Fees van die ongenooides. PG du PlessisЧитать онлайн книгу.
heelwat te sê gehad het. Toe hy die vorige nag sy nuwe leemetford uit die windsels van sy verpakking losdraai, het hy gevind dat die hele ding in ghries verpak is. Geel ghries. Toegebeplak van die goed. Die geweer sou ná ’n leeftyd op see nie roes nie. Maar dié geweer moes al, sedert Rhodes hom seker ingevoer het vir die Jameson-debakel, in sy ghries en in die hitte van die De Beers-stoor gelê het, en daardie ghries het nou verhard totdat dit ’n soort geel seepklip geword het. Joey het gevee en gevryf en geskraap vir meer as drie lang ure. Uiteindelik kon hy darem met sy laaste bietjie paraffien voldoende beweging in die slot-aksie kry. Hier teen twee-uur die nag was nog net die loop oor, maar die ding was verstop soos ’n snotneus wat versteen het. Die loopstaaf het net gebuig wanneer Joey hom van agter of van voor af probeer in- en deurdruk. Dit was laat, en Joey het toe al baie ure aan gordels, knope, skoene en gespes gepoets, en ’n hele uniform met naald en gare kleiner gemaak. Hy’t toe maar ’n drie-duim-spyker gevat en die voorste ghries uit die bek van die loop gegrawe, só dat niemand dit van buite af sou agterkom nie, en agter by die slot het hy met dieselfde spyker genoeg ghries uitgegrou om darem ’n patroon te kan inkry. Na die ghries binne-in, moes die noodlot nou maar omsien.
Die korporaal by die skietbaan het die nuwe troep Drew deurgekyk. Hy was veral bekommerd oor waar en hoe die man kyk.
“Is jy regs?” het hy gevra.
Joey het instemmend geknik.
“Hoe skiet jy?”
“Geen belediging bedoel nie, maar wat bedoel Korporaal?”
“Links of regs?”
“Ek weet nie …”
“Kom ons probeer links … dis die oog waarmee jy kyk, is dit nie?”
“Ek weet nie …”
Die korporaal het Joey laat lê en oor hom gebuig. Hy het ’n patroon in die loop gedruk en die slot versigtig toegemaak, die kolf teen Joey se skouer gesit, vir hom beduie hoe om aan te lê en te korrel, verduidelik hoe die veiligheidsmeganisme werk, en hom aangesê om te korrel na die teiken en die sneller te trek soos hy hom gewys het.
Joey het die skoot afgetrek.
Menere Lee en Metford sou hulle hande saamgeslaan het.
Die geweer het op ’n vreemde wyse gebars – halfpad langs die loop af. Die slag sou die beste vuurwerkvervaardiger in China jaloers maak. Die korporaal het met duim en wysvinger ’n skerfie metaal en verskeie stukkies hout uit sy goedgeghriesde uniformbaadjie losgewoel en gelyk of hy self gaan ontplof. Hy het doodsbleek begin mompel van ’n krygshof, van oë wat verloor kon word, en hom na die luitenant toe gehaas. Die luitenant het aan die kaptein gerapporteer en dié het persoonlik saam met die bevelstruktuur onder hom kom kyk wat aangaan.
“Wat gaan hier aan, Soldaat?” het hy vir Joey gevra.
Joey het self gewonder wat verkeerd geloop het. Hy’t tog presies gedoen soos die man gesê het! En hy’t geweet hy moes opstaan voor soveel hoëre aandag wat rondom hom – soos om ’n graf – vergader, maar hy kon nie. Sy knieë sou nie. Die slag het hom doof gelaat en hy kon nie behoorlik hoor wat hulle sê nie. Hy het, so met die lê en opkyk, sy hand agter sy oor gehou – om darem te wys hy sou hulle graag wou aanhoor.
“Wat het gebeur?” het die kaptein vir die dowe geskree.
“’n Fabrieksfout … ?” het Joey probeer.
Die kotseltjie ghries voor die loop en die smeersel op die korporaal se uniform het teen Joey getuig. Die kaptein het afgekyk na Joey. Die klein, skeel figuurtjie het bewend van vrees na hom toe opgekyk en terselfdertyd by hom verbygekyk. Die kaptein se harde militêre uiterlike het versag.
“Wat kán jy doen?” het hy soos vir ’n hardhorende gevra.
“Foto’s neem …”
Die kaptein het ontspan. Die mannetjie het dalk tog nut.
