Ena Murray Omnibus 40. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
vir die derde keer weet: “Waarheen gaan ek? Wat is dit wat ek moet doen?”
“Jy gaan gemeenskapsdiens doen. Dit beteken dat jy die volgende vyftien maande sal help by ’n plek waar daar van jou dienste gebruik gemaak kan word. In hierdie geval is dit by tant Bes in Sonneblomstraat.”
“Wie is tant Bes en waar is Sonneblomstraat?”
“Ek sal jou netnou verder inlig. Ek wil net eers hê jy moet nou jou roete leer ken.”
“My … roete?” Dis Grieks vir haar.
“Ja. Jy ken tog die stad goed, nie waar nie?”
“Natuurlik.”
“Wel, van jou woonstel af tot by die bushalte is dit omtrent vierhonderd meter.”
“Bushalte?”
Sy stem bly ongeërg. “Ja. Hier is die halte, sien? Net ná sewe soggens haal jy die bus. Ek ry nou die roete wat die bus sal volg.” Sy sit verslae. Bus ry … Natuurlik sal sy moet bus ry! Hoe gaan sy by die plek kom waar sy bedags haar vonnis moet uitwerk? Sy het nie ’n motor nie. Sy het nie eens meer ’n rybewys nie!
“Hier klim jy af en neem die volgende bus na Jan Hofmeyr.”
“Watse plek is dit?”
“Dis ’n woonbuurt. Dit is waar Sonneblomstraat is. Die bus sal jou hierlangs neem.” Hy hou sy oë op die verkeer, maar is bewus van die saamgeklemde hande in haar skoot. “Op hierdie hoek klim jy af. Dan stap jy om die volgende hoek tot by Sonneblomstraat nommer 7. Jy sal dit aan jou linkerkant kry.” Hy hou voor die huis stil. “Smiddae sal tant Bes jou om vyfuur laat gaan, sodat jy omtrent sesuur terug sal wees by die woonstel.”
Hy sien hoe haar blik om haar dwaal, bly vassteek op die nommer wat op die stoeppilaar geverf is. “Moet ek hiér werk?” Sy wend haar pleitend tot hom. “Hiér?”
“Ja. Jy moet tant Bes help om vir tot driehonderd mense kos te kook.”
Hy sien hoe haar oë verstar, hoe sy sluk. “Kook? Maar ek kan nie kos kook nie!”
“Sy sal jou leer.”
Daar is nou vrees in haar oë. “Meneer Rossouw … ”
“Ons kan maar voorname gebruik. Ons gaan ’n lang tyd met mekaar te doen hê. My naam is Roelof. Ja, Wanya? Jy wou sê?”
“Kos kook vir … honderde mense?”
Hy glimlag skeef. “Dit klink maar net erg. Dis net driehonderd. Wel, soms is dit meer – maar tant Bes sê altyd as jy vir driehonderd kook, kan jy maar vir vierhonderd ook kook.”
“Wie is tant Bes?” Maar sy wil nie regtig weet nie.
“Sy is die mirakel van Jan Hofmeyr. Die engel … en jy hoef nie vir haar bang te wees nie. Kom ons gaan in.”
Sy gryp vinnig na hom, paniek in haar oë. “Asseblief! Asseblief, Roelof! Ek kan nie!”
“Daar is niks om voor bang te wees nie, Wanya. Tant Bes is daar. En Nellie. En Vitorie. Jy is nie alleen nie.”
“Maar … maar waar kom al die mense vandaan? Dié wat moet kos kry?”
“Hier uit Jan Hofmeyr. Die armblankes wat hier bly. Baie van hulle is werkloos. Baie van hulle leef op ouderdomspensioen of ongeskiktheidspensioen. Vir baie van hulle is die bord kos wat hulle by tant Bes kry, die enigste kos wat hulle daardie dag sien. Sy hou hulle aan die lewe met wat sy smiddae in hul borde kan skep. Dis hongerlydendes vir wie jy bedags gaan help, Wanya. En moenie so bekommerd wees oor die feit dat jy niks weet van kos maak nie. Tant Bes is ’n baaskok en ’n towenaar, glo my. En vir ’n honger mens is enige kos lekker. Ook ’n bord pap. Die spreekwoord sê honger is die beste kok … en hierdie mense is honger. Kom.”
Sy moet hom gedwee volg tot in die deur van die kombuisie, merk terloops op dat dit uitlei op ’n ewe klein agterstoepie wat ook toegemaak is en waar ook stowe staan. Op die stoepie staan groot aluminiumpotte reeds en kook, maar in die kombuisie lyk dit soos ’n miniatuur-inmaakfabriek. Twee vroue is langs die kombuistafel besig om groente te skil, en te oordeel na die vrag wat nog geskil moet word, lyk dit nie vir Wanya of hulle vandag daarmee gaan klaarkry nie.
