Ena Murray Keur 10. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
die aand moet aanbreek nie. Mevrou Dundas is ’n romantikus en sy kan nie wag om die Franse meisietjie aan die glibberige René voor te stel nie. Hierdie keer sal sy oë oopgaan. Hy het nog nie so ’n mooi meisie aan die Kaap gesien nie. Sy is seker sy voete gaan vanaand onder hom uitgeslaan word!
Lille is weer angstig dat die aand moet aanbreek en sy aan die wonderlike graaf De Louvois voorgestel kan word, net om een rede – dat hy haar dalk op die spoor van Philippe Bidault kan bring. Hoe gouer sy laasgenoemde in die hande kry, hoe gouer sal sy weet waar sy staan.
Toe Lille daardie aand haar verskyning in die balsaal van die Kasteel maak, verwek sy die opskudding wat die goewerneursgade te wagte was, en laasgenoemde glimlag ingenome terwyl sy vinnig nader stap en haar gas by die deur ontmoet.
“Kom binne, Lille. Ek wil jou graag aan die mense voorstel.”
Lille laat haar voortlei deur die goewerneursvrou, bewus van die fluisteringe en openlike blikke wat op haar gerig is. Eenkant, waar die goewerneur en die graaf De Louvois staan en gesels, kyk die twee mans ook na die beeldskone meisie. Die goewerneur glimlag en kyk tergend na die man langs hom.
“Jy is seker vanaand dankbaar dat jy nog nie die huwelikstrop om jou nek het nie, nè, René?”
Die stem wat antwoord, is koel, hoewel sy oë stip op die jong meisie gerig bly: “Hoekom?”
“My liewe man, jy het tog oë in jou kop en kan, afgesien van goeie grootwild, seker ook ’n beeldskone vrou herken en waardeer wanneer jy haar sien!”
Daar is ’n grimmige glimlaggie om sy mondhoeke. “Hoe mooier ’n vrou is, hoe versigtiger moet ’n man vir haar wees. Ek verkies steeds ’n mooi stuk grootwild.”
Die goewerneur se hartlike lag laat die twee vroue vinnig in hul rigting kyk, en die goewerneursvrou trek Lille aan die arm. “Kom, my hartjie. Daar is die man aan wie ek jou beslis wil voorstel.”
Lille voel iets in haar styftrek toe hulle voor die twee mans tot stilstand kom. Sy kyk stip op in die oë wat haar koel en opsommend beskou, en voel die antipatie soos ’n lewende straal tussen hulle beweeg. Sy is bewus daarvan dat dit ’n spontane, wederkerige gevoel is, en stoot haar kennetjie uit. Hy mag blou bloed in sy are hê en van haar eie vaderland wees; hy mag seker die aantreklikste mansmens aan die Kaap wees – maar hy het nie nodig om haar só arrogant aan te kyk asof sy die een of ander vreemde wildsoort is wat skielik in die visier van sy geweerloop verskyn het nie. Wie dink die man is hy?
Die graaf René de Louvois sien die ergernis in die pragtige oë voor hom, en ’n geamuseerde trekkie verskyn weer om sy mondhoeke. Selfs die ligte buiging wat hy gee toe hy oor haar hand buk, is vir Lille openlik smalend. Sy ruk byna haar hand uit syne en draai haar kop sywaarts om daardie glinsterende oë te ontwyk.
Die goewerneur en sy vrou kyk mekaar verbaas en verward aan. Vir albei is dit duidelik dat hier iets onverklaarbaars skeefgeloop het – maar hulle kan nie dink wat dit kan wees nie.
Hier staan die aantreklikste man aan die Kaap by die mooiste meisie wat sekerlik nog hier aan die suidpunt voet aan wal gesit het, en albei lyk geensins beïndruk nie.
Die goewerneursvrou kan gerus huil. Só lank al soek sy ’n geskikte vrou vir hierdie aantreklike Fransman, maar elke keer het hy daarin geslaag om die geleenthede wat sy doelbewus geskep het, onbenut te laat verbygaan. Maar hierdie keer was sy so seker dat René betower sal wees dat sy al selfs in haar verbeelding die trourok begin ontwerp het!
Haar drome is aan skerwe toe Lille vinnig wegdraai en laat hoor: “Daar kom die kaptein van die La Rouge nou net in, mevrou. Ek sal hom graag weer wil groet en bedank vir die aangename seereis.”
Vir die goewerneursvrou is die res van die aand ’n mislukking. Dis amper asof die jong graaf en die mam’selle vars uit sy vaderland mekaar doelbewus vermy. Albei is twee baie gewilde persone op die dansbaan, maar nie een keer verwerdig hy hom om die skone Lille vir ’n dans te kom vra nie, tot groot ontsteltenis en ergernis van die eerste dame.
