Ena Murray Keur 17. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
soos ’n gehoorsame kind, tel die lepel op en begin eet aan die bord pap. Die hele tyd is sy oë strak gevestig op die soutpot voor hom. Die beweging van die lepel na die mond is soos ’n eentonige refleks.
“Pa …” Geen reaksie. Sy probeer weer. “Pa … Pa moenie Ma se houding so aantrek nie. Probeer haar gevoelens verstaan, asseblief.” Stilte. Met bewende lippe gaan sy moedig voort: “Die skok toe sy by Emily – van alle mense – moes hoor daar was ’n uitkenningsparade … Vir enige vrou sal dit iets moeiliks wees om te verwerk. Ek kan dit verstaan. Dis ’n vreeslike ding vir ’n vrou, Pa! Wees tog redelik en regverdig!”
Daniël skuif die leë bord van hom af weg. Dis asof hy nie eens hoor wat sy alles praat nie. “Pa, hoekom … hoekom het Pa dit verswyg? Hoekom het Pá haar nie daarvan vertel nie?”
Die stoel word agtertoe geskuif en hy staan sonder ’n woord op.
“Asseblief, Pa! Ek probeer net help!”
Eindelik kyk hy na haar. “Ek wou haar maar net verdere skok en seerkry spaar. Maar sy glo my nie … en jy ook nie meer nie.”
“Nee! Ek glo Pa! Ek gló!” Sy kom staan langs hom, die nat wange na hom opgelig. “Het Pa dit so aan haar verduidelik? Pa moet …”
Sag, baie sag vee sy wysvinger die een wang droog. “Laat staan maar, my kind. Laat staan maar.”
Verwese kyk Maryke hom agterna toe hy uitloop. Met ’n moedelose sug besluit sy om Johan in sy kamer te gaan opsoek.
Vir die eerste keer in sy jong lewe van sewentien jaar lê ’n hele Saterdag oop voor hom – en hy weet nie hoe hy dit gaan omkry nie.
“Jy moet kom eet, Johan.” Sy voel hoe haar hart vir hom pyn. Hy is nog so jonk! “Wat gaan jy vandag doen?”
“Niks.”
“Dan kan jy gerus die motorhuis ’n bietjie regpak.”
“Goed.”
Sy draai om. Om die motorhuis aan die kant te maak was nog altyd ’n groot straf vir enige jong seun wat liewer wil gaan tennis speel, swem of êrens saam met die maats rinkink. Vanoggend bied dié sleurtaak vir hom ’n uitkoms. Sy kan die verligting duidelik op sy gesig sien. Hy het ’n verskoning om by die huis weg te kruip.
Met ’n skinkbord gedek met ’n ligte ontbyt, stap Maryke ’n rukkie later haar ma se kamer binne. Die vrykamer het vir haar van gisteraand af ’n nuwe betekenis gekry. Sy kyk teen dieselfde kil, beleefde masker van die vorige dag vas.
“Hoe voel Ma?”
“Goed, dankie. Dis gaaf van jou,” en sy neem die skinkbord.
“Het Ma lekker geslaap?”
“O ja. Baie lekker, dankie.”
Dit is ’n blatante leuen, soos die eerste, en Maryke wonder of dit die moeite werd sal wees om weer te probeer.
“Het Ma nou al gedink wat die uiteinde hiervan gaan wees?”
Die ouer vrou hou haar besig met haar ontbyt. Net soos haar man het sy nie die vaagste benul wat sy proe nie.
“Nee, hoe sal ek weet, Maryke? Ons sal maar moet sien wat teen die end gebeur … die regter se bevinding …”
“Ek praat nie van die hofsaak nie. Ek praat van Ma en Pa … van die verwydering tussen julle twee! ’n Mens kan ’n ding ook te ver laat gaan.” Sy moet haar bewende onderlip vasvang. “Asseblief, Ma!”
Die mes en vurk word met ’n klikgeluid neergesit. “En daar is doodloopstrate. Party dinge kan nooit weer reggemaak word nie. Dis ook ’n waarheid wat jy gerus in jou boekie van wyse gedagtes kan aanstip, terwyl jy nou blykbaar besig is om sulke gesegdetjies te versamel.”
Maryke sluit haar oë ’n oomblik. “Nou is Ma tot vir my ook kwaad.”
