Ena Murray Keur 8. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
deur instap. Sy gesig is so openlik ontevrede dat Irma bewus word van Anton wat na haar kyk, asof hy wil sê: Wat het ek jou gesê? Maar sy skud die gedagtes van haar af en glimlag ongeërg.
“Ek en Anton het voor julle klaar uitgepak en toe besluit om ’n entjie te gaan stap.”
“Iets gewaar?”
Dis Jan wat die vraag stel, en Irma kyk hom ietwat verbaas aan. “Wat bedoel jy met ‘iets’?”
Hy trek sy skouers op en sug.
“Ek weet self nie. Dis al of ek die hele tyd wag op iets om te gebeur. Dis so … senutergend,” erken hy effens verleë.
Gedagtig aan Irma se voorstel van die oggend, nooi Anton nou almal om ’n entjie te gaan stap, en hulle neem dit gretig aan, verlig om ’n rukkie aan die neerdrukkende, somber atmosfeer in die huis te ontsnap.
Carlyle druk hom doelbewus tussen Anton en Irma in. Dis nie lank nie of hy slaag daarin om hulle twee effens van die ander af te sonder.
Sy stem is sag, sodat die ander, wat ’n paar treë voor hulle loop, hom nie kan hoor nie. Irma voel ongemaklik. Dit sal egter vreemd lyk as sy onbeskof teenoor hom is, en sy probeer vriendelik voorkom. “Irma, aangesien jy die jongste van ons is, voel ek dis my plig om jou onder my vleuels te neem.”
Sy probeer dankbaar klink.
“Baie dankie vir die mooi gedagte, Carlyle, maar …”
“Maar jy verkies liewer Anton de Woud se beskerming, nie waar nie?”
Sy probeer so verbaas moontlik lyk. “Ek weet nie wat jy bedoel nie, Carlyle. Maar as jy beledigend begin raak, sal ek geen oomblik langer na jou luister nie.”
“’n Mens raak altyd vir die waarheid kwaad, Irma,” kap hy terug, en Irma gaan staan.
Sy draai na hom en kyk hom vas aan.
“Kyk hier, Carlyle, verstaan my goed. Ek is dalk jonk en onervare, maar ek gaan beslis nie toelaat dat jy my kom hiet en gebied nie. Tot dusver het ek nog niemand se beskerming nodig gehad nie, want hier het nog niks gebeur nie.”
“Maar hier gáán iets gebeur,” val hy haar dringend in die rede, en sy kyk met meer aandag na hom.
Op hierdie oomblik is daar geen teken van die onverskillige roekeloosheid en ongeërgdheid wat hy tot dusver voorgehou het nie. Sy vee oor haar ligte krulle en daar is verwarring in haar oë: “Ek verstaan jou nie, Carlyle. Jy het Anton uitgelag toe hy dieselfde ding gesê het. En nou …”
“Dit was toneelspel.”
“Hoekom?”
Hy sug en kyk vinnig om hulle rond. Dan trek hy haar aan die arm agter dieselfde bossie in waar Anton en sy ’n rukkie gelede gestaan het.
“Nee, Carlyle. Wat sal die ander van ons dink as ons sommer net so verdwyn?” protesteer sy.
“Luister hier, Irma. Ek wil jou iets vertel – maar jy moet op jou woord van eer belowe dat jy niemand hiervan sal vertel nie en dat jy ook niemand sal laat agterkom dat jy daarvan bewus is nie.”
Sy knik geredelik.
“Goed, Carlyle, as jy dit so wil hê.”
Hy swyg, en daar is ’n frons tussen sy blou oë, asof hy nie seker is hoe om voort te gaan nie.
“Irma, ek … ek is nie werklik Carlyle Faure nie. Ek het in Carlyle Faure se plek hierheen gekom. Ek is nie een van die goed wat ek gesê het ek is nie. Nie ’n renmotorjaer, gewigopteller of akteur nie.”
Irma kyk hom skerp aan. “Nou, wie en wat is jy dan?”
“Dit kan ek jou nie sê nie – nie nou al nie.”
“Maar hoekom vertel jy my hierdie dinge … Carlyle?”
“Om jou te oortuig dat ek ernstig is, Irma. Dat ek nie sommer maar praat nie.”
Irma sug.
“Nou goed. Wat is dit wat jy vir my wil sê?”
“Dat jy sover moontlik uit Anton de Woud se pad moet bly.”
