Эротические рассказы

Ena Murray Keur 1. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.

Ena Murray Keur 1 - Ena Murray


Скачать книгу
Haar liggaam ruk asof daar elektriese skokke deur haar gaan en haar oë staar Nina vol verwildering aan.

      “Wat makeer?” wil Nina ontsteld van Sandra weet, haar stem simpatiek. Dit verg al Sandra se wilskrag om te antwoord: “Sy kla van ’n vreeslike hoofpyn.”

      “Foei tog. Klim dadelik terug in die bed, Dianne. Ek sal vir doktor Basson gaan sê jy is ongesteld. Ek sal kyk of ek ’n pilletjie vir jou het.” Sy draai dadelik om en sê oor haar skouer: “Help haar solank terug in die bed, Sandra.”

      Sandra kyk Dianne hulpeloos aan. Sy weet nie wat sy moet doen nie. Dianne sit soos een wat gehipnotiseer is na die deur en staar waar die bekommerde Nina pas verdwyn het.

      “Ek is mal,” sê sy dan dadelik. “Ek móét mal wees!”

      Sandra sluit haar oë ’n oomblik en skud haar kop. As sy nie nou ophou nie, word ék mal, dink sy.

      “Kom, Dianne. Ek sal jou help uittrek.”

      “Nee!” Dianne deins van haar af weg. “Nee! Ek gaan nie lê nie. Ek . . . is bang!” Sy gryp Sandra se hande vas. “Ek is bang!”

      Sandra voel die hoendervleis teen haar nek uitslaan. Ek ook, beaam sy swyend. Ek is ook bang, maar ons is belaglik. Hoe kan ’n mens bang wees vir Nina? Sy is dan so gaaf en vriendelik, so sag en bekommerd, so . . . normaal! Dis ons twee wat van ons wysie af is. Dis ons wat dinge sien en hoor wat onmoontlik is. Maar as dit dan maar net ’n nagmerrie was wat ek gehad het, het Dianne presies dieselfde nagmerrie gehad . . . en hoe is dit moontlik?

      Dis met openlike verligting dat sy opkyk toe Gustaf en doktor Basson in die deur verskyn.

      “Mevrou Andrews sê my jy is siek,” laat laasgenoemde hoor. “Ek het vir jou ’n paar pille gebring.”

      Sandra tap ’n glas water by die wasbak en Dianne drink gehoorsaam. Toe sy die glas teruggee, is haar oë vol trane.

      “Dankie. Ek is jammer. Dis nie so erg nie. Net my kop . . .”

      “Lê gerus,” laat doktor Basson weer hoor, sy oë speurend op sy sekretaresse wat baie sleg daar uitsien. Selfs vir hom is dit duidelik dat Dianne se senuwees in ’n verskriklike toestand is.

      “Dit lyk nie of jy gisternag geslaap het nie. Neem gerus die dag af en rus goed uit. Ek sal regkom.”

      Sy knik en toe die twee mans uit is, laat sy geredelik toe dat Sandra haar terug in die bed help. Sy lyk kalmer, maar Sandra voel onmiddellik die spanning weer in haar oplaai toe Nina met ’n glas melk in die deur verskyn.

      “Ek het vir jou ’n pil en ’n glas melk gebring.”

      “Doktor Basson het reeds iets vir haar gegee, dankie,” laat Sandra vinnig hoor. Nina knik, sit die glas melk op die bedkassie neer en kyk bekommerd af op die bleek gesig teen die kussing.

      “Ek hoop jy voel gou beter, Dianne. Probeer ’n bietjie slaap. Ek sal die gordyne toetrek en sorg dat die huishulpe jou nie kom steur nie. Sê net as daar iets is wat ek vir jou kan bring, hoor?” Sy voeg die daad by die woord en verlaat dan die kamer met ’n bemoedigende glimlaggie in Dianne se rigting. Die soveelste keer vanoggend staan Sandra totaal dronkgeslaan.

      Sy frons toe Dianne weer uit die bed opsukkel.

      “Waarheen gaan jy nou? Jy moet rus, Dianne.”

      “Ek wil net my vensters toemaak.” Sandra staan doodstil en toekyk hoe Dianne haar venster toetrek en op knip sit. Dan hoor sy haar sê: “Ek wil ook my deur sluit sodra jy uit is.”

      Sandra kyk haar skerp aan. Oordryf Dianne dinge darem nie nou ’n bietjie nie? Maar dan onthou sy dat sy self die vorige nag met toe vensters en ’n deur wat gesluit was, geslaap het.

      “Dianne, hoekom gaan jy nie liewer weg nie? Dink jy nie dit sal beter wees nie?”

      Dianne kyk haar vinnig aan.

      “Hoekom sê jy so?”

