Ena Murray Keur 17. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
Nie werklike groot struikelblokke nie. Die afgelope tyd was alles net dood tussen ons. Ons huwelik het eintlik al die afgelope twee jaar of meer tot ’n gewoonte afgestomp. Ook ons lewe buite die huwelik het ’n leë dop geword. Jou ma se ewige brugpartytjies … Dis daar, Maryke, by haar ander ledige vriendinne, waar die ryk teelaarde geskep is vir die wantroue wat sy nou in my het. Haar vriendinne se mans loop almal rond, of is al een of meer keer met ’n geheime verhouding betrap. Hoekom sal haar man dan anders wees? Selfs voordat hierdie ding gebeur het, voordat sy nog die vaagste benul van so iets kon hê, het sy my beskuldig dat daar ’n ander vrou in my lewe is.”
“Maar julle het mekaar tog nog lief!”
“Ek weet nie.”
“Pa!”
“Maryke, jy sal dit nie verstaan nie. Jy is twintig en jy is verlief op Jan Reynders. Jy glo die gevoel wat jy nou in jou hart ervaar, sal ewig duur. Dit sal niks baat om vir jou te sê dit kán sterf.”
“Liefde sterf nooit nie!”
Weer moet Daniël Pohl glimlag. Die jeug het sulke sterk oortuigings oor dinge waarvan hulle geen ervaring het nie! “Daardie stelling leef net in stories, my kind. Liefde kan wel sterf. Ek gee jou vandag my woord daarvoor, en onthou dit wanneer jy en jou Jan eendag getroud is. Liefde wat nie gevoed word nie, sterf.”
“Wil Pa nou vir my sê Pa het Ma nie meer lief nie … wil haar nie meer terughê nie?”
“Ek gaan baie eerlik met jou wees, my kind. Ek weet nie of ek haar wil terughê nie. Ek weet eerlik nie.” Hy staan op. “Het Delia nog nie weer gebel nie?”
“Nee, Pa.”
“Ek het dit eintlik verwag. Die Schellinks sal so ver as moontlik van ons af wil wegbly. En Delia is nou ’n Schellink. Ek het my oudste dogter verloor.”
Hul oë ontmoet en Maryke sê skor: “Ons gesin is besig om uitmekaar te spat … op te breek.”
“Ja.” Hy streel oor haar hare. “Dink jy ek weet dit nie?”
“Maar is daar dan niks aan te doen nie, Pa? Ons kan mos nie toelaat dat ons as gesin ondergaan nie!”
“As jy my kan sê wat ek daaraan kan doen, sal ek dit doen.” Hy frons. “Wat verwag jy van my, Maryke? Sal dit help as ek jou ma laat haal terwyl sy my wantrou en vas glo dat ek skuldig is? Sal dit van ons ’n gelukkige gesin maak? Sal dit ons huwelik red as ek haar dwing om weer saam met my in ons kamer te slaap? Sal dit Delia terugbring, weer van haar my dogter maak, deel van ons gesin, as ek nou uitry Silwer Kronen toe en my voor die Schellinks se voete gaan neerwerp en soos ’n skuldige hond voor hulle rondkruip?” Hy lees die antwoord in haar verslae oë en sluit met ’n stil stem af: “Ek kan net wag, Maryke, net wag en hoop en bid God sal voorsien.”
6
Maar dit begin lyk asof daardie voorsiening gaan uitbly.
In die weke wat volg, word die horison vir die Pohls al hoe donkerder, tuis én in die hofsaal. Selfs in Daniël Pohl Beperk pak die donker wolke dig saam.
Tuis het die situasie niks verander nie. Met elke verbygaande dag het die besef gegroei dat die kans op ’n wonderwerk skraal is. Rina bly steeds in die woonstel wat die Malans tot haar beskikking gestel het. Die eerste twee weke het sy by hulle in die huis gebly, maar Rina, en so ook haar beskermhere, het gou besef dat dit nie gaan uitwerk nie. Net soos die Pohls voorheen was, is die Malans bedrywige sosiale mense. Nie al hul vriende, voorheen ook vriende van die Pohls, het genoeë geneem met die teenwoordigheid van Daniël Pohl se vrou nie.
Dit het die Malans ook dikwels in ’n ongemaklike posisie geplaas om uitnodigings te ontvang wat Rina uitsluit. Party uitnodigings het selfs ’n ondubbelsinnige naskrif gehad: Geen ekstras.
Berta, Rina se gewese brugmaat, het Carla op ’n dag in ’n restaurant trompop geloop. “Carla, jy het vir jou ’n mal perd opgesaal met daardie vrou. Jy moet jou kop laat lees.”
