Ena Murray Omnibus 37. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
oë soek maar hy sien darem nie vrypuisies nie. Wat is dit met die kind? Sy lyk behoorlik stuurs. “Is jy al weer kwaad of is jy maar sommer net in een van daardie onverstaanbare, onverklaarbare tienerbuie?”
Sy kyk hom vererg aan. Kyk, die man moenie aanhou sukkel nie. Die sproetneus wip. “Dokter, het u klagtes oor my werk?”
“Nee, natuurlik nie, maar . . .”
“Dankie. Maar met my buie het u niks uit te waai nie. Dis my persoonlike eiendom.”
Hy het hom duidelik ook nou bloedig vererg. Hy is immers ’n baie senior dokter en een van die hoofde van hierdie kliniek. Niemand sal dit waag om hom op so ’n trant aan te spreek en af te jak nie, maar hierdie klein snip . . .
“Ek begin nou moeg raak vir hierdie beduiweldheid van jou,” sê hy ook sommer pront. “Jy moet nou begin uitkom uit hierdie onvolwasse tienerbuie van jou en begin grootword! En maniere begin leer! Jy verdien nie meer die naam Sonstraaltjie nie. Jy lyk deesdae eerder na Donderbui!”
Sy weet dis belaglik dat hulle soos twee kinders staan en stry. Sy weet sy moet haar mond hou en die trollie gryp en so vinnig moontlik padgee. Maar daar is so baie dinge in die lewe wat ’n mens weet jy liewer moet doen en dit dan nie doen nie . . .
“Dokter, ek kan jou regtig nie ook toegooi met glimlaggies nie. Ander mense s’n drup alreeds van jou af soos taai stroop. Jy gaan nog verstik as jy nie oppas nie.” En toe eers gryp sy die trollie en laat spaander.
Horst Buchner lyk op sy strengste toe hy die gang afdraai na die teater toe. Toe hy sy kollega in die oog kry, kan hy nie die glimlag miskyk nie. En dis nie net hy wat die glimlaggende Julene Meissner ’n bietjie dik vir ’n daalder begin vind nie. Die hele kliniek is blykbaar aan die wonder wat aan die gang is. Of dalk het almal al tot dieselfde gevolgtrekking gekom as die snip van ’n trolliejoggie: Al hierdie tydige en ontydige glimlaggies is spesifiek vir hóm bedoel. Vroumense! Hulle raak heel beduiweld in hul tienerjare en so bly hulle tot hul sterfdag!
“Gee jy om as ek hierdie operasie bywoon? Ek sou graag wou sien hoe jy dit doen,” laat sy vleiend hoor toe sy in pas langs hom inval.
“Jy is welkom,” is die kortaf antwoord, en hy voeg stilswyend by: Dan is jou mond darem vir ’n ruk lank toe agter ’n masker! Ek wens net daar was iets waarmee ek daardie trolliejoggie se mond kon toestop!
Weer kan dit nie blote toeval wees nie dat dokter Horst en die trolliejoggie mekaar nie weer in die kliniek se gange raakloop nie. Dokter Horst swaai soms sommer onverwags by ’n kamer in om te verneem hoe dit gaan, al is sy rondte al afgehandel in daardie spesifieke afdeling. En die trollie word sommer skielik weer by ’n kamer ingestoot en ’n sonstraalstemmetjie vra: “Het iemand dalk netnou iets vergeet? Wat van ’n koerant?”
Vrydagmiddag keer Jan haar doelbewus voor. “Jy onthou nog ons afspraak môreaand, nè?”
“Ja, natuurlik. Kom eet sommer by ons. Het jy al enige nuus?”
“Nee, nie juis nie. Net dat sy haar opleiding in Pretoria ontvang het. Dit sê nie veel nie.”
“Nee, maar ’n mens kan probeer uitvind watter Meissners van daardie omgewing afkomstig is. Dit kan ’n mens op die spoor sit.” Uit die hoek van haar oog sien sy ’n wit doktersjas wat net by ’n kamer in wil verdwyn en dan tot stilstand kom. “Koop iets!” beveel sy vinnig.
“Hoekom?”
“Ons word dopgehou. Jy is veronderstel om te werk, nie om met die trolliejoggie te staan en ginnegaap nie, dokter Swanepoel.” Effens harder: “Hierdie doos sjokolade? Sekerlik, dokter.”
“Ek het nie geld by my nie,” protesteer Jan, maar die doos word in sy hand geprop.
“Draai jou rug en maak asof jy geld uit jou sak haal en dit vir my gee, stommerik! Jy kan my later betaal,” beveel Elke gedemp.
