Orion. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
die wit kerse – dit is oud, hy kan nie onthou wanneer laas hy dit aangesteek het nie.
Terug na die werkoppervlakte. Hy maak die twee blikke Italiaanse tamaties oop. Hy het dit nog altyd bo vars, gekookte tamaties verkies. As jy die regte Italiaanse blikke kan kry. Hy kap die tamaties fyn, kry die klein groen brandrissie uit die yskas, spoel dit onder die kraan af, sny dit saam met die tamaties. Hy skil die aartappels, tap warm water in die wasbak, gooi skottelgoedseep daarin, was die mes, die snybord. Dan trek hy die bottel rooiwyn se prop uit.
Daar was iets in daardie kluis. Waarvan iemand geweet het.
Worteltjies en die eetlepel lemoensap, ’n titsel bruinsuiker. Rasper bietjie lemoenskil. Later bietjie botter.
Dit is al wat sin maak. Want niks anders is weg uit die huis nie, geen kaste is oopgeruk, geen beddens omgegooi, geen televisie weggedra nie.
Jan Smit. Die alleenloper met die houvrou. Die man sonder geskiedenis, sonder vriende.
Wilna van As. Sy was oortuigend vanaand. Maar hy sal sy oë oophou.
Jan Smit.
Hy kyk na sy horlosie. Die vleis is al ’n halfuur in. Hy haal die deksel af, skraap die tamatie-en-rissie-pulp in die vleiskastrol, plaas die deksel terug. Hy sit die ketel aan, gooi die basmatirys in ’n ander kastrol, wag tot die water kook, voeg dit by die rys, steek die vlam aan, sit die rys op, kyk weer na sy horlosie.
Hy gaan maak seker die voordeur is oopgesluit, steek die kerse aan. Sy sal netnou hier wees.
Jan Smit.
Waar de fok begin jy?
Lemoensap het weggekook. Eetlepel regte botter by.
Hy stap kamer toe, haal die notaboek uit sy baadjiesak, gaan sit op die verslete leunstoel in die té klein sitkamer, kyk na die aantekeninge wat hy gemaak het terwyl hy vanmiddag die dossier by O’Grady gelees het.
Niks. Fokkol.
Hy staar na die identiteitsnommer. 561123 5127 001. Op 23 November 1956 het Jan Smit se lewe begin. Waar?
Die deur gaan oop. Sy kom in saam met ’n windvlaag en ’n druppende sambreel. Sy sien hom sit, glimlag vir hom, vou dan die sambreel toe en laat dit teen die muur by die deur aanleun. Sy het ’n doek om haar hare. Sy trek haar reënjas uit. Hy staan op en neem dit by haar, gooi dit oor ’n stoel se leuning.
“Dit ruik lekker,” sê sy. “Die stoel gaan nat wees.” Sy skuif die jas na die klein houtkoffietafel.
Hy knik.
“Tamatiebredie,” sê hy en stap kombuis toe, gaan haal die rooiwyn, gooi daarvan in elke glas, gee vir haar. Sy trek ’n stoel by die tafel uit, gaan sit.
“Jy het weer werk,” sê sy.
Hy knik.
Sy teug aan die wyn, sit die glas neer, knoop die doek agter haar kop los en trek dit af, skud haar hare reg.
Hy stap kombuis toe, maak die brediepot oop, sit die aartappels by, draai die swartpeper daaroor uit, ’n teelepel suiker, bietjie sout, proe, gooi nog suiker by, net ’n skeut, proe weer, sit die deksel op, haal die rys van die vlam af. Draai die vlam onder die wortels dood. Hy stap terug na die tafel, gaan sit oorkant haar.
“Dit is ’n onmoontlike ding,” sê hy. “Ek soek ’n testament.”
“Sam Spade,” sê sy en haar oë lag.
Hy snork sonder venyn.
“Ek is so bly,” sê sy. “Dit is so lank …”
“Moenie,” sê hy sag.
