'n Bruid vir Graaf Debussy. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
sal kan word nadat die graaf oorlede is. Frances wag dus maar gefrustreerd en woedend vir die dag dat graaf Gustave se doodstyding deur Frankryk trek.
Intussen buit Jean-Paul die situasie ten volle uit. Hy is hoegenaamd nie van plan om ooit met Frances Malraux te trou nie, en sy pa se heftige beswaar teen haar beskerm hom. Maar nou het sy pa met ’n ander slenter gekom – een wat hom die afgelope drie weke baie hoofbrekens besorg het. Sy ongeërgdheid oor sy pa se dreigement van onterwing was pure bluf. Dis geen grap om vandag ’n titel en geld te besit en môre net ’n lid van die hoipolloi met geen besittings hoegenaamd te wees nie. Hy sien daagliks hoe dit gesteld is met die verarmde adellikes. Die feit dat hy dan van Frances Malraux se klewerigheid ontslae sal wees, is geen troos nie.
Jean-Paul is beslis ’n bekommerde man.
En asof hy nie reeds genoeg bekommernisse het nie, moet hy nog daaraan toevoeg. Hy kan die nag in die herberg nie uit sy gedagtes kry nie. Tydig en ontydig duik die insident by hom op en voel hy die prik van ’n skuldgevoel. Nie dat hy nie meer as genoeg verskonings kan aanvoer nie. Hy en Frances het daardie aand ’n hewige uitval gehad. Sy het hom daarvan beskuldig dat hy ’n slapperd is wat hom deur sy pa laat voorskryf. Frances sal, as sy moet verneem dat hy onverwags getroud is, niks daarvan dink om die grootste skandaal in die Franse geskiedenis te ontketen nie. Dan sal hy nie net getroud wees met ’n vrou wat hy nie wil hê nie, maar sy pa sal hom daar en dan summier uit die kasteel jaag. Gustave Debussy se lewe was tot dusver onbesproke. Hy is ’n man van hoë integriteit, geëer en gerespekteer deur adellikes én gepeupel. Hy sal ’n skandaal nie duld nie.
Hy moes Frances dus vertel dat sy pa hom wil dwing om met ’n vrou van sý keuse te trou, en daardie aand het hy haar agterstraatwoordeskat deeglik leer ken. Hy kon hom regtig afvra wat hy ooit in hierdie vrou gesien het. Vir die eerste keer het hy met haar ware mentaliteit te doen gekry, en hy het met afsku van haar af weggedraai. Sy het, om Gustave Debussy se woorde te gebruik, soos ’n straatslet getier en gevloek, en hy het siedend van woede, veral vir homself, padgegee in sy koets voordat hy dalk kon vergeet dat hy ’n heer is.
Eers wou hy afdraai na die taverne waar hy en sy maats uit die burgerstand gewoonlik vergader. Toe het hy daarteen besluit. Hy sou by die herberg op pad na die kasteel aandoen, vir hom ’n bottel wyn of twee koop en daar sy woede en kommer probeer afsluk. In die bui waarin hy was, wou hy liewer nie daardie aand terugkeer na die kasteel nie.
Wat daarna gebeur het, kan hy self kwalik glo. Hy was beslis nie in ’n amoreuse bui toe hy nat en koud die herberg ingebars het nie. ’n Roekelose bui, ja. Hy was daarop uit om hom dronk te drink en al wat vroumens en graafskap en erfenis is, te vergeet. En toe sit die bleek meisie daar in die vuurlig, en sy lyk nes ’n bang hasie wat deur die honde in ’n hoek gekeer is. Aan die begin het hy eerlik geen idees in sy kop gehad nie. Snaaks, dit was haar hande met die gebreekte naels, gebars en vereelt, wat sy aandag vasgevang het. Hy wou haar net ’n bietjie wyn gee. Dis al. Die arme ding het gelyk of sy elke oomblik kon omkap. Nie dat hy ’n duiwel omgegee het nie. Nie regtig nie. Op daardie oomblik was hy siek en sat vir vroue. Hulle is net daar om jou uit te suig en jou lewe te kompliseer.
Na die duiwel met al wat vroumens is, goed of sleg, het hy vir homself gesê. Toe het die kappie van haar mantel teruggeval. Sy was nie mooi nie. Hy weet hy het gesê sy is pragtig, maar dit was nie die regte woord nie. Iets anders, besonders, sou ’n beter beskrywing gewees het. En hy kon aanvoel, eerder as sien, dat sy ook met probleme geworstel het. En hy het besluit sy kan saam met hom ’n wyntjie drink. Hulle kon saam hulle probleme afsluk, al was dit net ’n tydelike oplossing.
Wanneer presies dinge in ’n ander rigting begin ontwikkel het, kan hy glad nie onthou nie. Sy was so vreeslik eerlik omtrent haar ouderdom. Dit het haar al klaar van die meeste vroue onderskei, want hy het nog nooit een ontmoet wat dit nie probeer verbloem nie. As hulle nie ’n paar jaar bylieg nie, dan trek hulle ’n goeie klompie af, soos Frances gedoen het toe hy haar die eerste keer ontmoet het. Dit was eers heelwat later dat hy ontdek het sy is ’n hele paar jaar sy senior. Maar hierdie een het sommer pront erken sy is dertig, en, byna ongelooflik, ook erken dat sy nog nooit ’n man gehad het nie.
