Ena Murray Keur 17. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
net daarin glo, Daniël.”
Hy knik instemmend. “Ek weet, ja, maar … my geloof word klein, Chris. As my eie mense my nie glo of vertrou nie, hoe kan ek verwag ander – wat ek nie eens ken nie – moet aan my onskuld glo! Julle weet … ek kan hierdie ding nou nog nie glo nie. My verstand verwerk dit tot op ’n sekere punt en dan verwerp ek dit. Dis asof ek dit weer van nuuts af moet aanvaar.” Hy knip sy oë vinnig. “Hoe oortuig jy mense van jou onskuld as jy net ’n skoon gewete voor God as bewys het?”
“Jy laat dit aan God oor, Daniël. Hy sal voorsien.”
Maar toe die pastoriepaar groet en vertrek, weet hulle dat daar meer as ’n groot voorsiening vir Daniël sal moet kom. Veral wat Rina betref … Toe Chris Reynders sy oë oopmaak ná die gebed wat hy gedoen het, het hy geweet sy woorde was soos spatsels water teen ’n rotsbank. Dit was duidelik dat sy smeekgebed die verslane vrou nie bereik het nie. Rina Pohl se hart het versteen en hy kon nie meer met sy vrou saamstem dat sy slegs uit skok so heftig gereageer het nie. Binne-in hom het die deernis gegroei … vir Daniël Pohl, vasgevang in ’n web waaruit hy moeilik gaan ontsnap, wat klaarblyklik nie eens op sy vrou se onderskraging sal kan staatmaak nie.
By die pastorie aangekom, trek Bets die twintigjarige Maryke ’n oomblik styf teen haar vas. Sy ontwyk die onuitgesproke vraag in die jong oë en sê net: “Jan kan jou nou huis toe neem, Maryke. Jou ouers het jou nodig.”
Toe die twee jong mense weg is, soek man en vrou in stilswyende aanvoeling die privaatheid van onderskeidelik die studeerkamer en slaapkamer op om voor hul Skepper te gaan kniel.
Rina is besig om die koppies en pierings op die skinkbord te pak toe haar man binnekom nadat hy die predikantspaar by die motor afgesien het. Hy kyk haar ’n oomblik stil aan, maar toe sy die skinkbord wil optel, neem hy dit by haar en sit dit weer neer.
“Rina … kyk na my.” Dit voel vir hom asof hy verswelg in die koue dieptes van haar oë. Maar hy sukkel voort. “Glo jy in jou hart ek het hierdie ding gedoen?”
Dis die oomblik van waarheid. Byna vyf en twintig jaar van samesyn hang in die weegskaal. Dis die kruispad, en die rigting wat hulle gaan inslaan – saam of apart – gaan deur een enkele woordjie bepaal word. ’n Ja of ’n nee …
“Ja.”
Hy verroer nie ’n spier nie. Sy gesig is ’n koue masker. Maar iets binne-in hom sterf … iets wat nooit sal kan herleef nie. Selfs sy stemtoon verander nie.
“Hoekom?”
“As jy onskuldig was, sou jy nie gelieg het nie.”
“Wanneer het ek gelieg? Waaroor?”
“Juis deur die waarheid te weerhou.”
“Watter waarheid?”
“Dat daardie vrou jou herken het. Dat sy jou drie keer as die skuldige uitgewys het.”
“En jy glo haar?”
“Ja. Ek móét. Ek kan nie anders nie. Hoekom sal sy jóú uitwys as dit nie jy was nie?”
Hy skud sy kop verdwaas; die oë wat na haar kyk, het ’n treurigheid in die dieptes. “Ek weet nie. Dis die één vraag wat seker eendag onbeantwoord saam met my na die graf sal gaan. Ek weet regtig nie.”
“Dan probeer jy nog steeds voorgee …”
“Ek gee niks voor nie, my vrou. Ek het nie die krag óf moed om enigiets voor te gee nie. Ek stel net ’n feit en jy hoef dit nie te glo nie: Ek weet nie hoekom sy my as die skuldige uitgewys het nie.”
“Natuurlik omdat jy die skuldige is!” Haar stem is skril. Nou val die kille doodsheid van haar af, en dit is ’n vrou wat, aangespoor deur vernedering, met al die woede waartoe sy in staat is vir hom skreeu: “Jy kan jou onskuldige praatjies aan die dominee en jou kinders opdis, maar nie langer aan my nie! Noudat ek wéét, skuif alles so goed inmekaar. Jy kan my nie langer mislei nie.”
“Jy verstaan hierdie legkaart blykbaar beter as ek. Gee jy om om die stukke vir my ook inmekaar te skuif sodat ek kan sien hoe dit werk, en dit dan probeer verstaan?”
