Die Afrikaners. Hermann GiliomeeЧитать онлайн книгу.
Voorwoord
In 1949 was Jan Smuts, leier van die Verenigde Party en voormalige eerste minister, een van die sprekers by die inwyding van die Voortrekkermonument. Met sy effens formele Afrikaans het hy liries oor die Afrikanergeskiedenis gepraat. “Watter jong volk kan op ’n meer romantiese geskiedenis roem, een van meer ingrypende belang? Kleur, insident, tragedie en komedie, nederlaag en oorwinning, vreugde en smart … Ons voorgeskiedenis is van die aangrypendste menslike belang. Had ons maar die pen van die Grieke, wat ’n literariese (sic) bydrae sou ons nie maak tot ons toekomstige skatte! Daar is goud nie alleen in ons aarde nie, maar nog meer in ons geskiedenis. Daar was so min teken van ’n deurdagte plan, so veel van die misterie …”
Die Afrikaanse nasionalistiese geskiedskrywing van die vorige eeu het die romantiese, die heroïese, die “goud” van die Afrikaners se geskiedenis beklemtoon, maar dit was dikwels ’n skewe voorstelling. Die lyding, die swaarkry en die geringskatting van bruin en swart mense en hul groot bydrae tot die totstandkoming van die komplekse samelewing en gesofistikeerde ekonomie en infrastruktuur is onderbeklemtoon of verswyg. Dit was ’n toejuiging met net een hand wat klap.
In die afgelope veertig jaar was die voorstelling dikwels skeef na die teenoorgestelde kant. Die heroïese stryd van swart en bruin teen onderdrukking het – tereg – groot aandag geniet. Maar daar was ’n neiging om die rol van wit mense, en veral dié van die Afrikaners, tot dié van onderdrukkers en uitbuiters te reduseer.
Dit het ’n sentrale deel van die African National Congress se propaganda geword en vind byvoorbeeld neerslag in Thabo Mbeki se toespraak “The Historical Injustice”, oorspronklik in 1978 gelewer en opgeneem in sy Africa: The Time has Come, ’n bundel toesprake en essays wat in 1998 verskyn het. Hy skets ’n geskiedenis van 350 jaar van menseslagting, verslawing, uitbuiting en die oordrag van siektes. Hoewel die swartes “the producers of wealth” was, was dit nie vir hul eie voordeel nie, maar vir “appropriation by the white population”. Terwyl die kapitalisme onder Britse beheer aan die spits van die uitbuiting van swart mense gestaan het, het die Boere volgens Mbeki alles wat dinamies is laat vaar “and lapsed into a state that was feudalistic, primitive, stultified and reactionary”.
Hierdie siening van die Afrikaners van die agtiende eeu is ook te vind in Allister Sparks se invloedryke The Mind of South Africa, wat in 1990 verskyn het. Die Europese koloniste wat aan die Kaap wortelgeskiet het was volgens hom “surely the simplest and most backward fragment of Western civilization in modern times”. Hierdie bewering word gemaak sonder om te let op die genuanseerde oordele van ervare reisigers in die negentiende eeu. George Thompson het byvoorbeeld in sy Travels and Adventures in Southern Africa van 1827 onderskei tussen die Afrikaners as individue, onder wie daar sommige was wat hy barbaars, lui en beginselloos gevind het, en die groep, wat hy as van ’n hoër gehalte