Rina sit die skinkbord eenkant neer, vou haar hande op die deken. “Nee, Maryke. Ek weet wat jy probeer doen en ek waardeer dit. Maar al dink jy jy verstaan wat aangaan, besef jy nie wat ek werklik deurmaak nie. Hoe kan ’n kind van twintig weet wat in ’n vrou van veertig omgaan? Jy dink dis iets wat ek saam met my klere kan uittrek en in die bad kan afwas. Maar dit is nie so eenvoudig nie.”
“Ek weet, maar …”
“Maar niks, Maryke. Jy wil hê ek moet terugtrek na die hoofslaapkamer, weer ’n vrou vir jou pa wees. Jy besef nie wat jy van my verwag nie. Ek moet weer ’n bed deel met ’n man wat met …”
“Ma mag dit nie sê nie! Pa het nie … Hy sal nóóit …”
“Hy het ’n vrou op straat gemolesteer. Wat sê dit vir jou?”
“Niks! Want hy hét nie …”
“Jy is jonk en onervare. Maar as jy veertig is en weet wat in die wêreld om jou aangaan, sê dit baie. Dit kon die eerste keer gewees het, maar dit is baie, baie onwaarskynlik. Dit moet iets wees wat herhaalde kere al gebeur het.”
“Ma!”
“En dis iets wat in die toekoms weer kan – en sal – gebeur. Dis nie net ek wat so dink nie, maar ook iemand anders wat die lewe beter as ek en jy ken. Ek onthou Emily se laaste woorde aan my voordat sy hier uitgestap het so goed: ‘Mevrou moet hom los. As ’n man eers daardie swakheid het, kom hy nooit weer reg nie.’ Dit weet ek ook, maar jy moet dit nog leer, my slim dogtertjie.”
Maryke hardloop die kamer uit, haar gesig in haar hande verberg. Liewe Here, waarin het ons beland? is die smeekvraag in haar verwarde gemoed.
Sy stap reguit na die telefoon, ’n vasberade lig in haar oë. Delia moet dadelik kom. Haar suster moet kom kyk of sy nie nog iets kan red nie. Ma sal na Delia luister …
“Jy moet huis toe kom, ousus. Dadelik! Ma …”
“Het Ma iets oorgekom?”
“Nee. Sy is nie siek nie, maar … sy is op die rand van iets.”
“Wat? Wat bedoel jy? Het sy ’n ineenstorting gehad?”
“Nee. Maar haar verstand … Sy praat en sê die vreeslikste goed van Pa. Sy het oorgetrek vrykamer toe en … Delia, jy moet asseblief met Ma kom praat!” Die woorde wurg deur die snikke. “Dit gaan vreeslik hier! Jy het nie ’n idee nie …”
“Ek kan nie kom nie, Maryke. Dis buite die kwessie.”
“Hoekom nie?”
“Pieter wil my nie laat kom nie.”
“Maar dis tog jou ma en pa. Hulle het jou nodig!”
“Ek kom nie, Maryke. Ek wil niks met daardie gemors te doen hê nie.”
“Jy … wil nie kom nie?”
“Nee. Ek wil nie. Ek het ’n man en ’n kind om aan te dink. En daar is my skoonouers. As iets ernstigs gebeur … Ma miskien baie siek raak, laat my weet. Tot siens. Sê groete vir Ma.”
Verslae staar die jong meisie na die gehoorbuis in haar hand.
Groete vir Ma … Maar jy het ’n pa ook, Delia.
“O! Maryke! Dag, kind. Hoe gaan dit?”
Sy draai stadig om van die telefoon.
“Môre, tannie Carla.”
“Waar is jou ma? Ek het net vir ’n heen-en-weertjie kom inloer.”
“Sy is in die kamer, tannie. Nee, nie daardie kamer nie … die eerste deur regs.”
“O, dankie.”
Maryke hoor ’n oomblik later die uitroep. “Rina! Ag, mens, moenie so vreeslik huil nie! Alles sal weer regkom.”
Maryke draai om, stap kombuis toe, en begin soos ’n slaapwandelaar die oggend se skottelgoedjies afspoel in die wasbak.
Tannie Bets het gesê die Here sal voorsien. Maar die geloof