Die kluisenaar van Abendruhe. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
gehoorsaam teësinnig. Was sy alleen, sou sy op die plek in haar motor geklim en teruggery het stad toe. Sy wou ten eerste nie hierheen kom nie. Maar aan die ander kant word sy aangegryp deur die raaiselagtigheid van hierdie ongemanierde kluisenaarsdokter. Nog nooit voorheen het haar skoonheid ’n man so koud gelaat soos dit blykbaar met hom die geval is nie. En geen man het al ooit so kortaf met haar gepraat en haar so stug behandel nie. Dis vir haar heeltemal ’n afwyking van die gewone roetine – ’n interessante afwyking. En dan is daar natuurlik die ondersoek … Hoe sy ook al daarteen stry, weet sy diep in haar hart dat sy graag hierdie man se indruk van haar welsyn sal wil verneem.
Die ontvangsdame agter die toonbank in die ingangsportaal verseker hulle vriendelik dat hul kamers gereed is. Sy neem hulle na ’n lang ry kamers wat ’n entjie van die hoofgebou af staan. Dit herinner sterk aan motelkamers, waar elke kamer ’n buitedeur en sy eie private badkamer het. Op die end van die ry is ’n klein maar netjiese kafeetjie waar etes bedien word en die personeel en besoekers koeldrank, sigarette, lekkergoed, tydskrifte en dies meer kan koop. Magriet is aangenaam verras en selfs Thero moet erken dat sy tevrede kan wees.
“Hierdie kamers word natuurlik uitsluitend vir besoekers gehou. Die plek is ’n bietjie afgeleë en familielede van pasiënte kan onmoontlik elke dag oor die bergpas kom om besoek af te lê. Daarom het dokter Fraser vir verblyfplek voorsiening gemaak,” verduidelik die vrou terwyl sy hulle die lugtige, ruim slaapkamers innooi.
“Dan het die hospitaal seker nie nou veel pasiënte nie. Ek sien hier is nog net een ander kamer in gebruik,” merk Magriet op en kyk beïndruk na die sagte mat, ingeboude kaste en vrolike gordyne.
“O nee, die hospitaal self is propvol,” antwoord die vrou en die trots kan duidelik in haar stem gehoor word. “Maar dokter Fraser moedig nie familielede aan om lank hier te kom bly nie. Dis net in ernstige gevalle dat hy soms ’n uitsondering maak.”
“Ek het mos gesê dis ’n tronk!” brom Thero onderlangs. Magriet vra haastig, bang dat die vrou Thero dalk gehoor het: “Ek neem aan dis ’n staatsondersteunde hospitaal, nie waar nie?”
“O nee, dis ’n heeltemal private instansie. Die hele Abendruhe behoort aan dokter Fraser.”
Thero is openlik verbaas en Magriet se oë rek. Geen wonder dat hy so ewe plegtig aan Thero kon sê dat hy op Abendruhe die een is wat die bevele gee nie!
“Maar dit moet mos ongelooflik baie geld kos om so ’n plek op te rig en in stand te hou!”
“O ja, beslis! Daar is ’n interessante verhaal aan verbonde.”
“So?” Thero praat nou die eerste keer. “Mag ons die verhaal hoor?”
“Ag, dis geen geheim nie. Dokter Fraser het ’n klompie jare gelede, toe hy nog ’n jong dokter in die Goudstad was, ’n buitelandse biljoenêr wat deur ons land gereis het se lewe net betyds gered deur ’n knap diagnose. Toe hy gesond terugkeer na Switserland, het hy gedink dis die laaste sien. Maar die man het nie vergeet nie. Toe hy ’n jaar later in ’n motorongeluk omkom, moes dokter Fraser verneem dat hy die enigste erfgenaam van ’n fortuin is.”
Albei meisies se oë is rond van verbasing.
“Wil jy vir my kom vertel dat hy daardie geld alles gebruik het om hierdie plek te bou? Hy moet van sy verstand af wees!” laat Thero hoor. “Ek sal tog, as ek ’n paar miljoen erf, dit in so ’n … in so ’n plek steek!”
Die vrou glimlag net. Thero is nie die eerste mens wat hierdie optrede van Emile Fraser as vreemd beskou nie. Maar hulle wat hom ken, verstaan.
“Elke mens maak maar soos hy of sy goeddink, juffrou,” sê sy net goedig.
“Die plek onderhou hom seker self. Die tariewe hier is baie hoog,” merk Magriet op.
“Dit weet ek natuurlik nie. Ek weet net dat die mense wat kan betaal, baie betaal. Maar hier is ook baie pasiënte wat min betaal of selfs niks nie. Dokter Fraser het nog nooit iemand weggestuur omdat hy of sy nie kan betaal nie. Maar eintlik word die hospitaal op Simonsvlei meestal gebruik vir die nie-betalende pasiënte.”
