13 uur. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
ons gee die Metro-mense iets om te doen.” Hy loop tot teen die muur en roep na die uniforms. “Wie’s in beheer hier?”
Hulle kyk vir mekaar.
“Die sypaadjie is ons s’n,” sê ’n bruin Metro-polisieman met ’n indrukwekkende uniform, rangtekens net waar jy kyk. Seker ’n veldmaarskalk, dink Griessel.
“Julle s’n?”
“Dis reg.”
Hy wil hom vererg, want hy het ’n probleem met die hele idee van die stadspolisie, fokken spietkops wat nie hulle werk doen nie, almal maak net wat hulle wil op die paaie. Hy hou hom in en wys met ’n vinger na ’n SAPS-konstabel: “Ek wil hê julle moet dié sypaadjie afkamp, van daar onder af tot hier bo. As die mense wil staan, kan hulle anderkant die pad staan.”
Die konstabel skud sy kop. “Ons het nie tape nie.”
“Dan gaan háál jy tape.”
Die SAPS-man hou nie daarvan om die uitverkorene te wees nie, maar hy draai om en loop deur die skare. ’n Ambulans kom van sy linkerkant af aangesukkel deur die mense.
“Dis ons sypaadjie,” sê die swaarberangde Metro-poliesman moedswillig.
“Is jy die hoofman hier?” vra Bennie vir hom.
“Ja.”
“Wat is jou naam?”
“Jeremy Oerson.”
“En die sypaadjies is julle jurisdiksie?”
“Ja.”
“Perfek,” sê Griessel. “Sorg dat die ambulans hier kom parkeer. Net hier. En dan wil ek hê julle moet elke sypaadjie en stegie begin inspekteer binne ses blokke van hier af. Die slagoffer het ’n rugsak gehad en ons soek daardie rugsak. Elke asdrom, elke hoek en draai, verstaan jy?”
Die man kyk vir hom, lank. Seker besig om aan die implikasies te dink as hy weier. Dan knik hy, nors, en begin vir sy mense bevele blaf.
Griessel draai om en loop terug na Vusi toe.
“Julle beter hier kom kyk,” roep die patoloog van waar sy by die lyk buk.
Hulle gaan staan by haar. Sy hou ’n klere-etiket met ’n knyptangetjie vas, die een wat agter aan die meisie se kamisool is.
“Broad Ripple Vintage, Indianapolis,” sê sy en kyk betekenisvol vir hulle.
“Wat beteken dit?” vra Vusi Ndabeni.
“Ek dink dis van Amerika,” sê sy.
“Fok,” sê Bennie Griessel. “Is jy seker?”
Tiffany October se oë rek effens oor sy taalgebruik en haar stemtoon beaam dit: “Redelik seker.”
“Trouble,” sê Ndabeni. “Big trouble.”
4
In die biblioteek van die groot huis in Brownlowstraat, Tamboerskloof, ruk die hoë, vreesbevange gille van haar huishulp vir Alexandra Barnard uit die slaap.
Dit is ’n surrealistiese oomblik. Sy weet nie waar sy is nie, haar ledemate voel vreemd, stram, ongemaklik, haar kop dik, haar gedagtes soos koue molasse. Sy lig haar kop, probeer haar oë fokus. Sy sien die gesette bruin vrou by die deur, die mond verwring in wat sy eers as afsku eien, die geluid wat deur murg en been dring.
Alexandra besef sy lê op haar rug op die Persiese tapyt en sy wonder hoe sy hier gekom het. Terwyl sy bewus raak van die walglike smaak in haar mond en die feit dat sy die nag besope op die vloer deurgebring het, volg sy die oë van Sylvia Buys: Iemand lê langs die groot bruin leerstoel oorkant haar. Sy druk met haar arms om orent te kom, sy wens Sylvia wil ophou skree, sy kan nie onthou dat iemand gisteraand saam met haar gedrink het nie. Wie sal dan daar lê? Sy sit regop, haar perspektief nou beter, sodat sy die figuur herken. Adam. Haar man. Hy het net een skoen aan, die ander voet in ’n sokkie wat hang, asof hy besig was om dit uit te trek. Swart broek, wit hemp, swart besmeer hier op sy bors.
En dan, asof iemand die fokus van ’n kamera eindelik instel, besef sy Adam is beseer. Die swart op sy bors is bloed, die hemp stukkend.
Sy druk met haar hande op die tapyt om op te staan, verward, verstom. Sy sien die bottel en die glas op die houttafeltjie langs haar. Haar vingers druk op iets en sy kyk en sy sien die vuurwapen wat hier by haar lê. Sy herken dit, Adam se pistool. Wat doen dit hier?
Sy staan op.
“Sylvia,” sê sy.
Die bruin vrou hou aan met skree.
“Sylvia!”
Die stilte is meteens ’n verskriklike verligting. Sylvia staan by die deur, haar hande nou teen haar mond, haar oë vasgenael op die pistool.
Alexandra Barnard loop ’n versigtige twee tree vorentoe en staan dan stil. Adam is dood. Sy besef dit nou, die somtotaal van die wonde en die manier hoe hy lê, maar sy verstaan dit nie, droom sy?
“Vir wat?” sê Sylvia half histeries by die deur.
Alexandra kyk na haar.
“Vir wat het jy hom doodgemaak?”
* * *
Die patoloog en twee ambulansmanne manipuleer die lyk met groot sorg in ’n swart toerits-sak in. Griessel sit op die kliprand van ’n palmboom se bedding. Vusi Ndabeni is op sy selfoon besig met die stasiebevelvoerder. “I need at least four, Sup, for leg work … I understand, but it’s an American tourist … Yes, we’re pretty sure … I know … I know. No, nothing yet … Thanks, Sup, I’ll wait for them.”
Hy stap na Bennie toe. “Die SB sê daar’s vanoggend ’n protest van die een of ander labour union by die parlement en hy kan my net twee mense gee.”
“Daar’s altyd ’n fokken protest van die een of ander labour union,” sê Griessel en staan op. “Ek sal help met die voetwerk, Vusi, sodra die foto’s kom.” Want hy kan nie so rondsit nie.
“Dankie, Bennie. Wil jy koffie hê?”
“Gaan jy iemand stuur?”
“Daar’s ’n plek hier onder in die straat, ek loop gou.”
“Nee, laat ek gaan haal.”
* * *
Hulle staan die Caledonplein-aanklagkantoor vol, die klaers, die slagoffers, die getuies en meelopers met stories van die nag wat verby is. Bo die see van protesterende en beskuldigende stemme lui ’n telefoon lank en eentonig. ’n Vrouesersant, gedaan ná nege uur op haar voete, ignoreer die volgende fronsende gesig aan die anderkant van die toonbank en gryp die instrument. “Caledon Square, sergeant Thanduxolo Nyathi speaking, how may I help you?”
’n Vrouestem wat praat, onhoorbaar sag.
“You’ll have to speak up, madam, I can’t hear you.”
“I want to report something.”
“Yes, madam?”
“There was this girl …”
“Yes, madam?”
“This morning, at about six o’clock, on Signal Hill. She said I must call the police because someone wants to kill her.”
“One moment, madam.” Sy trek ’n SAPS-vorm nader en trek ’n pen uit haar hempsak. “May I have your name?”
“Well, I just want to report it …”
“I know, madam, but I need a name.”
Stilte.
“Madam?”
“My name is Sybil Gravett.”
“And your address?”
“I really can’t see how this is pertinent.