“Nee, ek gee nie om nie, Daniël Pohl. Dit sal ’n plesier wees! Dis al ’n geruime tyd dat jy snaaks optree. En die rede daarvoor sou ek nie eens in my wildste nagmerrievlugte kon droom nie. Toe begin jy my kritiseer, ook in die bed. Ek moes seker kon raai dat daar iemand anders was. Wie my mededinger was, sou ek nog minder in my wildste verbeeldingsvlugte kon raai. Toe begin jy ongemanierd en blatant onbeskof raak. Dié gedrag het jy natuurlik aangeleer by die soort geselskap waarin jy jou die afgelope tyd bevind. En noudat jy vasgetrap is, probeer jy dinge verdoesel. Noudat sy – of een van die klomp – jou uitgeken het, is jy die onskuld vanself. Jy weet kastig glad nie hoe sy jóú as die skuldige kon uitwys nie – ewe min as waar daardie duik aan die Mercedes vandaan kom. Jy wou tot vir my of Johan die skuld gee!”
Daniël staan met sy rug na haar gekeer by die venster en uitstaar. Dan sê hy stilweg: “Ek wou niks op julle rekeninge plaas nie. Ek het net gevra of julle nie iets daarvan weet nie.”
“Natuurlik, ja. Net gevra! Jy weet glad nie waar dit vandaan kom nie, teen watter brug of stootwaentjie jy dit gestamp het nie!”
Stilte. Dis amper asof hy sy polshorlosie kan hoor tik.
“En natuurlik is dit heel toevallig dat jy so skielik besluit het om liewer van die gestampte Mercedes ontslae te raak en ’n goedkoper motortjie aan te skaf. Alles so toevallig … net soos die feit dat jy by die eerste kafee stilhou en sigarette koop om ná jare weer te begin rook. Nadat jy besef het waarmee jy besig is. En jy verwag ek moet al hierdie snert soos soetkoek opeet? Gaan jy dit van die regter ook verwag?”
Hy draai terug en kyk na hierdie vrou wat hy in die beginjare van hul huwelik so hartstogtelik liefgehad het, wat vir hom drie kinders gebaar het. Dan skud hy sy kop. “Nee, Rina. Van die regter verwag ek nog iets. Mag God hom help om ’n regverdige oordeel te vel. Maar van jou … van jou, my vrou, verwag ek niks meer nie. Niks.”
Daniël stap by haar verby na buite, en sy blik val op die fiets wat eenkant staan. Johan moes tog vanmiddag tennis gespeel het … Dan gewaar hy sy seun waar hy by sy kamervenster staan en uitkyk. Hy was dus nie tennis toe nie. Johan het al hierdie bitter woorde gehoor. Hy stap om die blomakkertjie, gaan staan onder sy seun se kamervenster. Hy kyk op, vas in sy seun se ontnugterde oë.
“Ek is jammer, my seun. Pa is innig jammer oor al hierdie dinge. As ek kon, sou ek dit verhoed het. Maar ek weet nie hoe nie, want … Pa se gewete is nog altyd skoon. Johan, dit maak nie saak wat jou ma en die getuies teen my sê nie. Dis skoon voor God.”
Toe hy omdraai en stadig wegstap, sien hy Maryke uit Jan se motor klim. Die kommer en spanning is so helder op die jong gesig afgeëts dat hy dit in die ronding van sy handpalms neem en innig soen toe sy by hom kom.
“My arme dogtertjie … Hoe het dit met die toets gegaan?”
“Goed, dankie, Pa. Hoe … gaan dit hier?”
“Jou ma is binne. Jy moet maar na haar toe gaan. Sy het baie om jou te vertel.”
“Wat om te vertel?”
“Hoe die legkaart inmekaar pas volgens haar. Jy moet maar self oordeel of dit wel so is. Vir my bly dit ’n deurmekaarspul waarvan ek nie kop of stert kan uitmaak nie.”
“Watter legkaart …?”
“Soos sy dit uitlê, pas alles inmekaar, moet ek erken. Maar daar is een stukkie wat nêrens wil inpas nie – my skoon gewete. Dit pas nêrens in jou ma se legkaart in nie.”
Maryke kry haar ma nie in die sitkamer, kombuis of hoofslaapkamer nie. Eindelik spoor sy haar tot haar verbasing in die vrykamer op, besig om klere in die kaste weg te hang.
“Wat maak Ma?”
“Ek hang klere op.”
Maryke kom fronsend nader, ’n onheilsgevoel in haar binneste. “Ek kan dit sien. Dis Ma se klere.”
“Ja.”