      “Nee, ek bedoel maar net. Dis duidelik dat jou senuwees effens op hol is. As jy dalk ’n bietjie kan wegkom, ’n vakansie kan neem . . .”

      Maar Dianne skud haar kop heftig en weer is die blou oë vol trane.

      “Ek wens ek kon, maar ek kan nie. Ek kan nie nóú weggaan nie.” Sy stap aan deur toe en Sandra verstaan die skimp. Dianne wil alleen wees.

      “Ek sal weer later hier kom inloer. En, Dianne, as jy ’n vriendin nodig het . . . Jy kan my vertrou.”

      Dis ’n uiters verwarde Sandra wat haar by doktor Basson en Gustaf aansluit waar hulle sit en gesels in die rondawel wat Basson as kantoor gebruik. Dat hulle oor net een onderwerp gesels, is duidelik aan albei se ernstige gesigsuitdrukkings toe sy binnestap.

      Op die vraag in doktor Basson se oë antwoord sy: “Sy rus nou . . . nadat sy haar vensters dig toegemaak en haar deur gesluit het. Gustaf,” en sy kyk hom vas aan, “sê my, was ek en jy gisternag in die ruïnes en het ons gesien . . . wat ek dink ons gesien het?”

      Hy knik en trek haar op die bank langs hom neer.

      “Ja. Ek weet wat jy bedoel. Ook vir my is dit nog ongelooflik, maar dis waar.” Hy kyk na Jan Basson. “Dis net doktor Basson wat dit blykbaar maklik aanvaar. Maar, hy glo aan spoke en bonatuurlike goed.”

      Basson glimlag geduldig. Hy kan hom voorstel hoe die jong speurder moet voel. In plaas daarvan dat hy nader aan die oplossing beweeg, lyk dit asof hy net al meer en meer verstrik raak en geen vordering maak nie.

      “My jonge vriend, ek sou jou verhaal beswaarlik kon glo as iemand anders my dit vertel het. Maar juis omdat dit jý is, en omdat ek deeglik weet jy glo nie aan bonatuurlike en onnatuurlike ver­skynsels nie, besef ek dat ek alles kan glo en aanvaar dat dit presies so plaasgevind het.”

      “Maar ek kan dit self nie glo nie, genugtig! Dis twak, onsin! Daar kan nie so iets bestaan nie! Sandra kan dit ook nie glo nie!”

      Sy skud haar kop.

      “Nee, ek kan nie, hoewel ek weet ek het dit tog met my eie oë gesien. Vanoggend, toe ek wakker word, het ek gewonder of ek nie maar ’n nagmerrie gehad het nie, maar . . . ek weet dit was die werklikheid, want dis hoekom Dianne ook vanoggend so lyk. Daardie arme mens glo vas sy is besig om mal te word, veral nadat Nina so ewe besorg en vriendelik met haar was.”

      Gustaf frons skerp, sy stem klink moedeloos.

      “Wel, dit voel vir my ek sal nou mal raak as hierdie saak nie na die een of ander kant toe ’n ligkol begin gee nie. Ek het in my lewe nog nie met so ’n deurmekaarspul gewerk nie. En wat, vra ek julle, het al hierdie dinge met die oorspronklike saak te doen – met die bloedlose lyk van ’n ou man en met die vreemde ongesteldheid onder toeriste? Waar is die verband?”

      Basson knik ook ernstig.

      “Ja, dis baie deurmekaar. Ek kan byna nie glo dat Nina Andrews ’n verband kan hê met ’n bloedlose lyk en die vreemde siekte onder toeriste nie, maar ná wat jy my so pas vertel het, begin ek wonder . . .”

      Gustaf kyk hom priemend aan.

      “Dus dink jy dat al hierdie dinge ineenskakel?”

      Die argeoloog skud sy kop, en ook sy oë lyk verward.

      “Ek weet nie. Dit voel vir my dat alles inmekaarskakel, maar hóé moet jy my nie vra nie. Ek weet doodeenvoudig nie. En dan klink dit weer so onmoontlik . . .”

      Dis ’n rukkie stil terwyl al drie peinsend voor hulle uitstaar. Dan verbreek Sandra die stilte, haar stem verward.

      “Wel, of dit ineenskakel of nie, ek bedoel nou die bloedlose lyk en die vreemde siekte en dié dinge wat gisternag gebeur het, weet geen mens in hierdie stadium nie. Maar dat alles beslis nie pluis is by ons gasheer en gasvrou nie, is baie seker. Veral Nina Andrews . . . Julle weet, sy slaan my net totaal dronk. Gistermiddag was sy só siek dat sy in ’n koma was. Sy het ellendig gelyk en ek het my boeglam geskrik toe ek die kamer inkom. Kort daarna verdwyn sy, sommer net so, en loop ’n hele ent na die ruïnes toe.


Скачать книгу
Яндекс.Метрика