Эротические рассказы

As die wind kom draai. Hans du PlessisЧитать онлайн книгу.

As die wind kom draai - Hans du Plessis


Скачать книгу
Vryheid verstaan niks van wat hy sê nie. Die man draai die loop van die geweer op homself, hou die kolf na Vryheid toe uit. Skiet my! smeek sy hele houding.

      Stadig trek Vryheid die geweer uit die man se hande, geen weerstand nie. Hy sak wenend op die grond neer en bly so sit met sy kop skuins teen die rots. Hy beduie na die verbrande mensie, en wys na sy eie borskas. Sou dit sy kind wees? Het die vuur sy beeste gevat? En die kind? Hoe kan hy die man nou los?

      Dit is ’n mens.

      Optel en dra, kan hy hom nie, want die brandwonde is oral en die man is te swak om self te loop.

      Hy sal hulp moet gaan soek.

      Petronel sal weet hoe om die wonde te versorg.

      Vryheid hou sy linkerhand in die lug. “Wag hier,” sê hy, maar weet dat die mens hom nie verstaan nie. Hy druk hom sag aan die skouer en beduie weer dat hy moet bly. Nie dat hy vanself êrens sal kan heen nie.

      Met die Oortman oor sy skouer stap Vryheid haastig huis toe, hy hoor die een koeël wat los in die koeëltas rondrol.

      Die vuur het nie net die veld vernietig nie.

      14

      “Magtag, Vryheid, het jy ’n spook gesien?” Lourens vergeet skoon wat Niklaas gevra het en staar na Vryheid wat die kookskerm inbars en bewend tussen hulle staan.

      “Daar lê ’n verbrande man in die veld.”

      “Waarvan praat jy?”

      Vryheid kreun, kyk vervaard na Lourens.

      Petronel kom by die huis uit, tot by Vryheid, raak aan sy hand. “Is hy dood?” Sy sien hom swaar sluk. “Sal hy kan loop?”

      “Hy is liederlik verbrand.”

      “Bring hom hiernatoe.” Lourens staan vinnig op.

      “Ons sal hom moet dra,” sê Vryheid uitasem.

      “Kan julle hom bring?” vra Petronel.

      “Ons sal hom moet dra, hy het erg verbrand.”

      “Wag,” sê Petronel, “ek bring ’n kombers.”

      “Onder die wa lê ’n stuk seil. Kom,” sê Lourens en loop. “Jakob, bring vir ons twee pale, ons sal die man moet dra.”

      “Ek kom saam.” Oom Bêrend staan uit die stoel uit op. “Sipho,” roep hy asof hy skielik aan iets dink. “Dis die enigste een wat hierdie tale kan verstaan. Dis my touleier.”

      Hulle loop in ’n ry van die werf af weg, Vryheid heel voor omdat hy weet waarheen hulle op pad is. Heel agter Sipho, die jong seun.

      Toe hulle by die verbrande mens kom, lyk dit nie of hy nog lewe nie, maar hy maak tog stadig een oog oop. Sipho praat met hom, maar hy is te swak om te antwoord. Dit is net ’n onverstaanbare gebrabbel.

      “Bind die seil om die pale, Jakob, ons sal hom huis toe dra.” Lourens gee die bevele, maar dit klink of iets sy keel bly toedruk.

      Die vuur het oor alles geloop, alles in sy pad platgebrand.

      “Julle moet die kind kom begrawe, Jakob. Pak klippe sodat ons kan weet waar die graf is.”

      Dit is ’n somber stoet wat die man deur die gebrande gras huis toe dra. Niemand anders praat nie, net Sipho wat met die man probeer gesels, maar daar kom nie ’n antwoord nie.

      “Arme man,” sê oom Bêrend toe hulle hom uiteindelik onder die kookskerm se seil indra. “Net die genade sal hom weer mens kan maak.”

      “Die genade trek al van die Kolonie af saam met ons, oom Bêrend.” Petronel haal ’n botteltjie balsem uit die medisynetrommeltjie wat sy op die tafel oopgemaak het. Versigtig smeer sy van die salf aan die man se verbrande hande. “Weet julle al wie hy is en waar hy vandaan kom?”

      “Sipho sal hom vra wanneer hy weer kan praat.” Oom Bêrend gaan naby die vuur sit en soek in sy onderbaadjiesak na sy snuif.

      “Jy sal vir hom iets moet gee vir die pyn en om te kan slaap.” Lourens kyk na sy vrou.

