Orion. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
kunswêreld – sy kon veral die aangeplaktheid van die sogenaamde kunskenners en kritici nie verduur nie. En dan was daar die “kunstige tipes”, eienaardige mense wat geglo het eksotiese kleredrag en vreemde haarstyle is hul toegangskaartjie tot die dampkring van die kunste – al wat hulle nodig het om boheems en gekuiltiveerd te wees. Sy kon hulle hoegenaamd nie verdra nie.
Dit was dus ek en sy en Stilfontein. Daar was enkele vriende op die dorp – dokter De Korte, ons huisdokter, en sy vrou; die Van der Walts van die raamwinkel – en mense van Johannesburg en Pretoria en Potchefstroom wat naweke kom kuier het.
My ma het nie ander mans in haar lewe gehad nie, behalwe die eggenote van haar vriendinne en die gay mans van die kunswêreld, soos Tony Masarakis, die Griekse beeldhouer van Krugersdorp wat soms kom inloer het. Toe ek nege of tien was, het hy terloops opgemerk dat sy ’n mooi seun het. “Vergeet dit, Tony,” het sy met beslistheid gesê. Hy moet dit ter harte geneem het, want hulle was vir baie jare lank vriende.
Sy was ’n jong weduwee, in haar laat twintigerjare. En mooi. ’n Vrou met passie. Sou sy selibaat bly vir die res van haar lewe? Ek het nooit daaroor gewonder nie, tot in my eie twintigerjare – en selfs toe nog met gewetenswroeging, want sy was my ma en ek was Afrikaans.
Ek weet nie. As sy soms uitkoms gaan soek het, of dalk toevallig gevind het, was dit met die uiterste diskresie en moontlik met die strengste voorwaarde dat geen voortslepende verhouding daaruit moet spruit nie, asseblief. Dalk daardie naweke toe sy uitstallings in die Kaap of in Durban of aan die Rand gaan open het en ek nie saam was nie …
Die vraag is natuurlik of grootword sonder ’n pa, sonder ’n manlike rolmodel, ’n letsel op my sou laat. Ek sou dit so graag as ’n verskoning wou omhels. Dit deel maak van die groot verskoning, van die meesleurende golf wat my eindelik oor die afgrond gespoel het, dit opdis as ’n populêr sielkundige agterdeur vir die fokop van my lewe. Maar ek dink nie ek kan nie. My ma het my met gemak en geduld grootgemaak. My met respek en deernis en dissipline behandel, my gekoester en getug en versorg – al was ons stapelvoedsel, wanneer daar nie vriende gekuier het nie, vrugte en brood. Sy het Beethoven, Schubert, Haydn en Bach (J.S. en, in mindere mate, C.P.E.) gespeel sonder om dit op te dring en selfs later, toe ek na Bachman Turner Overdrive en Black Sabbath wou luister, haar musiek op die agtergrond gehou. Ek vermoed sy het geweet watter musiek op die lange duur die stryd sou wen.
Dit was veilige jare. Tot ek sestien was. Tot ek Mozart en boeke en kos en seks en die lang arm van die Gereg ontdek het.
9
Lank voor die wekker om vyfuur afgaan, is hy wakker. Hy lê net in die donker, staar na die dak en wag vir die instrument om sy elektroniese geluide te maak, swaai dan sy voete van die bed af, druk die wekker dood. Hy doen bestekopname van die pyne in sy lyf – die ribbes is minder seer, die oog klop steeds. Dit sal vanoggend ’n pers skakering begin aanneem, weet hy teen hierdie tyd. Dit is nie die eerste keer nie.
Hy stap kombuis toe. Die skottelgoed is netjies in die afdroograk gepak. Hy sit die ketel aan. Die koue dring deur die verslete ou polisiesweetpak. Hy gooi die kitskoffie in die beker, wag vir die water om te kook, dan die melk, stap na die eet-sitvertrek, sit die koffie op die tafeltjie neer. Soek die regte CD. Klarinetkonsert. Druk die knoppie van die draagbare speler, sit die oorfone op, gaan sit op die stoel, teug aan die koffie. Hy stel die volume sagter.
Hy weet al sedert gister hy sal aan Nagel moet dink. Sedert daardie oomblik in die prokureur se kantoor … Ek en Nagel het ’n kinderverkragter gevang, wou hy sê.
