Эротические рассказы

Ena Murray Keur 12. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.

Ena Murray Keur 12 - Ena Murray


Скачать книгу
maar, meisietjie. Ek sal alles reël. Dis oor ’n week universiteitsvakansie en dan kan my seun ou Vaaltyn vir jou terugneem plaas toe. Tensy jy hom wil verkoop. Die dieretuin sal hom dalk koop . . .”

      “Om wat mee te maak?” wil Poens weet.

      “Hulle koop ou donkies vir kos vir die leeus . . .”

      “Nee! Dis óns donkie! ’n Leeu sal hom nie kry nie!”

      Katryn druk Poens se skouer gerusstellend en kyk pleitend op na die gawe, ouerige man. “Sal u my kan help, asseblief, oom?”

      “Goed, my kind. Moenie bekommerd wees nie.” Hy glimlag skuins vir Poens. “Ek sal nie toelaat dat die leeus jou donkie opvreet nie.”

      Festus staan en kyk hulle met vernoude oë aan en sê sarkasties: “Pragtig! Maar wat gaan julle met hom doen tot tyd en wyl hy plaas toe gaan? In my sitkamer hou?”

      “Ek bly mos op ’n kleinhoewe en ou Vaaltyn kan maar eers vir die week by my kom loseer. Ek sal geen losies vir hom vra nie.”

      Katryn en Poens oorweldig hom byna met hul vreugde. Festus snork. Dis ’n mooi grap! Hulle kry al weer hul sin in plaas van die afgedankste pak slae wat hulle verdien! Kinders grootmaak! Nee dankie. Hy het finaal besluit trou is nie vir hom nie.

      Pieter Cilliers kyk geamuseerd na sy jong vriend. Arme Festus! Hy het nog baie te leer, al dink hy hy is so wêreldwys!

      “Ek sal die bakkie stuur om die donkie te kom oplaai. As Johann van die universiteit af kom, moet jy Katryntjie ’n bietjie na ons toe laat uitkom, Festus. Jongmensgeselskap, jy weet. Die kind is seker maar baie alleen.”

      Festus grom net iets en sien sy vriend by die deur weg. Pieter praat twak. Wat sal ’n universiteitstudent in Katryntjie se geselskap belangstel? Sy is ’n skone kind en daardie Johann is juis te groot vir sy skoene.

      Hy beveel kortaf: “Gaan sit en gedra julle. En kyk dat jul donkie hom ook gedra! Juffrou, bring my tjekboek dat ek solank vir al die skade kan betaal.”

      Maar ’n rukkie later, terwyl hy tjeks sit en uitskryf, verander sy bui en begin hy glimlag. Dis min genoeg om te betaal om van ’n klouende vroumens ontslae te raak. Hy sou dubbeld ook betaal het. Sy ore suis nog van die tirade wat in sy oor ontplof het toe hy die aktrise gebel het om, ter wille van goeie maniere, weer eens verskoning te vra vir wat gisteraand gebeur het. Sy het baie te sê gehad, maar die belangrikste was dat hy van haar kan vergeet solank daardie “wilde barbare” in sy huis is. Daar en dan het hy haar meegedeel dat hy dit sterk oorweeg om die “wilde barbare” formeel aan te neem. Met ’n gelukkige en spontane glimlag kon hy die telefoon neersit. Al wat nou nog nodig is, is die tjek vir haar beskadigde rok, en dan kan hy Zelda Duval in gister se kabinet liasseer . . . en van haar vergeet.

      Hy teken die tweede tjek. Sy glimlag verdiep en sy blik versag. Arme kaalvoet Katryntjie! Sy het ’n hart van goud; het selfs meegevoel vir ’n mishandelde ou donkie. ’n Liewe kind . . . die soort dogter wat hy graag sou wou gehad het.

      En ou Poens . . . Hy lag saggies. Daar is baie ruwe puntjies wat reggeskaaf sal moet word, maar die knaap is ’n seun so na ’n man se hart. Hy gaan die klein rakker mis as hy ná die skoolvakansie moet teruggaan. Katryntjie gaan haar doodtreur oor hom. Hy frons effens. Ná die skoolvakansie sal hy ’n definitiewe plan moet maak met Katryntjie. Daar sal oor haar toekoms besluit moet word. Maar hy wil nie nou al daaraan dink nie. Die gedagte dat hierdie twee kinders op ’n dag nie meer deel van sy daaglikse bestaan sal wees nie, staan hom meteens nie aan nie. Hy kan hom sy huis nie meer sonder hulle voorstel nie.

      Vir die eerste keer in jare voel hy hom weer deel van ’n huisgesin. Dis lekker om te weet daar is iemand by die huis as jy ná werk tuiskom. Dis lekker om te luister na alles wat hulle te vertelle het. Dis lekker om te weet daar is iemand wat van jou afhanklik is, wat jou werklik nodig het. En dis lekker om weer te lag . . . soos hy gisteraand gelag het – en soos Pieter netnou. Sy grinnik verdiep. Daardie dame met die klomp donkiemis op haar skoene het darem komieklik gelyk. Skielik gooi hy sy kop agteroor en lag.

