Ena Murray Keur 12. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
Die man op die wa kyk onseker na sy donkie, dan gulsig na die rol note in haar hand, en dan vererg na die motoriste wat agter hom begin toet het.
’n Verkeerskonstabel kom nader om te kyk wat die opeenhoping veroorsaak. Ook hy kom verbaas tot stilstand. ’n Rooikopseuntjie en ’n witkopdogtertjie is hard besig om sake te doen met die baas van ’n donkiekarretjie. Dan stap hy nader en sê: “Jy kan nie hier stilhou nie. Kry jou ry!”
Poens kyk hom uit die hoogte aan. “Ag man, kan jy nie sien ons is besig nie?”
Katryn is bleek van vasberadenheid en haar oë pen vas in dié van die man. “As jy nie ja sê en nou dadelik hierdie donkie uitspan en vir my gee nie, vertel ek die konstabel hoe jy die arme dier mishandel het. Toe! Hier’s jou geld. Span uit!”
Ten einde raad moet die verkeersman maar eenkant toe staan en die verkeer probeer ontknoop terwyl die transaksie beklink word. Met ’n ingenome glimlag gryp die man die wa en begin dit wegtrek.
Omstanders en motoriste werp geamuseerde blikke na die twee kinders wat nou half verlore in die middel van die straat staan met die donkie aan die hand. Katryn besef dat sy weer te impulsief opgetree het. Wat gaan Festus sê?
Festus se sekretaresse kry byna ’n oorval toe die verkeerskonstabel half hulpeloos aan haar beduie dat die optog voor haar baas se kantoor sý verantwoordelikheid is.
“Hierdie twee kinders sê hulle behoort aan . . . ek bedoel is familie van meneer Dumas. Ek het hulle en hul donkie toe maar hierheen gebring.” Hy wag nie langer nie, maar maak spore.
Ná nog ’n ongelowige blik deur die venster, verdwyn die deftige vrou by ’n deur in: “Meneer, hier buite staan twee kaalvoet kinders met ’n donkie. Hulle sê hulle is familie van meneer.”
6
Festus en sy vriend blik mekaar vinnig aan en kom tegelyk orent. Hulle kom verslae in die deur tot stilstand. Soos ’n toneeltjie uit ’n ander wêreld staan die drie daar: Poens, Katryntjie en die donkie in die middel.
Pieter Cilliers kan ’n glimlag nie bedwing nie. Hy het al gehoor van die twee wat Festus onder sy sorg geneem het. Daar is ’n hele spottery onder Festus se vriende hieroor. Hy lag hardop. Die drie lyk so onvanpas in die luukse tuin voor die kantoor in die spogbuurt van die stad dat hy net nie sy lagspiere kan bedwing nie.
Maar Festus vind niks lagwekkends nie. “Poens! Kry daardie ding uit die tuin uit! Dadelik!”
Poens vlieg om, kyk desperaat om hom rond en probeer die steeks donkie na die inrit lei. Sy besproete gesig is naderhand rooi gespook, sy hakke sak weg in die gras, maar ou Vaaltyn beweeg nie. Skielik balk die donkie vererg en Poens roep verskonend uit: “Moenie skrik nie! ’n Donkie maak maar so.”
Pieter Cilliers probeer nie eens meer om die lagbuie te keer nie. Poens lê plat soos hy aan die donkie rem en Katryn staar hulpeloos op in die man se oë wat afgemete nader kom.
“Wat gaan hier aan, Katryn? Waar kom jy aan die donkie?”
Sy sluk. “Ek het hom in die straat gekoop. Sy baas het hom geslaan en . . . ek kon dit nie aanskou nie! Kyk hoe maer en verniel is hy en . . .”
“En waarmee het jy hom gekoop?”
“Met die . . . met die geld wat jy . . . wat oom my gegee het . . .”
“Om klere mee te koop. En hoeveel het jy vir hierdie dierasie betaal?”
“Ek . . . e . . . ek het hom alles gegee,” adem sy dit skaars hoorbaar uit.
Vir die tweede keer binne ’n paar minute is Festus Dumas sprakeloos. “Maar dit was . . .! Katryn, wil jy vir my sê jy het dit alles vir hierdie . . . hierdie . . . donkie betaal?”
Haar kop sak, en Poens kry dit sowaar reg om die donkie te laat beweeg.
“Poens! Gee pad met daardie ding hier onder my neus. Gaan maak hom vas!”
“Waar?”
