Koors. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
so het dit gebly.
Dit is dalk die enigste ding wat my pa vergeet het: Ons onthou daardie oomblikke van groot vreugde net so goed soos die vrees en vernedering.
31
Stukkies en brokkies I: Oor Willem Storm
Nostalgie is die groot verleidster van die skrywer van memoires.
Ek wou graag vertel van die dag toe die ligte aangekom het. Dit was ’n oomblik en ’n dag wat ’n groot indruk op my gemaak het as veertienjarige. Dit was vir almal in Amanzi ’n gebeurtenis van verlossing, van blymoed, een met geweldige simboliek: Dit het die donkerte letterlik én figuurlik verdryf. Daardie winter se swaarkry was uitmergelend. Die grootmense het werklike honger beleef, vir weke aanmekaar, daar was die koue wat tot murg en been deurgedring het, rugbrekende werk, moedverloor en, eindelik, wanhoop. En toe die biskop en tannie Nandi Mahlangu oorlede is, was daar vrees vir ’n vlaag koors, vir ’n nuwe virus-mutasie, vir nog ’n doodsgolf wat oor ons sou spoel.
Elektrisiteit het dit alles verander. Ons het met een knip van ’n skakelaar vanuit die Middeleeue na die tegnologie-era gespring. Dit het onder meer veel groter lewensgemak gebring. Ligte, reg deur die nag. Verwarmers. Stoofplate. Yskaste. Oondgebraaide skaapboud! Dit het arbeid onmeetlik vergemaklik: elektriese besproeiing, elektriese sae en bore en voedselverwerkers en stofsuiers. En ’n Playstation in die Orphanage se speelkamer.
Maar bowenal het dit nuwe vooruitsigte gebring. En die bestanddeel wat ons die nodigste gehad het: Hoop.
* * *
Cairistine Canary
Soos opgeteken deur Sofia Bergman. Voortsetting van die Amanzi-geskiedenisprojek, ter nagedagtenis aan Willem Storm.
Kom ek sê jou, daai dag wat die power aangekom het, moes eintlik Willem Storm Day gewees het. ’Cause, first of all, hy was die een met die vision. Nie die short-term, small-time vision van ’n switch gooi en die lig skyn teen die dak nie. Nee, die long-term vision of progress, of reclaiming some of the lost time and technology. Partykeer het ek gedink Willem Storm het Amanzi gesien as ’n struggle between Man and Virus, of at least between Man and the Devastation of the Virus. And the hydroelectricity was a big score against the Virus. He had so much drive. Daai sal ek nie vergeet nie, kyk, Willem was nie ’n groot man nie, ma’ daai drive het van hom ’n presence gemaak. Hy was oralster, op daai official fiets van hom – dis ek wat dit Bike Force One gedoop het – hy was die Chairperson, ons Fearless Leader, ma’ hy het nie omgegee om sy hande vuil te maak nie, of dit nou was om ’n auntie se drein te gaan oopmaak, of om aartappels uit te grawe op die plase, of om vir my te kom electricity kabels losmaak by die substation. En daai kabels was nie grappies nie, hulle het ons laat sweet. En dan het hy in die aand huis toe gegaan en nog gaan kind grootmaak ook. Daai aand toe ons die power aansit, toe is hy so heavy nervous, ek sê vir hom, Willem, chill, what’s the worst that could happen? As dit nie vanaand werk nie, dan werk dit môre of oormôre.
Toe sê hy nee, dit moet werk. Ons kan nie die mense teleurstel nie. That’s the kind of man he was. Hy wou nie sy mense teleurstel nie.
But what I loved most about him, he was so happy for someone else to get the glory.
* * *
In daardie eerste jaar bly ek en my pa saam in ’n kamer in die Orphanage. ’n Groot kamer – net-net groot genoeg vir ’n vader met ’n seun van dertien of veertien. Dit is bloot ’n voortsetting van ons bestaan vóór Amanzi, toe ons ’n Volvo-kajuit of kamers in leë huise op verlate dorpe gedeel het.
Pa gaan slaap ná my, en staan voor my op. Nou en dan is ek nog wakker wanneer hy in die bed klim. Dan sien ek hoe hy met sy notaboek sit en lysies maak van alles wat die volgende dag of week of maand of jaar gedoen moet word. En sommige oggende is ek voor hom wakker, en dan sien ek hy lê só met die notaboek, dit is hoe hy die vorige aand aan die slaap geraak het. Daardie tyd dink ek nie veel daaroor nie, ek tel nie die somme op om by ’n antwoord van “Pa is doodmoeg” uit te kom nie.