“Ons het ons regimentsfotograaf hier, Luitenant.” En alhoewel dit effens oordrewe was om van die Kimberley Town Guard as ’n regiment te praat, was die res van die kaptein se bevele – hy was ’n boekhouer in die burgerlike lewe – uitvoerig en presies: “Registreer hom as sodanig en hou hom weg van die wapentuig en die paradegrond. Ons moet aan ons goeie militêre naam dink. Gee hom ’n vrywilliger se dokumente en rantsoenkaart, maar vat sy uniform en wat oor is van sy wapen terug. Maak ’n lys van alle foto’s wat geneem moet word en die koste daaraan verbonde en sit dit voor parade môreoggend op my lessenaar. Maak die rekwisisies uit vir enige materiale wat benodig mag word, en heg aan vir my magtiging. Hy rapporteer aan jou, so kyk eers na die gehalte van sy werk. Rapporteer daaroor op skrif. En, Luitenant, verander die skietoefening-prosedure sodat alle lope vry van obstruksie verklaar word voor die aanvang van die oefening. Sit dit voor parade môreoggend op my lessenaar. Alle lope eers geïnspekteer voor hierdie oefening voortgaan. Nou!”
Joey se bydrae tot militêre prosedure is dus onmiddellik in werking gestel: eers as ’n bevel langs die bevelstruktuur van die offisiere af, en toe al langs die linie af – van die vrywilligers wat nog gewag het om hulle eerste skoot te skiet. Uiteindelik het dit ’n standaard-instruksie vir die opleiding van junior offisiere geword.
“Alle lope!” was die blaf wat tot die keffery toegevoeg is, en die verlangde antwoord was: “Alle lope geïnspekteer en vry van obstruksie!”
En almal is gewaarsku dat as dié prosedure nié gevolg word nie, jy die slag van ’n “Troep Drew” kan verwag, en daarvoor was die straf erg.
So het die noodlot dan bygedra tot militêre prosedure en tot Joey se lewensgehalte gedurende die beleg van Kimberley.
In die oggende het Joey volgens “regimentêre opdrag” gewerk. Vir die luitenant het dit beteken dat hy die militêre mense moes afneem. Snorre, snorretjies, moestasse en moestassies. Joey het almal gefotografeer: offisiere styf op ’n ry; troepe verstyf tussen die sandsakke, in die loopgrawe en langs kanonne; styfbeveelde manne op parade; die beredenes styf op hulle perde – wat hulle koppe en sterte nie wou stil hou vir die kamera nie. Wasige perdekoppe en -sterte het op die foto’s verskyn en dit het tot die kavalerie-bevel “Alle sterte gevleg!” gelei. Met die koppe was selfs die militêre mense aangehaal, want die diere was lewend meer werd. Die Kimberley Town Guard moes leer dat ’n perd hom net só ver laat militariseer.
Later-aan, nadat die militêre almal gedokumenteer is, moes Joey die baie belangrike persone van die De Beers-maatskappy afneem. Weer snorre en snorretjies en moestassies en moestasse. Daarna is hy aangesê om die dames van die vrouebewegings te fotografeer. Dit was vir Joey interessanter, want hulle was darem nie so eenvormig aangetrek nie en hulle was meer subtiel gesnor. Toe die sportmanne, en so voort.
Maar smiddae moes Joey die “effek van beleg en burgerlike weerstand” verewig. Dis in die middae dat die kunstenaar in Joey gebot, geblom en begin vrugte dra het.
Hy’t so hard gewerk as wat die beskikbare lig en die energie van sy aptekersvriend toelaat. Met die nuwe bron van fotografiese materiaal uit sowel die leër se magasyn as De Beers se stoor, het dinge goed gegaan. Joey het vriende gemaak met ’n ene Mr Owen wat soms as deeltydse fotograaf by De Beers werk. Dié man was gelukkig meestal beskonke en nie ’n goeie toesighouer oor fotografiese materiaal nie. Dit was Mr Owen wat Joey-hulle tydens een van sy skaars deurbrake na soberheid aan die jongste tegnieke en materiale voorgestel het. Joey het besef dat sy mahoniekassie met die blink ogie erg verouderd is, en daar was ’n kamera by De Beers wat ’n perd se stert tot ewige stilstand kon ruk, om nie eens van die kop te praat nie. Joey het, vir alle praktiese doeleindes, vrye gebruik van De Beers se materiaal gehad, veral omdat hy en sy aptekersvriend op die “gebruik een, vat twee” -stelsel gewerk het. Soos werknemers nou maar maak om die voorradeboek te omseil.
Joey het elke middag benut, maar veral Sondae – wanneer die Boere-kanonne die Sabbatsbevel stip nagekom en ná ses dae se gedonder die sewende dag hulle bekke gehou en in stilte gerus het. Dan het hoor en sien vergaan soos al die Kimberliete aan hulle reparasies en skuilings timmer en werskaf. Eintlik het die mense van die dorp ses dae gekoes en die sewende gewerk. Maar ook gedurende die week was Joey en sy kamera orals. Selfs toe die Boere se groot