Hermann Giliomee: Historikus. Hermann GiliomeeЧитать онлайн книгу.
eerste instansie die mense was wat in die geskiedenis die verantwoordelikheid geneem het vir, wat Thom genoem het, “die Christendom en beskawing en by name wet en orde en vooruitgang in die geskiedenis”.
Daar was egter al meer ’n skuif weg van “volksgeskiedenis” na wat op Stellenbosch genoem is “wetenskaplik-objektiewe” geskiedskrywing. Piet van der Merwe was die verpersoonliking van dié benadering. Teen 1944, toe hy nog maar 32 oud jaar was, het hy reeds drie uitstaande wetenskaplike werke agter sy naam gehad. (Daar was ook ’n vierde een, Die Kafferoorlog van 1793, wat, behalwe die titel, ook ander groot gebreke het.)
Sy fokus was die trekboere, wat daardie veeboere was wat om nie-politieke redes weggetrek het uit die suidwestelike deel van die land wat vandag Suid-Afrika is. Maar sy groot werke is geskryf toe wit oorheersing nog onaantasbaar gelyk het.
Van der Merwe het geweier om enige selfsensuur toe te pas. Hy het my op ’n keer vertel dat hy in sy navorsing oor die Voortrekkers en Ndebeles op iets verskrikliks afgekom het, maar wou nie daaroor uitwei nie. Ek het soms gewonder of dit hierdie insident was wat hom tot sy dood daarvan weerhou het om die manuskrip oor dié onderwerp vir die drukkers te gee. ’n Omvattende manuskrip wat handel oor die Voortrekkers en die Ndebeles is ná sy dood in ’n Argiefjaarboek gepubliseer. Dit bevat ’n omvattende beskrywing van ’n massamoord op ’n swart stat wat ’n Voortrekker-kommando onder Hendrik Potgieter gepleeg het.33
Ek het veral gesoek na ’n wyse waarop ek die interaksie tussen wit en swart op die koloniale grense kon beskryf en ontleed in ’n tyd waarin die wit mense nog nie hul beheer oor swart mense gevestig het nie. Onder my tydgenote as nagraadse studente op Stellenbosch was Henning van Aswegen en Ernst Stals, wat onderskeidelik oor verhoudinge tussen wit en swart gedurende die vorige eeu in die gebied tussen die Vaal- en Oranjerivier en in Ovamboland nagevors het, en Pieter Kapp, wat krities die liberale beskouinge van die sendeling dr. John Philip op die Kaapkolonie se oosgrens ontleed het.
Van Aswegen het die groot probleem aangestip waarmee ons almal gekonfronteer was: “die weinig beskikbare ‘nie-blanke’ bronne en die massa beskikbare wit bronne [moes] voortdurend geïnterpreteer en herinterpreteer word om tot ’n beter begrip van die nie-wittes se houding te kon kom”.34 In my werk oor verhoudinge op die Kaapse oosgrens het ek al meer tot die oortuiging gekom dat die konflikte aan koloniale grense ontleed moes word as ’n stryd gekenmerk deur botsende aansprake op ’n omstrede gebied waar daar geen algemeen aanvaarde gesag aanwesig was nie omdat nóg die wit mense nóg die swart mense die oorhand kon kry.
Ranke, die grondlegger
Piet van der Merwe was grootliks verantwoordelik vir die aansien wat die departement in sowel Afrikaanse as Engelse geledere geniet het. Hy het die benadering van “wetenskaplik-objektiewe” geskiedskrywing op die departement afgedruk. Die Duitse historikus Leopold von Ranke (1795-1886) word algemeen in die Weste beskou as die grondlegger van die wetenskaplike geskiedskrywing. Hy het die standpunt ingeneem dat die historikus die geskiedenis moet opteken soos wat dit eintlik gebeur het: “wie es eigentlich gewesen”, soos hy dit gestel het. Hy was nie onder die waan dat die historikus ooit waarde-vry kon wees of volkome objektief nie, maar het daarop gestaan dat die historikus so goed moontlik moes vasstel wat presies gebeur het en nie eensydig in sy hantering van konflikte mag wees nie.
Hieruit is die vernaamste beginsels afgelei van “wetenskaplik-objektiewe geskiedenis”, soos wat ek met die konsep kennis gemaak het. Eerstens moet daar verifikasie wees, iets waarvoor die primêre bronne gewoonlik die beste is. Tweedens staan elke periode in die geskiedenis op sy eie, met mense wat hul tydgebonde morele oortuigings, waardes en denkraamwerke gehad het. Vandag se opvattings mag nie daarop afgedwing word nie. Terselfdertyd is dit so dat elke era sy eie vrae oor die geskiedenis stel. Die historikus wat nie antikwaries wil wees nie, moet geskiedenis as realisties en relevant vir sy lesers voorstel.
