Ena Murray Omnibus 39. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
hulle, hul pa of die res van Jagershoek kon sê nie. Hulle het tog sonder ma grootgeword en by die seuns op die sokkerveld kon hulle dit beslis nie geleer het nie. Maar soms, tot menigeen se verbasing in die verlede, kon hulle ’n insig in sake openbaar wat baie al in ’n ongemaklike posisie geplaas het.
So het dit met die vorige aspirante gebeur. Die tweeling het sommer dwarsdeur hulle gesien, hul ideale raak opgesom en korte mette met hulle gemaak. Hulle het nie ’n ma nodig gehad nie, het hulle die mansoekers onomwonde laat verstaan en hulle baie duidelik aan die verstand gebring wat op hulle wag indien hul planne met Henk Beukes gaan slaag. Henk het self soms nie geweet hoekom hierdie of daardie jong vrou, wat gister nog so oorvriendelik was, skielik koeler en stywer teenoor hom opgetree het nie.
Waar Jagershoek, tant An en selfs heimlik hul pa ’n ander mening gehad het, was dit by die tweeling ’n uitgemaakte saak: hulle het nie ’n ma nodig nie. Hulle kom baie goed sonder een klaar. Weliswaar is daar natuurlik voordele daaraan verbonde om ’n ma te hê. ’n Ma kan soetkoekies bak en pannekoek en sjokoladekoek en dies meer. Tant An was nie ’n bakster nie. Dit was die enigste leemte waaraan hulle kon dink waar hulle by ’n ma sou baat. Al gou het hulle met daardie leemte raad gekry.
Sonder dat dit ooit hul pa se ore bereik het, het hulle die baasbaksters van Jagershoek figuurlik gemerk en gereeld gesorg dat hulle daar ’n skimp of twee laat val wat onmiddellik die vroue, self ma’s en met harte vol simpatie vir die twee arme wesies, aan die bak gesit het. Op daardie manier was daar op wonderbaarlike wyse altyd ’n koekie of twee in die skoolhoof se huis te vinde, al was daar nie ’n ma wat die blikke kon vul nie.
Dus, aldus Die Tweeling, het hulle g’n ma nodig gehad nie.
Juffrou Estelle Huizeman het egter beslis anders gedink.
Dis ongehoord dat meisies wat al amper dertien is nog saam met die seuns sokker speel en bome klim en, soos sy gister verneem het, oom Thys, wat ’n klein plasie net buite die dorp het, se hansvark bloots gery het totdat die dier aan ’n hartaanval dood is. En hul kleredrag! Dis iets afgrysliks! Buiten hul skooldrag het sy hulle nog nooit in iets anders as vuil klinknaelbroeke gesien nie. Buiten darem Sondae in die kerk. Dan het hulle rokke aan wat, te oordeel na die blinkgeskropte gesiggies, met die grootste onwilligheid gedra word. Ook net totdat hulle weer terug by die huis is. Meestal is hulle al half ontklee wanneer hulle die privaatheid van hul slaapkamer bereik, en word die Sondagrokke met geen respek of ontsag sommer op die beddens neergebondel waar tant An dit maar weer kom optel en in die kas weghang tot volgende Sondag.
Nee, dit is hoog tyd dat Henk Beukes weer ’n vrou kry – ná sewe jaar sal hy darem seker beslis al ’n behoefte aan een hê, nie waar nie? En daardie tweeling moet vasgevat word. Hulle is soos twee wilde wegholperde, en iemand sal haar darem nou oor hul lot moet ontferm.
Hierdie lotsontferming begin een middag ná skool toe die tweeling gevra word om agter te bly. Hulle kyk vinnig na mekaar. Wat is dit nou weer? Om ná skool agter te bly kan net een ding beteken: moeilikheid.
Dit is egter ’n soort moeilikheid waarmee hulle nog nie tevore te doen gekry het nie.
Tot hul algehele verslaentheid moet hulle hoor dat hulle meisietjies is, en dat daar ’n verskil tussen meisietjies en seuntjies is – asof hulle dit nie self reeds weet nie. O ja, en dat fyne meisietjies nie saam met seuns sokker speel nie, en ...
In twee paar identiese blou oë woed ’n storm waarvoor ’n walvis sou skrik. “Hoekom nie, juffrou?”
Juffrou Estelle Huizeman kruis haar hande netjies. “Wel, kinders, julle word tog nou meisies. Dit het julle seker al agtergekom, nie waar nie?” Haar blik gly betekenisvol langs die lyfies af, maar twee paar blou oë staar haar meteens stokonnosel aan. Sy frons liggies. “Julle het tog seker al agtergekom dat daar iets met jul liggame aan ’t gebeur is? Daar is ’n andersheid deesdae, nie waar nie?”
