope geword het. Ek hoor nou nog partykeer in my drome die verskriklike geskree van die vyand.”
“Jy het nie vir my bang gelyk nie, jy het dan bly skiet elke keer as die vrouens vir jou ’n geweer aangegee het.”
“Mens dink nie terwyl jy veg nie.” Hy verkyk hom aan die glans van die oggendson wat op die lang, donker vlegsel oor haar skouer blink.
“Ek vergeet nooit goed wat my bangmaak nie en ek onthou goed jy het langs meester Joachim Roos op die kant van sy blou wa gestaan met julle gewere voor julle oor die watent. Lourens Botha was anderkant Meester. Nie een van julle het ophou skiet nie.”
“Gelukkig was almal toe al in die laer.”
“Gelukkig? Weet jy hoe voel dit tussen die waens in die middel van ’n laer as jy nie buitetoe kan sien nie? Net die mans wat oor die watente buig – hulle rûe. Die vrouens wat oorhaastig laaistokke in lope afstamp. Mens se ore wil toeslaan van die lawaai. Ek onthou dit alles so helder soos gister.”
“Hoe onthou jy dit so goed?” Hy lag.
Sy antwoord nie dadelik nie, skerm die son met haar regterhand uit haar oë en konsentreer op die elande wat lyk of hulle deur die hoë gras in die leegte sweef. Hy kyk weer na die meisie: sy ís mooi, die hoë wangbene. Sy lyk skraal in die lang, wit rok wat tot op haar voete hang, net die punt van haar een velskoen steek onder die soom uit. Nekdoek van linne. Sy het haar kappie afgehaal en draai dit ingedagte om haar linkerwysvinger aan die lint in die rondte. Hy wens hy kon aan haar raak. Hy sal met sy twee hande reg om die middeltjie kan vat. ’n Mens sal sag moet vat, sy kan breek.
“My ma het die aand ná Vegkop vir my pa gevra hoekom hulle vir jou ook ’n geweer gegee het,” sê sy en kyk na hom.
“Ek het my eie geweer.” Hoe sal hy dan nou nie sy eie geweer hê nie? Hy is ’n man van vier en twintig, al sukkel hy nog om te weet of hy regtig ’n burger is. Niemand wil duidelik met hom daaroor praat nie. Selfs nie sy boesemvriend Lourens nie.
Moet hy nou vir haar sê wat in sy kop maal? Sy kan hom dalk verkeerd verstaan en wegloop. Miskien gaan sy nie eens antwoord wat hy verwag nie. Hy probeer die gesprek in ’n ander rigting stuur: “Ek sou in elk geval gehelp skiet het.”
Sy bly net vraend na hom kyk totdat hy ongemaklik sê: “Dis hulle wat Saartjie Danster by Liebenbergskoppie vermoor het.”
“Hulle?”
“Die Matebeles.”
“Saartjie Danster?”
“’n Vrou vir wie ek lief was.”
“Jammer, ek praat ook altyd sonder om te dink. Ek moes nie gevra het nie.” Hy kyk af op die twee vingers wat sy op sy pols lê. “En nou woon óns aan die voet van daardie koppie,” sê sy.
“Dit was agt jaar gelede,” troos hy.
“Hoe oud was jy toe?”
“Sestien.”
“Dan is dit goed dat jy by Vegkop geveg het.”
“Hoekom dink jy het jou ma so ’n vraag gevra?”
“Dit was vir my eintlik ook ’n vreemde vraag, want Lourens was jonger as jy en sy het niks dáároor gesê nie.”
“Hoekom nie?” vra hy, al weet hy uit ondervinding watter antwoord om te verwag.
Sy antwoord afgemete, sag, asof sy weet die woorde kan seermaak: “My ma het gesê jy is nie een van ons nie.”
Hy kyk nie weg nie, sê net: “Meester Roos het gesê ek moet die snaphaan vat.”
“Ek sou ook as ek jy was.”
“Meester het gesê ek sal moet help skiet, want ons is te min weerbare manne. Ons was net meer as dertig, en hulle was duisende.”
“Dis hoekom ek jou onthou, jy het die hele tyd bly skiet. Nes die ander mans.”
Hy verbeel hom seker, maar dis asof sy haar slank hand weer na hom toe uithou. Miskien wens hy dit net. Tog raak sy vlugtig aan sy arm. “Jy is dapper.” Hy sien dat sy amper swart oë het. “Nes die ander,” voeg sy by en kyk weer na die wild ver onder hulle.
“En wat het jou pa toe gesê?” vra hy, en besef dat hy gespanne op haar antwoord wag.
“My pa het gesê meester