Die kluisenaar van Abendruhe. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
Ek wil net eers gou vir ons ’n koue koeldrank by die kafeetjie gaan koop. Skop solank jou skoene uit,” sê Magriet asof sy nie gesien het hoe gedaan Thero lyk nie.
Thero gehoorsaam en leun verlig teen die kussings. “Ek het jare laas koeldrank gedrink. Ek sal wat gee om nou liewer ’n yskoue biertjie te kry.”
“Ek is bevrees dis buite die kwessie,” lag Magriet. “As jy dan ook so lanklaas koeldrank gedrink het, sal dit dalk nou lekkerder as bier smaak.”
“Kinders drink koeldrank,” laat Thero stug hoor en steek ongeduldig ’n sigaret aan. “Maar as dit dan al is wat hierdie simpel plek aanbied, bring dan maar een.”
Nadat Magriet die koeldrank gebring het, keer sy na haar eie kamer terug onder die voorwendsel dat sy ook ’n bietjie wil gaan rus. ’n Paar minute later sluip sy egter suutjies weg en kry koers in die rigting van die hoofgebou.
Kort daarna bevind sy haar weer in die vertrek waar sy en Thero die oggend gesit en wag het. ’n Rukkie later maak dokter Fraser sy verskyning. As hy verbaas is om haar in plaas van Thero daar aan te tref, toon sy gesigsuitdrukking egter niks nie.
“Is daar iets wat ek vir jou kan doen, juffrou?”
Magriet voel soos ’n weerlose meisietjie voor ’n skoolhoof. Toe sy nie dadelik antwoord nie, vervolg hy: “Is jy gestuur om ander se vuil werk te doen?”
Dit laat haar vinnig opkyk en ’n blos stoot oor haar wange. Hierdie keer is dit egter van ergernis.
“Niemand het my gestuur nie en ek is nie bewus daarvan dat ek besig is om vuil werk te doen nie. Ek het net gekom …”
“Dan is my teleurstelling in jou nog groter, juffrou Marais. Jy doen nie net ander se vuil werk nie, maar doen dit daarby nog uit jou eie, vrye wil. Tas ek in die duister rond in my veronderstelling dat jy gekom het om my te kom vra om jou niggie te ondersoek? Of het jy miskien gekom om my om verskoning te kom vra?”
“Verskoning te vra? Waarvoor?” vra sy verslae.
“Dat jy my gister byna verongeluk het.”
Magriet trek haar asem skerp in. Dan was dit sý motor waarteen Thero byna vasgery het. Hy verkeer blykbaar onder die indruk dat dit sy was wat agter die wiel was.
“Dit was jy wat bestuur het, nie waar nie? Julle is te vinnig by my verby sodat ek kon sien wie so roekeloos was, maar elke keer dat ek julle daarna gesien het, het jy bestuur.” Hy frons skerp toe sy nog niks sê nie en leun effens vooroor, sy oë stip op haar gerig. “Of is ek verkeerd?”
Magriet klem haar hande styf inmekaar. Sy sal nie haar humeur verloor nie! Sy durf nie – ter wille van Thero.
“Die gevolgtrekking waartoe jy gekom het, is seker aanneemlik, maar nie juis waterdig nie, dokter. Ons laat dit liewer daar. Ek het hierheen gekom om jou te vra om my niggie te ondersoek.”
“Hoekom kom vra jy my en nie sy nie?”
“Sy is ’n baie trotse mens en …”
“Ek sal liewer sê koppig. En jy, juffrou? Het jy nie ook trots nie?”
Magriet voel hoe iets binne-in haar wil losbreek, maar sy slaag daarin om hom koel te antwoord: “Ja, dokter. Hoe snaaks dit ook al mag klink, ek is ook trots – maar nie ten koste van ’n ander se lewe nie.”
Sy wenkbroue lig.
“Dit klink na ’n beskuldiging, juffrou. Wat presies bedoel jy?”
“Dit lyk my, dokter, dat jy en Thero nie so danig trots is as wat julle kinderagtig is nie. Ek is beslis nie van plan om my tyd hier te mors solank dit julle twee gaan neem om volwasse grootmense te word nie.”
Sy bewe van woede toe sy vinnig aanstap deur toe en dink roekeloos by haarself: Na die dinges met jou, dokter Emile Fraser! Ek het genoeg sonde met Thero dat ek nog van jou kaf ook moet sluk!
Dan versteen sy in haar spore toe sy lag skielik agter haar opklink.
