Wie met vuur speel. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
van die linkerkant af. Hy besef dat net een van die wagte die huis gaan deursoek het. Die ander een het buite gebly, gewag vir die rot wat die sinkende skip gaan verlaat. Maar sy brein registreer ook dat dit ’n kleinkaliberrewolwer is wat die skoot afgevuur het. En die wag is ver van hom af. Minstens veertig meter.
Die kanse dat die wag ’n bewegende teiken op dié afstand kan raak skiet, is vyftig-vyftig. Hy hou aan met hardloop. Sewe, ses, vyf . . .
Nog ’n skoot klap, by sy oor verby, ’n woedende supersoniese insek.
“Stuart, kom help, hy’s hier buite!” hoor hy die wag skree, maar dan is hy tussen die struike. Hy verander van rigting, want hy wil hulle nie reguit na die tou toe lei nie.
Hy moet stadiger hardloop. Die kolligte laat digte skaduwees tussen die plante. Hy kan die muur sien. Dan tref sy bors ’n trapdraad en ’n rooi fakkel klief die lug.
“Daar’s hy! In die bosse.”
Koeëls staccato deur die plantegroei. Hy verander weer van rigting, maar behou sy ritme met die hardloop en sy asemhaling. Nog dertig meter na die muur, veertig na die tou. Nog ’n trapdraad, nog ’n fakkel verhelder die nag. Weer skote en lood. Hulle mik te hoog, dink hy. Mik vir die bene as jy ’n man wil stop.
Twintig meter na die tou. Vyftien. Tien. Die swart skaduwee aan sy regterkant begin skielik leef.
Dobermann.
Die hond haal hom met lang, inspanninglose hale in. Dan verskyn die ander hond ook uit die donker.
Hy kan die tou sien. Maar die rekenaar sê die honde gaan hom vang voor hy teen die tou kan opskarrel.
Sy brein stort ’n vergete lesing oor hondeaanvalle in sy bewussyn en selekteer oorlewingsinligting.
Opgeleide honde sal die uitgestrekte arm aanval. Bied jou voorarm aan. Daar kan die minste weefsel en senu’s beskadig word. Die mens se natuurlike vrees vir groot honde is die diere se grootste voordeel. Die mens is groter en sterker as die meeste honde. Gebruik jou meerdere intelligensie en spierkrag.
Hy hang sy regterarm uit omdat dit die een naaste aan die dobermanns is. Die voorste een spring. Hy voel hoe die tande deur die trui tot in die vleis van sy voorarm byt.
Die hond ruk hom van balans, maar hy hou aan met hardloop. Die dobermann rem. Die tweede hond is verward. Dinge verloop nie soos die diere geleer is nie.
Dan is hy by die tou. Hy spring so hoog moontlik teen die muur op, maar die hond se gewig aan sy arm is te veel. Sy linkerhand gryp ’n knoop in die tou. Sy voorarm bloei vryelik en die pyn begin skree vir aandag in sy brein.
Hy stoot die regterarm teen die tou op en begin klim. Die hond klou – hul gesigte byna teen mekaar as sy arm teen die tou opstrek.
Hy hoor die wagte deur die struike hardloop. Te naby.
Die hond se remkrag is te groot.
Dan spring die ander hond van die grond af. Hy sien die beweging uit die hoek van sy oog en skop instinktief.
Dis ’n voltreffer teen die dobermann se keel, maar die hond maak geen geluid wanneer hy terugval op die grond nie.
Hy beur verder teen die tou op – halfpad tussen vryheid en gevaar, met ’n hond wat besig is om die spiere en senings en bloedtoevoer uit sy arm te skeur. Hy swaai sy arm en die hond se kop tref die muur dofweg. Hy staar in die vurige swart oë wat nie eens knip nie.
Sy bloed straal langs die silwerswart kake af.
“Daar’s hy! Skiet die bliksem!” Hulle is naby.
Hy beur op. Sy linkerhand is bo. Die kabel. Die hoogspanningskabel.
Sy regterhand is ook bo. Skote klap teen die muur. Hy wil die hond opswaai, tot teen die kabel. Maar dan verslap die hond se greep skielik.
Hulle het die hond raak geskiet, besef hy. Die hond val. Hy swaai tot op die muur. ’n Koeël brand sy nek. Nog skote. Hy spring en ruk sy batterykabel terselfdertyd af.
Dis donker anderkant die muur, maar hy ken die pad. Hy hardloop. Sy asemhaling is hortend. Hy dwing die ritme reg. Die pyn in sy arm skree selfs Sutherland se stem stil. Te veel bloed. Maar hy moet eers wegkom. Hy hoor swetse agter hom waar die wagte teen die muur uitklim, dalk teen die kabel stry.
