Ena Murray Keur 7. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
ontvang ’n stralende glimlag. “Natuurlik, kind. Dis sommer vir die lekkerte. Ek weet nie wanneer laas ek so lekker inkopies gedoen het nie! Wag, stil. Hier kom sy.”
Marista laat vinnig hoor: “Ouma, ek gaan nie daardie goedkoop goed dra nie! Ouma mors net Ouma se geld.”
“Dis huisdrarokkies. Ek sal netnou daar by die effens duurder goed vir jou ’n deftige dingetjie koop om mee dorp en kerk toe te gaan. Bly jy nou stil. Ek doen sake.”
En dat sy kan sake doen, is gewis. Naderhand is die verkoopsbestuurder ook daar en ’n halfuur later gooi hy sy hande in die lug en stap weg … en tant Miemie glimlag ingenome. En ook glad nie ’n slegte afslaggie nie!
Met die afgryse duidelik in haar oë, kyk Marista na die bondeltjie rokke op die toonbank.
“Dis maar sewe rokkies. En ek sweer hulle trek uitmekaar ná die eerste was, Ouma …”
“Sewe is meer as genoeg. Wat wil jy met meer maak? ’n Drarokkie vir elke dag en ’n goeie enetjie vir Saterdagmiddag en Sondag. ’n Huishoudster het selde meer as dit in haar kas,” laat tant Miemie blykbaar alleswetend hoor.
By die skoenafdeling steek Marista soos ’n steeks donkie vas. Wat te erg is, is te erg!
“Ek sal nie daardie plat, bruin skoolskoene dra nie, Ouma! Ek sál nie!”
“Dis goeie, stewige, duursame skoene om in die huis mee te loop. Of wil jy met hoëhakskoene jou huiswerk doen?”
Marista se oë vernou. “Ek is nie van plan om huiswerk te gaan doen nie, Ouma. Ou Sabien is mos daar. Ek sal nie daardie liederlike goed aan my voete trek nie. Ek sê dit nou. Ek loop liewer kaalvoet.”
Ouma sug. Miempie is darem regtig moeilik vanmôre. “Nou gee dan maar van die sandale aan. Nee! Nie met polvye nie, dankie. Daardie in die hoek wat plat is. Maar jy gaan spyt wees, Miempie. Jy dink nou Ouma weet niks nie … Onse hert, mens! Dis dan net ’n paar plastiekbandjies oor die voet en nog vasgegom boonop! Die laaste tyd gom hulle mos alles vas – skoene, meubels, alles. G’n wonder die goed hou skaars ’n week nie. En dit kos amper ’n fortuin! Dis bloedgeld!”
“Ek gee nie om wat die prys is nie, maar ek wil daarvan hê,” laat Marista beslis hoor, hoewel haar oë die goedkoop sandale met afsku beskou. Liewer dít as daardie beestonge wat Ouma wou koop!
Maar skielik is dit of sy die humor in die hele situasie sien. Is dit werklik sý, die bekende model Marista Minnaar, wat hier staan en rokke en sandale op ’n uitverkoping koop? Teen wil en dank begin haar lippe plooi.
“Ek sien daar anderkant nóg uitverkopingsandale. Is dit goedkoop genoeg vir ’n arm huishoudster?” wil sy droog weet, en Ouma se ogies flits vinnig in die rigting waarheen Marista wys.
“Haai, ek het dít nooit raakgesien nie! Ja, waarlik! Vat een paar van hierdie sandale terug, en gee my een paar van daardie in hul plek. My aarde, Miempie, dis nou gaaf dat jy dit raakgesien het. Dat ek dit nou kon miskyk. Ek het dan so ’n oog vir winskope!”
Hulle giggel skielik soos twee stout kinders, en Marista skud haar kop magteloos.
“Ouma! Waarmee is ons twee besig? Hierdie ding … ek weet nie so mooi nie. Dit gaan nie werk nie!”
Tant Miemie klop met haar kierie. “Dit gaan! Dit sal. Dit móét! Wag maar, jy sal nog sien,” laat sy selfversekerd hoor, maar Marista voel nie beter nie. Ouma kan maklik praat. Dis nie sý wat netnou op die trein moet klim nie.
“Nou nog net twee middelslagtasse en dan is ons klaar.”
“Ek het hope tasse by die woonstel, Ouma.”
“Nie daardie duur leergoed nie, kind. Dit stink van die geld op ’n afstand. Eerder daardie van karton.”
Marista slaan haar oë omhoog. Ek veronderstel sy gaan vir my donkerblou kniebroeke en flennienagrokke koop, dink sy en slaak ’n innerlike sug van verligting toe tant Miemie by die onderkleretoonbank verbystap na die afdeling vir tasse. Ouma het blykbaar vergeet van die onderklere en Marista sal haar gewis nie daaraan herinner nie. Sy sal darem ten minste haar eie onderklere en nagklere kan saamneem. Darem iets om voor dankbaar te wees, dink sy meewarig.