Twee paar blou oë vernou en ontmoet mekaar vinnig, betekenisvol. Vir die eerste keer is daar direk verwys na dit waarvan hulle self al ’n hele rukkie bewus is, dat daar ’n skielike groei in hul seunsagtige gestaltetjies begin plaasvind het. Hulle het dit nog kwalik hardop teenoor hulself en mekaar erken, en vandag noem dié juffrou dit sommer op die naam. “Daar is ’n ontluikende vroulikheid waarvan julle bewus moet wees, nie waar nie, Bokkie, Tokkie?”
Toe die tweeling ’n rukkie later langs mekaar terugstap huis toe, skril die stilte eintlik tussen hulle – iets wat selde gebeur. Maar vandag kolk hul gedagtes van die ding wat so reguit uit die donkerte geruk is ... en die gevolge wat dit vir hulle gaan inhou.
In hul gedagtes het hulle die verskillende punte, soos wat juffrou Huizeman dit opgenoem het, afgetel: hul gemaklike ou klinknaelbroeke is van nou af taboe, geen sokkerspelery en boomklimmery meer saam met die seuns nie, hulle sal moet ophou om dit te doen, ophou om dat te doen. Al die lekker wat hulle geken het, sal nou prysgegee moet word omdat hulle, soos juffrou Huizeman dit gestel het, nou dametjies gaan word. Die “ontluikende vroulikheid” wat nou na buite begin bars, vereis dit. Wat ’n donker ding, wat ’n donker dag!
Die eerste keer in baie jare stap hulle die straat bedees af en bars nie die huis met die gewone gebokspring en lawaai binne nie. In hul slaapkamer sit – nie gooi nie – hulle hul tasse neer. Toe kyk die twee vir die eerste keer weer na mekaar, sien die “ontluikende vroulikheid” in mekaar raak ... en in hulself. Beskuldiging flits in die twee paar blou oë.
Ontluikende vroulikheid.
Dit klink kompleet soos vloekwoorde, dink Tokkie. Dit klink soos ’n ongeneeslike siekte, dink Bokkie.
“Kan ’n mens nie ’n plan daarmee maak nie?”
“Hoe bedoel jy?”
“Ek bedoel, dit op ’n manier teruggooi na waar dit ook al vandaan kom of dan, ten minste, die groeiery stopsit.”
En terwyl die tweeling daardie aand nugter wakker in hul beddens lê en planne prakseer hoe om hierdie “ontluikende vroulikheid” in die kiem te smoor, begin juffrou Estelle haar tweede stap in die rigting tot haar doelwit in werking stel.
Henk Beukes voel ietwat verbaas toe hy sien wie sy besoeker is, maar hy nooi sy nuwe personeellid binne.
“Ek hoop nie jy sal my kwalik neem dat ek vanaand reguit met jou kom praat nie, meneer Beukes.”
Hy glimlag gerusstellend. “Geensins nie, juffrou. Ek waardeer dit as my personeel reguit met my is. So verstaan ons mekaar. Is daar iets waarmee ek kan help, of iets wat jou pla?”
“Ek is baie gelukkig hier, meneer. Nee, dis nie oor my werk wat ek met jou wil praat nie.”
“O?”
“Ja, jy sien ... dis oor die tweeling.”
Hy frons liggies. “Was hulle stout? Of doen hulle nie hul werk nie?”
“Nee. Ten minste, nie stouter as gewoonlik nie, en hoewel hulle meer aandag aan hul skoolwerk kan gee, is hulle intelligente kinders en kan hulle daarmee wegkom. Nee, dis oor iets heeltemal anders wat ek wil praat, wat ek onder jou aandag wil bring.”
Hy bly liggies frons, maar laat geredelik hoor: “Goed, juffrou, laat ek hoor waaroor dit gaan.”
En terwyl die nuwe juffrou Henk Beukes vertel wat met sy dogters aan ’t gebeure is, iets wat hy geweet het hy die een of ander tyd sal moet begin verwag, maar tot op hierdie oomblik totaal onbewus van was, lê en prakseer die betrokke toekomstige dametjies die onheiligste brousels uit wat elke toordokter se toonnaels sou laat omkrul van jaloesie.
Die volgende dag stel hulle hul resep in werking. Die middag ná skool word daar allerhande kruie in die veld gepluk. Gewapen met ’n kartondoos vol van die bestanddele, sluip hulle tant An se kombuis binne toe sy dorp toe vertrek vir inkopies. Om die finale krag aan hierdie brousel te gee, word ’n stuk goor varkspek ook ingegooi. Daarna word die kokende mengsel kamer toe gedra. ’n Ou laken word in repe geskeur en toe begin die gedoktery in alle erns. Die duiwelspasta word dik aan die “ontluikende vroulikheid” gesmeer en dan styf met die lakenrepe toegedraai.
“Wie’t vir jou gesê al hierdie gemors sal maak dat