Sy word voorgestel aan Nellie, die kranige groenteskiller wat voor haar verstomde oë ’n aartappel nerffyn afskil. Dan aan tant Bes … dié tant Bes. Met openlike vrees in haar oë ontmoet sy die opsommende blik, voel dan hoe haar hart ruk toe die oë skielik vol begrip raak en sy baie moederlik en informeel teen die breë boesem vasgedruk word: “Baie welkom by ons, hartjie. Ons is baie dankbaar vir nog ’n paar hande, nè, Nellie? Maar dis darem ’n te mooie rokkie vir kombuiswerk, kindjie. Wag, laat ek sien … O ja, dis Vitorie,” stel sy die swart vrou met die breë glimlag agter een van die kastrolle bekend. “Vitorie, het jy al my overall gestryk?”
“Ja, madam. Dit lê op die bed,” kom dit selfvoldaan.
“Nou gaan haal dit, asseblief, jong.”
Selfs Roelof vind dit moeilik om sy mondhoeke in toom te hou toe tant Bes se oorjas om die maer gestaltetjie ingebind word met ’n stuk tou.
“Dit … dit kan maar so los hang, tante,” waag Wanya dit en knoop die tou selfbewus los.
“Jy lyk nou nes ’n tent wat wil ontplof!” gil Nellie plesierig en lag uitbundig.
Wanya kyk op haarself af, voel hoe haar mondhoeke begin trek. Sy moet verskriklik lyk! Behoedsaam kyk sy na die man wat sedig eenkant staan, maar toe sy sy blik ontmoet en die vonkel in sy oë sien, begin sy giggel. Roelof en tant Bes en Vitorie se hartlike gelag vloei skielik saam met dié van Nellie. Wanya se lag kom eers rukkerig, maar later voel sy hoe die warm trane oor haar wange begin loop.
Die gelag bedaar onmiddellik en hulle staan ’n oomblik lank verslae voor haar snikke. Dan is daar arms om haar, voel sy ’n warm bors teen hare druk, hoor sy ’n moederlike stem by haar oor.
“Toemaar, hartjie, toemaar. Alles sal regkom. Tant Bes sal na jou kyk. Jy hoef vir niks bang te wees nie. Vitorie, maak vir ons ’n pot sterk rooibostee. Kom, kind, ek gaan wys jou waar die badkamer is en dan was jy jou gesig.”
Toe ’n baie skaam Wanya in die badkamer verdwyn en tant Bes na die kombuis terugkeer, maak Roelof aanstaltes om te vertrek.
“Gaan jy nie bly vir ’n bietjie tee nie?”
“Nee, dankie, tant Bes. Ek moet kantoor toe. Ek sal Wanya so teen vieruur weer kom oplaai. Sy moet nog inkopies doen.” Hy glimlag. “En seker ook ’n oorjas in die hande kry.”
“Ja. Die straatmark verkoop nou overalls uit. As jy daar gaan koop, kan sy twee vir die prys van een kry.”
“Ek sal onthou.” Sy oë is dankbaar. “Dankie, tant Bes. Ek laat haar met ’n geruste hart hier agter. Maar asseblief, tannie, moet haar nie spaar nie. Laat haar werk. As julle met alles klaar is en dis nog nie huistoegaantyd nie, laat sy die kombuisvloer was as dit daarop aankom.”
Tant Bes kyk hom fronsend oor die voorhekkie aan. “Jy is baie hard op haar. Ek ken jou nie so nie,” kom die verwyt.
“Tant Bes, werk is die beste terapie vir ’n seer en eensame hart. Maar dit hoef ek nie vir tannie te vertel nie. Dit weet tant Bes uit eie ervaring, nie waar nie? Dit is belangrik dat Wanya besig bly – só besig dat sy saans sonder dink of tob soos ’n klip sal slaap. Goed. Dis seker nie nodig om haar die kombuisvloer te laat was nie. Maar neem haar dan saam op tannie se rondtes by die siekes. Dit sal haar goed doen. Ek wil hê sy moet die mense van Jan Hofmeyr leer ken.”
“Hoekom?”
“Sodat sy kan sien wat swaarkry werklik is. Sodat sy op ’n dag tot die besef sal kom dat sy, ten spyte van alles wat met haar gebeur het, nog baie stof tot dankbaarheid het.”
Wanya sal die res van haar lewe hierdie eerste dag in Sonneblomstraat 7 nooit vergeet nie. Dat sy eendag met groot deernis aan hierdie dag sou terugdink, sou sy skaars kon glo.
Toe