Эротические рассказы

Die Afrikaners. Hermann GiliomeeЧитать онлайн книгу.

Die Afrikaners - Hermann Giliomee


Скачать книгу
sy Afrikaanse bure in die Oos-Kaap as ongekultiveerd en bevooroordeeld teenoor die Khoi-Khois beskryf, maar die groep in die geheel het hy as beskaafde, opgeruimde mense met ’n knap sakesin beskou.

      In baie opsigte was die beeld wat radikale opponente van die Nasionale Party-regering geskilder het die teenoorgestelde van die verheerliking van die Afrikaners deur die Afrikanernasionaliste gedurende die eerste helfte van die vorige eeu. Hulle het ’n idealistiese prentjie opgebou wat ewe min verband hou met die werklikheid as die karikatuur van die anti-apartheid-beweging. By baie Afrikaners van ’n jonger geslag het dit die opvatting laat posvat dat die geskiedenis op sy ergste ’n nagmerrie is waarvan hulle graag wil ontsnap. Saam met die ondergrawing van die geskiedbeeld het die snelle afskaling van Afrikaans as openbare taal gekom. Daar het ’n opvatting ontstaan dat die kultuur rondom Afrikaans, ook die Afrikaanse geskiedskrywing, irrelevant is vir die uitdagings waarvoor Afrikaners in die een-en-twintigste eeu staan.

      Een van die simptome hiervan is die houding van mense wat in Afrikaanse skole en universiteite was en Afrikaans as hul eerste taal praat, maar nie as Afrikaners bekend wil staan nie. Die vernaamste rede is dat hulle – foutief en ahistories – meen dat die term Afrikaner deur sy assosiasie met Afrikanernasionalisme en apartheid fataal besmet is.

      ’n Verwante simptoom is om die term Afrikaner net tot wit mense te beperk omdat gemeen word – weer eens foutief – dat min mense, behalwe wit, konserwatiewe mans, daartoe aangetrokke voel. Hierdie boek toon aan dat die term Afrikaner dikwels in die geskiedenis op ’n oop en inklusiewe wyse gebruik word en dat mense uit ’n breë spektrum bereid is om hulle self ook as Afrikaners te beskou, mits die term nie met rassisme en uitsluiting vereenselwig word nie.

      Ander dink weer dat hulle ’n keuse tussen Afrikanerskap en Suid-Afrikanerskap moet maak. Daar is ’n wanopvatting dat ’n mens moet kies tussen jou betrokkenheid by jou land en die samelewing as geheel en jou bepaalde taal- of etniese gemeenskap. In die huidige tyd van postmodernisme, met die stryd tussen die kapitalisme en die kommunisme verby, word die idee van ’n meesternarratief en ’n meesteridentiteit verwerp. Daar word besef dat die demokrasie juis versterk word as subnasionale gemeenskappe en minderheidstale geborge voel. Die toekoms van Afrikaners en Afrikaans as taal lê in veelvuldige lojaliteite: Afrikaner én Suid-Afrikaner, Afrikaner én Afrikaan, Afrikaner én Westerling, Afrikaner én wêreldburger.

      Hierdie boek is gerig op plaaslike lesers, maar op ’n spesiale manier ook op Afrikaners wat in die buiteland woon, onder wie my twee kinders. Die boek Tribes van Joel Kotkin, wys daarop dat die wêreld se suksesvolste uitgewekenes, onder wie die Jode, Britte, Chinese, Japannese en Indiërs, mense is wat nie in die buiteland in hul nuwe omgewing wil wegsmelt nie, maar baie bewus is van hul eie, unieke geskiedenis en kultuur en baie moeite doen om bande met hul geboorteland en “stamgenote” te behou en instellings in die land finansieel en geestelik ondersteun. Die sleutel tot hul sukses is ’n sterk gebondenheid aan ’n gemeenskap in hul vaderland en saam daarmee ’n goeie opvoeding, hardwerkendheid, spaarsaamheid en sterk familiebande.

      In onlangse jare het die gestaltes van Afrikaner-wees radikaal verander. Dit beteken nie meer om deel te wees van ’n gemeenskap wat die land vir hom self toe-eien en op ander mense trap nie. Dit beteken nou ’n vrye, mobiele en soms virtuele gemeenskap, wat mekaar op kuns- en musiekfeeste vlugtig ontmoet, op die internet met mekaar in aanraking bly en moeite doen om Afrikaans in die huisgesin en op skool en universiteit lewend te hou. As Afrikaners as gemeenskap en Afrikaans as taal wil oorleef, sal mense moet weet uit watter hoek hulle kom en hul eie storie – hul eie “historie” – ken. Netwerke tussen die Afrikaners in die diaspora en die mense by die huis is lewensbelangrik vir die oorlewing van Afrikaans en Afrikaanse gemeenskappe. Een van die bande is die besef van historiese wortels. Soos ’n Chinese digter ’n millenium gelede gesê het: As die verlede wegval, disintegreer die wil. Ek het die boek veral geskryf vir mense wat vandag na hul wortels soek, maar geen begeerte het om met die tradisionele nasionalistiese interpretasie, wat praat van ’n volksiel of goddelike bestemming, gekonfronteer te word nie.

