'n Bruid vir Graaf Debussy. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
in my diens.”
Haar oë rek. “U is …?”
Hy buig galant, en daar is ’n vreemde bekendheid aan die beweging wat ’n steekpyn deur haar laat gaan. “Ja. Ek is graaf Gustave Debussy. Baie welkom by die Château D’Ussé. Ek hoop jy kuier baie lekker hier by ons.”
Marguerite Vilar frons diep toe sy die twee stadig aangestap sien kom na die huisie wat eenkant tussen die bome staan. Sedert daardie aand toe vader en seun mekaar openlik gekonfronteer het, het die onrus in die Vilars by die dag gegroei, soos die spanning in die kasteel ook opgebou het. Bedags dwaal graaf Gustave rusteloos oor die landgoed en snags van saalagtige vertrek na saalagtige vertrek in die groot kasteel. Graaf Jean-Paul skitter meestal in sy afwesigheid. Of sy afwesigheid iets te doen het met ’n soektog na die skoondogter waarom sy vader gevra het, betwyfel almal sterk. En wanneer hy hier is, is die gespanne stilswye tussen die twee minder uithoudbaar as die gewonder oor waar hy is en wat hy doen wanneer hy weg is. Ou Marguerite se senuwees is klaar. Die maand van grasie spoed ten einde en tot dusver is daar nog geen reaksie op die brief wat sy aan haar vriendin naby Marseille gestuur het nie.
Dan gaan haar hart amper staan. Die vreemde meisie by graaf Gustave is nou naby genoeg om herken te word. Simone! Dis Simone wat hier aangestap kom in die geselskap van die graaf!
Sy gooi die vadoek neer en drafstap na buite so vinnig as wat haar plomp, kort gestalte dit toelaat. Simone! Sy kom rooi in die gesig en uitasem voor hulle tot stilstand. Haar oë rek ontsteld toe sy in die bleek gesig met die strak oë kyk.
“Simone! Liewe kind. Waar … waar is jou ma? Waar kom jy nou vandaan, en te voet?”
Die volgende oomblik moet sy en die graaf albei vinnig gryp toe die gas skielik met ’n draaibeweging grond toe sak.
“Mon Dieu! Wat sou gebeur het?” roep die ouer vrou byna huilend uit. Graaf Gustave buk af en skuif sy arms onder Simone in.
“Ek sal haar maklik kan dra. Sy is so lig soos ’n veer.” Daar is ’n bekommerde frons op sy gesig. “Sy het netnou van die koets afgeklim wat hier verby is. Sy was alleen. Daar moes iets ernstigs gebeur het. Sy het nie vir my gesond gelyk nie, amper asof sy in ’n soort beswyming is. Ons moet haar so gou moontlik in die bed kry en ’n dokter ontbied.”
Maar die dokter kan, toe hy eindelik daar aankom, niks verkeerd vind nie behalwe dat die meisie aan skok en uitputting ly. Simone het, nog voordat hy by die Vilars se huisie aangekom het, haar bewussyn herwin, maar Marguerite kon geen woord uit haar kry nie. Sy het net strak voor haar lê en uitstaar, en toe Marguerite moederlik haar bleek gesig met ’n nat lap afvee, het sy skielik in wilde, hartverskeurende snikke uitgebars wat haar uitgeput gelaat het toe sy eindelik weer tot bedaring kom.
Dis vir die Vilars nie vreemd dat graaf Gustave daardie aand weer sy opwagting by hul huisie maak nie. Vir die werknemers van ander adellikes is dit beslis ongehoord dat meester en dienskneg mekaar op so ’n vriendskaplike voet ontmoet. Maar vir Antoine en sy gade is dit niks buitengewoons om die groot, nog fors gestalte van graaf Gustave in hul kombuisdeur te sien verskyn om ’n koppie koffie van Marguerite te bedel nie. Baie aande al het hierdie drie mense saam om die witgeskropte kombuistafel gesit. Vanaand is weer een van daardie aande, en as Antoine en Marguerite ietwat ongemaklik oor sy besoek voel, kom hy niks agter nie.
Hy neem plaas, ontvang sy gebruiklike koppie koffie en laat hoor: “Die dokter sê sy moet baie rus en goeie kos en liefde kry. Hoe gaan dit nou met haar?”
“Sy slaap eindelik. Sy het darem ’n koppie sop geëet. Al wat sy nog gesê het, was dat haar ma sowat ’n maand gelede oorlede is.”
“Dit kan die oorsaak wees van haar toestand, en ook nie.”
Sy twee werknemers kyk hom vraend aan.
“As dit gaan om haar ma se dood, kom die reaksie ’n bietjie lank ná die tyd. Maar nou ja, ons weet nie wat het alles die afgelope maand met haar gebeur nie. Marguerite, ek wil hê jy moet bedags hier by haar bly. Ons sal klaarkom in die kasteel. Ek wil nie hê sy moet alleen gelaat word nie. Sy moet die beste versorging kry.”
