Ena Murray Keur 14. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
en haar êrens te gaan wegsteek.”
“Wegsteek?”
“Ja. Wat kan jy anders doen? Of dan moet jy die polisie laat weet dat die persoon na wie hulle soek hier lê. Dis een van twee, nie waar nie?”
Sy gesig word weer die vasberade masker. “Ek glo dit nie! Dis snert hierdie!”
“Ek is geneig om saam te stem. Dis … ongelooflik.” Sy swyg. Maar tog moontlik! Sy wil nie daaraan dink nie. Ter wille van hierdie man wil sy saam met hom glo dat dit nie is soos die koerant beweer nie.
“Dokter, jy sal vinnig moet optree. Ek weet nie hoe gereeld en deeglik my personeel koerant lees nie. Die moontlikheid is egter groot dat jou … dat Madie, soos julle haar gedoop het, enige oomblik herken kan word. Hierdie foto is baie duidelik. Enigeen wat ’n bietjie opmerksaam is, sal die ooreenkoms nie kan miskyk nie. Ek is baie verlig en dankbaar dat sy vandag haar bewussyn herwin het. Behalwe dat sy aan geheueverlies ly, is daar nie iets ernstigs met haar verkeerd nie. Sy is net baie swak.
“Jy kan haar êrens heen neem om te gaan aansterk. Intussen kan jy miskien iets meer omtrent die aangeleentheid probeer uitvind. Jy sal net baie versigtig te werk moet gaan. As die polisie agterkom jy stel belang in die saak, kan hulle snuf in die neus kry. Dit sal slegs ’n paar navrae kos om hulle op haar spoor te sit.”
Haar oë versag terwyl dit op sy bekommerde en verslae gesig rus. “Ek is baie jammer hieroor, dokter. En onthou, as ek miskien tot enige hulp kan wees …” Sy glimlag. “Ek verseker jou my intuïsie het my nog selde in die steek gelaat, en my intuïsie vertel my dat hierdie verskriklike aantygings teen Madie onwaar is. Maar juis daarom is sy nou nog meer as ooit tevore afhanklik van jou beskerming. Solank sy jou ‘vrou’ bly, sal niemand ooit daarvan droom om haar met hierdie gebeure te verbind nie.”
Sy swyg en vervolg ietwat skuldig: “Miskien het ek nie die reg om so met jou te praat nie, dokter. Hierdie saak kan geweldige en selfs tragiese gevolge hê, veral vir jou. Dis vir jou om te besluit wat die beste sal wees. Wat ek eintlik maar wou doen, is om jou te waarsku en te sê dat jy … julle op my kan reken om stil te bly. As ek kan help, hoef jy nie te aarsel om my te nader nie.”
Die dankbaarheid lê oop in sy oë. “Dankie, matrone, ek is oortuig u het gelyk. My hart sê my dit. Ek sal nooit een oomblik aanvaar dat sy werklik skuldig is aan die dinge wat hier beweer word nie. Weliswaar word daar geen direkte aantyging of beskuldiging gemaak nie, maar dit lê duidelik tussen die reëls. Ek gaan haar nie vir die wolwe gooi nie. Veral aangesien sy niks kan onthou nie en nie haarself kan verdedig nie.
“Ons moet maar net hoop dat hierdie amnesie nie te lank sal duur nie. Terwyl sy nie kan onthou nie, sal ek haar wegsteek, al weet ek dit beteken dat ek myself aan ’n oortreding skuldig maak.” Hy staan op. “Baie dankie, matrone. Ek sal haar vanmiddag nog wegneem. Gelukkig kan tant Kitty na haar omsien. Tussen ons twee sal sy die beste versorging kry. Mag ek hierdie koerant neem?”
“Ja, sekerlik. Vou dit net toe.” Sy neem weer agter haar lessenaar plaas toe die deur agter hom toegaan. Jy is ’n gelukkige mens om Rudolf van der Merwe as beskermheer te hê, Magdaleen Kirschner, dink sy in haar enigheid. Solank jy Madie van der Merwe bly, is jy veilig. Ek hoop jy sal eendag besef hoe gelukkig jy was.
Toe dwing sy haar aandag terug na die hospitaal en sy probleme.
Tant Kitty sukkel om die slaapnewels af te skud, maar toe sy Rudolf se bekommerde gesig hier digby haar herken, is sy meteens wawyd wakker.
“Madie …? Het iets gebeur?”
“Nee, alles is reg. Ek is jammer dat ek tante steur, maar dis belangrik.”
“Ja?” Sy vee oor haar oë en kyk hom bekommerd aan. “Rudolf, moenie vir my goed wegsteek nie; daar skort iets. Het iets met Madie gebeur?”
