Ena Murray Keur 10. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
was die moeite werd.”
Dis vroeg die volgende oggend dat die graaf De Louvois opkyk en die goewerneurskoets voor sy huis sien stilhou. Sy wenkbroue lig. ’n Eienaardige tyd vir die goewerneur om besoek af te lê.
Die goewerneur glimlag toe hy die jong man sien. “Welkom terug in die beskawing, monsieur! Hoe het dit met die laaste jagtog gegaan?”
“Heeltemal goed, dankie. U is vroeg op. Is daar probleme?”
“Nee, nie eintlik nie. Nie vir mý in elk geval nie. Ek kom nooi jou net na die bal vanaand in die Kasteel. Daar is ’n dame aan wie ek jou graag wil voorstel … ene mam’selle Lille Jacquard.”
5
“Ag, so?” Die stem is ongeërg, die gesig onleesbaar, en die goewerneur se glimlaggie verdiep.
Tog kyk hy ernstig na die Franse graaf hier voor hom. Hy weet nie aldae hoe hy dit met hierdie man het nie. Oënskynlik is hulle vriende, en is die graaf René de Louvois van die weinige ou ingesetenes van Kaap die Goeie Hoop wat die nuwe bewind onder die Britse vlag goedgesind is – of dan oënskynlik. Hierdie twee manne van verskillende afkoms het mekaar nogtans gerespekteer. Maar soms, soos nou, is daar tog ’n onsekerheid in die goewerneur oor die Fransman. Hoe ver hul vriendskap strek, weet net René de Louvois. Met rukke kan hulle heerlik gesels soos ou vriende, en dan kan René hom weer terugtrek sodat hy amper soos ’n vreemdeling voorkom.
Goewerneur Dundas bekyk hom nou weer opnuut. Aantreklik, lank en donker, die droomheld van elke jong Kaapse meisie, maar tot dusver het hy die huwelikstrop goed ontduik en lewe hy blykbaar net vir sy periodieke jagtogte in die binneland. Hy is meestal weg van sy pragtige herehuis hier aan die Kaap. Maar die goewerneur het ook al gewonder of alles regtig so onskuldig gaan op daardie jagtogte as wat voorgegee word. Tog het hy tot dusver besluit om ter wille van sy eie gemoedsvrede nie te diep op hierdie sakie in te gaan nie. Waarmee die jong graaf De Louvois hom besig hou, gaan hom nie aan nie – solank hy net nie die wette oortree nie.
“Jy klink nie beïndruk nie?” sê-vra hy nou, en die ander man glimlag skielik.
“Behoort ek te wees?” is die weervraag.
Die goewerneur se oë blink van heimlike genot. “Kom Kasteel toe vanaand en dan kan jy vir jouself oordeel. Ons sien jou dus vanaand?”
Die donker kop knik. “Ja. Ek sal kom. Ek wil graag mam’selle Jacquard ontmoet. Het sy alleen gekom?”
“Ja.”
“Ek begryp. Goed, U Eksellensie. Ek sal vanaand daar wees. Groete aan u vrou.”
Die goewerneur draai om, keer dan terug, sy oë nou ernstig. “Hoe gaan dit by die oosgrens? Was jy in daardie omstreke?”
“Dit gaan nie goed daar nie. Die grensboere is verarm. Baie plaashuise is afgebrand. Hulle is in gedurige stryd met die Hottentotte wat nou selfs wapens besit, en hul strooptogte word al meer astrant. Daar is sterk gevoelens tussen die boere en resident-kommissaris Maynier. Hy weier om aan hulle genoeg ammunisie te verkoop vir hul eie selfverdediging. As hulle kla, stuur hy ’n klompie pandoers grens toe, wat ek en u albei weet niks uitgevoer kry nie. Hoe sal die Hottentot-soldate dan ook iets teen hul eie mense doen?”
Die ligblou oë is skerp op die goewerneur se gesig gerig. “U kan probleme in die nabye toekoms verwag. Dit raak tyd vir die jaarlikse opgaaf en die boere voel bitter. Ek verwag moeilikheid op Graaff-Reinet.”
Die goewerneur lyk bekommerd. “Maar ek durf hulle nie toelaat om die wet in eie hande te neem nie, René!”
Die gesig is strak wat terugkyk. “Hulle gaan u nie vra nie, U Eksellensie. As hulle te ver gedryf word, sal hulle die wet in eie hande neem met of sonder u toestemming. Daar is een ding wat u baie goed moet begryp. Hierdie mense het met lewe en bloed en lewensgevaar gekom waar hulle vandag is. Nou moet u en die Britse kroon daar oorkant die water nie verwag dat hulle gaan toekyk hoe die Hottentotte en Xhosas dit waarvoor hulle bloed gesweet het net eenvoudig vat nie, en dat hulle met gevoude hande gaan bly sit nie. Die mense oes met die een hand en hou die roer in die ander hand vas. Dit kan nie vir ewig so voortgaan nie.”
