Kopskoot. Rudie van RensburgЧитать онлайн книгу.
Kassie. En sy pa is juis op die vroeë ouderdom van vyf en vyftig graf toe. Hy wonder of hy nie een van die SAPD se traumaberaders moet gaan sien nie, maar skud dan sy kop. Dit sal darem ietwat van ’n oorreaksie wees.
Toe die telefoon in die studeerkamer skril lui, weet Kassie wie dit is. Hy oorweeg eers om dit nie te beantwoord nie, maar stap nogtans soontoe en tel die gehoorstuk op. Dit help nie om die onvermydelike uit te stel nie.
“Hallo, Seunie,” kom sy ma se stem krakerig oor die foon.
“Haai, Ma,” sê hy terwyl hy ’n Lucky Strike aansteek en die rook in ’n dun straal voor hom uitblaas.
“Rook jy?” vra sy ontsteld.
“Nee … nee, Ma, ek sug sommer,” sê hy vinnig.
“Sug?”
“Ja, dis ’n sug van verligting. Die dokter sê ek’s springlewendig en daar is hoegenaamd niks verkeerd met my nie.”
“Ai, Seunie, ek’s só dankbaar,” sê sy ma met ’n aangedane stem. “Jy weet, met jou pa wat ons so vroeg gegroet het, bly ek maar bekommerd oor jou gesondheid. Ek gaan nie nóg ’n begrafnis oorleef nie. Veral nie van my enigste kind nie. Moet nou nie weer ses jaar wag voor jy dokter toe gaan nie. En jy’t nog nie weer begin rook nie, nè?”
“Nee, Ma.”
Toe hulle klaar gepraat het, staan Kassie nog lank met die gehoorbuis in sy hand, sigaret in die mond. Hy voel skuldig, maar hy móés ’n noodleuentjie vertel. Sy ma is tagtig, hy wil haar nie ontstel nie. Hy sal sy las alleen dra … en binnekort ophou rook.
Hy maak koffie en gooi vier opgehoopte lepels suiker in. Die dokter het aanbeveel hy moet voortaan rooibos drink, verkieslik bitter. Hy stap met die beker koffie sitkamer toe en gaan sit in sy leunstoel, tuur peinsend na die losgetorringde punte van sy skaapvelpantoffels. Dit herinner hom aan afgesuigde mangopitte.
Hy sug. En nou is Rooi ook moontlik vort. Sersant Rooi Els, sy skaduwee van die afgelope amper drie jaar en die man wat sy lewe die keer met die wapensmokkelaars gered het. Hy gaan Rooi mis. Hy het vir kolonel Daniels gesê hy wil nie weer ’n handlanger hê nie. Hy wil voortaan weer op sy eie werk. Sonder Rooi daar verkies hy dit so.
“Ons is tans dun aan mannekrag, Kassie,” was die kolonel se reaksie. “So ja, jy sal jou sake alleen hanteer, maar dit gaan net tydelik wees. Jy sal binnekort weer iemand onder jou vlerk moet neem. Jy weet goed dis maar die gebruik hier … en buitendien is dit jou plig as ou hand om die youngsters touwys te maak.”
Kassie snork. Dit het nie veel tot die SAPD se opleidingsplan bygedra dat hy Rooi die fynere aspekte van die speurkuns geleer het nie. Daar foeter hy nou heel moontlik na ’n groot maatskappy se sekerheidsafdeling toe.
“Hoof van security, Kassie,” het Els hom trots ingelig. “En met ’n pay wat my salarissie by die Diens na kleingeld sal laat lyk.”
Geld, altyd geld, dink Kassie. Dis die grootste rede waarom die SAPD hul belowende mense verloor. Vandag se jonges jaag net geld. Dit gaan nie meer vir hulle oor die saak nie … soos sy geslag polisiemanne altyd hulle broodkrummels probeer regverdig.
Hy blaas eers lank in die beker voordat hy ’n slukkie koffie neem. Hy is verlig sy belangrikste dossiere is afgehandel. Dit gee hom tyd om voor te berei vir die jaarlikse seëlfees. Hy het reeds sy verlofvorm ingevul, Daniels moet dit nog net teken. Buitendien hoor hy allerlei gerugte oor die seëlfees. Hy gaan vanjaar skynbaar ’n groot rol daar speel. Die organiseerders is nog geheimsinnig daaroor, maar hy het ’n vermoede wat hulle vir hom beplan.
