Ena Murray Keur 7. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
aan die onderpunt van die wa en bekyk haarself goed in die spieël bokant die wasbak. Hemel, sy herken haarself skaars! Ouma hét haar darem onder hande geneem. Weer voel sy hoe die histerie na bo borrel terwyl sy die afgelope oggend in oënskou neem.
Toe sy eindelik die twee goedkoop tasse klaar gepak het, was ouma Miemie nog nie tevrede nie.
“Gaan kam nou uit daardie muisnes van jou en kom hier,” het sy beveel, en Marista het gelate die byderwetse kapsel gaan uitborsel. Toe het sy haar gesig gaan skrop, ook op Ouma se bevel, totdat die laaste tikkie grimering af was en haar gesig soos ’n spieël geblink het. So mak – en net so hulpeloos – soos ’n lam het sy gesit en toekyk hoe Ouma haar uiterste bes probeer het om haar binne die bestek van ’n kwartier van vyf-en-twintig na agt-en-dertig jaar te laat verouder, sonder veel sukses. Ondanks die stywe oumabollatjie agter die kop, sodat sy amper Chinese oë daarvan gekry het, en die afwesigheid van enige verf, soos Ouma na die grimeermiddels verwys, was sy steeds pragtig. Ouma het onvergenoeg na die pragtige vel gekyk.
“Jy lyk nou éérs jonk,” het sy ontevrede laat hoor. “Nóú lyk jy vyftien. Kind, waarom moet jy so pragtig wees?” Marista het maar geswyg teen hierdie onredelike aantyging, en Ouma het voortgekla: “As jy net ’n paar puisies of moesies wil ontwikkel …”
“’n Vrou kry nie meer op agt-en-dertig puisies nie, Ouma,” het sy verduidelik, maar soos altyd was die alwyse tant Miemie gereed met ’n antwoord: “Gefrustreerde oujongnooiens wel. Êrens moet dit uitbars. Laat ek sien …” Ouma se vlytige vingers het weer doenig begin raak, en ná ’n rukkie het sy sugtend op die bed neergesak.
“Dis die beste wat ek kan doen. Ek vrees daar is nie veel aan te doen nie. Jy moet maar sê jy dra jou jare goed. En hou op om soos ’n koningin op ’n rooi tapyt te stap. Loop effens krom en stokkerig …”
“Ouma, ek gaan nie met hierdie ding wegkom nie. Ek sê Ouma …”
“Ag, twak, Miempie! Hoe meer ek na jou kyk, hoe meer begin jy vir my soos ’n regte oujongnooi lyk. Nee wat, jy sal deug.”
“O, baie dankie,” het sy sarkasties geantwoord, maar natuurlik het dit verlore gegaan. Ouma is net vatbaar vir enige verskuilde boodskap wanneer sy wil, dit het Marista al begin besef.
Terwyl sy haar nou staan en bekyk, lyk Marista vir haarself minstens honderd jaar oud. As Wouter haar nou moet sien … Dan verstil die geamuseerde vonkeling in haar oë.
Wouter … Dis weens hom dat sy nou hier staan, op pad na ’n onbekende bestemming. Sy draai vinnig van die spieël af weg. Sy wil nie aan hom dink nie.
Toe tant Miemie haar woonstel binnestap, lui die telefoon dringend. Sy bedink eers die saak, en besluit dan om dit maar te antwoord. Die een of ander tyd sal hulle wel moet hoor.
“O, Lettie-kind, dis jy!” laat sy vrolik hoor toe sy die stem aan die ander kant herken. “O, jy soek my al lank? Ek is jammer, kind. Ek het ’n paar dringende … e … sakies in die stad gehad. So pas ingekom. Hm? O, Marista? Nie by haar woonstel nie? Ja, ek weet sy is nie daar nie. Nee, kindjie, sy is ook nie hier nie. Nie met ’n oog gewaar nie. Sy is mos weg. Ja, kindjie, weg – skoonveld weg. Hm? Nee, ek weet ook nie waarheen nie. Sy het net ’n nota gelos om te sê sy gaan ’n rukkie weg. Onbepaald glo. Ag nee wat, Lettie. Ek is nie danig bekommerd nie. Marista is vyf-en-twintig. Dis hoog tyd dat sy na haarself leer kyk. Jy sê Wouter is bekommerd? Nou raai, nè? Só gaaf van hom. Jammer, kindjie, maar ek kan nie help nie. Tata!”
Lettie laat die telefoon sak en byt haar onderlip vas. Marista weg! Onbepaald!
Sy swaai om toe Wouter Malan in sy kantoordeur verskyn. “Het jy haar nog nie gekry nie, Lettie?”
“Nee.” Haar stem klink bot, onvriendelik, maar die man merk dit nie op nie. Hy is te bekommerd.
