Ena Murray Keur 1. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
en haar vrese terugdink, hoe sy haar verbeel het dat die ruïnes ’n lewende ding met ’n siel is. Misterie en diepe geheimsinnigheid omhul wel die Zimbabwe-ruïnes, maar dis op geskiedkundige terrein, in sy oorsprong, wie dit gebou het, wie hier geleef het en so onverklaarbaar verdwyn het dat niemand vandag met werklike oortuiging en bewyse kan sê wie die bouers was nie. Verskillende teorieë bestaan, het doktor Basson vertel, maar nie een van die talle geleerdes wat al die geheim probeer ontrafel het, kon nog onomstootlik bewys dat hul teorie waar is nie. Maar verder . . .
Sy kyk stip na die hoë kliptoring wat teen die blou lug uittroon. Verder is dit maar net ’n klomp klippe wat op ’n besonder kunstige wyse sonder ’n voegmiddel opgestapel is en die aanslag van eeue weerstaan het, om nou, in hierdie verligte eeu, heerlik diep binne-in hom te lag wanneer geleerde mense in sy ingewande ronddelf om iets meer te wete te kom terwyl hy meerderwaardig die swye bewaar.
Daar begin jy al weer, betig sy haar en draai om om haar te begin aantrek. Jy begin al weer lewende eienskappe toedig aan ’n klomp lewelose klip. En bonatuurlike eienskappe aan doodgewone mense, voeg sy by. Maar selfs in hierdie môre, haar verstand nugter, bly gisternag se gebeure vir haar iets ongeloofliks én bonatuurliks; kan sy geen natuurlike en aanneemlike verklaring daarvoor vind nie. Dit kan net sowel ’n droom gewees het – ’n nagmerrie eintlik, fantasties, onmoontlik en, gelukkig, nie werklik nie.
En tog . . . tog was dit nie ’n nagmerrie nie. Dit hét gebeur, en presies só gebeur soos wat sy dit vanoggend in die helder sonlig onthou. Gustaf sal dit kan staaf. En tog bly dit wat sy onthou onmoontlik om te aanvaar. Dis mos nie moontlik dat ’n doodgewone mens ’n bevel aan honderde wilde vlermuise kan gee en hulle jou verstaan . . . én gehoorsaam nie! Sulke dinge gebeur net in die rillerprente van Hollywood, nie in die nugter, alledaagse lewe nie. Dis fantasieë, ver verwyder van die werklikheid en die moontlike.
Die ontbytklokkie lui en sy is eintlik bly om haar kamerdeur oop te sluit en uit te stap, weg van die sirkelgang van haar gedagtes.
Toe sy die eetkamer binnestap, is Gustaf reeds daar en stap haar tegemoet. Terwyl sy in sy oë opkyk, weet sy met ’n warm gevoel hierbinne dat daar een gedeeltetjie van die nag is waaraan sy nie hoef te twyfel of dit gebeur het of nie. Gustaf het haar wel gisternag gesoen en met dieselfde teer lig wat nou in sy oë is, na haar gekyk.
Toe Gustaf haar stoel vir haar instoot, ontmoet haar blik dié van die argeoloog by die tafeltjie langsaan en sy merk onmiddellik op dat sy sekretaresse se plek leeg is. Haar oë flits vraend na Basson en dié trek sy skouers skaars merkbaar op, sy gesig bekommerd. Gustaf neem regoor haar plaas, sy stem gedemp.
“Jy moet net ná ontbyt gaan kyk of Dianne in haar kamer is. Basson sê hy het haar nog nie met ’n oog gewaar nie.” Hy keer haar vinnig toe sy sommer dadelik wil opstaan.
“Nee. Eet eers. Dit moenie lyk asof jy spesifiek na haar gaan soek het nie. Leen iets soos gare of ’n naald by haar as sy daar is.” Hy blik terloops oor sy skouer. “Versigtig. Hier kom ons gasvrou.”
Sandra moet met alle mag keer dat sy nie na die vrou kyk nie. Eers toe Nina langs hul tafeltjie huiwer, kyk sy gemaak terloops op en glimlag.
“Goeiemôre, mevrou.”
“Môre, Sandra. Is jy al bedien? O, daar kom die kelnerin nou.”
Sy stap na Basson se tafel om te hoor of hy alles het en dan oor na Dickens waar hy alleen by ’n tafeltjie sit.
“Goeiemôre, meneer Dickens. Goed gerus?”
“Môre, mevrou. Ja, dankie.”
“Ek hoop meneer Powell het ook ’n rustige nag gehad? Hoe voel hy vanmôre? Ek wil netnou by hom gaan inloer.”
“Hy sê hy wil vanmôre opstaan. Hierdie lêery in die bed verveel hom tot die dood toe. Nee, hy lyk nie siek nie.”
Nina glimlag en knik haar kop goedkeurend.
