Ena Murray Keur 17. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
“Nee.”
“Sy is nie vol pes nie en sy sal niemand aansteek nie! Sy het ’n uitkomslag nodig. Sy sit haar dae en nagte om in daardie woonstelletjie.”
“Gaan ry met haar langs die see … maar jy bring haar nié saam troue toe nie, Carla. En ek bedoel dit.”
Carla se oë flits uitdagend. “Dan wonder ek of ons nog sal kom …”
Berta se stem verkil. “Dis jou keuse, Carla. Maar jy is besig om jou pêrels voor die swyne te werp.”
Sy kyk haar vriendin agterna, ’n smalende glimlag om die mondhoeke. Goed. Die toekoms sal leer. Koos Malan het nog altyd ’n dwalende oog gehad, en sy vrou is te onnosel om dit agter te kom. En Rina Pohl, verbitterd teen al wat mansmens is of nie, is meer as tien jaar jonger as haar goedhartige engel. Sy is ’n vrou wat op hierdie oomblik uitgehonger is vir simpatie, en Koos Malan – soos enige man – sal maar te gretig wees om die nodige steun te verskaf. Die heilige Carla sal nog uitvind hoedat goedhartigheid soms teen jou kan draai …
Carla is ontsteld en bekommerd toe sy tuiskom. Toe Koos binnestap, takel sy hom dadelik en vertel hom van Berta se houding oor Rina en die troue. Die res verswyg sy natuurlik. Dit is twak.
“Ek voel nie meer lus om te gaan nie, Koos.”
“Dan gaan ons nie. Ek was in elk geval nie baie lus nie. Berta gee my ’n kramp en ou Theuns irriteer my tot in die afgrond. Stuur net die geskenk. Ons bly tuis. Of wag, hoekom maak ons dit nie ’n aangename aand vir ons drie nie? Ons kan êrens gaan uiteet?”
“Ja! Dis ’n wonderlike plan! Ons gaan eet uit, net ons drie.”
Rina is baie ontsteld toe sy van die nuwe planne vir Saterdag hoor, hoewel Carla dit baie diplomaties aan haar gestel het.
“Koos kan Berta en Theuns mos nie verdra nie. Daar gaan in elk geval soveel gaste wees dat hulle ons nie eens sal mis nie. Ek is ook nie lus vir die ellelange ou toesprake nie. Ons drie gaan liewer êrens eet.”
“Carla, julle bly ter wille van my. Asseblief …”
“Jy is laf! Ek sê jou dan Koos weier om te gaan. Jy mag hom nie teleurstel nie, Rina. Hy bedoel dit só goed. Hy gaan baie seergemaak voel as jy weier om saam te gaan.”
Rina aarsel. “Julle is albei so dierbaar. Ek weet nie wat ek sonder julle sou gedoen het nie. Maar … sal dit van pas wees? Daniël … Daniël kom Maandag weer voor.”
“Dit het mos niks met jóú te doen nie. Daar is niks mee verkeerd om te gaan eet nie, liewe land!”
“Ja, maar …”
“Geen maars nie. Jy sorg dat jy teen sewe-uur reg is en dat jy mooi lyk! Dis ’n bevel!”
Carla lyk baie tevrede toe Rina die Saterdagaand verskyn. Die slonsige, traak-my-nieagtige vrou van die afgelope weke het verdwyn en Carla merk op dat sy baie slanker geword het. Sy stap vorentoe, glimlag goedkeurend vir Rina.
“So ja! Só ken ek mos my vriendin! Lyk sy nie pragtig nie, Koos?”
Koos se blik dwaal oor haar. “Pragtig! Ek gaan my hande vol hê met twee sulke mooi meisies!”
Rina probeer glimlag om die ontsteltenis in haar te verberg. Sy moes liewer ’n nuwe rok vir die aand gaan koop het as om huis toe te bel en Maryke te vra om vir haar een te bring. Sy moes geweet het daar sou moeilikheid kom.
“Die bloue met die lae rug? Ja. Ek weet van watter een Ma praat, maar … wat wil Ma daarmee maak?”
“Ek het dit nodig.”