“Hoekom?” vra sy reguit, met agterdog in haar oë. Die jong man kyk haar speurend aan. Is sy waarskuwing te laat? Is sy reeds so onder die man se invloed dat sy nie meer ag op sy woorde sal slaan nie?
“Ek erken dat ek heeltemal verkeerd kan wees, maar … daar is iets in Anton de Woud wat my laat vermoed dat hy nie is wat hy voorgee om te wees nie. Hy vertel dat hy ’n skrywer is, maar dis so ’n gerieflike beroep, want die skuilnaam bied hom al die nodige beskerming.”
“Watter beskerming sal Anton dan nodig hê?” roep sy uit.
“Om sy ware identiteit te bewaar, natuurlik. Ek wil amper sover gaan om te sê dat hy nie hierheen gekom het om dieselfde rede as wat jy byvoorbeeld hierheen gekom het nie. Dat daar ’n ander dryfveer was wat hom na Drakeneiland gebring het.”
Irma laat haar ooglede vinnig sak. Sou hierdie man weet hoe na aan die waarheid hy werklik is? Wat vermoed hy? Om watter rede is hy so agterdogtig wat Anton betref?
“Sal dit dan soveel saak maak as dit die geval is? Soos dit nou lyk, het jy ook om ’n ander rede na Drakeneiland gekom en nie om ’n ongelooflike spul geld ryker te word nie,” wys sy hom tereg.
“Ja, ek erken dit. Ek ken my rede … maar wat is syne? En voordat ons dit nie weet nie, wil ek jou aanraai om versigtig vir hom te loop.”
“Maar hoekom? Hoekom?” roep sy nou openlik ergerlik uit. “Daar het nog niks gebeur nie! Hoeveel honderd keer moet ek dit nog sê? Dit was eers Anton, en nou jy wat ons senuwees met leë bangmaakstories op hol jaag!”
“Presies, maar ek is bly jy het ook opgelet dat Anton de Woud hiermee begin het. Jy is heeltemal reg. In der waarheid het ons, of liewer ek, nog geen grond om allerhande dinge te beweer nie. Ons gasheer was, hoewel eksentriek en geheimsinnig, nog onberispelik in sy gedrag teenoor ons.”
“Nou, maar dis soos ek redeneer! Hy het nou wel snaakse voorwaardes gestel, maar as ’n mens in gedagte hou dat hy ’n klomp miljoen sommerso present aan ons almal gaan weggee, kan ’n mens hom dit vergewe. Dis jy – en Anton – wat sommer nou allerhande vreeslike en geheimsinnige en gevaarlike dinge uit niks wil optower, en ek sal graag wil weet waarom. Carlyle, as julle twee daarmee gaan volhou, gaan julle binnekort ons ander drie rasend mal hê van skone senuwees, terwyl daar eintlik geen rede voor is nie.” Irma praat vinnig, ontsteld, haar oë beskuldigend. Sy probeer haarself ook met alle mag oortuig dat sy reg is, dat daar werklik geen rede is om bang te wees nie.
Maar Carlyle skud sy kop.
“Jy oordeel my darem nou onregverdig. Afgesien van wat ons nou hier praat, het ek nog nie een keer probeer voorgee dat hier iets … e … vreemds aan die gang is nie. Jy het self gesien hoe ek gereageer het toe ons die sigarette moes oorhandig. Ek het Anton de Woud openlik daarvan beskuldig dat hy net op soek is na ’n nuwe tema vir ’n boek.”
“Ja … a …” erken sy onwillig. “Maar hoekom moet jy mý dan nou skielik waarsku? En dit nogal teen Anton wat een van ons vyf is? Dis mos genoeg om my ontsteld te laat voel.”
“Omdat ek oor jou veiligheid bekommerd voel – en nie net oor joune nie maar ons almal s’n. Jy is heeltemal reg. Anton de Woud verkondig bangmaakstories. Hy het veral julle vroumense se senuwees al binne ’n paar uur aan flarde. Nou vra ek myself net dié vraag af: Hoekom doen hy dit? Wat wil hy daarmee bereik?”
Irma staar hom met wydgerekte oë aan.
“Carlyle! Jy wil tog nie beweer dat Anton doelbewus daarop uit is om ons senuwees op hol te jaag nie!”
“Ek beweer niks nie, Irma. Dis nog te vroeg om sommer te sê wat ons wil, maar ons kan dink wat ons wil, nie waar nie? ’n Mens kan ’n paar logiese afleidings begin maak.”
Irma se hand rus op die kuiltjie in haar keel, waar die onrustige klop van haar hart duidelik