Dit is nou te lank gelede om presies te onthou wat my gevoel in daardie tyd oor my pa was. Maar ek onthou wel die groeiende jaloesie. Dit was redeloos, dit was so selfsugtig soos enige tiener s’n, maar dit was darem op ’n manier verstaanbaar. Voor Melinda en Beryl en die kinders en Domingo, voor die aankoms van die 256, was my pa vir amper twee jaar lank net myne. Eksklusief en volkome myne. Nie omdat ek dit vereis het nie, maar omdat omstandighede dit so dikteer het. En toe moet ek hom skielik deel met almal.
Dit was nie ’n bewustelike jaloesie nie, daar was nie ’n oomblik van ontdekking, ’n moment van gewaarwording oor sy grootlikse afwesigheid nie. Dit was ’n stadige sweer. Dit sou eers veel later oopbars. Want ondanks alles was ek in daardie tyd heimlik baie trots op hom: My pa was die Voorsitter, die Stigter, die man wat omtrent van alles weet en met almal kan klaarkom, die een wat oral gekonsulteer en gerespekteer is in daardie klein gemeenskap. Hy was die Skrywer van die Pamflet, die Vader van Amanzi. En net vir die rekord, hy het my natuurlik ook by tye grensloos geïrriteer, want hy was ook die een wat geneul het oor hoe ek die buisie tandepasta uitdruk, hoe ek nie my handdoek ophang nie, hoe ek nie my voete ordentlik was nie. En hy was baie beslis soms in my kop die een wat nie die Jeep-manne kon skiet nie.
As ek terugdink, as ek probeer om die stukkies en brokkies wat ek kan onthou bymekaar te sit, kan ek Pa se skielike afwesigheid, sy meteense afskeep van my beter verstaan. Birdie was reg, hy het Amanzi as ’n stryd tussen Mens en Virus gesien. En ek dink hy het op ’n sekere vlak geglo hy gaan persoonlik die uitkoms van die stryd bepaal. Daarom dat hy so gewerk het, van vroegoggend tot laataand. Dit was sy groot obsessie.
Birdie was ook reg met die stelling dat Pa saans kom kind grootmaak het. Al het dit vir my gevoel dit was te min, het hy tog tyd gemaak om saam met my te sit, te eet, het hy met my probeer gesels. Hy het vir my vrae gevra oor my dag, my ervarings, my gevoelens. Op dertien, en in die na-gloed van ons Volvo-maande, het ek nog goeie gesprekke met hom gehad. Vandag is ek skaam en seer oor die daaropvolgende jare waarin ek my verhouding met hom so verskriklik vermors het.
As ek maar geweet het hoe min tyd ons saam sou hê.
* * *
Hennie Flaai
Daardie tyd was ek die bestuurder van die hot house met die tamaties en die blaarslaai en die kool, en die hoenderboerdery, alles in die ou Vanderkloof Holiday Resort se asbesgeboue. Later toe moet ons dit skuif, toe produseer ons genoeg kos, maar die blyplek word toe ’n probleem, maar daardie tyd, toe is dit ek en vier ander mense wat met die groente en die hoenders boer. Elke tweede Dinsdag het ons hoendermis met die grawe in die kruiwaens gelaai en dit oorgestoot na die tamaties toe. Eerste ding in die oggend. Nou, Willem het dit geweet, dan kom hy aan op die fiets, en hy trek vir hom so ’n blou overall aan, en hy vat ’n graaf, en hy spit lustig saam hoendermis. Hy was nie vreeslik goed met ’n graaf nie, jy kon sien dit was nie sy ding nie. Maar hy het kom help met die tweede stinkste werk in Amanzi. Hy’t nooit ’n storie daarvan gemaak nie. Sover ek weet, het hy nooit verkondig hy skoffel elke tweede Dinsdag hoenderstront nie. So dit was nie ’n kwessie van dat hy ’n politikus is wat wil wys hy kan ook sy hande vuilmaak nie. Ek dink hy het dit gedoen sodat hy … Wanneer die tamaties ryp is, dan kom hy, en hy vat een – altyd net een – en hy pluk hom so van die rank af, en hy vat ’n hap, so met die toe oë, en jy kan sien dis vir hom baie lekker. Ek dink hy het kom hoendermis spit, want dit het hom laat voel hy het ’n aandeel in daai tamatie. Hy het gehelp om ons nog so een stappie verder van hongersnood af te kry, en een stappie nader aan beskawing.
Beryl Fortuin
Dit was hier net nadat ons krag gekry het, toe kom een van die ekspedisies aan met die boks vol digital voice recorders, seker twintig in die boks, almal met rechargeable batteries. En so met die aflaai, toe wil hulle dit weggooi, maar Willem sê nee, en hy vat die goed, en hy bring dit na ’n Committee meeting toe en hy sê hy wil dit graag hê, dié voice recorders. Want hy wil mense se stories begin bymekaar maak. Hy noem dit die Amanzi-geskiedenisprojek. En toe dra hy altyd een saam in sy sak. En as hy kan, dan praat hy met mense, dan vra hy hulle, vertel …
32
Stukkies