Marguerite en Antoine kyk mekaar vinnig aan, en dan vra eersgenoemde ontsteld: “Maar wie sal dan na ú omsien?”
“Marguerite, ek weet ek is vyf en sestig, maar ek kan myself nog help, weet jy? Simone – dis haar naam, nè? – het jou nou nodiger. Sy lyk na ’n goeie kind en sy is heeltemal alleen op die aarde. Ek wil nie hê sy moet verstote voel nie. Laat haar voel sy het ’n nuwe tuiste gevind. Sy gaan tog seker nou by julle bly, nie waar nie?”
“Maar natuurlik! Ek sal nie toelaat dat sy weer teruggaan na daardie ou plasie buite Marseille nie.”
“Dis gaaf.” Die graaf glimlag en staan op. “Mag ek ’n oomblik by haar inloer? Ek weet sy slaap nou, maar …” Hy lyk ietwat verleë. “Ek voel half verantwoordelik vir haar. Hoekom, weet ek nie. Seker maar omdat ek haar langs die pad gekry het.”
Hy staan lank by die voetenent van die bed in die klein kamertjie. Sy oë mis niks, ook nie die hande wat getuig van harde arbeid nie. Dan draai hy om, groet en verdwyn die nag in, terug na die eensaamheid van die groot kasteel. Man en vrou kyk mekaar opsommend aan.
“Vrou, ek sê jou hier gaan moeilikheid kom. Nou wil jy haar nog permanent hier hou.”
“Antoine, jy behoort jou te skaam! Waarheen moet sy gaan? Sy is stokalleen op die aarde.”
“Ja. En wie se skuld is dit? Wel, ek sê vir jou, ek voel aan my gebeente dat daar moeilikheid op ons wag met hierdie meisie op die landgoed.”
“Ag, Antoine, hou tog op met sanik. Jou ou gebeente is al so gedaan dat dit nie meer voorgevoelens kan kry nie. Ek het weer die gevoel sy is op die regte tyd hierheen gestuur.”
“Hm. Ja. Maar jý het darem gesorg dat ’n brief op die regte tyd gestuur is. Wel, vrou, ek sê vir jou, ek hou niks daarvan dat graaf Gustave so gaande oor haar is nie. Daar is ’n ou spreekwoord wat sê …”
“Basta met jou spreekwoorde, Antoine! Jy gebruik hulle die meeste van die tyd tog verkeerd.”
“Nie hierdie keer nie, vrou. Ek sê jou, waar bloed nie kan loop nie …”
“Sal jy stilbly, Antoine! As daar ooit moeilikheid kom, sal dit daardie groot mond van jou wees wat dit veroorsaak en niks anders nie. Simone bly hier. Dis klaar. Natuurlik tot tyd en wyl sy oortrek na die kasteel.”
“Om wat daar te maak?”
“As die gravin Debussy, natuurlik. Jean-Paul gaan smoorverlief raak op haar. Ek weet dit. Ek voel dit aan my gebeente.”
Antoine snork. “Hmpf! Los dit maar, vrou. Jóú gebeente kan ook niks voel nie. Daar is te veel vet om.”
Jean-Paul voel in hierdie dae verder van verlief raak as ooit tevore. Sy lewe is taamlik deurmekaar. Niks wil meer glad verloop nie. Hy en Frances stry skielik openlik en vurig. Hy moes, soos baie mans voor hom, uitvind dat hy dinge begin het wat liewer moes gebly het. Soos om met Frances Malraux ’n verhouding aan te knoop. Hy kom nou agter dat dit baie makliker is om ’n verhouding te begin as te beëindig. Daar is vrouens – soos Frances Malraux – wat hulle nie so maklik eenkant toe laat skuif nie.
Hy het lankal begin besef dat die verhouding te vurig is, maar ook besef dat die afkoeling stelselmatig sou moes plaasvind. Frances is ’n wêreldwyse, gevaarlike vrou. Jy maak haar nie een oomblik vurig die hof en keer die volgende oomblik jou rug op haar nie. Dis iets wat sy net nie sal duld nie. Dit kan dan selfs gebeur dat Jean-Paul nie lank genoeg leef om iemand in haar plek te kry nie. Frances Malraux het vriende in alle klasse van die samelewing, en sommige van hulle, weet hy kan ’n dolk dodelik akkuraat gooi.
Sy pa se openlike en alombekende ontevredenheid met die verhouding was tot dusver baie nuttig vir hom, anders het Frances hom miskien al lankal gedwing om haar die gravin Debussy te maak. Frances Malraux het, behalwe ’n liefde vir mans, ook ’n geweldige liefde vir geld en status – seker omdat sy, soos sy pa dit kaalkop stel, ’n kind van die agterstrate van Parys is. Daarom dat sy seker gemaak het dat sy haar kloue goed