Dit is omdat hierdie ding so baie is soos sy werk was. Die eerste keer sedert … sedert hy weg is. Die eerste keer dat hy weer ’n moordenaar soek. Daarom sal hy aan Nagel dink. Dit is normaal. Hy moet net versigtig wees. Hy kan aan Nagel dink, aan alles wat Nagel hom geleer het. Hy moet dit net daarby hou. Dan sal hy veilig wees. Die grense nou bepaal. Dan kan hy aangaan.
Jan Smit.
Speel al die angles. Nagel, in sy adamsappel-hoppende diep bas. Ênghils. Nagel wat nie Engels kon praat om sy lewe te red nie. Moordsaak is soos my fokken Portapool, Van Heerden. Al lyk alles blou en verfrissend, al skyn die sonnetjie blink op die water, iewers is daar ’n fokken lek. Ons gaan dit net kry as ons oral kyk.
Hy skryf in die notaboek.
1. Bure
Hy sit terug en dink weer. Skryf.
2. Manie Meiring Vervoer
3. Watter soort onderneming?
4. Registrateur van maatskappye (verwysings) (??)
5. Binnelandse Sake (??)
Hy leun terug, sluk aan die koffie. Is daar ander angles?
6. Gereelde/groot kliënte?
7. Bank?
Dit is al wat hy het. Hy kou aan die pen se agterkant, teug weer aan die koffie, sit die pen neer, leun terug, maak sy oë toe.
Dit was nie so erg nie. Hy kon Nagel uitsluit.
Hy luister na die musiek.
Hy sien die groot vragmotors van die pad af, net voor die Polkadraaikruising. MMV in groot, oordadige donkerpers letters, met ’n pyl daardeur om spoed aan te dui. Hy draai af en ry deur die poele reënwater en modder na die geboutjie waarop staan Kantoor/Ontvangs. Die wolkbank hang donker en laag. Dit gaan netnou weer reën. Hy klim uit. Die wind is vandag nog kouer. Seker gesneeu op die berge.
Daar is ’n vrou agter ’n rekenaar, besig om oor die foon te praat.
“Die trok moes al daar gewees het, Dennis. Hulle is op tyd hier weg, maar jy weet hoe dit is by die tonnel. Of ’n blerrie spiedkop het hom weer …”
Sy glimlag vir Van Heerden. Sy is blond en oorgewig en op haar voortande is ’n strepie van die bloedrooi lipstiffie. Sy luister ’n oomblik, praat dan weer. “Okay, Dennis, bel my as hy teen twaalfuur nog nie daar is nie. Okay, bye.”
Sy wend haar na Van Heerden. “Het jy in ’n deur vasgeloop of het haar man vroeg by die huis gekom?”
“Is Manie hier?”
“As hy is, sal ek vreeslik bekommerd wees.” Sy maak haar oë groot en rol dit na die dak.
Hy wag.
“Manie was my skoonpa, skattebol. Al drie jaar in die graf, bless his soul. Jy soek my man – Danie. Of is dit iets waarmee ék kan help?” Die suggestie dun, soos ’n ou gewoonte.
“Ek ondersoek die moord op Jan Smit. Ek wil met iemand praat wat hom geken het.”
Sy kyk hom op en af. “Jy lyk te maer vir ’n polisieman.” Dan draai sy om en skree deur die oop deur na agter. “Danieeeee …” Dan weer na Van Heerden. “Het julle al iets gekry?”
“Nee, ek is nie …”
“Wat?” sê Danie Meiring as hy ingestap kom, ietwat ergerlik, sien dan vir Van Heerden.
“Polisie,” sê die vrou en wys met ’n rooinael-vinger na hom. “Dis oor Jan Smit.”
Die man is kort en fris, die dik nek wat by ’n skoon oorpak se kraag uitbeur. Hy steek sy hand uit. “Meiring.”
“Van Heerden. Ek sou graag ’n paar vrae wou vra.”
“Het daai vet Soutpiel aangejaag?” Die klein ogies sit naby aan mekaar, onder ’n aggressiewe frons.
Van Heerden kry nie die kloutjie by die oor nie.
“Die Engelse poot. O’Hagan, of iets. Kon hy niks uitrig nie?”
Die lig gaan op. “O’Grady?”
“Dis hy.”
“Ek is nie van die Polisie nie. Dit is ’n private ondersoek namens sy vriendin, juffrou Van As.”
“O.”
“Hoe goed het jy hom geken?”
“Vrotterig.”
“Watter