“Simonsvlei?”
“Ons naaste dorp, tagtig kilometer hiervandaan, oor die bergpas. Die pad draai net hier onder die berg weg van die teerpad af. Julle het seker die padwyser gesien toe julle gekom het.”
Sy is skaars buite hoorafstand of Thero sê ontevrede: “Geen wonder dat ons, wat kan betaal, ons ore van ons koppe af moet betaal nie! Ek het van die begin af gedink dat daar iets met hierdie dokter Fraser skort, maar nou weet ek vir seker. Die man is mal.”
Magriet lag maar net.
In haar kamer, ’n duplikaat van dié van Thero, gaan neem Magriet voor die venster stelling in en staar peinsend uit na die groot, groen grasperk buite. Sy het nog nooit voorheen ’n man soos dokter Emile Fraser ontmoet nie. Veral ná alles wat die ontvangsdame vertel het, weet sy dat hy ’n baie uitsonderlike mens moet wees. Min mense sal ’n erfporsie soos syne net so aan sy medemens wy.
Maar hoekom sou hy juis hier, in eensaamheid en afsondering, ’n hospitaal kom bou het? Dit wek die indruk dat hy wou wegvlug, hom wou afsluit van die res van die wêreld, maar tog ook graag met sy lewenstaak wou voortgaan. Hoekom sou hy verkies om soos ’n kluisenaar hier in die berge te lewe en hom, soos ’n moderne Albert Schweitzer, liggaam en siel net aan sy professie te wy?
Dan glimlag Magriet vir haarself. Hierdie man het werklik haar verbeelding aangegryp. Sy roep sy beeld in haar gedagtes op en sy moet erken dat hy, afgesien van sy kwaai humeur, ’n baie aantreklike man is met sy rooibruin hare en besonderse groen oë wat sy medemens so reguit en effens kil aankyk – so asof hy lankal reeds geleer het om skepties te staan teenoor die lewe en nie alles te glo wat sy groen oë sien nie. Hy kan beslis niks ouer as so vyf en dertig wees nie. Dit maak dit nog soveel vreemder dat hy so absoluut toegewy aan sy professie is, dermate dat dit sy hele lewe behels. Sy sal verbaas wees as sy moet hoor dat hy getroud is – hy is te onaantasbaar afsydig, te … sonder warmte.
Magriet wonder geamuseerd wat die man sal dink as hy moet weet dat sy, ’n volslae vreemdeling, besig is om hom so in oënskou te neem. Hy sal seker wel die een of ander bytende aanmerking gereed hê.
Dan is daar nog iets wat Magriet instinktief in verband met hierdie man aanvoel: dis beter om hom as ’n vriend te hê. Sy sal nie sover gaan om te sê dat sy en Thero hulle reeds sy vyandskap op die hals gehaal het nie, maar dis duidelik dat hy beslis nie veel trek in die twee niggies het nie.
Magriet en Thero verwyl die dag met verkenning van die terrein en die res van die omgewing – Magriet belangstellend en diep geïnteresseerd en met die gevoel dat sy kan begin verstaan hoekom ’n mens graag permanent hier sou wou woon, en Thero openlik verveeld en geïrriteerd. Dis laat in die namiddag toe Thero nie langer kan stilbly oor die probleem wat ook op die voorgrond van Magriet se gedagtes huiwer nie.
“Wat sou die man se plan wees? As hy darem dink dat ek dae lank vir hom gaan sit en wag, begaan hy ’n groot fout. En hy moet nog ’n slag dink as hy verwag dat ek eerste na hom toe sal gaan en hom sal soebat om my te ondersoek!”
Magriet frons bekommerd. Die hele dag was daar geen taal of tyding van dokter Fraser nie. Met hul omswerwinge deur die terrein het hulle ’n hele paar van die verpleegsters en ander personeellede raakgeloop, maar van die hoof self was daar geen spoor te sien nie. Die ongemaklike gevoel wat al die hele dag by Magriet spook, word hierdeur verskerp. Sou die man werklik wag dat Thero hom eers moet kom soebat? Maar dis tog kinderagtig. Nee, hy is seker net vreeslik besig, probeer sy haarself gerusstel. Die moontlikheid bestaan ook dat hy van hulle vergeet het. As dit die geval is, sal Thero dit beslis nie as ’n kompliment beskou nie, dink Magriet geamuseerd. Maar iemand sal hom aan die nuwe pasiënt moet herinner. Sy twyfel of sy Thero langer as môre hier sal kan hou. Sy is eintlik verbaas dat sy nog ná vanoggend se voorval gebly het. Dit sal beslis onverstandig wees om haar opstandige niggie se geduld te lank te beproef.
Thero móét ondersoek word, besluit Magriet opnuut toe sy sien hoe uitasem Thero op haar bed neersak toe hulle van hul lang staptog af terugkeer. Sy voel