Jan is verplig om saam te speel en grinnik op die wipneus af: “Hou maar die kleingeld, juffroutjie!”
Die gesiggie straal. “O, dankie, dokter! Die dame gaan baie van die sjokolade hou. Ek is mal oor hierdie soort!”
Dan eers verdwyn die wit jas die kamer in en Elke sug verlig, maar keer vinnig toe Jan die sjokolade weer op die trollie wil terugsit. “Moenie laf wees nie. Jy kan dit nie nou weer terugsit nie. Hy sal mos sien jy het nie sjokolade by jou nie. Jy skuld my dit eenvoudig net.”
“Maar ek wil nie sjokolade hê nie!”
Sy glimlag hom vriendelik toe. “Maar ék hou daarvan. Bring dit môreaand saam.”
“Jy is ’n afperser en ’n crook.”
“Hie-hie. Net slim!”
Maar die volgende aand in die teater wonder Elke of sy regtig so slim is. Een ding is seker, dit was beslis nie baie slim van haar om in te stem om Jan na die vertoning te vergesel nie. Sy moes vooraf daaraan gedink het daar is ander mense wat die vertoning ook wil sien. En toeval kan dit regtig nie wees dat dit juis Horst Buchner is wat in die oop sitplek neffens haar neersak. Sy het hom onmiddellik raakgesien toe hy op die punt van die ry verskyn het. Haar hart het amper gaan staan.
“Jan! Kyk, daar is dokter Horst! Genugtig, ek hoop nie dis sy sitplek hier langs my nie!”
Jan lyk ook effens verskrik maar moet dan bieg: “Dis moontlik, want ek het ons kaartjies by hom gekry.”
“Wat?”
Jan is ongemaklik, maar laat verdedigend hoor: “Maar hy het nie gesê hy het drie kaartjies nie! Hy het gesê hy het kaartjies vir die vertoning wat ek by hom kan oorneem. Wel, toe neem ek dit by hom oor. Hoe moes ek weet hy het nog ’n kaartjie gehad?”
“Wanneer het jy die kaartjies by hom gekry?” vra Elke openlik ontevrede.
“Gister na jy my gemaak het die sjokolade koop. Ek sien toe hy kyk na die sjokolade wat by my sak uitsteek en ek sê toe maar ek het dit gekoop vir die dame met wie ek môreaand uitgaan. Toe vra hy of ek al kaartjies het en toe sê ek . . .”
“Ja, goed! Hier kom hy nou. Wel, gedane sake het geen keer nie, maar ek sê jou die duiwel gaan ons haal.”
Jan frons vererg. “Hoekom? Ek het die reg om uit te neem wie ek wil.”
“My liewe slim dokter, dis sekerlik nie etiket dat die narkotiseur van die Meissner-kliniek ’n trolliejoggie uitneem nie.”
“Jy is nie . . .”
“Hou jou mond tog toe! Ons is diep genoeg in die sop. En kyk reg voor jou. Genadiglik verdoof hulle die ligte ook nou. Maak asof jy hom nie raaksien nie.”
Sonder enige respek vir die moeite wat sy met haar kapsel gedoen het, pluk sy ’n spul hare met kammende vingers na vore sodat dit haar gesig aan die linkerkant bedek. Dan hoor sy ’n besadigde stem teen die haarsluier vasslaan.
“Goeienaand, dokter Swanepoel.”
Jan moet die groet erken. “O, goeienaand, dokter.”
“Ek hoop jy en jou vriendin sal die vertoning geniet. Volgens die resensies is dit puik.”
Elke sit met ’n skewe nek asof dit na geen kant kan draai nie.
“Ja, ek . . .” Natuurlik is hy veronderstel om sy vriendin aan sy senior voor te stel, maar ’n skerp elmboog in sy ribbes vertel hom hoe sy oor die saak voel. “Ja, ek het so verstaan.” Hy hark sy brein aan rafels, maar kan aan niks meer dink om te sê nie, en dokter Horst, na ’n oomblik van merkbare verbasing, sit terug teen die stoel en bewaar ook maar die swye hoewel sy blik telkens na die versluierde gesig langs hom gaan. Hoe die vroumens deur so ’n harwar hare gesien gaan kry . . .
Natuurlik is dit net nie moontlik om haar identiteit tot aan die einde te bewaar nie. Die een of ander tyd moet die ligte weer in volle gloed aangaan. Dis toe dat dokter Horst weer op beleefde toon vra: “Het julle dit toe geniet?”
“Ja. Dit was goed.” Jan klink maar kortaf. Die hele aand is bederf. Hy sweer Elke kon omtrent