Vir die bekende model is dit ’n powere bondeltjie inkopies wat ’n rukkie later op haar bed oopgesprei lê, gereed om ingepak te word in die twee kartontasse wat oopgemaak staan. Die teensin in Marista groei aan. Hoe gaan sy dit ooit oorleef?
Tant Miemie bekyk die inkopies met ’n arendsoog en knik dan tevrede. “Goeie, dienlike, wasbare rokkies. Net die ware Jakob. Jy kan maar inpak, Marista. Jy moet dit liewer self doen. Lucie sal nie begryp wat aangaan as sy sulke goed vir jou moet inpak nie.”
“Ouma kan dit weer sê. Ek dink nie, of liewer, ek is oortuig daarvan daar hang nie sulke klere in háár kas nie.”
“Nee, want sy kry mos al jóú ou klere, wat vir ’n ander mens nog jare kan diens doen. Sy behoort ook ’n slag swaar te kry. Julle twee is ewe bederf,” laat tant Miemie gevat hoor en Marista bly maar liewer stil. Soos sy nou voel, kan sy gerus voor Lucie, haar huishoudster, op haar knieë gaan neerval en smeek om met haar plekke te ruil.
Dis toe sy die laaste tas toeknip, dat iets haar byval. “Ouma! Ek het totaal van geld vergeet! Ek het omtrent vyfhonderd rand kontant in my beursie. Sal ek die bank nog betyds haal?”
“Om wat mee te doen? Wat wil jy met geld doen?”
“Maar ek moet tog geld hê! En ek moet ook gaan reël dat hulle vir my ’n bedrag oorplaas na die tak op Middeldraai …”
“Dit doen jy nie. O nee, meisiekind, dit doen jy nie! Vyfhonderd rand is oorgenoeg vir jou om mee deur te kom totdat jy jou eerste maand se salaris kry. Waar het jy gehoor van ’n huishoudster met ’n bankrekening? Jy gaan net alles bederf …”
“Maar ek kan mos nie net met vyfhonderd rand die wye wêreld invaar nie!” protesteer Marista heftig, en gaan sit dadelik op ’n stoel. “Ouma, ek dink nie ek gaan verder voort met hierdie ding nie. Nee, laat ék nou praat, asseblief. Ek het sommer blindelings in hierdie ding gestap sonder om dit regtig van alle kante te oorweeg. Ek gaan nou dadelik na Duiwelskloof bel en hulle sê dat ek nie meer kom nie. Ouma, begryp tog …”
“Al wat ek begryp, is dat jy ’n papbroek en ’n lafaard is, ’n mens op wie se woord jy nie kan peil trek nie. Goed. Doen wat jy wil, maar dit sê ek vir jou, Marista: Moenie by my kom huil as dinge in die toekoms vir jou lelik skeefloop nie, want jy sal dit verdien, en ek sal geen simpatie hê nie.”
Nie Marista óf tant Miemie is verbaas dat laasgenoemde weer die beste uit die stryd tree nie en dat, toe die trein gereed staan op die perron om na die Noorde te vertrek, Marista veilig in ’n kompartement sit – tweede klas, natuurlik, soos tant Miemie besluit het. Marista sweer dat as sy net kon, haar ouma haar in die derde klas sou laat ry het.
Toe die trein sy eerste waarskuwende fluit laat hoor, soen hulle mekaar innig, albei nou regtig bang vir die speletjie wat aan die gang gesit is. Marista is so bang dat sy gerus hardop kan huil daarvan, en tant Miemie begin ook nou vrese kry. Nie dat sy dit wys nie, maar diep in haar hart woel die kommer met alle mag om na die oppervlak te kom. Sy het alles so mooi beplan, maar sê nou maar die ding slaag nie? Sê nou maar sy stuur Miempie nou werklik na haar ongeluk en hartseer toe? As daardie Michael net nie lol nie!
Maar dis reeds te laat om nou bedenkinge te kry. Die laaste waarskuwende fluit klink in hul ore en stadig begin die treinwiele rol …
“Onthou jou naam!” skree tant Miemie en dan moet sy nog harder agterna roep: “En hou jou handsak vas, kind! Dis ál wat jy het!”
Marista waai en waai totdat sy nie meer die kierie in die lug sien nie, en sak dan op die bank neer. Sy staar strak voor haar uit terwyl die treinwiele haar ál verder wegdra van alles wat bekend is. Asof in ’n droom span haar vingers om haar handsak. Nadat ’n gedeelte van die treinkaartjie betaal is – Ouma het die res bygedra, baie goedgunstiglik – is daar ’n skamele vierhonderd rand oor.
Net