Ena Murray Keur 14. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
Sy ander arm gaan om haar. “Kom. Ek sal jou ophelp. Kyk of jy op daardie voet kan trap. Jy het dit seker verswik.”
Maar sy ruk los van die sterk arm, probeer wegkom, voel die verblindende pyn in haar enkel, stort weer grond toe. Dan is hy by haar, rol haar saggies om en help haar met sy hand orent, voel die bewing in die skraal liggaam hier teen hom.
“Asseblief! Asseblief! Los my!”
Hy kyk magteloos op haar af. Wat moet hy doen? “Ek wil niks aan jou doen nie, kind. Ek wil jou net huis toe neem. Dis al. Dis baie laat en nou het jy nog seergekry ook.”
Sy kyk stadig op. Dis of sy gerusstellende stem eindelik tot haar verstand deurdring. Verwarring neem die plek van die wilde paniek in haar oë in.
“Maar … u is … was vanmiddag in die kantoor toe …”
Hy knik, glimlag gerusstellend, hoewel hy glad nie daarna voel nie. Sy is pragtig, hierdie kind met die groot oë en swart hare en fyn gelaat. Wat soek sy alleen op straat?
“Ja, ek is dokter Van der Merwe. Ek was laat by die hospitaal besig en is nou eers op pad huis toe. Toe herken ek jou. Ek het gedink ek kan jou gou huis toe neem.”
Haar ooglede sak en ’n frons keep liggies op sy voorkop. Maar hy hou sy stem ongeërg. “Kom dat ek jou ophelp. Hoe voel die voet?”
Sy trap versigtig daarop, maar ’n gilletjie ontglip haar en sy is dankbaar om ’n sterk arm om haar middel te voel, anders het sy weer grond toe gesak. Die stem gaan kalm voort: “Jy het jou enkel lelik verswik. Dit moet onmiddellik behandel word anders sal jy môre glad nie daarop kan trap nie. As jy wil, kan jy saam na my plek kom, dan sal ek dit gou verbind. Dis net daar, in daardie woonstelblok.”
Sy knik gelate. Sy kan nie anders nie. Sy kan tog nie hier op die sypaadjie bly sit nie. En wat sal van haar word as sy môre nie op haar voet kan trap nie? Sy sal nie eens kan vlug as hulle haar wil vang nie. Sy sal saam met hierdie man moet gaan sodat hy eers haar enkel verbind. Sy probeer op een been spring, maar meteens voel sy hoe sy in die lug swaai.
“Ek dink ons sal vinniger vorder as ek jou dra.” Hy dra haar met gemak, help haar in die motor, stap om en skuif agter die stuurwiel in. “Ons is nou daar. Pyn dit baie?”
“Nee, nie te erg nie, dankie.” Haar stem is skaars ’n fluistering en hy praat nie verder nie. Sou sy werklik negentien, amper twintig wees soos sy vanmiddag vir die matrone gesê het? Sy voel soos ’n kind van tien jaar.
Hy swaai die motor by die woonstelgebou se parkeervlak in en sê streng: “Bly sit. Ek gaan net eers oopsluit en die ligte aanskakel. Dan sal ek jou kom haal.”
Die ligte gaan aan en dan is hy weer by haar. Hy tel haar soos ’n kind in sy arms op en stap met die trap op tot by sy woonstel.
Versigtig laat hy haar op ’n rusbank neerlê, sak toe op sy hurke voor haar neer en trek haar sandaal uit. Hy neem die enkel tussen sy hande terwyl sy vingerpunte die skade liggies bevoel. Hy kyk op, vind die groot blou oë op hom gerig.
“Ek sal dit ’n bietjie moet trek. Dit sal seer wees. Leun agteroor teen die kussings en probeer ontspan. Ek sal ’n verband gaan haal.”
Die onbekende meisie lê steeds met geslote oë teen die kussings toe Rudolf van der Merwe terugkom.
Hy beskou die skraal gelaatstrekke ’n oomblik lank aandagtig. Onder die skerp elektriese lig kan hy sien dat sy tog wel negentien kan wees. Sy lyk op hierdie oomblik selfs ouer. Die wange is wit en ingedoke. Donker halfmane lê onder die swart wimpers. Waar sou sy vandaan kom? En waarheen was sy op pad? wonder hy terwyl hy weer voor haar buk en gerusstellend laat hoor: “As ons klaar is, gaan ons eers iets eet. Ek het vanoggend laas geëet. Dan sal ek jou terugneem.”
Die ooglede fladder, die punt van die tong lek oor die droë lippe. Sy frons. Sy is ook honger. Hy het dit reeds vermoed.