Carla blaf wanneer sy hom hoor aankom. Sy hande werk koorsagtig om die leiband van die hek los te maak. Dan hardloop hy met haar aan sy sy na die motor toe. Die sleutel wag in die aansitter. Die enjin spring aan die lewe. Hy werk instinktief met die ratte en koppelaar.
Die eerste blou ligte en sirenes kry hy eers in die veiligheid van ’n woonbuurt. Maar hy hou die getuienis van die arm laag, sodat die aankomende verkeer dit nie kan sien nie.
’n Poel bloed vorm op die motor se grys mat.
Deel 1
1
Van haar huis teen Tafelberg se hang ry Ragel Bergh in haar 1968-MG met die afslaankap na die gimnasium in Strandstraat. Sy is effens laat, haastig, vasberade om tyd in te haal.
Haar roetine tussen die gewigte, die lêplanke en die oefenmasjiene wat in onvriendelike groepies saamhurk, is dieselfde: maag, skouers, arms, bene, tot die sweet haar groen T-hemp vlek bo die bult van haar borste en blink strepe oor haar gesig en nek vorm, af tot agter by die lang bruin hare in ’n vlegsel.
Soos altyd is sy bewus van die oë op haar, ongemaklik oor die vae sensualiteit van dié plek, waar kleding ’n oorlas is, waar die liggaamsbouers van vroegoggend voor die spieëls die dans van Narsissus uitvoer, steunend met elke optrek van ’n massa staal, ritmies kreunend soos die voorspel tot orgasme. Waar die jappies met ontwerpersdrag hul lywe kom belyn vir Clifton of die vlugbal op Kampsbaai, alles daarop gemik om die oog van die ander geslag te streel.
Ragel Bergh konsentreer op haar eie program, tot sy met ’n stil uitblaas van asem die laaste stang laat sak en kleedkamer toe stap, ’n lang, aantreklike vrou in ’n los hemp en sweetpakbroek, wange verkleur deur die inspanning, bors wat dein, haar fokus nou by die dag wat voorlê, die boekeveiling, die afsprake met kliënte, ’n beplande telefoongesprek met ’n vriendin, sonder intuïsie van vreugde of onheil.
Wanneer sy by haar koninkryk aankom, in ’n geblomde rok wat skimp van soepel arm en been, is die deur van die winkel ’n ope uitnodiging, Vivaldi se “Lente” ’n leidraad tot die gemoed van haar werknemer.
Bergh Boeke, lui die uithangbord oor die sypaadjie van Langstraat.
Frikkie Cornelissen wag haar in. Hy is haar kontrapunt, haar kameraad.
Frikkie, wat een wintermiddag by haar boekwinkel ingestap gekom het, sy tengerige liggaam gebuk teen die noordwester wat die koue front ingewaai het. Met oë wat deur die dik brillense nog groter lyk, het hy na die rye en rye boeke op die rakke gestaar en nou en dan tentatief sy hand uitgesteek om aan een te vat.
Ragel Bergh het nie dadelik kom vra of sy kan help nie. Sommige weet wat hulle wil hê en soek dadelik hulp om dit op te spoor. Vir ander is die soektog deel van die liefdestaak – hulle wil self delf. Frikkie het gelyk of hy op sy eie wil wees.
Tog het sy hom uit die hoek van haar oog dopgehou. Hy was maklik ’n kwartier lank in die winkel voor hy ’n boek van die rak afgehaal en oopgemaak het. Sy lang, dun vingers het dit met die grootste respek en liefde gedoen. Hy het weer die boek gebêre en ’n volgende een geneem. Maar Frikkie Cornelissen het nie dié dag iets gekoop nie. Ook nie die volgende of die een daarna nie. Op die vierde dag het hy doelgerig by die deur ingekom, reguit op haar afgestap waar sy agter haar lessenaar gesit en lees het, en in sy sagte stem gesê: “Ek moet hier werk.”
Sy het nie regtig iemand nodig gehad nie. Dit was ’n instinktiewe aanstelling, uiteindelik ’n slim een.
Frikkie Cornelissen het ná matriek homself uitgemergel agter die stowwerige lessenaar waar hy bouplanne vir die streeksdiensteraad moes sorteer. Hy wou met boeke werk. Vandat hy kon onthou. Hulle was sy ontvlugting, sy enigste ware vriende, sy toevlugsoord in boekrakke en biblioteke. Net ’n droom – tot hy voor Ragel gaan staan