Ena Murray Omnibus 40. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
haar rug ontmoet diep bekommerde vaderoë die ander s’n. Twee hande sluit in ’n handdruk saam en ’n vreemde stem sê gerusstellend: “Moenie bekommerd wees nie. Ons sal mooi na haar kyk.”
Wanya draai weg uit haar broer se omhelsing, kyk op na die lang blonde man met die sagte blou oë. ’n Hand word ook na haar uitgehou.
“Bly te kenne, mevrou Cloete. Ek is Roelof Rossouw. Ek sal jou ’n paar minute alleen met jou familie gee.”
Hy stap na waar ’n verligte advokaat Pelzer sy toga oor sy arms gooi en sy aktetas optel. “Welgedaan, advokaat.”
“Ja. Ek is dankbaar dit het so afgeloop. Maar hierdie tant Bes … ”
Roelof glimlag. “ ’n Besonderse vrou … en iemand wat vir Wanya baie sal beteken.”
“Maar in Jan Hofmeyr! Daar is tog ander plekke ook.”
“Hoekom nie Jan Hofmeyr nie?” Daar is ’n stil uitdaging in die vraag.
Advokaat Pelzer trek sy skouers op. “Wel, laat dit dan so wees. Ek het gelukkig vir haar ’n eenmanswoonstel raakgeloop.” Hy glimlag meewarig. “Natuurlik nie naastenby waaraan sy gewoond was nie, maar dis ’n dak oor die kop en al wat sy nou kan bekostig. Dis gelukkig gemeubileer. Die gebou is maar ’n bietjie vervalle, maar sy het ’n bed om op te slaap en ’n tweeplaatstoof om op te kook. Sy sal maar eers so moet regkom.”
Roelof glimlag weer, hierdie keer effens skertsend. “Dit klink asof Jan Bom glad nie so erg gaan afsteek nie!”
Die ouer man moet ook glimlag. “Ja, dit is so. Gelukkig raak ’n mens aan alles gewoond … maar aan die begin sal dit maar sukkel.”
“Ja, daar gaan baie groot aanpassings van Wanya Cloete gevra word.”
Verdwaas kyk Wanya later na haar nuwe blyplek. Moet sy hiér bly? Haar oë val voor die maatskaplike werker se opsommende blik. As sy kon gaan werk het, al is dit ook agter die toonbank van ’n apteek, kon sy iets beters bekostig het. Maar nou het sy ’n vonnis om uit te dien … “Sal jy regkom?”
Sy knik sku, weier om weer in sy oë te kyk en die begrip daarin te lees. Want dit maak seer … en dit wek ’n magtelose woede in haar op. “Heeltemal, dankie.”
Hy moet versigtig trap tussen die tasse en kartondose wat die hele vloer vol staan. By die deur sê hy: “Ek sal jou môreoggend om sewe-uur oplaai. Pak maar intussen jou goedjies uit.” Hy aarsel, vervolg dan: “Dit lyk erger as wat dit werklik is. Moet jou nie daaroor bekommer nie.” Sy woorde dwing haar om hom vraend aan te kyk. “Dis nie regtig van soveel belang as wat jy tot dusver gedink het nie. Ons sien mekaar môre weer. Tot siens.”
Sy sien die deur toegaan, kyk lank daarna, dan om haar. Die ingeboude kas hou haar aandag. Nie ’n kwart van wat hier om haar staan, sal in daardie kassie ingaan nie. Maar dis ook nie nodig nie. Meer as die helfte van haar aardse besittings sal sy seker nie weer nut van hê nie. Duur aandrokke, handgemaakte skoene … Sy het letterlik net met haar klere by haar huis uitgestap.
Haar huis … Môre word dit opgeveil en alles wat daarin is. Alles. Van die oorspronklike skilderye tot by die laaste silwerteelepel. Van die Oosterse tapyte wat sy met soveel sorg gekies het, tot by die sonsambrele langs die swembad. Alles. Sy het nie meer ’n huis nie. Dis net hierdie … Haar blik dwaal weer om haar. En dis nie eens hare nie. Sy huur dit maar net. Sy het niks nie … regtig niks nie.
Sy gaan sit op die kaal matras. Êrens, in een van hierdie tasse, is beddegoed wat sy toegelaat is om saam te bring. Maar sy weet nie in watter een nie en sy het nie die krag of die lus om daarna te begin soek nie. Dié man … dié Rossouw wat die hof as haar oppasser aangestel het … hy het gesê dis nie van soveel belang nie. Hy is seker reg. Wat maak enigiets saak wanneer jy by die oomblik gekom het dat jy moet aanvaar daar het niks van gister oorgebly nie … en dat môre ook niks inhou nie? Dan lê jy maar op die kaal matras en jy huil … jy huil oor wat was, oor wat nooit weer sal wees nie. Jy huil oor jou mooi tuin en jou waardevolle meubels en al die pragtige goed wat jy deur die jare versamel het en wat môre verkoop gaan word. Jy huil oor ’n man wat jy liefgehad het en met jou hart en toekoms vertrou het … ’n man vir wie jy nie eens meer respek oorgehou het nie. En jy huil omdat jy bang is … bang vir môre … want jy ken môre nie. Jy ken nie die wêreld waarin jy jou eensklaps bevind nie. Jy is gewoond aan die beskermende mure wat rykdom en status soveel jare om jou gebou het. Maar nou is jy op die sypaadjie uitgegooi … en jy is bang … vreeslik bang.