Sy kyk na hom met oorweldigende deernis. “Vertel my,” sê sy en leun terug in die stoel. “Van die testament.” Die kerse se lig glinster dieprooi in die wynglas wanner sy dit optel.
“Dit was wonderlik,” sê sy en plaas haar mes en vurk netjies langs mekaar op die bord.
Hy knik net. Die vleis was nie sag genoeg na sy smaak nie. Hy is uit oefening.
“Het jy weer baklei?” Dit is die eerste keer dat sy melding maak van sy oog.
“Ja.”
“Ai,” sê sy. “Waarom?”
Hy haal sy skouers op, deel die laaste rooiwyn tussen die glase.
“Hoe groot is die voorskot wat sy jou gegee het?”
“Tweeduisend.”
“Jy moet vir jou klere koop.”
Hy knik en sluk aan die wyn.
“Nuwe skoene ook.”
Hy sien die sagtheid van haar oë, die sorg, die kommer. “Ja,” sê hy.
“En jy moet uitkom.”
“Waarheen?”
“Saam met iemand. Neem iemand uit. Daar is so baie oulike jong …”
“Nee,” sê hy.
“Wat is haar naam?”
“Wie?”
“Die prokureur?”
“Hoop Beneke.”
“Is sy mooi?”
“Wat maak dít saak?”
“Ek het maar net gewonder.” Sy sit haar leë glas neer en staan stadig
op. “Ek sal moet gaan slaap.”
Hy stoot sy stoel terug, strek vir haar reënjas, hou dit sodat sy haar
arms in die moue kan steek, tel haar sambreel op.
“Dankie, Zet.”
“Plesier.”
“Nag.”
Hy hou die deur vir haar oop.
“Nag, Ma.”
8
Toe ek nege was, of agt of tien, iewers in daardie jare van nóg vis nóg vlees, het ek aan ’n wedstryd deelgeneem op die harde veld van die Laerskool Stilfontein. Ek het ’n stamp gekry in die getjommel van onaanskoulike, elkeen-is-’n-ster-rugby en my neus het gebloei. Die skeidsregter, ’n onderwyser, dink ek, was by.
“Ag nee, boetie, ’n man huil nie,” het hy troostend gesê.
“Nee,” het my ma se stem langs my opgeklink. Sy was kwaad. “Huil, my seun. Huil net soveel as wat jy wil. Mans kán huil. Regte mans kán huil.”
As ek terugdink, was dit tekenend van wie sy was en hoe sy my probeer grootmaak het.
Anders. Anders as Stilfontein en sy mense en hul sienings en doen en late.
Om die psige van ’n myndorp te beskryf, is moeilik, omdat ’n mens sal moet veralgemeen. Jong Afrikaners met die minimum opleiding en die maksimum inkomste is ’n gevaarlike kombinasie. Die lewe was vir hulle vinnig – hul verdienvermoë, hul spandeervermoë, hul motors, hul motorfietse en hul vroue. Vinnig. Hul drankinname, hul humeure, alles het gepas by die potensieel snelle dood in die diep donkertes van die aarde.
En tussen dit alles was daar die kulturele oasis van Joan van Heerden se huis.
Die myn het vir haar, vir ons, ’n kleiner huis gegee op Stilfontein. Ek weet nie waarom sy nie weggetrek het Pretoria toe nie, want haar ouers en haar vriende was daar. Ek vermoed dit was omdat sy naby my pa wou wees, naby die graf in die vaal begraafplaas op die windverwaaide vlakte langs die agterpad na Klerksdorp.
Daar was nie ’n tekort aan geld nie. Lewensversekering (by Sanlam) was in daardie jare mode onder Afrikaners. En my pa was sorgsaam, tot in die dood. Maar dit was ook my ma se skilderye wat stadig maar seker begin verkoop het – elke jaar het die pryse so bietjie opgegaan, elke jaar was daar ’n