      Katryn vertel haarself sy is vreeslik kinderagtig en onverantwoordelik. Festus het alle rede om woedend te wees. Dis deur haar en Poens dat hy sy een nooi verloor het. En nou het sy sy swaarverdiende geld op ’n donkie gaan spandeer. Hy verwens seker die dag dat sy pad hare gekruis het!

      Maar dan verskyn hy laggend in die deur en steek sy hand in sy sak. “Daar is ’n kafee op die hoek. Gaan koop vir julle roomys, Poens. Katryn kan die donkie solank oppas. Die bakkie sal nóú hier wees.”

      Poens spring weg en Katryn kyk pleitend na hom op. “Ek is regtig jammer oor alles . . . al die moeite en koste . . . e . . . oom Festus.”

      Hy glimlag gerusstellend, gaan sit langs haar en streel vlugtig oor haar hand. “Moenie sleg voel nie, Katryntjie.” Hy kyk in haar verbaasde oë af. “Bly net soos jy is, sal jy?”

      “Oom?”

      Hy neem haar hand, kyk daarop af en vou dit dan styf tussen syne toe. “Jy is iets raars, weet jy? Jy het nog ’n hart. In vandag se lewe loop daar so baie mense rond sonder hart.” Hy glimlag, kyk peinsend na die donkie daar by die boom. “Ek was vinnig op pad om ook so te word. Jy en Poens . . .” Hy voltooi nie sy sin nie, kyk net teer op haar af. “Ek is nie kwaad nie. En jy skuld my niks nie. As daar iemand is wat iets aan iemand verskuldig is, dan is dit ek.”

      “Oom?”

      “Toe maar. Jy sal nie verstaan nie. A, hier is Poens met die roomys. Wat het jy daar agter jou rug?”

      Poens lyk verleë. “’n Bossie wortels.” Hy gee Katryn se roomys wat sy gedweë ontvang en hulle stap na die donkie wat hom nie twee keer laat nooi nie. Poens glimlag breed, maar sy oë skitter verontwaardig: “Weet oom, die vrou by die kafee wou my laat betaal vir dié wortels. Toe vra ek haar of sy haar nie skaam nie. Die goed is oud en verlep! Sy hoef my nie te kom vertel dis vars wortels nie. Ek weet hoe lyk ’n vars wortel. Ek kom van die plaas af!”

      Festus skud maar net sy kop laggend. “En toe, Poens?”

      “Sy wou vyftig sent hê, en toe sê ek vir haar die wortels is vir ’n mishandelde donkie en toe sê sy ek kan dit maar pasella kry.”

      Toe Pieter Cilliers oomblikke later met die bakkie kom, skud Festus nog laggend sy kop.

      “Wat is aan die gang? Moenie vir my sê ou Vaaltyn en Poens het wéér moles gemaak nie.”

      “Ek sal jou later vertel. Ons moet nou eers die donkie hier wegkry. Maar ek kan jou sê: As hierdie rooikopseun van my nie nog minister van finansies word nie, eet ek elke verlepte wortel in hierdie stad in een hou op!”

      Festus het werk huis toe gebring, maar nie lank nie, of hy vind sy gedagtes begin dwaal, en weer nie lank nie of hy bevind hom in die sitkamer waar Bes ’n gesellige kaggelvuur aangepak het – die eerste van die jaar.

      Daar is ’n glimlag om sy lippe terwyl hy na die twee voor die kaggel op die mat kyk. Poens het sy nuwe kamerjapon aan, maar is reeds halfpad daaruit soos hy en Katryn aan die stoei is. Dis ’n gelag en geskree van ’n ander wêreld en hy voel skielik lus om mee te doen aan die stuitigheid. Hy trek sy baadjie uit, pluk sy das af en duik op die twee stoeiers af. Die lawwigheid bereik ’n hoogtepunt toe albei kinders hom takel en sommer ná ’n kort rukkie moet hy hokaai roep en oorgee, uitasem en oorwonne.

      “Hokaai! Hokaai! Ek gee oor!”

      Poens sit pens en pootjies bo-op sy maag en Katryn het hom in ’n egte stoeiersgreep beet. Die twee blinkgeskropte gesiggies kyk stralend op hom af en weer voel hy die vreemde warmte deur hom straal. Met een beweging gryp hy hulle aan weerskante teen hom vas en druk hulle hard teen hom aan. Was dit al ooit so lekker om tuis te wees? Sy oë rus half verwonderd op die lokkende kaggelvuur. En wanneer laas het hy voor sy eie kaggel gesit en dit so geniet? Vir die eerste keer in baie jare dink hy nie eens daaraan om uit te gaan nie. Dit is skielik vir hom baie lekkerder by die huis as om die een of ander beeldskone vrou ten duurste te trakteer.

      Hy glimlag en druk ’n spontane soen op die voorkop hier teen hom. En dis lekker om ’n


Скачать книгу
Яндекс.Метрика