“Wat wil die man hê?” wil sy fronsend van haar man weet, en dié lag maar net, hoewel sy blik tog die jong man peinsend volg waar hy besig is om met een van die Kaapse dametjies te dans. Mag, hy is tog darem seker van vlees en bloed!
“Dis miskien jou skuld, my vrou. Jy smeer by elke moontlike geleentheid ’n potensiële vrou aan René af. Hy is uit die staanspoor allergies vir enige meisie wat jy aan hom voorstel, deeglik bewus van jou plan. Jy moet hom los dat hy self vir hom ’n vrou soek.”
“Self vir hom ’n vrou soek? Ek wonder regtig waar. Seker tussen al die barbare en wilde diere in die binneland! Liewe land, ’n man wat nie deur Lille Jacquard se skoonheid beïndruk is nie, is blind!”
“En René is beslis nie blind nie. Kyk daar. Daar gaan hy haar nou vir ’n dans vra.”
“Uiteindelik! Die aand is al amper om.”
Hulle staan en kyk belangstellend toe hoe die man onder bespreking tydsaam stap na die hoek waar Lille die middelpunt van ’n groep jong mans is. Sy gee voor dat sy hom nie sien nie, maar hy druk tussen die omstanders deur, en buig weer koel voor haar. Tot die goewerneursvrou se groot ontsteltenis sien sy hoe die meisie haar kop skud. Sy weier hom sowaar!
Ook die jong mans lyk openlik verbaas. Hulle is so gewoond om tweede viool te speel wanneer René de Louvois op die toneel is, dat hulle nie eens meer omgee nie. En hier is nou skielik ’n dametjie wat sy aanbod koel en uit die hoogte van die hand wys.
“Jammer, m’sieur, maar ek is reeds gevra.”
Sy draai blindelings na die naaste jong man, en dié lyk verbouereerd. Die vonkel in die jong graaf se oë vertel ook dat hy nie mislei is nie. Tog wend hy hom beleef tot die verleë Kaapse jong man.
“Gee u om om dié dans aan my af te staan, mijnheer?”
“Nee. Nee, natuurlik nie …” stamel die arme man bloedrooi in die gesig, en hy ontvang ’n koninklike knik van die kop.
“Baie dankie, mijnheer. Kom, mam’selle.”
Sy rem terug terwyl die oë na hom blits. “Maar ék gee om, m’sieur. Ek wil nie …”
Hulle is beslis nou die middelpunt van aandag, en die geamuseerde vonkeling in die graaf se oë verdwyn. As daar een ding is waarvan René de Louvois nie hou nie, is dit om ’n gek van gemaak te word.
Sy gesig lyk styf en gespanne in die lig van die kroonkandelaar bokant sy kop toe hy sê: “U is mos vanaand hier om die mans te onthaal, nie waar nie, mam’selle? Ek is een van hulle.”
Lille kyk hom verstom aan, te verslae vir sulke openlike onbeskoftheid en brutaliteit. Insinueer hy …?
“Ekskuus? Wat het u gesê, m’sieur?”
Sy oë kyk stip terug. “U het reeds met elke man in hierdie saal gedans. Dis nou my beurt. Kom.”
Sy staan stokstyf voor hom, haar oë so groot soos pierings. Nog nooit in haar lewe is sy so beledig nie. Nogtans probeer sy haar soos ’n dame gedra. As hierdie onbeskaafde buffel nie sý maniere ken nie, ken sy darem seker nog hare.
“U verkeer onder ’n wanindruk, m’sieur. Ek is nié hier vir die vermaak van mans, en beslis nie vir jóú nie.”
“Waarvoor is jy dan hier, mam’selle?” Haar oë vermoor hom, maar skielik is die haatlike glimlaggie terug om sy een mondhoek. “Ek is seker ook geregtig op mý deeltjie van die vermaak. Trouens, ek dink jy is eintlik hier vanaand om net vir mý te vermaak, as ek sake reg opgesom het.”
“Jou … jou verwaande …”
“Ek dink nie jy is in ’n posisie om mý name te noem nie, Lille Jacquard. Weet jy wie ek is?”
“Ja. Jy is een van daardie soort wat jouself op ’n graafskap beroem, maar nie die agtergrond en opvoeding het om dit te staaf nie.”
’n Doodse stilte het meteens neergesak, maar nie een van die twee is bewus daarvan nie. Hier langs die goewerneur beweeg sy vrou, maar hy hou haar terug,