Ena Murray Keur 13. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
volgende oomblik ruk haar liggaam toe sy besef dat hulle op haar bie. Die stemme verdring mekaar en sy staar angsbevange na die gesigte wat na haar gekeer is. Gulsige swart oë, dik vlesige lippe, vet lywe, opgeblase wange, bebaarde gesigte, sweetpalms. Haar blik dwaal desperaat om haar. Is daar geen uitkoms nie?
En dan, skielik, sien sy hom deur die kring bieërs beur. Sy breë skouers baan ’n pad vir hom oop totdat hy reg voor haar onder die verhogie tot stilstand kom. Hy is in dieselfde klere as al die ander geklee, maar sy herken hom onmiddellik. ’n Paar woorde spat uit sy mond, sy blik vas op haar. Warmte sypel terug in Elmarie se liggaam. Op hierdie oomblik vergeet sy van al haar agterdog – weet sy net dat sy gered is van ’n afgryslike lot.
Maar van die bieërs is nie so ingenome met hierdie nuwe aankomeling nie. Hy is besig om die prys onmoontlik hoog op te jaag. ’n Paar stemme klink weer op. Die vreemdeling se stem antwoord. Weer word die bod opgeskuif – maar deur minder stemme hierdie keer. Die vreemdeling swyg. Elmarie se oë rek. Hy kan nie … hy durf haar nie nou in die steek laat nie! Nie nou nie!
’n Harde, sardoniese glimlag speel rakelings om die streng mond. ’n Geamuseerde glinstering blink in die donker oë. Dan noem hy sy bod – en die ander swyg verstom. Nog nooit is soveel vir ’n vrou betaal nie! Die stilte duur voort. Niemand sien blykbaar kans om die bod hoër te skuif nie. Die man hou sy hand uit en met ’n gesmoorde snik op haar lippe beweeg Elmarie vorentoe en word van die verhogie afgetel. Sy voel hoe sy ’n oomblik teen hom vasgehou word en sy leun dankbaar teen die breë bors. Sê nou maar hy het nie betyds opgedaag nie?
Stilswyend gluur die ander hom agterna toe hy buk, die meisie in sy arms optel en wegstap.
Die motor dreun oor die woestynsand, maar toe die oase uit sig is, kom dit skielik tot stilstand. Hy skuif die hoofkleed van sy kop af en draai na haar. Dan, met ’n gesmoorde kreet, trek hy haar in sy arms in.
“Elmarie …”
“Hoessein! O, Hoessein!” Sy klou hom krampagtig vas terwyl hy met roekelose teerheid haar gesig met soene bedek.
“Ek het gedink ek sal jou nie kry nie,” fluister hy teen haar vel. “Ek was eers na die slawemark by Akabar. Ek was wanhopig toe ek daar kom en jy is nie daar nie. Toe onthou ek van hierdie plek. Ek het soos ’n waansinnige gejaag en die hele pad gebid dat jy hier sal wees – en dat ek betyds sal wees.”
“Jy was – net betyds!” Haar oë staar dankbaar na hom. “Moes jy baie vir my betaal?”
Hy glimlag skielik. “Ja. Hopeloos te veel!”
“O!” Sy trek effens weg van hom, maar dadelik klem sy arms stywer om haar.
“Moenie verspot wees nie, my liefling. As dit moet, sal ek al die skatte van die farao’s vir jou gee. Elmarie, Elmarie, ek sal jou nooit weer laat gaan nie!” Sy stem word ’n sagte liefkosing.
Hy voel die rilling wat deur haar trek en hy weet dit is ekstase. Hy voel die sagte bewing van haar liggaam onder sy aanraking, die oorgawe op die vol, jong mond en in sy hart beaam hy: Elmarie Wiid, ek sal jou nooit weer laat gaan nie … al gebeur wat ook al. Eindelik bevry sy haar lippe en saam kyk hulle op na die sekelmaan wat bo hul koppe hang. Sy een hand omhels haar nek sodat sy duim op die kloppende pols in haar kuiltjie lê.
“Onthou jy?”
“Ja.”
“Wat?”
“Jy het gesê dat ons een aand saam oor die woestynsand sal ry en …”
Sy huiwer en hy voltooi die sin: “En dan sal jy volkome aan my behoort. Toe het jy van my af weggehardloop en ek het vir jou gesê wat bestem is, sal wees. Glo jy dit nou?”
Sy kyk stadig na hom op en dis of sy langsaam uit ’n betowerende slaap wakker word. Herinneringe spoel deur haar en saam met hulle kom al die onbeantwoorde vrae in verband met hierdie man, al die agterdog …
“Hoessein …”
Maar hy lê vinnig ’n vinger op haar lippe.