En omdat sy met alles so doodeerlik uitgekom het, het hy haar woord nie betwyfel toe sy erken dat sy baie minnaars het nie.
Daarom het die verdere verwikkelinge sy benewelde verstand nie te veel gepla nie. Sy is nie regtig anders as ander vroumense nie, het hy homself wysgemaak toe hy haar in sy arms optel. Daar is nie ’n goeie vrou vir hom in die hele Frankryk te vinde nie. Sy pa praat van inbors! Ba! Van die armste met die vereelte hande tot dié met pophandjies is ewe verrot!
Dit was eers die volgende oggend toe hy wakker word en sy soos ’n soet kind rustig in sy arms lê en slaap, dat die waarheid hom met ’n verblindende slag getref het: Daar ís nog goeie vroumense te vinde. Hier is een van hulle, of miskien die enigste in Frankryk. Hy weet van baie adellike dames wat ná die rewolusie hul liggame op straat gaan verkoop het vir kos. Toe die honger begin knaag, het die adellikheid vinnig vlerkies gekry. Maar hierdie meisie … Haar hande vertel dat sy haar brood op eerbare wyse verdien. Hierdie meisie is op dertig nog ’n maagd. Was …
Skuldgevoel en skaamte soos hy nog nooit tevore ervaar het nie, het in hom opgestu. Hy het die gevoel gekry dat hy iets baie moois en reins – begrippe wat vandag skaars is in Frankryk – brutaal vernietig het. Toe het die woede gekom, want die woede het die skuldgevoel draaglik gemaak. Hy kon haar gerus iets aandoen op daardie oomblik.
Hoekom het sy vir hom gelieg? Hoekom voorgegee sy het al talle minnaars gehad terwyl sy nog nooit eens één gehad het nie? Sy het daarvoor gevra! Sy het gesoek daarna!
Hy het versigtig langs haar uitgeskuif, sy klere aangepluk, sy bagasie gegryp en gemaak dat hy wegkom. Die kamer se mure het hom vasgedruk. Met ’n kloppende hoofpyn, óf van die baie wyn, óf van skok, het hy sy koets bestyg.
Hy het sy verstand doelbewus gesluit vir die vorige nag se episode en probeer konsentreer op sy groot probleem. Oor ’n raps meer as ’n week moet hy ’n vrou trou, of … Waar de duiwel moet hy een kry, én een van inbors? Ba!
Maar as Jean-Paul oortuig is dat hy in die hele Frankryk nie ’n vrou gaan kry waarmee sy pa tevrede gaan wees nie, is graaf Gustave oortuig dat hý wel een gevind het. Of liewer, sy het vanself, asof gestuur, op sy landgoed aangestap gekom.
Simone kyk selfbewus op toe graaf Gustave se gestalte weer die deur van die klein slaapkamertjie in die Vilars se huis vul. Sedert sy twee dae gelede hier aangekom het, verskyn hy gereeld soggens om te verneem of sy die nag goed gerus het. Dan trek hy ’n stoel nader en neem langs haar bed plaas, en begin kalm gesels oor ditjies en datjies, tot sy haar ergste selfbewustheid verloor het. Namiddae kom hy weer, kom sit langs haar bed en knoop op sy rustige, vaderlike manier ’n gesprek aan. Eers het net hy gepraat en het sy stil lê en luister. Maar mettertyd het hy reaksie by haar ontlok en het sy begin saamgesels. Baie diplomaties het hy begin om haar lewensverhaal uit haar te trek. Nie dat daar veel te vertelle was nie. Toe sy haar verstand gekry het, was dit maar sy en haar oorlede moeder op die plasie net buite Marseille.
Sy glimlag nou effens. “Mamma wou nooit hê ek moes haar op die plasie help nie, maar ek het, toe ek groot genoeg was, stilletjies gegaan en dingetjies gedoen, sodat dit klaar was as sy daarby uitkom. Ek het haar so jammer gekry. Sy het so hard gewerk.”
Haar oë verteder in herinnering. Later het haar ma sieklik geword, en outomaties het die pligte op die jonger skouers geval. Dikwels, onthou sy, het sy die huis ingekom en haar ma in trane aangetref. “Dis so ’n onreg, my kind. So ’n onreg dat jy so hard moet werk, soos ’n gewone arbeider.” En altyd het sy dit weggelag en vrolik geantwoord: “Maar ek is net ’n gewone mens, Mamma. En ek gee nie om nie. Ek geniet die plaaswerk.”
Maar dit was nie regtig so maklik nie. Sy moes altyd haar hande wegsteek vir mense en daar was nooit geld vir die gewone goedjies waarna ’n jong meisie se hart hunker nie. Daar was in elk geval ook nooit ’n geleentheid waarvoor sy mooi kon aantrek nie. Soms het sy tog ’n bietjie gesellig met die ander jong mense van die kleinhoewes verkeer, maar nooit werklik eie met hulle gevoel nie. En die huweliksaanbiedinge wat sy gekry het, kon sy na waarde skat: Elkeen het in haar ’n flukse vrou gesien wat, as dit nodig sou word, ook met die plaaswerk sou kon