Hy het vanmiddag in matrone Nel se kantoor al opgemerk dat sy geen handsak by haar het nie. Sy het niks by haar nie, bloot die bont rokkie en ’n paar wit sandale aan haar lyf. Met ’n vlugtige blik na die bleek gesiggie trek hy hard aan die enkel. Sy skiet regop, die blou oë vol pyn. Toe sak sy terug teen die kussings en hy kom vinnig orent. Sy het flou geword. Hy hurk weer, werk vinnig om klaar te kry.
Toe hy orent kom, lê sy nog doodstil, die swart hare soos ’n wolk oor die kussings versprei. Hy laat haar lê, stap kombuis toe, bekyk die inhoud van sy kruidenierskas. Ligte kos, maar voedsaam. Hy haal sop uit, draai na die stoof toe.
’n Rukkie later kom hy weer die sitkamer binne, ’n skinkbord in sy hande. Hy sit dit neer, raak liggies aan haar skouer. Die blou oë vlieg verskrik oop en hy glimlag stram.
“Dis net ek. Alles is reg. Kom, ons moet nog eet.” Hy help haar teen die kussings op, skuif haar gemaklik reg, laat haar voet op ’n bankie rus. “Jammer. Ek is nie ’n danige kok nie, maar dit sal darem seker goed genoeg wees.” Hy hou hom besig met sy eie beker sop, maar sy oë mis niks. Ná ’n rukkie hou hy sy hand uit. “Daar is nog. Gee, dan gaan haal ek nog.”
Weer gehoorsaam sy soos ’n kind. Hy maak die beker vol, skuif die toebroodjies nader. Toe vra hy ongeërg terwyl hy sy eie beker na sy mond bring: “Is daar miskien iemand wat ek kan bel, net om te sê dat jy veilig is? Jou ma dalk?”
Die beker ruk en die sop loop in straaltjies oor die skraal hande af. Rudolf is dadelik by haar, neem die beker uit haar vingers en haal sy sakdoek uit, begin haar hande afvee. “Het jy nie seer gebrand nie?” Hy kyk op en dit gryp hom aan die hart toe hy die smart in die blou oë sien. Wat in hemelsnaam het in hierdie mens se lewe gebeur dat sy só lyk?
Sy skud haar kop heen en weer: “Nee. Sy is … dood.”
“Wat is jou adres? As jy klaar geëet het, kan ek jou dan huis toe neem.”
“Ek … het nie ’n adres nie.”
Hy frons. “Maar … waar bly jy? Jy moet tog êrens bly. Waarheen was jy op pad toe ek jou netnou gekry het?”
“Nêrens heen nie. Ek het sommer net … gestap.”
Hy onthou nou die dringendheid in haar stem toe sy vanmiddag by die matrone aangedring het dat sy dadelik wil begin werk. Op daardie oomblik het dit vir hom na oorgretigheid geklink. Nou weet hy dit was nood … kale, harde, wrede nood vir ’n dak oor die kop en kos in die maag.
Wat moet hy doen? wonder Rudolf ontsteld. Dis al ver oor middernag. Hy kan haar nie weer in die straat uitstoot nie. Trouens, sy kan nie nou al op daardie enkel trap nie, en dis gedeeltelik sy skuld. Daar is niemand wat hy goed genoeg ken om ’n naamlose swerweling wat hy om middernag langs die straat opgepik het, met vrymoedigheid te huisves nie. As tant Kitty net nader was … Haar hand reik weer na die beker sop. Hy gee dit vir haar aan, hou dit vir haar vas sodat sy kan sluk. Hy kan haar nie sommer net weer wegstuur, êrens langs ’n straat gaan aflaai nie. Sy stoot die beker weg, kyk op en vir die eerste keer sien hy ’n klein glimlaggie om haar mond.
“Dankie. Dit was … lekker.”
“Nog?”
Sy skud haar kop en kyk na haar voet. “Ek … sal nou moet gaan.” Die blou oë kyk selfbewus op in syne. “U was baie goed vir my. Baie dankie, dokter.”
Dit lyk asof sy wil opstaan, en hy hou haar vinnig terug. “Waarheen gaan jy?”
“Ek … sal ’n plekkie kry … dankie. Ek moet nou gaan …”
“Maar waarheen? In hemelsnaam, dis lank ná middernag. Ken jy die stad? Ken jy iemand by wie jy vannag kan gaan bly?”
Sy is reeds besig om haar kop ontkennend te skud toe sy knik. “Ja, natuurlik. Ek … sal regkom.”
Hy weet sy lieg vir hom en sy lippe tuit verbete opmekaar. “Wat is die adres?”
“Adres? Dis … dis naby die stasie. As u my regtig wil … gaan aflaai …”
Sy lyk so pateties dapper dat hy sy hart voel saamtrek. Sy is so ’n