“Dis gaaf. Ek hoop hy is nou oor die ding. As ’n mens met vakansie is, wil jy dit darem ook nie in die bed deurbring nie, nè? Het jy alles? Nog ’n koppie tee?”
“Nee, dankie, mevrou. Ek het lekker geëet.”
Sy verdwyn weer die kombuis in en Sandra en Gustaf se oë ontmoet oor die tafel. Dan skud Sandra haar kop woordeloos en Gustaf knik asof hy presies weet wat in haar gedagtes aangaan. Ja, dis ongelooflik. Dit kan net nie dieselfde mens wees nie! Sy loop heeltemal sterk vanmôre; is kalm, statig, vriendelik, die perfekte gasvrou. En sy lyk goed, sommer baie goed, selfs jonger. En so normaal as wat ’n mens kan wees.
Het ek dit nie maar alles gedroom nie? wonder Sandra, totaal verward. Sy sluk haar koffie haastig weg. Sy wil hier uitkom, met Gustaf praat, by hom hoor of sy ’n nagmerrie gehad het en of dit werklik gebeur het. Maar eers moet sy gaan vasstel of Dianne in haar kamer is. En as sy nie daar is nie . . .
Sy moet eers sukkel om haar gesigsuitdrukking reg te kry voordat sy aanklop. Sy wag ’n oomblik en haar hand wil net weer uitstrek om ’n tweede keer aan te klop, toe die deur oopgaan.
“Ek het gewonder of jy nie vir my ’n naald kan leen nie . . .” Sandra tas ongemaklik na woorde. “Dianne, wat makeer? Jy lyk siek.” Sy wou sê “ellendig”, maar keer die woord net betyds.
Dianne knik, maar dit lyk amper asof sy in ’n dwaal is.
“Net ’n effense hoofpyn, maar dit sal weer oorgaan. Wat wil jy hê?”
“ ’n Naald, asseblief. Ek wil ’n knoop aanwerk, maar . . .”
Sy tree die kamer binne en druk die deur agter haar toe. Haar hart gaan uit na die jong meisie. As dit so moet voortgaan, sal daar nie veel van haar skoonheid oorbly nie. Die spore van spanning lê al duidelik in die fyn vel en sy vertoon vanoggend selfs slordig, al asof sy nie meer veel omgee hoe sy lyk en moeite met haar grimering en voorkoms doen nie.
“Dianne . . .” Sandra aarsel, maar sy voel ook dat sy die meisie nie net so kan laat nie. “Dianne, wat makeer? Kan ek nie miskien help nie?”
Dianne kyk haar ’n oomblik stil aan. Dan druk sy skielik haar gesig in haar hande en begin hartstogtelik huil. Sandra slaan dadelik haar arms om die skraal skouers en lei haar na die bed. Sy laat haar ’n rukkie begaan, haar oë bekommerd bokant die geboë, blonde kop. Die arme kind. Sy is in ’n driehoek ingetrek waaruit sy haar nie maklik gaan loswikkel nie.
“Toe nou maar, Dianne. Vertel my wat skort. Vir elke probleem op die aarde is daar ’n oplossing. Miskien kan ek help. Vertel my.”
Sandra weet sy klink maar so selfversekerd en verstandig. As Dianne nou met die hele sak patats moet uitkom, sal sy geen benul hê watter raad sy die meisie moet gee nie.
Dianne dwing haar tot meer kalmte, haar stem gedemp.
“Dis . . . niks nie. Ek . . . is seker maar aan die mal word. Dit kan nie anders wees nie. Dit kan nie!”
Sandra kyk haar ontsteld aan. Die manier waarop Dianne praat, laat geen twyfel dat sy heeltemal ernstig is en elke woord bedoel nie.
“Hoe kan jy so iets sê? Natuurlik makeer jy niks nie. Waar kom jy aan die gek gedagte?”
Dianne kyk op en daar is soveel smart en vrees in die blou oë dat Sandra swyg.
“Ek sien gesigte . . . Ag, ek kan nie verduidelik nie. Dis seker my senuwees. Ek . . . voel die afgelope tyd nie so goed nie. Maar soms is ek daarvan oortuig dat ek werklik begin mal word, want die dinge wat ek dink, weet . . . Dis onmoontlik! Ek dink my verstand is aan ’t ingee.”
Sandra kan haar ’n oomblik net swyend sit en aankyk en sy besef nie dat ook sy skielik bleek lyk nie. Want sy weet onmiddellik wat daartoe aanleiding gee dat Dianne Bougard hierdie dinge sê. Dan is ek ook aan die mal word, dink Sandra. Skielik lê die koue vrees weer helder in haar. Want ek het dieselfde dinge as Dianne gesien . . . en ek kan ook nie glo dat ek dit werklik gesien het nie. Sy moet ’n daadwerklike poging aanwend om haar reg te ruk, haar stem kalm te hou.
“Ag, Dianne, jy . . .” Sy kom nie verder nie. ’n Stem, ’n opreg bekommerde stem, klink