Hermann Giliomee: Historikus. Hermann GiliomeeЧитать онлайн книгу.
die ouderdom van tien bereik, was daar nog min sakeondernemings in Afrikaner-besit wat groter as die dorpskafee of dorpswinkel was. Eers in 1945 is die eerste Afrikaner-maatskappy op die aandelebeurs genoteer, te wete Anton Rupert se Distillers Corporation. Bonuskor (in die Sanlam-stal) het ’n paar jaar daarna gevolg.
Gelukkig was daar by die Engelse maatskappye geen sprake daarvan dat hulle die Afrikaners ekonomies op die voete moes help nie. Die Afrikaners moes hul respek verdien deur self suksesvolle ondernemings op te rig. Ek het Anton Rupert in 1999 gevra of hy kon dink aan enige Afrikaanse maatskappy wat deur ’n Engelse maatskappy “bemagtig” is. Hy het nagedink en toe gesê: “Nie een nie en ek is baie dankbaar daaroor.”
My pa het kort ná sy aankoms op Porterville lid van die Afrikaner-Broederbond (AB), geword. Die organisasie het ná 1939 se kongres sy lede aangemoedig om in Afrikaanse maatskappye te belê. My pa het van ’n vroeë stadium geld op die Johannesburgse aandelebeurs belê, veral in goudaandele, maar ook in Rembrandt, Federale Volksbeleggings en Federale Mynbou.
Dit het my pa gepla dat Die Burger se sakebladsy so swak was. In 1959 het hy in ’n brief aan Die Burger se hoofbestuurder gevra dat die koerant “net so gesaghebbend op ekonomiese gebied moes word as wat dit reeds op ander gebiede is”. Hy het heeltemal tereg Die Burger se finansiële beriggewing as “formeel, tegnies, stroef en kleurloos” bestempel. Daarteenoor was Engelse koerante propvol ontledings van die waarde van sekere aandele.
Om sy punt te belig, het my pa gewys op die aandeel Federale Mynbou (later Fedmyn), ’n Sanlam-filiaal wat in 1953 tot stand gekom en vinnig opgang gemaak het. In 1958 het dit beurs toe gegaan met Bonuskor en Federale Volksbeleggings as die vernaamste aandeelhouers.
My pa was gretig om aandele in Fedmyn te koop, maar kon nie inligting in Die Burger kry nie. Hy het by die koerant gekla oor hoe moeilik dit vir beleggers is om die transaksies van die opkomende Fedmyn te evalueer. Hy het geskryf dat “inligting en nogmaals inligting” nodig was. Daarvoor “moet ons tans oral in die Engelse tydskrifte rondsnuffel”.
Phil Weber, hoofbestuurder van Die Burger, het die brief aan die redakteur, Piet Cillié, deurgestuur met dié opmerking: “Die man bedoel dit blykbaar goed.” Dit sou egter nog amper tien jaar duur voordat die koerant se sakeblad sou verbeter.
Die Broederbond-“bende”
My pa se Broederbond-lidmaatskap het aan hom ’n gevoel van deelname aan die Afrikaner-nasionaliste se debat oor beleidskwessies gegee. Saam met ander afdelings oor die hele land het die Porterville-afdeling die studiestukke gelees wat die Johannesburgse hoofkantoor vir kommentaar uitgestuur het. Ek het somtyds op sommige stukke, soos ’n ontleding van die Tomlinson-kommissie se verslag, afgekom. As kinders het ons graag saamgespeel om die geheim te bewaar wanneer die plaaslike afdeling van die AB by ons aan huis vergader het. Ek het natuurlik nooit met my maats oor die AB gepraat nie. Af en toe het ek my pa ligweg gespot oor sy “geheime bende”, maar ek kon gou sien ek is op gevaarlike terrein.
In die middel 1950’s het die Porterville-afdeling beswaar aangeteken dat iemand uit ’n ander afdeling ’n onderwyser wat as lid voorgestel is, afgewys het. In daardie stadium was die Stellenbosse rektor, prof. HB Thom, voorsitter van die AB se uitvoerende raad, en die AB-bestuur het die klag na hom verwys. Thom en pa was klasmaats op Stellenbosch.
Dit het later aan die lig gekom dat die beswaar van iemand was wat die genomineerde daarvan verdink het dat hy as skeidsregter in ’n skolerugbywedstryd gekul het. Die persoon het toe nooit lid geword nie. Miskien wou die AB dit nie waag met iemand met ’n reputasie as ’n skelm skeidsregter nie.