“Dit lyk my die enigste oplossing sal wees om soldate grens toe te stuur.”
“Dan moet u hulle net gou stuur. Die spanning loop hoog.”
Die goewerneur knik. “Ons kan later weer hieroor praat. Tot siens, tot vanaand.”
Die graaf René de Louvois kyk die goewerneurskoets grimmig agterna en stap dan weer sy huis binne.
’n Oomblik later verskyn Léon in die deur. “U het my laat roep, m’sieur?”
“Ja, Léon. Kom nader. Hier.” ’n Sakkie word na hom uitgehou. “Ek dink dit behoort voorlopig genoeg te wees vir jou verblyf in Willemberg se losieshuis. Ek wil hê jy moet daar gaan bly tot tyd en wyl ons meer van m’sieur Paquin te wete gekom het. Sorg dat jy met hom bevriend raak.”
“Goed, m’sieur.”
“Nog net dit, Léon. Moenie dat hy ooit agterkom jy kom soms na hierdie huis nie. Ek vermoed Paquin is ’n geslepe kalant. Moenie hom onderskat nie. En sorg dat jy van al sy bewegings af weet, waarheen hy gaan, met wie hy gesels, met wie hy miskien kontak maak. Ek vermoed ook dat hy die een of ander tyd besoek by die Kasteel sal aflê – in die geheim. Sorg dat jy hom volg en probeer agterkom waaroor dit gaan. Ek dink dis voorlopig al. As jou geld opraak, kom haal maar weer.”
Toe die goewerneur die sitkamer binnestap, kyk sy vrou hom ondersoekend aan. “Jy lyk bekommerd, Francis.”
Hy sug en swaai sy hand, neem dan by die twee vroue plaas en ontvang ’n koppie tee.
“Dankie, my vrou. Ja, ek voel ’n bietjie bekommerd. Dinge lol op die oosgrens.”
“So? Het daar weer nuus uit daardie oord gekom?” wil sy vrou weet, en Lille spits haar ore. Dis mos in daardie geweste dat hulle vermoed Philippe Bidault hom bevind.
“Ja. Volgens René lyk dinge sleg daar …”
“René? Is René terug aan die Kaap? O, wonderlik!” Die goewerneursvrou lyk baie ingenome en draai na die jong meisie langs haar. “Dan sal jy hom ook vanaand ontmoet. Jy het hom gesê hy moet kom, nie waar nie, Francis?”
“Ja. Ek was op pad na die Kompanjiestuin toe ek gewaar sy huis is oop. Ek het toe sommer daar aangegaan en hom genooi vir vanaand. Hy laat weet groete.”
“Dankie. O, Lille, dis die een man aan die Kaap aan wie ek jou baie graag wil voorstel. Ons is gelukkig dat hy nou weer ’n slag tuis is. Hy is meestal weg op sy jagtogte waarop hy versot is. Dis ’n landgenoot van jou – graaf René de Louvois.” Die ouer vrou se oë glinster. “En is hy aantreklik! Die meisies is eenvoudig gek oor hom, maar tot dusver kon niemand hom nog vastrek nie.”
Die goewerneur glimlag tergend in Lille se rigting. “Ek dink, mam’selle Lille, dat my vrou self ’n bietjie verlief is op hierdie aantreklike landgenoot van jou!”
“Ag, Francis, moenie verspot wees nie! Maar René helder altyd ’n partytjie op net met sy teenwoordigheid. O, ek is regtig bly hy is hier.”
“U was besig om te vertel van die grensboere, nie waar nie, U Eksellensie? Hoe gaan dit daar?” Lille het nie veel erg om van dié landgenoot van haar te hoor nie. Haar belangstelling en kommer lê elders.
Die goewerneur se gesig vererns onmiddellik weer. “Volgens René nie goed nie.”
“Wat het hý daar gaan soek?”
“O, hy beland dikwels daar met sy jagtogte. Ek kry altyd eersterangse en onpartydige nuus van hom van daardie deel.” Hy vertel kortliks wat René hom vertel het, en eindig dan: “Ek sal graag die saak verder met hom wil bespreek. René het ’n koel kop op sy skouers.”
“U het hom nie miskien gevra of hy iemand met die naam Bidault op sy jagtogte raakgeloop het nie?” wil Lille weet.
“Nee. Ons het glad nie