Wie met vuur speel. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
glimlag. “Mag ek vra wie dit is wat my onder die tafel ingebie het?” vra hy en sy blou oë is bakens. Ragel is nie voorbereid op sy hartlikheid nie.
“Het jy geweet wat die boek werd is voor jy soos ’n besetene te kere gegaan het?”
Onder die welige snor verbreed sy glimlag. “Is jy kwaad vir my? Ek was nie daarvan bewus dat ek oortree het nie.”
Sy vriendelikheid maak dit vir haar moeilik om kwaad te bly, maar dit irriteer haar dat sy nie weet van waar sy hom ken nie. Boonop het hy soos ’n regte amateur gebie.
“Ek dink dit is ’n oortreding as ’n mens nie deeglike navorsing doen voor jy jou op ’n professionele terrein waag nie. ’n Veiling soos dié is nie ’n plek vir amateurs met geld om te mors nie.”
Hy lag hardop. “Goed, goed, ek is skuldig. Mag ek pleit om versagting van vonnis, edelagbare?”
Een van die afslaers se mense het haar aankope netjies verpak en staan nou reg om dit motor toe te dra.
“Nee,” sê sy vir die grynslaggende man voor haar en stap deur toe. Sy weet sy het pas redelik kinderagtig opgetree, maar nou wil sy net daar wegkom.
“Vierduisend eenhonderd rand?” sê Frikkie verstom.
“Ek weet, Frikkie. Wat sou jý gedoen het? Wees bly jy kan die boek in jou hande vashou.”
Hy skud sy kop ongelowig en prewel weer die bedrag. Dan kyk hy van die boek af op. “Weet jy glad nie wie hy is nie?”
“Ek weet ek het hom al gesien. Onlangs. Iewers.” Sy sien weer die gesig voor haar. Dit is nie net sy bekendheid wat haar pla nie. Daar is ook iets anders . . .
Hoekom reageer sy só? Die man is aantreklik met sy dik blonde hare, oë van asuur en vierkantige kakebeen. Maar wat is dit wat haar terselfdertyd so afstoot? Sy grinnik? Die vel wat so intens bruingebrand is?
“Dis sy houding,” sê sy hardop aan Frikkie, wat besig is om elkeen van die nuwe aankope soos minnaresse te leer ken; hy hoor haar skaars.
Ragel weet dit is sy seksualiteit. Blatant, openlik. Selfversekerd.
“Ons sal net ’n bietjie langer moet wag voor ons ’n wins kan maak,” sê Frikkie.
“Ons sal hom tog nooit weer sien nie,” sê sy.
“Hoe nou?”
Sy skrik uit haar gedagtegang. “Jy is reg. Dit bly ’n goeie belegging.”
Ragel se kantoor is met ’n groot glasvenster van die res van die winkel geskei – nadat Frikkie by haar aangesluit het en hy haar ou lessenaar in die winkel gekry het. Terwyl sy alles kan sien wat aangaan, gee dit haar terselfdertyd privaatheid met telefoonoproepe. Sy maak die glasdeur oop en sê oor haar skouer: “Mevrou Kemp kom vanmiddag in en ek het nog nie eens gekyk wat ek vir haar wil aanbied nie.”
Dan maak sy die deur agter haar toe en gaan sit by die lessenaar. Sy trek die aankopeboek nader en vul die jongste besonderhede in. Haar gedagtes dwaal weer na haar optrede by die veiling.
Sy wil haar reaksie teenoor die man rasionaliseer. Sy het lanklaas ’n sinvolle verhouding met ’n man gehad. Is sy só uit oefening? Of is dit die ander ding? Die sekerheid waarmee sy liggaamstaal gesê het hy gaan haar kry, sy lyf se stempel op haar afdruk?
Die vulpen maak ’n klad en sy klik haar tong. Waaraan dink sy?
Ragel is besig met maagspieroefeninge toe die stem langs haar opklink. “Dan hét ek jou al voorheen gesien.”
Sy herken die stem voor sy omkyk. En haar humeur vat vlam. Want sy tydsberekening is weer verkeerd. Sy lê op haar rug, met ’n rooi gesig, sweetkolle in haar hare en op haar klere en maagspiere wat smeek vir rus. En hy staan vars en netjies in ’n ligblou sweetpak en glimlag met spierwit tande onder die snor.
