Ena Murray Keur 8. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
“Luister goed, Irma, en sê my dan tot watter slotsom jy kom. Ten eerste: Anton de Woud kom laat op die lughawe aan. Goed. Ek erken dat dit heeltemal per toeval kon gewees het, maar … dit kon ook so gereël gewees het.”
“Hoekom?”
“Miskien omdat hy bang was dat iemand hom sou voorkeer of dalk sou herken. Daardie voorvalletjie lyk onbenullig en van geen betekenis nie. Maar as ’n mens verder dink, kry jy die gevoel dat dit nie so onskuldig is as wat dit wil voorkom nie.
“Ten tweede: Ons kom op die eiland aan. Ons ontvangs hier is nou wel vreemd, maar geeneen van ons het ’n gedagte aan gevaar of ’n gevoel dat hier iets onheilspellends op ons wag nie. Anton de Woud kom eerste met hierdie gedagte vorendag, en van die eerste minuut af borduur hy daarop voort – doelbewus, sou ek sê. Ons het vrylik aan mekaar inligting oor onsself uitgeruil. Maar, en dis my derde punt, van Anton de Woud weet ons niks nie behalwe dat hy – soos hy sê – ’n skrywer is en ’n gerieflike skuilnaam het wat hy nie van plan is om bekend te maak nie.”
Hy sien die ongeloof in haar oë blink en hy skud haar saggies. “Irma, as Anton de Woud nie een van die vyf was nie, sou jy nie nou met ’n onrustige gevoel in jou binneste rondgeloop het nie, nie waar nie? Dis hy wat die dinge begin het …”
“Carlyle, jy praat vreeslike goed. Moet ek nou van jou woorde aflei dat hy om die een of ander duistere rede op ons senuwees probeer speel? Wat dan van ons geheimsinnige gasheer?”
“Ons geheimsinnige gasheer is weer ’n perd van ’n ander kleur. Ek weet soms nie of ek moet lag oor sy manewales of onrustig wees nie. Soms voel dit vir my hy het net ’n verwronge sin vir humor. Ander kere voel ek weer dat daar tog iets agter skuil.”
“En nou klink jy nes Anton de Woud – en jy beskuldig hom dat hý spookstories versprei!”
“Ek weet, ek weet, Irma! Alles klink verskriklik deurmekaar en ek neem jou nie kwalik as jy miskien dink dis ek wat die kluts kwyt is nie. Maar dit sê ek vir jou, daar is twee mense op hierdie eiland wat ek fyn gaan dophou en wat ek hoegenaamd nie vertrou nie. Die een is ons onsigbare gasheer. Die ander is Anton de Woud. Jy weet, ’n sekere gedagte skiet my mos nou eers te binne.” Hy swyg en kyk peinsend oor haar kop heen. “Ja, ek wonder … Dit klink onmoontlik maar tog …”
“Maar wat?” vra sy effens ongeduldig toe hy weer stilbly.
“Nee, ek sal jou dit liewer nie vertel nie. Jy sal my heel moontlik uitlag …” Hy skud sy kop. “Vergeet daarvan. Maar, Irma, asseblief! Ek kan my lelik misgis met die vent, maar sal jy my nie maar asseblief glo en vir eers uit die skrywer se pad bly nie?”
“Hoe kan ek dit doen, Carlyle?” protesteer sy. “Ons is net vyf mense, saamgehok op ’n eiland,” en sy kyk na die draad, “en dit vir ’n onbepaalde tyd lank – soos dit wil voorkom.”
“Ek bedoel nie dat jy hom moet afstoot en onvriendelik wees of die geselskap verlaat wanneer hy hom by ons aansluit nie. Ek wil net hê jy moet vir hom versigtig wees. Moenie te vertroulik met hom raak nie.”
Irma kyk hom onseker aan en weet nie wat om te dink nie. Wat sal Carlyle sê as hy moet weet dat dieselfde man teen wie hy haar nou waarsku, haar ’n paar minute gelede op hierdie selfde plek weer teen hóm, wat Carlyle is, gewaarsku het? Een van hierdie twee mans speel ’n rol – maar watter een? Sy sien die opregte kommer en diepe erns op die aantreklike, blonde reus se gesig hier kort bokant hare, en sy kan geen sweempie van valsheid in hom bespeur nie. Maar dan onthou sy dat dit ook die geval met Anton was …
Sy lag senuagtig.
“Jy weet, Carlyle, al hierdie dinge … Dis soos ’n storie wat ’n mens lees. Ek is heeltemal verward.” Sy kyk by sy skouer verby, sodat hy nie miskien iets in haar oë raaksien nie en vra ongeërg: “Hoekom is jy bang dat ek sogenaamd vertroulik met Anton sal raak? Ek het die man vanoggend die eerste keer in my lewe ontmoet.”