“Nie nou nie. Ons sal moet ry. Die pad is ver. Jy moet totaal uitgeput wees. Kom lê met jou kop hier teen my skouer en probeer rus.”
Sy gehoorsaam dadelik, bly om die oomblik van ondervraging uit te stel. Sy sluit haar oë en voel sy lippe vlugtig oor haar voorkop streel voordat die enjin aangeskakel word. Sy frons liggies. Hoe is dit moontlik dat sy so veilig by hierdie man kan voel terwyl sy so ’n vreeslike agterdog teen hom koester? Hoe het sy so seker geweet dat sy niks meer te vrese het nie, die oomblik toe hy in die ligkring voor haar verskyn het? Hoe het sy intuïtief geweet dat hy haar nie koop met dieselfde doel as die ander wat op haar gebie het nie? En hoe kan sy so reageer op sy geringste aanraking terwyl hy miskien die man is wat stilswyend staan en toekyk het dat haar rug met ’n sambok oopgekloof word?
Daar is soveel vrae, soveel wat sy hom wil vertel, maar soos ’n kind wat weet dat sy veilig is, raak sy aan die slaap teen sy skouer.
Hoeveel ure later dit is, weet sy nie, maar sy word gewek toe hy haar in sy arms optel. Sy kyk met slaapbenewelde oë om haar rond. Die maan het al laag in die weste gesak. Sy sien dat hulle by ’n oase moet wees, want die bekende lang, maer gestaltes van palmbome troon teen die helder hemel uit. Voor hulle is ’n groot wit gebou en Hoessein dra haar na binne. Hy laat haar op ’n rusbank neersak en kyk dan op haar af, sy oë teer. Liefkosend lê hy ’n oomblik sy hand teen haar wang en kom dan orent.
“Ek het kos bestel. Jy moet dood van die honger wees. Verskoon my net ’n oomblik, asseblief.”
Hy verlaat die vertrek en na ’n oomblik van aarseling staan Elmarie versigtig op. Sy kyk om haar rond, maar dis doodstil. Vinnig beweeg sy op haar tone na die deur waar hy verdwyn het. Saggies, baie stadig druk sy dit oop. ’n Gang strek voor haar uit, en sy is net betyds om die sleepsel van ’n kleed by een van die deure wat uit die gang draai, te sien verdwyn.
Met haar hart bonsend in haar keel glip sy geruisloos die gang af. Die deur is toe. Sy huiwer met ’n uitgestrekte hand. Sal sy nie maar omdraai nie? Maar ’n drang binne-in haar dryf haar om voort te gaan. Sy moet weet. Vir eens en vir altyd moet sy seker maak. Dan, met ’n vinnige beweging, stamp sy die deur oop en die man swaai blitsvinnig om. Hulle staar mekaar aan en sy gelaat verstil tot ’n onleesbare masker terwyl die bloed uit haar wange wegdreineer.
“Kom binne, Elmarie.”
“Dankie – Nektanebo.”
Hy antwoord nie, kyk haar net nog ’n oomblik stilswyend aan en gooi dan die los Arabiese kleed wat hy so pas uitgetrek het van hom af. Dan swaai hy van haar af weg en stap na die kas waar hy ’n sigaar uit ’n dosie haal en dit tydsaam aansteek, die juweelbelaaide kraag om sy nek flitsend in die lig van die kandelare agter hom.
“Wel?”
Elmarie weet nie presies wat sy alles kwytraak nie.
“Gaan jy altyd só geklee wanneer jy by jou oase is – soos ’n Egiptiese farao?”
“Daar was nie tyd om te verklee nie. Gelukkig vir jou het ek geen tyd verspeel nie … anders was jy nou die nuutste lid van die een of ander harem op ’n godverlate oase êrens tussen die sandduine van die woestyn.”
“Gelukkig vir my! Hoe weet ek dat dit op hierdie oase nie presies dieselfde is nie – dat ek nie die nuutste toevoeging tot ’n harem is nie?”
“Omdat ek dit sê. Ek hou geen harem hier aan nie. Ek stel nie belang in sulke goed nie.”
“Nee, jy’s reg. Ek glo jou. Jy stel net belang in ou vergane Egiptiese koninginne en dan, veral, in Egiptiese hangertjies.” Haar teleurstelling is so groot dat sy haar vrees vir hom vergeet het. ’n Kille, radelose woede laat haar liggaam bewe. “Ek was ’n gek om nie van die begin af deur die hele speletjie te kon sien nie. Jou praatjies van netnou, al jou liefkosings was gemik net op een doel: om my so ver te kry om jou te vertel waar daardie hangertjie is waarna jy en jou vriendin Farah so naarstiglik soek.”
“Elmarie, luister na my …”
“Nee,