“Nee, tante. Dit gaan goed met haar. Sy het bygekom.”
“Bygekom! Maar hoekom sê jy my nou eers? Gee my skoene aan.”
“Wag nou, tante. Net ’n oomblik. Daar is eers iets wat tante moet weet voordat ons ingaan na haar toe.”
“Ja, wat is dit?”
“Tante …” Hy soek na woorde en haal die koerant onder sy arm uit, vou dit oop en hou dit na haar uit: “Lees daar.”
Met ’n skerp frons in sy rigting neem sy die koerant. Toe word sy bleek, nes hy ’n rukkie gelede in matrone Nel se kantoor. Eindelik kyk sy ontsteld op. “Ek glo dit nie! Ek sê jou, ek glo dit nie, Rudolf. Jy glo tog nie hierdie … hierdie …”
“Nee, tante, nee. Nie een enkele oomblik nie. Maar besef u dan nie? Kyk na daardie foto. Iemand gaan haar herken. Ons moet haar dadelik hier uitkry.”
“Ja. Ja, kom. Ek sal sommer nou haar goedjies gaan inpak. Gaan haal jou motor en bring dit na die voordeur.”
“Dis nie al nie, tante. Madie of Magdaleen, soos haar naam volgens die koerantberig is, ly aan geheueverlies. Ek het haar nog nie gesien nadat sy haar bewussyn herwin het nie, maar matrone en die suster sê sy kan niks onthou nie.”
“Absoluut niks?”
“Nee.” Hy kyk af op sy hande. “Sy ken glo nie eens haar eie naam nie; weet nie dat sy getroud is nie en … alles. Sy kan niks onthou nie.”
“O, maar dis ’n seën! Daar kon kwalik iets beters gebeur het.”
“Tante, hoe kan u so iets sê? Besef tant Kitty dan nie? Sy is nou heeltemal weerloos. Sy kan niks sê om haarself te verdedig nie.”
“Ja, dit weet ek, maar hulle sal haar nie in die hande kry nie. Ons sal haar goed wegsteek. Aan die ander kant is dit uitstekend dat sy niks kan onthou nie. Kan jy dan nie verstaan nie? Nou kan sy ook nie stry dat sy jou vrou is nie.”
Hy knik. “Ja, dit besef ek.” Hy kyk op. “Tante, ek wil u nie by hierdie ding betrek nie. Ons kan in die tronk beland. Ons gaan … is eintlik reeds besig om landswette te oortree. As tant Kitty voel …”
“Twak met jou, kind. Van wanneer af is ek bang vir die tronk? Ek sal hulle lewe so versuur dat hulle my die tweede dag sal soebat om te loop.”
“Tante, asseblief! Hierdie ding is nie ’n grap nie.”
“Wie sê dit is? Dis jy wat deur jou nek praat, Rudolf. Gee aan my skoene dat ek kan opstaan en gaan inpak. En loop haal jy die motor.” Sy druk haar voete in die skoene en kom toe weer orent. Haar gesig versag toe sy in sy oë opkyk. “Alles sal regkom, seun. Moenie jou so bekommer nie. Kom ons gaan na haar toe. Die arme kind lê en wonder seker al hoe lyk haar mense.”
“Haar mense?”
“Ja. Ek en jy. Ons is mos al wat sy het.”
Hy trek sy asem skerp in en druk haar toe ’n oomblik teen hom vas, sy stem vreemd onvas. “Dankie, tant Kitty. Baie dankie. Verstaan u dat ek nie anders kan nie? Ek kan haar nie nou in die steek laat nie, wat die gevolge ook al mag wees.”
“Natuurlik, seun, ek verstaan. Kom ons loop nou.”
Maar toe hulle voor die kamerdeur kom, huiwer hulle.
“Ek dink jy moet eerste instap. Jy is tog haar man.”
Hy kyk onseker terug. Hulle albei het die afgelope dae gebid dat sy haar oë moet oopmaak … dat sy nie van hulle af moet weggaan nie. Maar noudat dit gebeur het, is hulle albei vreemd bang en senuweeagtig.
“Toe dan, Rudolf, man, stap in. Sy sal nie byt nie.”
Meteens kan hy, ten spyte van al sy kommer, die lag nie terughou nie en teen wil en dank begin tant Kitty se lippe ook plooi. Toe lag sy senuweeagtig.
“Maggies, wat makeer ons? Ons is tog nie bang vir so ’n klein stukkie vel en been nie, is ons?”
Hy haal sy skouers magteloos op. Hy verstaan homself nie meer deesdae nie. Hoekom sou hy senuweeagtig voel om hier in te stap? “Ek ís, tante. Asseblief, stap eerste in, toe.”
Tant Kitty