My pa het nooit persoonlike voordeel uit sy AB-lidmaatskap getrek nie. Hy was geskok oor bewerings in latere jare dat die AB toutjies getrek het om ’n lid te bevoordeel en dat sommige mense lid geword het om voordeel te kry. “Dit was nooit die Bond se bedoeling nie,” het hy dikwels gesê.
My pa het egter nie enige eerstehandse ervaring van die werking van die Bond buite Porterville gehad nie. Nico Smith vertel in sy boek Die Afrikaner-Broederbond: Belewinge van die binnekant (2009) hoe hy as Broederbonder aangestel is by die Kweekskool op Stellenbosch oor die koppe van twee persone wat veel meer bekwaam was.
Ernst Stals, in ’n indringende studie van die Bond, skryf dat dit van vroeg af die AB se doelstelling was “om nie net die belange van die Afrikaners in die algemeen te bevorder nie, maar ook om die lede te help om in hul beroepe vooruit te kom”.
Ek sou later rede hê om te wonder of die AB iets te doen gehad het met die skynbare doodloopstraat waarin my loopbaan op Stellenbosch teen die einde van die 1970’s beland het.
“Die man wat sy deelname weier”
“Wees trots op jou eie” was woorde wat ek en ander kinders van my geslag dikwels gehoor het wanneer taal en kultuur ter sprake gekom het. Ons het volkspele in die kerksaal gedoen en dit geniet. Ds. Theron, wat die gemeente gedurende my jeugjare bedien het, het dans vuriglik teengestaan. Eers toe ek op universiteit kom, het ek ontdek dat dans ’n normale vorm van sosiale verkeer was. Ek was toe nogal jammer dat ek nie op skool leer dans het nie.
Die volksbeweging het groot klem daarop gelê dat elke persoon se bydrae belangrik is. Dit was veral waar wat betref die bevordering en ondersteuning van Afrikaans as openbare taal, wat volgens die grondwet gelyke status met Engels geniet het. Op skool is ek getref deur ID du Plessis se gedig “Soet is die stryd” uit sy bundel Land van die vaders (1945):
Jy sê die stryd is verlore
Ons nasie te arm en klein
Ons taal uit drang gebore
Wat een van die dae verdwyn? …
Dis tog die probeerslag wat tel!
Nee, soet is die stryd van die stryer,
Al moet hy uiteindelik verloor;
Maar die man wat sy deelname weier,
Is die MAN wat sy Nasie VERMOOR!!!
Toe ek jare later in ’n taalstryd aan die Universiteit van Stellenbosch betrokke raak, het hierdie woorde my steeds geïnspireer.
Die volksbeweging se oproep in die 1950’s was om nooit jou mense en jou taal as minderwaardig te beskou nie. Ons gesin op Porterville was goed bewus daarvan dat die Afrikaanse letterkunde, veral op die gebied van prosa, nog baie ver agter was by dié van die groot Europese tale. Vir ons was ’n groot gebeurtenis die verskyning van Die Afrikaanse Kinderensiklopedie, waarvan die eerste band in 1948 uitgekom het. In die inleiding skryf die redakteur dat “kindervriende” die boek geskryf het. Onder hulle was NP van Wyk Louw, wie se beskouings oor “lojale verset” en “liberale nasionalisme” my later baie sou beïnvloed.
Ons was gretige lesers van die jeugtydskrif Die Jongspan, wat, soos die ensiklopedie, onder redaksie van dr. CF Albertyn gestaan het. Hy het ná sy uittrede by die Nasionale Pers op sy plaas in die Porterville-distrik kom woon. My pa sou ná sy aftrede as onderwyser hom amper voltyds help met sy groot projek om met sy eie maatskappy ’n verwerking van die Winkler Prins-ensiklopedie uit te gee. Dit het die vertaal van artikels van Hollands na Afrikaans behels en die bywerk van Suid-Afrikaanse materiaal deur plaaslike gesaghebbendes. Die projek was ongelukkig nie ’n finansiële sukses nie.
Gedurende die eerste helfte van die 1950’s, toe ek in my hoërskooljare was, het dit gelyk of die groot ideaal van ’n republiek al nader aan verwesenliking kom. Daar was ’n bruisende optimisme. Vir my word die tydsgees verteenwoordig deur die eerste strofes van Die Lied van Jong Suid-Afrika, wat ons soms in sangklasse op skool gesing het:
“En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die veld kom dit wyd gesweef:
die lied van ’n volk se ontwaking
wat harte laat sidder en beef …”
Vir my sê die lied steeds iets oor die optimisme waarmee die Afrikaners van my geslag die toekoms tegemoet gegaan het. ’n “Volk se ontwaking” het min of niks met apartheid te doen gehad nie. As kinders het ons deel van ’n beweging