“Anton de Woud is ’n baie aantreklike man – op ’n vreemde, buitengewone manier. Hy het staalharde grys oë, ’n lenige, atletiese liggaamsbou … die grys langs sy slape en die swartraambril verhoog net sy aantreklikheid. Dis die soort fisieke aantreklikheid waarvan vroue hou, nie waar nie? Dan is daar iets in sy persoonlikheid, iets geheimsinnigs, ontwykends, wat vir sekere vroue onweerstaanbaar is.”
Irma glimlag verwonderd.
“Hemel! Jý klink eerder na ’n skrywer! Waar kom jy aan al hierdie wyshede?”
Carlyle glimlag verleë.
“Ek het vier susters.” Maar dan raak sy oë weer ernstig. “Maar ek is reg, nè? Vroue vind hom aantreklik – baie aantreklik. Jy miskien ook?” Dis as ’n vraag bedoel, maar hy stel dit meer as ’n feit. ’n Ligte, verraderlike blos kleur haar wange. “Wat meer is, ek is byna doodseker dat hy ’n ogie op jou het.”
Sy trek haar asem vinnig in. Dis mos wat Anton ook gesê het! Die ontsteltenis in haar hart maak haar stem kortaf.
“Jy is verspot, Carlyle. Ek ken die man skaars.”
“Dis nie nodig om iemand lank te ken om te weet of jy van die persoon hou nie, of jy hom of haar aantreklik vind nie.”
Hy kyk meteens diep in haar oë. Terwyl sy hom verslae aanstaar, vervolg hy op ietwat sagter toon: “Ek het byvoorbeeld nie dae en weke nodig gehad om te besef dat ek baie van ’n sekere …”
“O, hier is julle! Ek het gewonder …” sê Emerit onverwags, en die twee jong mense wat so op heter daad betrap is, draai skuldig van mekaar af weg.
Irma is bewus van die oë wat op haar brand, maar sy hou haar blik op Emerit gerig. ’n Oomblik heers daar ’n ongemaklike stilte, maar Carlyle herwin gou sy teenwoordigheid van gees en sê op sy effens bombastiese manier, wat so heeltemal vreemd klink ná die erns van ’n paar sekondes gelede: “Wat het jy gewonder, Emerit? Of ek Irma ontvoer het?”
“Amper. ’n Oomblik gelede wou dit byna lyk asof jy op die punt gestaan het om haar in jou arms op te raap en weg te dra.”
Irma lig haar kop en kyk Emerit met verskerpte aandag aan. Daar speel ’n breë glimlag om die ouer meisie se mond. Toe sy egter in haar oë kyk, sien sy dat hulle ysig op háár gerig is en nie op Carlyle nie. Emerit is jaloers! Hierdie feit flits soos ’n weerligstraal deur haar verwarde gedagtes en sy wonder amper hardop: Het ons dan nou almal van ons wysie af geraak?
Sy kyk vlugtig na Jan Odendaal en ontmoet sy peinsend opsommende blik, asof hy baie diep oor iets nadink. Dan is dit of ’n krag sterker as sy haar oë in die rigting van die derde lid van die geselskap keer. Haar hartklop verstil toe sy die grys oë ontmoet wat uitdrukkingloos op haar gerig is. Sy staan vasgenael teen die grond asof sy deur ’n hipnotiese mag daar gehou word.
Dan sien sy hoe Anton de Woud na die man aan haar sy kyk. En hoewel hulle nie aan mekaar raak nie, voel sy hoe Carlyle verstyf.
4
Jan se blik dwaal van die een na die ander. Daar is ’n diep frons op sy voorkop toe hy byna kortaf beveel: “Kom ons gaan drink tee. Dis amper elfuur.”
Hulle stap in stilte huis toe. Irma voel vererg vir haarself dat sy soos ’n skuldige kind loop en bloos. Sy het tog niks verkeerds gedoen nie! Sy is aan niemand iets verskuldig nie. Jan Odendaal het haar aangekyk asof hy oor iets ontevrede was. Emerit se oë het haar openlik vertel wat sý dink. En Anton s’n was uitdrukkingloos – sy besef dis juis dít wat haar die meeste hinder. As hy haar teleurgesteld, kwaad of agterdogtig aangekyk het, sou sy geweet het wat hy dink. Maar nou het sy nie die vaagste benul wat in sy gedagtes omgegaan het toe hy haar en Carlyle saam gewaar het nie. Die blos op haar wange verdiep. Het hulle miskien Carlyle se laaste woorde gehoor? Heel moontlik dink Anton nou dat sy ’n opperste flerrie is wat koketteer met elke man wat sy teëkom.
Sy blik vinnig in sy rigting, maar uit sy onpeilbare gelaat kan sy niks wys word nie. Sy sug van verligting toe hulle die woonvertrek bereik, en ’n skinkbord met tee ingedra word.
Terwyl Irma die koppie tee