      Tot dusver het daar al ses boeke in Engels oor die geskiedenis van die Afrikaners verskyn. Daar is, merkwaardig genoeg, geen werk in Afrikaans wat die Afrikaners se geskiedenis in ’n enkele band beskryf nie, maar wel die agt bande van G.D. Scholtz se Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner, wat die tydperk 1652 tot 1948 behandel.

      Toe ek in 1992 as genoot van die Woodrow Wilson Center for International Scholars in Washington met ’n manuskrip oor die Afrikaners begin, het ek besluit om dit eerste in Engels te skryf. In die VSA was daar intense belangstelling in Suid-Afrika en die onderhandelings oor ’n nuwe grondwet. Ek was aanvanklik van plan om ’n korterige boek net oor die meer onlangse tydperk in die Afrikaners se geskiedenis te skryf en om veral by Amerikaners ’n beter begrip van die ingewikkeldheid van ons situasie te bevorder.

      Dit het in die loop van my nege maande in Washington duidelik geword dat die Afrikaners nie volgens ’n nuwe grondwet die mag sou deel nie, maar dit waarskynlik sou verloor. Ek het dus besluit om ’n heeltemal ander boek te skryf, en wel ’n boek waarin die geskiedenis van die Afrikaners deur meer as drie eeue beskou word vanuit ’n posisie waarin hulle dikwels was: dié van ’n minderheid afhanklik van bondgenote, maar veral van die wil om te oorleef al staan hulle alleen. Ek het aanvanklik gedink die manuskrip sou binne twaalf maande voltooi wees; op die ou end het dit meer as tien jaar in beslag geneem. Die Engelse weergawe het in 2003 verskyn as The Afrikaners: Biography of a People, met die University of Virginia Press as die uitgewer in die VSA, Hurst and Co. in Londen en Tafelberg in Suid-Afrika.

      In die Engelse uitgawe en in hierdie werk het ek twee dinge probeer doen. Ten eerste wil ek ’n werk beskikbaar stel wat berus op die heel jongste navorsing oor die Afrikaners en voldoen aan die akademiese maatstawwe vir ’n grondige besinning. Ten tweede wil ek met dié werk die algemene leser probeer bereik wat belang stel in geskiedenis as ’n storie en in ’n boek wat dit op pakkende wyse vertel. Dit is een van die tragedies van die moderne geskiedskrywing dat, terwyl dit tegnies al meer gesofistikeerd geraak het, dit dikwels vir die algemene leser ook al hoe verveliger geraak het.

      Die feit dat daar wêreldwyd ’n afname in die verkope van historiese werke is, is nie die publiek se skuld nie. Historici het afgeleer hoe om mense te boei. Ek hoop dat dié boek aan een van die belangrikste eise van alle skryfwerk voldoen, naamlik leesbaarheid en die verskaffing van lesersgenot.

      Van al Suid-Afrika se gemeenskappe het die Afrikaners tot dusver die heel grootste impak, goed of sleg, op die land gemaak. Hul verhaal is dié van Europese koloniste wat inheemse gemeenskappe van hul grond afgestoot, hul gemeenskappe ontwrig en hul kinders as arbeiders “ingeboek” het, maar ook dié van mense wat met ’n paternalistiese benadering vir “hul volk” gesorg het. Al was hierdie paternalisme nooit op gelykheid gegrond nie, het dit ontwikkel tot ’n onderlinge afhanklikheid en die ontstaan van ’n veelrassige en interafhanklike samelewing, wat Suid-Afrika in so ’n skerp kontras laat staan met Australië en Noord- en Suid-Amerika, waar die Europese koloniste die inheemse bevolking grotendeels uitgewis het.

      Ook in ’n ander opsig was daar ’n groot verskil tussen die Afrikaners en die koloniste in ander Europese kolonies. Teen 1790 was daar vier miljoen wit Amerikaners, wat teen 1850 24 miljoen geword het. In Suid-Afrika was daar in 1798 maar 20 000 Afrikaners, wat in 1878 tot ongeveer 220 000 gestyg het. Die Boererepublieke se bevolking was so klein dat die vrees dat die bevolking kon uitsterf een van die belangrikste redes was waarom die Boerevegters in 1902 besluit het om vrede te sluit. Eers in 1931 het die Afrikaners die miljoen-merk verbygesteek, en teen 2003 was daar volgens Jan Sadie se berekening maar ’n skrale 3,2 miljoen Afrikaners, van wie ongeveer 150 000 oorsee woonagtig was.

      Hierdie getalswakte van die Afrikaners was die vernaamste oorsaak van die vrese oor veiligheid en kulturele oorlewing. Hierby het nog gekom dat die Afrikaners gemaal is deur die rotsblokke van die swart mense met hul getalsoorwig en die Engelssprekendes met hul kultuuroorwig. G.D. Scholtz het daarop gewys dat die Afrikaners nooit “safety in numbers” geken het nie, en wat dit betref die Afrikaners vergelyk met die Baltiese volke, wat gevorm is deur hul vrees vir die groot getalsoorwig van hul Russiese bure.

      Aan die begin van die twintigste eeu was die Boere die eerste vryheidsvegters van die eeu.


Скачать книгу
Яндекс.Метрика