Van der Merwe was ’n formidabele leermeester. Hy het alle tesisse en proefskrifte met ’n fynkam deurgegaan. ’n Mens kon nie anders nie as om sy deeglikheid en toewyding aan die vak te bewonder. Hy het swak klas gegee en kon dodelik vervelig wees wanneer hy die geskiedenis van sy spesialiteitsgebied, die trekbeweging, in die fynste besonderhede probeer uitpluis het. Ons het soms gespot dat die geskiedenis eintlik daaroor gegaan het of die Voortrekkers links of regs om ’n bepaalde koppie getrek het.
Van der Merwe het die klem gelê op wat en hoe dinge gebeur het en al minder op waarom dinge op ’n bepaalde manier gebeur het en nie op ’n ander manier nie. Sy kritiek op proefskrifte, waaronder my eie, was soms uitstekend, maar hy kon ook so afbrekend wees dat die hele proses om ’n tesis aanvaar te kry ’n suur smaak en ’n wrang glimlag gelaat het.
Wat skreiend in die departement afwesig was, was enige fokus op die teorie of filosofie van die vak geskiedenis. Prof. Dirk Kotzé het weliswaar entoesiasties oor die nasionalisme en kommunisme as historiese verskynsels in Europa klas gegee maar ooreenkomstig sy opdrag kon hy nie enige kursusse in die teorie of die Suid-Afrikaanse geskiedenis aanbied nie. In die geval van Van der Merwe se aanbod was daar weinig besinning oor teorie of filosofie. Ek dink hy het besef dat sy lesings swak was, maar hy wou dit nie erken nie. Ek het ’n slag dit teenoor hom genoem dat ’n dosent aan ’n ander universiteit my gevra het om my notas van sy lesings aan hom te stuur. Hy het gesê hy dink beslis nie dit is ’n goeie idee nie.
Ons het feitlik geen leiding gekry oor waar ons verder oor ons vak kon oplees nie en veral van watter boeke of tydskrifte ons as aspirant-historici op hoogte moes kom nie. Daar was ’n kursus in vroeë historiografie, maar daar is nooit verduidelik hoe dit ons perspektief sou verbreed nie.
Van der Merwe het ook nie probeer om sy studente in die gedagtewêreld van die vernaamste historiese figure te probeer inlei nie. Daar was nie enige ruimte vir studente om met verbeeldingryke insigte te kom nie, om kreatief te spekuleer en om die historiese karakters en hul geesteswêreld te laat herleef nie. As ’n gedugte eksaminator het hy ’n groot bydrae in die opleiding van toekomstige historici gemaak, maar dit was ook hy wat verantwoordelik was vir die verstarring in die departement.35
Die ergste was dat die swak aanbod wat ons gekry het, gepaardgegaan het met wat Van Aswegen tereg genoem het “die selfingenome Stellenbosse tradisie”.36 St. Elmo Pretorius was al dosent wat ons aangemoedig het om boeke en artikels te lees en om dit krities te doen. Dit was sekerlik nie toevallig dat hy die enigste dosent was wat nie ’n Stellenbosse opleiding gehad het nie.
“’n Ander manier van dink”
Ek is bly dat ek die tegniese sy van my vakleerlingskap as historikus in die Ranke-metodologie ontvang het. Min kwaliteite in ’n historikus is belangriker as ’n heilige respek vir feite gekoppel aan ’n voortdurende waaksaamheid teen ’n anachronistiese omgaan met die geskiedenis. ’n Historikus wil betrokke wees by die verlede as iets wat wel gebeur het, nie die verlede as verdigsel nie.
Ons swak teoretiese opleiding het ons verplig om self te begin dink en lees oor die waarde van geskiedenis as dissipline. Daar is natuurlik baie aforismes oor die studie van geskiedenis, maar die een wat my die meeste getref het, is die uitspraak van GJ Renier, ’n Nederlandse historikus wat tussen die twee wêreldoorloë invloedryk was. Hy het gesê: “Die studie van geskiedenis is nie net nog ’n vakgebied nie; dis ’n besondere manier van dink.”
Die essensie van historiese verstaan is ’n aanvoeling vir kompleksiteit, konteks en kousaliteit en van verandering wat oor tyd plaasvind. Historiese besinning hou die verpligting in om alle kante van ’n saak in ag te neem, maar dit veronderstel ook dat ’n bepaalde standpunt ingeneem word. Net soos ’n romanskrywer moet die geskiedskrywer hom verbeel dat die karakters in die verhaal nie die toekoms en die uitkoms van hul dade kan voorsien nie. Die Nederlandse historikus Johan Huizinga raai historici aan om hulself gedurig op ’n punt in die verlede te posisioneer waar die bekende faktore oënskynlik die moontlikheid van verskillende uitkomstes ingehou het.37
Die historikus moet hom afvra waarom daar uiteindelik ’n bepaalde uitkoms was en nie ’n ander een nie en watter faktore deurslaggewend was. As hy dit doen, sal hy gou leer dat die beste planne skeef loop, die onverwagte die norm is en min dinge so belangrik is as die karakter van leiers. Daar is iets soos histories dink, wat jou help om ook die huidige beter