Tant Bes kyk op van haar naaldwerkie toe haar ingestelde gehoor die fyn piep van die voorhekkie registreer. Dalk iemand wat hulp nodig het.
’n Bly glimlag breek deur toe die voordeur oopswaai. “Roelof! Kom binne!”
Natuurlik móét hy ’n koppie koffie drink. En sy kan vir hom ’n toebroodjie maak. Regtig nie? Annatjie het pas die ekstra stukkie vis geëet voordat sy huis toe is. Maar dis nie moeite om gou ’n broodjie te sny nie. Van Annatjie gepraat … Die kind eet nie reg nie. Soggens vat sy net toebroodjies werk toe en saans, as tant Bes haar nie dwing om iets te eet nie, peusel sy maar net wanneer sy by die huis kom. Dis verkeerd, want sy werk baie hard. Sy het al weer ’n verhoging gekry. Daardie madame is baie tevrede met haar werk.
Hy luister met deernis. Liewe, dierbare tant Bes. Altyd bekommerd oor ander. Altyd bang iemand sal honger ly. Sy is die onselfsugtigste mens wat hy ken. As daar miskien nog ’n vae twyfel in sy hart was oor die wenslikheid van sy voorstel om die vrou van Sandton hierheen te bring, verdwyn dit heeltemal.
Tant Bes kyk hom ondersoekend aan. Sy en Roelof Rossouw werk al jare saam. Dikwels is hy die een wat die noodlydendes na haar toe bring. Dikwels is dit sy wat ’n nuwe geval onder sy aandag bring. Sy weet intuïtief dit is nie sommer net ’n besoekie hierdie nie.
“Wat is dit, my kind? Kan ek help?”
“Ek is al weer verleë, tant Bes. Maar ek weet nie van ’n beter heenkome as Sonneblomstraat 7 nie.”
Tant Bes vou haar hande rustig voor haar op die tafel en sê hulpvaardig: “Praat maar.”
Tant Bes raak daardie aand nie sommer dadelik aan die slaap nie. Peinsend staar sy die donker in. Arme mens. Beeldskoon en skatryk, het Annatjie destyds vertel. Maar al die ingevoerde klere en eksotiese meubels kon haar nie van skande en trane en ontnugtering red nie. Wonder of sy nog die rok het … Maar al het sy dit nog, beteken dit niks nie. Van môre af sal sy haar dae in Sonneblomstraat deurbring … en hiér, agter tant Bes se groot kastrolle, beteken ’n aand-rok net mooi niks nie – peperduur ofte nie.
Die rok wat sy die volgende oggend aanhet toe Roelof aan die deur klop, sal net so onvanpas in tant Bes se kombuisie wees as ’n skepping van Dior. Sy weet egter nie presies waar sy gaan beland nie. Die detail van haar vonnis kan sy glad nie onthou nie en sy het geen behoefte daaraan gehad om navraag te doen by Roelof Rossouw nie. Al wat sy kan onthou, is die oorweldigende verligting dat sy nie toegesluit gaan word nie. Die res het op daardie oomblik nie saak gemaak nie.
Toe hy in die deur verskyn en sy sy oë sien, kyk sy onseker op haarself af. “Skort daar iets?”
“Nee. Dis net … Het jy nie iets … e … eenvoudigers om aan te trek nie? Die plek waarheen ek jou neem … ”
“Ek twyfel. Ek sal moet kyk. Dis maar ’n gewone rok hierdie,” sê sy verward.
Hy glimlag. Knik. Nee, Wanya Cloete sal nie klere hê wat by haar nuwe rol pas nie. Sy weet nie van klere koop in kettingwinkels nie.
“Toemaar. Dit sal vir eers goed wees. Het jy al iets geëet?”
Sy knik, jok woordeloos. Die brood en botter en eiers en wors wat hy met sorg aangedra het, staan nog net so onaangeraak. Sy het darem ’n koppie koffie gedrink voordat hy aan die deur geklop het.
“Goed. Dan kan ons maar gaan.” Sy blik dwaal vlugtig rond. Hier is niks gedoen nadat hy gister hier weg is nie. Sy voel verleë toe hy opsigtelik na die kaal bed staar. “Ek was so moeg. Ek het sommer aan die slaap geraak.” Sy voel skuldig oor die leuen – sy het skaars ’n