“Waar de duiwel sal sy wees? Sy weet mos sy moes vanoggend kom aanpas. Het jy haar al by haar ouma gesoek?”
“Ja. So pas. Sy is nie daar nie. Sy is weg.”
“Weg?”
“Ja. Weg. Soos tant Miemie dit gestel het: skoonveld weg.”
Hy kyk haar fronsend aan. “Luister, ek is nie lus vir grappies nie. Soek haar totdat …”
“Jy kan haar self verder soek, Wouter Malan.” Die hele affêre begin nou op Lettie se senuwees werk. Sy is gek van bekommernis oor Marista. “Ek sê jou haar ouma sê sy is ’n onbepaalde tyd weg sonder om te sê waarheen. Dus moet jy maar self die soektog verder voortsit as jy haar wil terughê, en ek is glad nie seker dat ek bly sal wees as jy haar kry nie.”
Wouter stap nader, die ongeloof duidelik op sy gesig. Die altyd gewillige, slaafse Lettie het nog nooit só met hom gepraat nie. Wat gaan vandag aan? Eers daag Marista nie op nie, en nou is dit weer Lettie wat heeltemal buite haar aard optree.
“Wat bedoel jy met onbepaald weg? En wat bedoel jy dat jy …”
Lettie se groenbruin oë blits. “Ek bedoel presies wat ek sê! Marista is weg en dis jóú skuld!”
“Myne?”
“Ja, joune! Of dink jy werklik Marista is te vinde daarvoor om tweede viool vir jou swetterjoel ander nooiens te speel?”
Dit lyk asof die modebaas se oë uit sy kop wil peul. “Is jy heeltemal van jou verstand af, Lettie? Hoe durf jy beweer dat ek …?”
“Ek beweer dit nie. Ek sê dit! Daar was gisteraand wéér ’n vroumens in jou woonstel …”
Sy hand skiet uit en kry haar aan die een mollige arm beet, en nou begin sy oë ook gevaarlik flits. “Ek ontken dit nie. Ek het gisteraand ’n sakevriendin onthaal. Maar wil jy beweer, of sê dat ek …?”
“Is dit wat jy hulle noem – sakevriendinne! Hmpff!” Lettie snork kliphard, onbewus daarvan dat sy daardie geluid by tant Miemie afgeluister het en Wouter Malan, die verfynde heer, kry ’n pyntrek op sy gesig. Maar dit skrik Lettie gans en al nie af nie. Sy wens hy kry ’n opregte kramp, so ’n … bigamis! Dis bekommernis en teleurstelling wat haar laat voortborrel:
“Marista het agtergekom hoe jy haar agter haar rug bedrieg en sy het weggeloop. En sy het die regte besluit geneem! Jy behoort jou te skaam! Om ’n meisie soos Marista te bedrieg met … met daardie soort meisies wat te vinde is vir sulke dinge, en dan doen jy jou so goed voor … so ’n ware heer! Hmpff!”
Hierdie keer is dit sommer ’n volbloed snork. Sy draai weg en ’n oomblik lank heers ’n verslae stilte. Wouter sak op die kant van die lessenaar neer asof sy bene skielik onder hom padgee, terwyl Lettie haar neus driftig snuit en hard op haar tande byt om die snikke te keer. Behalwe dat sy verskriklik bekommerd oor Marista is, kan sy haar teleurstelling in Wouter Malan in geen woorde beskryf nie.
Sy het van die eerste dag af ’n bewondering vir dié man gekoester toe sy danksy tant Miemie as ’n groentjie hier ingestap het. Haar bewondering was nie net vir hom as modeontwerper nie, maar ook as man en as mens. Hy is briljant in sy werk en maak vinnig opgang in die modewêreld, en tog is hy nie verwaand daaroor nie. Die mense wat saam en onder hom werk, weet hy is altyd hoflik en redelik, hoewel hy net die beste vereis. Tog is hy altyd gou om lof toe te swaai waar dit verdien word, en hy het die afgelope maande duidelik aan Lettie getoon dat hy haar as uiters bekwaam beskou. Hy het haar sy regterhand begin noem. En nou … dié teleurstelling: Wouter Malan het voete van klei.
“Lettie … Lettie, glo jy werklik ek is … dáárdie soort man?”
Sy aarsel eers, maar antwoord dan reguit: “Dis waar, want … ek was gisteraand by jou woonstel en … ek het met my eie oë gesien …”
“Hoekom het jy juis gisteraand na my woonstel gekom? Ek het jou al dikwels in die verlede daarheen genooi, maar tot dusver het jy dit nog altyd van die hand gewys; seker te preuts om na ’n ongetroude man se woonstel te kom.”
Sy draai terug en haar oë blits weer gevaarlik. “Jy hoef nie te smaal oor my preutsheid nie, Wouter Malan. Ek is trots daarop dat ek nog beginsels het, nie soos …”