Koors. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
Ek het geluister en die woorde gebêre, elke keer as Pa iets oor haar gesê het:
Sy het ’n goeie hart gehad, ’n baie goeie hart.
Sy het ’n sterk persoonlikheid gehad.
En die opmerking waaroor ek die meeste gewonder het: Jy is jou ma se kind.
Pa het dit gesê toe ek daardie verskriklike winter my kos vir die kleintjies gegee het tydens die groot honger. En hy het dit gesê toe ek Die KTM van hulle motorfietse afgeskiet het in die Jaar van die Jakkals.
15
27 Maart
In die Volvo, op die N1 anderkant Trompsburg. Ek en Pa voor, die vrou agter op die bed, maar sy sit regop, sy kyk deur die voorruit. ’n Reguit stuk pad oor die Vrystaatse vlaktes. My hare kort en netjies gesny, Pa s’n ook. Sy het Pa se nekwond beplak en die swerende bytmerke aan sy rug vanoggend vroeg skoongemaak en ontsmet, maar die vrou het nog steeds nie ’n woord gesê nie.
Ek is verveeld ná die opwinding van die vorige dae. “Kom ons luister ’n CD,” sê ek.
“Laat die tannie kies,” sê Pa.
Ek haal die skoenboks onder my sitplek uit. Ons het dit in ’n verlate rooi Mercedes SL 500 gekry, naby Makwassie. Iemand het die duur motor gery tot die laaste druppel brandstof opgebruik was, en dit net so gelos. Pa het nog so om die verlate kar geloop en gesê: “Ongelooflik, hier, van alle plekke.” Die boks met musiek was die enigste ding in die kar. Daar is amper veertig CD’s in. Omtrent enigiets, selfs Chopin vir Pa. Ek hou nie van Chopin nie.
Ek gee die boks vir die tannie. Sy hou dit op haar skoot. Sy kyk op en sien ek wag. Sy maak dit oop. Sy kyk na die inhoud, blaai met haar vingers deur die CD’s se ruggrate en kyk na die titels. Sy haal een uit, draai dit in haar hande asof dit kosbaar is. Sy gee dit vir my aan.
Dit is ’n CD van Kurt Darren. In jou oë. Ek ken dit nie. Ek wil dit by haar vat, maar sy hou haar vinger by die heel boonste liedjie.
“Daardie een?” vra ek. “‘Heidi’?”
Sy knik, net soos toe ek haar gevra het of sy koffie wil hê. Amper sodat jy nie kan sien nie.
“Okay.”
Ek sit dit in die vragmotor se CD-speler. Ek ken nie die liedjie nie, ek weet nie wat om te verwag nie.
Dit begin. Vinnige ritme en ’n lekker deuntjie. Ek draai dit harder. Pa skud sy kop, maar hy grinnik en sy vingers hou die ritme op die stuurwiel, en hy trap die versneller dieper in sodat die Volvo se groot dieselenjin soos ’n klomp basviole by die musiek aansluit. Die musiek maak die hele kajuit vol van ’n soort lekkerte. Ek kyk na die tannie. Haar oë is toe.
Toe die liedjie klaar is, maak sy haar oë oop en sy sê haar heel eerste woord aan ons: “Weer.” Met ’n groot asseblief in haar gesig en in haar stem.
Ek speel die liedjie weer. Ek draai dit nog ’n bietjie harder. Ek ken nou al amper die refrein, ek sing saam.
Pa lag. Hy kyk na my, hy ry nog vinniger.
Toe dit klaar is, sê die vrou: “Weer.”
Ek speel dit weer. Ek én Pa sing saam. Hard. Die Volvo dreun. Ek voel vir die eerste keer in ’n jaar uitbundig. Gelukkig. Die wêreld is nie so ’n vreeslike slegte plek nie.
Die liedjie maak klaar. Ek kyk vir die tannie. Ek sien haar wange is sopnat van die trane, haar oë toe, sy skud van die huil. Sy wys met die palm van haar hand ek moet die CD stop. Ek druk die knoppie.
Pa kyk om na haar.
Ek trek my asem in om iets te sê, want ek verstaan nie hoekom sy huil nie, sy het dan gesê ek moet die musiek speel. Pa druk my op die arm om stil te bly. Die tannie huil lank, seker meer as twintig minute. Dan raak sy al hoe stiller, tot sy haar trane afvee met die agterkant van haar hand.
Dan vat sy saggies aan my skouer.
“My naam is Melinda Swanevelder,” sê sy.
Op daardie oomblik, voor ons kan reageer, vlieg ’n vliegtuig hier laag en baie naby oor die pad voor ons, van regs na links, en Pa trap rem, en hy sê: “Alla-maskas.”