“Bravo! Dan het jy dit tog in jou as jy net ver genoeg gedryf word!” Hy loop tot by haar en sê sonder om haar kans te gee om van haar verbasing te herstel: “Hierdie tyd van die aand gaan ek gewoonlik ’n ent stap. Jy kan saamkom, dan kan ons die geval van jou niggie bespreek.”
Magriet laat haar weglei met sy hand stewig om haar elmboog gevou. Sy voel swak van verligting. Haar bravade van ’n paar sekondes gelede het haar totaal verlaat en sy raak yskoud by die gedagte daaraan dat sy hierdie man werklik in sy gesig as kinderagtig en onvolwasse bestempel het. Sy moes seker van lotjie getik gewees het om so iets te kon waag. En tog lyk dit asof hy nou baie vriendeliker en meer tegemoetkomend teenoor haar is. Hy is beslis nie ’n man wat ’n mens maklik sal verstaan nie, besluit sy.
Hulle stap gemaklik langs mekaar teen die bergpaadjie uit, en toe hulle eindelik ’n plek bereik waar die bergstroom tussen welige varings en varkblomme deur na benede murmel, gooi hy sy sakdoek oor ’n omgevalle boomstomp oop en bied haar die sitplek aan. Hy gaan twee tree verder gemaklik teen ’n ander boomstam leun, vra dan onverwags, en byna terloops: “Rook jy nie?”
“Nee. Het nog nooit.”
“Dis ’n uitsondering om ’n jong meisie aan te tref wat nie rook nie.”
Dit klink asof hy haar nie glo nie. Sy kan amper lees wat in sy gedagtes omgaan. As sy kans sien om met vreemde mans tot middernag in ’n motel langs die pad jolyt te hou, kan sy seker maar rook ook. Sy frons. Sy is seker hierdie man het ’n heeltemal verkeerde indruk van haar gevorm. Wel, laat hom dink wat hy wil. Sy het tog niks met hom te doen nie.
“Ek sou seker maar ook gerook het as ek dit kon bekostig het,” antwoord sy kil, “maar ek is ’n werkende meisie wat met ’n kantoorsalaris moet deurkom.”
Hy lyk eerlik verbaas en haar frons verdiep. Sou hy onder die indruk verkeer dat sy, nes haar ryk niggie, haar dae in ledigheid deurbring? Dit hinder haar meteens dat hierdie man so ’n wanindruk van haar moet hê.
“Maar ons het nie gekom om oor my te praat nie. Jy wou Thero se geval met my bespreek.”
Hy gee weer een van sy rare glimlaggies.
“Ek wou eintlik ’n idee van my pasiënt se agtergrond vorm, maar deur jou vertelling het ek ’n baie raak prentjie gekry – ook van haar. Wat makeer jou niggie? Waaroor kla sy?”
“Dis juis die ding. Ek weet nie. Sy kla nooit nie. Sy praat nooit dat sy siek of sleg voel nie – lag dit net altyd weg. Tog weet ek dat daar iets moet skort. Het jy nie ’n verslag van dokter Venter gekry nie?”
“Ja, maar hy kon my maar net sy indrukke meedeel. Jou niggie wou hom nog nooit toelaat om haar deeglik te ondersoek nie. Hoekom is jy die een wat haar moes vergesel?”
“Haar ouers is op die oomblik te besig met allerlei verpligtinge.”
“Kan ’n ouer ooit te besig wees om tyd vir sy eie kind af te knyp?”
Magriet is verleë en ontsteld oor die reguit vraag. “Ek … dis moeilik om te verduidelik –”
“Jy hoef nie. Ek weet presies wat die posisie is,” val hy haar stameling in die rede. “Ek ken die soort mense wat die Van Zyls is.”
Sy kyk hom koel aan. Magriet is ’n lojale mens. Al stem sy ook met hierdie man saam oor sy indruk van die Van Zyls, is dit nogtans haar familie van wie hy praat.
“Al wat daardie soort het, is te veel geld,” gaan hy egter ongestoord voort. “Neem jy dit weg, het hulle dikwels nie eens genoeg gesonde verstand oor nie en meestal nie eens goeie maniere nie.”
Magriet wil eers lag. Hy is ’n mooi een om van goeie maniere te praat! Maar werklik, hy lug darem sy mening te reguit! Haar stem is nou ysig: “Maar selfs sulke mense raak siek en het hulp nodig.”
Daar kom ’n lig van goedkeuring in sy oë, maar Magriet sien dit nie raak nie. Sy is te ontstoke.
“’n Mens kan net iemand help wat gehelp wil wees, juffrou Marais.