’n Kort stilte. “Ek sal kyk of ek dit volgende week …”
“Ek het dit vanaand nodig.”
“Vanaand? Waarom?”
“Ek gaan saam met die Malans êrens eet.”
’n Langer stilte. “Het Ma vergeet Pa kom Maandag weer voor – vir die laaste keer?”
“Nee.”
“En Ma wil vanaand gaan jol?”
“Ek gaan éét net, Maryke!”
“Wat maak dit saak?”
Aan die ander kant bly Maryke doodstil. Vir skok, ongeloof en ontnugtering bestaan daar nie woorde nie …
“Gaan jy die rok vir my bring of nie?”
“Ek weet nie hoe om dit daar te kry nie. Ma kan dit self kom haal. Pa is nie hier nie. Hy en sy advokate is besig. Daar is geen gevaar dat Ma in hom sal vasloop nie, as dit Ma keer …”
“Liewer nie. Johan kan dit met sy fiets bring.”
“Nee. Ek sal dit self bring. Ek sal Jan bel.”
Die telefoon se klik was nie die laaste van die storie nie. ’n Ruk later het Maryke die woonstel binnegestap, haar gesig soos ’n donderwolk.
“Hier is Ma se rok en skoene en handtas.”
“Dankie.”
Sy het met oë vol ontnugtering en afkeer na haar ma staan en kyk. “Ma … wanneer kom Ma huis toe?”
“Ek weet self nie.”
“Ma se plek is vanaand by ons huis, nie in ’n restaurant nie. Dis soos die graf daar. Dit voel na … dood. En ek is moeg om Ma se plek vol te staan.”
’n Effens spottende blik word na haar gewerp. “Dit sal jou goed doen. Jy kan solank oefen vir die getroude lewe. Dis nie altyd maanskyn en rose nie, dié moet jy weet.”
“Haat jy hom?”
“Ekskuus?”
“Haat Ma vir Pa?”
“Nee. Ek het geen gevoel in my oor nie, nie eens haat nie. Ek voel niks.”
“As Ma dan niks voel nie, kan Ma mos nie seerkry nie. Kom môre huis toe. Dis dalk Pa se laaste dag …”
Sy kyk weg, sê vinnig: “Jy sal my nou moet verskoon, Maryke. Ek moet begin regmaak …”
Dis of iets in die jong meisie breek. Sy gryp haar ma aan die skouers. “Regmaak! Regmaak vir rinkink terwyl Pa miskien regmaak vir die tronk! Watter soort vrou en ma ís jy?”
“’n Beter vrou en ma as wat Daniël Pohl ’n man en pa was en is.”
Rina word gedwing om haar aandag terug na die werklikheid te bring en op te hou tob oor haar dogter se woorde toe haar gasheer skielik voor haar staan. Koos neem die glasie wyn uit haar hand. “Sal u my die eer aandoen, skone dame?”
Rina knip haar oë, kyk dan onseker na Carla.
“Nee, ek … kan nie dans nie.”
“Natuurlik! Wat is verkeerd daarmee? Gaan dans gerus.”
“Maar jy …”
“Jy sal my ’n guns bewys. My liddoring is vanaand ekstra seer. Toe. Op is jy.”
Hulle dans en sy hoor Koos se fluisterstem intiem in haar oor: “Jy is so styf soos ’n laaistok. Ontspan, Rina! Kom.” Hy trek haar ’n bietjie vaster.
“Ek is jammer,” maak sy verskoning. “Koos, sal my lewe ooit weer normaal wees?”
“Natuurlik. Daar is geen rede hoekom daar nie ’n wonderlike lewe op jou wag nie. Dit hang alles net van jouself af.” Hy streel met sy hand oor haar kaal rug. “Het ek al vanaand vir jou gesê jy is pragtig?”
Sy knik, glimlag effens. Maryke het gepraat van die tronk … Daniël sal darem seker nie tronk toe gestuur word nie?
Koos glimlag ook. Die een se dood is die ander se brood, sê die spreekwoord.
Maryke het nie oordryf toe sy vir haar ma gesê het dit voel doods by die Pohls se groot huis nie. Enersyds is sy bly die