      Sy haal botteltjies medisyne uit die trommel en voer hom druppel vir druppel. “Vat hom na Jakob se huis toe, hy moet rus kry.” Sy maak haar oë toe. “En baie genade.”

      “Hy kan mos maar onder die bome lê,” hoor hulle Niklaas agter hulle sê, maar hulle dra die man na die skerm by Jakob se huis.

      Eers vroeg die volgende oggend kom Sipho by die vuur staan. “Die man sê hy is Tawana, en hy het vroeër hier gewoon, maar Silkaats se mense het sy vrou en sy dogters weggevat en sy beeste geroof. Hy en sy babaseun het saam met Moroka Thaba Nchu toe gevlug, en toe dit weer veilig lyk, het hy al op die waspore langs teruggekom na sy land toe.”

      “Nou het hy niks nie,” sê Magriet waar sy naby die vuur kom staan met ’n beker stomende koffie in haar hande.

      “En dis ook nie meer sy land nie,” sê Niklaas.

      Onder uit die verbrande vallei giggel hiënas opgewonde oor die oordaad.

      15

      Die skerp reuk van nat, gebrande gras irriteer haar neus en kriewel soos ’n lastige gejeuk in haar oë. Dis hoekom sy bly rondrol op die ongemaklike bedjie, probeer Magriet haarself die hele nag lank wysmaak. Buite moet dit seker al begin lig word, want die eerste duiwe se koer vul die kloof. Dit help tog nie om nou te probeer slaap nie. Droom, ja. Die mooi man met die sagte oë en die mond wat maklik lag. Sy voel weer die krag van sy vingers toe hy gister haar hand gevat het. Gespierde voorarms. Sy is daarvan oortuig dat dit die soort man is wat haar broers vir haar sou uitkies.

      As hy maar net ’n van gehad het.

      Kon sy nie maar op iemand anders verlief geraak het nie? Nou is alles nog ingewikkelder. Nie dat dit ’n danige verskil gaan maak nie. Sy glimlag effens. Volgens haar broers was niemand in elk geval nog ooit goed genoeg vir hulle sussie nie. Waar hulle vir haar ’n man gaan kry met wie hulle tevrede sou wees, weet geen mens nie. Selfs die kommandant se seun was nie goed genoeg nie. Sy draai op haar rug en glimlag weer: Sy het self nie gedink die kommandant se seun is goed genoeg nie.

      Nou het sy op ’n slaaf gaan staan en verlief raak.

      “Verlief op ’n slaaf,” sê sy vir haarself sodat sy die woorde kan hoor, hoor of dit ooit sin maak: “Ek is verlief op hom, verlief op Vryheid sonder ’n van. Vryheid, my slaaf.”

      Sy sou dit graag in die kloof in op wou gil, sodat die eggo’s die boodskap wegdra en die hele binneland dit kan weet. Maar sy durf dit nie doen nie, sy huiwer selfs om dit te fluister, want hulle mag dit nie weet nie, al is sy self daarvan seker.

      Die liefde, besluit Magriet Prinsloo, is ’n sagte dief wat stil en vinnig steel. Niemand sien haar kom nie. Soos ’n dief in die nag. Dit moet wees wat die Woord bedoel.

      Sy wonder of sy nie maar kan begin opstaan nie? Verbeel sy haar sy hoor iemand by die kookskerm aan die vuurmaak, of wens sy dit net?

      Dalk is dit hy.

      Sy wil vir hom verduidelik, maar sy weet eintlik self nie wat sy wil verduidelik nie. Hoe lê ’n mens liefhê uit? Lief is mos nie ’n probleem nie.

      Hoe voel hy oor haar?

      Hoef sy haar broers se optrede te verklaar? Sy wil hulle nie verdedig nie, sy wil nie haar ma se raad oor hierdie liefde hê nie. Hoekom haar ma so fel reageer, verstaan sy net gedeeltelik. Kan dit wees omdat sy self met die nasaat van ’n slaaf getrou het? Geen man sou vir haar ma so ’n goeie man soos haar pa kon wees nie.

      Of is dit nou ’n groter sonde, noudat slawe vry is? Nie meer ’n blote besitting is nie?

      Wie sal verstaan?

      Magriet besluit om tog op te staan en aan te trek, al weet sy haar broers sal agterkom as sy op is en agter haar aankom. Om haar te beskerm, sê hulle altyd. Vir een maal in haar lewe wil sy asseblief tog net nie beskerm word nie.

      Sy staan op en trek aan


Скачать книгу
Яндекс.Метрика