“Enige plek, maar gee net pad met hom!” Hy wend hom woedend tot Katryn. “Ek weet nie wat ek met jou moet maak nie, Katryn. Het jy dan geen begrip van geld nie? Honderde rande vir ’n doodgaandonkie! Is jy dan waansinnig?”
“Ek . . . ek is jammer. Ek . . . sal dit eendag teruggee. Ek sal die plaas verkoop . . .”
Festus sluk, voel skielik skaam oor sy uitbarsting. Die arme kind! Hoe kan sy ook ’n begrip van die waarde van geld hê? Sy het seker nog nooit geld gehanteer nie. En hy weet hoe lief sy vir diere is.
Sy gesig verstreng weer. Hy gaan nie toelaat dat sy hart wéér sag word nie! O nee! Katryntjie móét leer. Dis sy plig om haar te leer. Hy maak sy stem doelbewus koud: “As jy só aanhou, sal jy meer as een plaas nodig hê om jou skuld mee te delg. Jy skuld juffrou Duval alreeds tweeduisend rand vir haar geruïneerde rok . . .”
“Tweeduisend rand vir ’n rók!” Poens het die donkie aan ’n boomstam vasgemaak en is nou weer vol bravade. “Sy lieg! Soveel geld vir daardie stuk rok . . . en dit was nog nie eens klaar nie!”
“Wat bedoel jy, dit was nog nie eens klaar nie?”
“Wel, al die nate was nog nie eens toegestik nie. Ek het dit gesien. Onder die tafel was haar hele been kaal tot . . . bo.”
Pieter Cilliers moet na ’n stoel soek en Festus vind dit moeilik om sy mond in toom te hou. Sy stem klink minder kwaai. “Of dit klaar was of nie, Poens, sy wil tweeduisend rand vir haar rok hê en saam met die geld vir die donkie is dit nou al meer as tweeduisend seshonderd rand, en . . .”
ʼn Vrou, baie deftig geklee, stap nader, en terwyl sy nader kom, maak hulle die kring wyer.
“Is jy die baas van hierdie kantoor, meneer?”
Festus knik.
Die woedende vrou gil onbeheers: “Ek sal jou hof toe vat, verstaan jy? Kyk hoe lyk my handgemaakte skoene van egte volstruisleer! ’n Mens kan nie eens die paadjie na jou kantoor gebruik nie.”
“Mevrou, ek is baie jammer. Dit was ’n . . . ongeluk.” Net ’n oomblik draai sy blik na die verskrikte Poens. Sy stem is uiters beleef, maar langs sy sye kan almal sien hoe sy hande tot vuiste saambal. “Ek sal natuurlik vergoed vir die skade, mevrou.” Hy wend hom tot sy sekretaresse. “Help die dame om haar skoene skoon te kry en teken die skade aan, asseblief. Ek sal . . . betaal,” voeg hy by met sy blik weer vlugtig op Katryn.
Met die half histeriese vrou aan die arm verdwyn die sekretaresse na die kleedkamer toe.
Festus is rooi in die gesig. Hy wend hom boos tot sy vriend. “Sal jy nou ophou met lag en my sê wat ek moet doen? Met die donkie, bedoel ek? Die ding kan nie van my kantoor ’n stal maak nie!”
Pieter Cilliers vee die trane met sy sakdoek af en staan op. “Bedaar, my vriend. Ek moet eerlik sê ek weet nie wanneer laas ek so lekker gelag het nie. Ek voel gans ’n ander mens!”
“Ek ook . . . Dis die eerste keer in my lewe dat ek moorddadige neigings in my ontdek. Wat gaan ons met die donkie maak?” Hy kyk kwaai na die twee paar pleitende oë en spring hulle voor: “O nee! Vergeet dit! Ek sal nie nog ’n donkie ook op my erf toelaat nie! Ek sê nee!”
“Hy kan plaas toe gaan,” bied Katryn vinnig aan.
“En hoe kom hy daar? Sal jy hom lei tot daar?”
“Ons kan ’n bakkie kry om hom . . .”
“Dit klink of jy baie geld in die bank het?” sê hy sarkasties. Hy wend hom tot die vrou wat weer verskyn het en al buigend en verskoningmakend help hy haar by die deur uit, ’n papiertjie in sy hand. “Hm . . . Hierdie dame se rekening is ook tweeduisend rand. Laat ons sien . . . Dit bring nou jou totale skuld op ’n aardige bedrag te staan . . . En ’n bakkie sal jou nie minder nie as . . . laat ek sien . . .”
Pieter Cilliers kom vinnig tussenbeide. “Ek het ’n bakkie wat julle kan leen. Bedaar nou, Festus. Die kind het