Alles gebeur altyd tegelyk, net wanneer jy dit die minste verwag.
* * *
Die vliegtuig is klein, van daardie met die vlerk bo die kajuit, met net een skroef-enjin. Dit maak ’n sierlike draai in die lug, en vlieg dan in die rigting waarin ons ry, parallel met die pad.
“Jislaaik!” skree ek, vir die vliegtuig, én vir die lekkerte dat tannie Melinda Swanevelder begin praat het. Dit is die eerste vliegtuig wat ons in hoe lank sien. Ons het vliegtuie gehoor tot so sewe maande gelede, stralers wat hoog en ver iewers heen suis, al hoe minder en minder, maar nie sigbaar en hier bý ons soos hierdie een nie.
Die vliegtuig is wit, met ’n rooi stert. Hy vlieg vooruit, langs die pad, hy draai en hy kom van voor af, reguit met die pad langs, na ons toe. Laag, en toe hy so ’n paar honderd meter van ons af is, waggel hy met sy vlerke asof hy groet. Ek maak die venster oop en ek hang uit en ek waai vir hom. Pa sê: “Nico, nie te ver uithang nie,” en die vliegtuig skiet baie laag oor ons en dan is hy weg agter die vragmotor se wa.
Ek maak die venster toe. “Het tannie gesien?”
Sy knik. Daar is ’n klein glimlag op haar gesig, seker vir my opgewondenheid.
“Daar’s net een ou in daai vliegtuig,” sê Pa. Hy kyk in die Volvo se groot kantspieël. “Daar draai hy … Hier kom hy weer.”
Die vliegtuig kom van agter af, ek sien hom eers toe sy maag hier reg oor ons swiep. Hy vlieg nou saam met die pad, vooruit, stadiger. Hy sak nog laer. “Hy wil land, Pa!” roep ek. “Op die pad.”
Pa haal sy voet van die versneller af. “Dis reguit genoeg,” sê hy.
Die vliegtuig sak en sy wiele raak aan die teer. Pa begin rem, hy hou sy afstand agter die vliegtuig. Hy reik na sy pistool in die deur langs hom, hy kyk na die omliggende veld. Ek weet hy wil sien of daar iemand kan wegkruip.
Die vliegtuig kom tot stilstand. Ons ook. Die Volvo en die vliegtuig staan net tien meter uit mekaar. Die vliegtuig se deur gaan oop. ’n Oom spring uit. Hy is kort, iewers in sy veertigs. Hy is ’n lelike man, hy het ’n gesig soos ’n pug-hondjie, met sy uitpeuloë en die plooie op sy voorkop. Hy het ’n stewige pens en ’n breë glimlag. Hy dra plakkies en ’n kortbroek en ’n kakiehemp. Hy waai vir ons, en kom aangestap terwyl hy ’n sigaret aansteek.
Jy kan sommer sien hy’s nie gevaarlik nie.
Pa sit die lorrie se enjin af.
“Dagsê, mense!” roep die man.
* * *
Ek en Pa klim uit. Melinda Swanevelder bly sit bo in die vragmotor-kajuit.
“Watse vliegtuig is dit, oom?” vra ek terwyl ek by ’n venster inloer. Dit is vol bokse, grotes en kleintjies. Sigarette. “Is dit alles sigarette, oom? Wat maak oom met al die sigarette?”
Pa lag, hy skud die man se hand en sê: “Stadig, Nico. Verskoon my seun, jy is net omtrent die eerste ou met wie ons in weke praat. Hy is Nico, ek is Willem. Willem Storm.”
Die man sê sy naam is Hennie Laas, hulle noem hom Hennie Flaai, hy is van Heidelberg in Gauteng. Dis ’n Cessna 172, hy het voor Die Koors sy vlieglisensie laat verval, maar wat, daar’s mos nou niemand wat dié dinge administreer nie, hy vlieg nou kruis en dwars, al die klein en medium plekkies, die groot plekke is gevaarlik, dink hy. Jy kan nie uit die lug uit sien of die mense woes is nie. Met die kleiner dorpe, as daar mense is, kom hulle uitgehardloop as hulle die vliegtuig hoor, jy kan sommer sien dis veilig. Hy wat Hennie Flaai is, maak “siegrets” en pyptabak bymekaar, want dit gaan valuta word, tot iemand weer begin twak kweek in Zim en daar weer handelsroetes gevestig is, dis amper soos die Middeleeue. Is Pa ’n roker? Het ons iets om te ruil? Hy sal ’n paar cartons siegrets verhandel