Maar nou weet sy ook waar sy hom al gesien het. Soms, eenkant, in die hoek van die gimnasium, op sy eie aan ’t oefen, sonder spieëls.
“Is ek nog steeds persona non grata?”
Ragel staan op en trek haar handdoek nader. Sy neem ’n vaste besluit om nie dié keer kinderagtig op te tree nie. “Nee, die aanklag teen jou is laat vaar,” sê sy hoflik, sonder hartlikheid.
“Luister, ek weet ek was skuldig. Maar ek wou die boek só graag hê. En ek moet bieg: Ek het nie regtig geweet wat dit werd was nie.”
Sy wil nie in sy gesig kyk nie, maar om weg te kyk, sal aan hom ’n soort oorwinning besorg. “Ek verseker jou jy is vergewe.”
Hy glimlag nog steeds. “Dit is nogal jammer. Ek sou graag ’n geleentheid vir boetedoening wou hê.”
Sy lig haar wenkbroue.
“Wat van aandete?” vra hy “Dan kan jy sommer die geleentheid gebruik om my op te voed oor die waarde van Africana.”
“Ek ken jou nie eens nie.”
Hy steek sy hand uit – ’n sterk hand, met fyn blonde haartjies op sy vingers wat duidelik uitstaan teen die bruingebrande vel. Hy laat haar dink aan ’n soort dier. ’n Roofdier.
“Dirk Buchner. Seaviewstraat 22, Clifton.”
Hy is so verdomp selfversekerd. Sy haat hom daarvoor. En vir die vlinders in haar maag en die bruising van haar bloed. “Ragel Bergh.” Sy neem die hand en wil dit dadelik los, maar sy greep is ferm.
“Ek weet,” sê hy steeds glimlaggend.
Hy speel met my, besef sy.
“Ek het ná die veiling met die afslaers gesels. Ek wou al vroeër kontak maak, maar ek moes Johannesburg toe vir sake.”
Sy kry haar hand los uit sy greep. “Ek moet gaan stort.”
“Wat van aandete?”
“Ek weet nie. Ek . . . Die boekwinkel. Ek het ’n boekwinkel. Ek is baie besig.” Sy stap aan kleedkamer toe, maar voel sy oë oor haar liggaam. Haar hart klop in haar keel. Dit is nie van oefening nie.
Frikkie speel die Brandenburg-konserte op die CD-speler en Ragel neurie saggies terwyl sy die boeke op die boonste rak een vir een afhaal en met die sagte lap afstof. Sy staan op die trapleertjie. Haar gedagtes is nie by die boeke of die werk nie, maar by Dirk Buchner. Hoekom het die noodlot bepaal dat hulle só ontmoet? En by dieselfde plek oefen. Sy het juis gesorg dat sy met niemand by die gimnasium groot vriende word nie, want dit is haar privaattyd.
Boonop is dit nie die vleiendste plek vir ’n vrou nie, met die sweetreuk wat oor die plek hang, die klere, die gekreun . . .
“Ek het jou amper nie geglo nie. Maar nou kan ek sien jy is besig.”
Sy stem klink hier reg langs haar op. Ragel se hele liggaam ruk soos sy skrik en ’n oomblik lank wonder sy of sy dalk hardop met haarself gepraat het. Sy gryp die leer vas om haar balans te herwin.
Buchner steek ’n arm uit en steun haar. “Ek is jammer. Ek het nie besef jy is ingedagte nie. Dit lyk my ons kan net nie op die regte voet kom nie.”
Sy kyk hom in die oë en is onmiddellik spyt daaroor, maar sy sien hy is werklik jammer. Die amper smalende glimlag is afwesig. “Jy sal die een of ander tyd iets anders as vergifnis moet vra, meneer Buchner,” sê sy terwyl sy afklim en langs die leer gaan staan. Buchner se lengte tref haar weer eens.
“O, ek het al.”
“Hoe bedoel jy?”
“Die boetedoening. Aandete?”
Sy weet sy bloos.
“Ja,” sê sy.
“Ja?”
“Ek onthou.”
“Weet jy hoe laf gaan dit lyk as ’n man in jou winkel op sy knieë gaan staan en smeek?” Die glimlag is weer terug, en sy kan nie help om ook te glimlag nie.
“Meneer Buchner, jy skuld . . .”