“Daardie vrou is my vriendin. Ek het gedink sy is joune ook.”
Berta bestel eers tee voordat sy antwoord: “Jy hoef jou nie te wip nie. Ek bedoel dit goed.”
“Deur Rina af te kraak as dáárdie vrou – asof sy haar man se doen en late kan verhelp? Kan jy jóú man se stuitigheid verhelp?”
Die oë blits. “Los nou maar my man uit. Nee, ek bedoel dit nie só nie. Natuurlik kan sy nie Daniël se dinge verhelp nie. Dis nie waarvan ek praat nie.”
“Verduidelik dan, asseblief, want ek kan glad nie jou houding verstaan nie. Jy kom nie meer by my vandat Rina in ons woonstelletjie langs die huis ingetrek het nie. Sy is nie ingesluit in jou uitnodigings aan ons nie. En nou moet ek my kop laat lees omdat ek die enigste van haar vriendinne is wat my oor haar ontferm. Genugtig, Berta, dis ’n vreeslike ding wat die arme vrou getref het! Voel jy dan nie eens jammer nie?”
“Natuurlik. Almal kry haar jammer. As dit my man was wat dit aan my gedoen het … ek sou hom met ’n glimlag kon vermoor. Dis nie ter sake nie. Haar intrekkery by jou is wel. Hoe lank gaan dit aanhou?”
“Ek het haar gesê sy kan daar bly so lank sy wil. Dis my woonstel, Berta. Ek kan dit seker beskikbaar stel aan wie ek wil?”
“Ja. Maar jy gaan dalk nog uitvind jou goedhartigheid en jammerhartigheid was ’n groot fout.”
“Hoekom?”
Berta aarsel. Sy moet nou mooi dink wat sy sê. Koos Malan is nie ’n man om sonder handskoene aan te pak nie. “As jy nie self weet nie, sal dit my nie help om jou dit te vertel nie. Jy sal my uitlag.”
“Uitlag? Waaroor? Berta, waarop sinspeel jy?”
Berta sit haar koppie neer. Goed. As sy dit dan wíl hoor
“Ek sê nie so iets sal gebeur nie, verstaan my goed. Maar dis ’n moontlikheid wat jy miskien in gedagte moet hou.”
“Watter moontlikheid?”
“Dat jou jammerhartigheid en diepe simpatie met Rina Pohl jou dalk jou man kan kos.” Vinnig voeg sy by: “Ek het gesê jy gaan my uitlag. ’n Hele paar ander vroue het dit ook baie amusant gevind – totdat hulle begin huil het. Ek waarsku jou maar net, Carla. Ek sou nie graag wou hê dat jy op só ’n manier vir jou goedhartigheid beloon moet word nie. Dis al.”
Carla glimlag, kyk goedig in haar vriendin se oë op. “Jy is verniet bekommerd. Rina sal nie sommer gou na ’n man kyk nie. Jy het nie ’n idee hoe verbitterd sy is nie – nie net teenoor Daniël nie, maar teenoor die hele mansgeslag. Van ’n man wil sy niks weet nie. En Koos … Koos is vir my kwaad omdat ek haar sonder sy toestemming by ons laat bly het. Dit was sy voorstel dat sy liewer apart van ons moet bly. Hy voel blykbaar soos jy oor die saak – dat die kontak met die Pohls, of dan Rina, nie goed is vir ons nie. Ek dink dis baie lelik van julle albei, hoor?”
“Maar dit kan julle net skade aandoen, Carla. Ek stem saam met Koos. Mense wil liewer so ver moontlik van hierdie smerigheid bly.”
“Maar Rina is nie skuldig nie!”
“Skuldig of nie, sy is Daniël Pohl se vrou.”
“Berta, dis verskriklik wreed om …”
“Wreed of nie, my liewe mens, maar dis die lewe.”
Carla skud haar kop. “Wil jy my vertel jy gaan ons vriendskap ook summier afbreek as dit môre aan die lig kom dat Koos êrens skeefgetrap het?”
Berta sug. Jy weet maar net nie … Jou liewe Koos trap al lankal skeef, dink sy. Maar sy waag dit liewer nie om iets te sê nie. Solank hy net nie uitgevind word nie … Dis ook een van die onverstaanbare wreedhede van die lewe. Jy kan alles doen en almal kan daarvan weet, maar jy moet net sorg dat jy nie op heter daad betrap word nie. Dan is jou dade skielik onaanvaarbaar.
“Dit hang darem af hoe en waar iemand skeeftrap. Jy moet erken, Daniël Pohl se skeeftrap was darem kwaai skeef.”
Carla