Hy glimlag. Dit gaan groot uitdagings aan hom stel. En natuurlik ook help om sy gedagtes af te lei van sy kritieke gesondheidstoestand.
’n Ligte klop aan die voordeur laat hom met ’n frons opkyk. Wie sal nou laatmiddag so lastig wees?
Rooi Els staan rooi, kort en breed in die deur.
“Dog jy’s vir jou laaste onderhoud by daai ouens wat jou ’n miljoenêr gaan maak?” sê Kassie verbaas.
Els glimlag. “Ek’t besluit om te bly.”
“Te bly?”
“By die Diens, Kassie. Ek het daai ouens vandag gesê … dat ek mooi oor als gedink het. Ek wil ’n poeliesman bly.”
Kassie klap Els hard teen die arm. “Bliksem, Rooi, ek’s lus en soen jou!”
Els se sproetgesig is een breë glimlag. “Ek’t die afgelope tyd nie geslaap oor die werkstorie nie. Die geld is goed, maar dié tipe werk sou my knak. Dis eintlik net hope admin, ’n bietjie kantoordiefstal en sekerheidswerk by die ingange. Jy hoef nie speuropleiding te hê om dit te doen nie.”
“Beste besluit wat jy nog geneem het, Rooi. Kom ons gaan sit en vier dit. Kan ek vir jou iets skink?”
“Ja, dit sal lekker wees,” sê Els met opgetrekte wenkbroue, “maar van wanneer af hou jy dop in jou woonstel aan?”
Kassie lag verleë. “Wat van ’n yskoue Creme Soda?”
4
Mike Duvenhage kreun van genot. Haar vingerpunte speel eers sag langs sy rugstring af, van sy nek tot kort duskant sy stuitjie. Dan begin masseer sy hom met mening. Haar vingers delf dieper in sy rugspiere in. Sy moet strek om by sy skouerblaaie uit te kom. Die punte van haar naakte borste raak liggies aan sy vel.
Sy drup nog olie op sy rug, vryf dit in en knie hom dan met haar elmboog langs sy rugstring af. Dit is seer. Sy beweeg na sy bene, haar olierige hande gly gemaklik oor sy styfgespande spiere. Elke keer stop sy diskreet kort duskant die handdoekie. Sy kap sy kuite met die kante van haar oop hande soos mini-karatehoue. Dan klim sy op die masseerbank en sit met oopgesperde bene bo-oor sy voete met haar knieë weerskante van hom. Haar duime druk diep in sy kuitvleise. Sy beweeg dit stadig en ritmies op en af. Haar sagte dye skuur teen sy enkels.
“Jy kan maar omdraai,” sê sy.
Hy maak so en rangskik die handdoekie self weer oor sy lieste. Sy klim soos ’n Olimpiese gimnas van die masseerbank af sonder om haar arms te gebruik. Haar deurskynende deurtrekker vertoon ’n donker bossie hare. Sy spuit olie uit ’n botteltjie in haar hand.
Haar advertensie in die koerant sê sy is ’n brunet, agt en twintig, mooi gebou en reg vir enigiets (in vetdruk) wat haar kliënt verlang. Sy is nie agt en twintig nie, eerder vyf en dertig, skat hy. Nie sleg gebou nie, maar haar borste het al ’n kind of twee gevoed. Dit hang skommelend bo sy gesig terwyl sy sy skouerknoppe invryf, haar donkerbruin tepels enkele sentimeters van sy neus af. Hy sit sy hand op haar een bors en vryf die tepel tussen sy voorvinger en duim tot dit erek is.
Sy kom orent en begin sy borskas saggies streel met haar vingerpunte terwyl hy met sy ander hand haar broekie aftrek. Sy hande gly oor haar boude. Sy was lank gelede seker mooi, dink hy. Maar haar gesig het nou harde lyne en haar dun, onverbiddelike lippe is rooi gelipstiffie teen ’n poeierwit vel. Haar grysblou oë is koud en gevoelloos.
Toe sy die handdoekie van hom aftrek en sy ereksie omklem, gee hy hom oor aan die oomblik. Met geslote oë drink hy die genot van haar ritmiese handbewegings in. Hy kreun saggies toe die warm vloeistof soos die lawa van ’n vulkaan oor sy maag stort.
Hy vertoef net enkele minute onder die stort, trek dan aan en betaal haar. Hy sal nie weer van haar dienste gebruik maak nie. Sy goue reël is om nooit terug te kom na dieselfde een nie. Sy foto is te veel in die koerant, hulle kan hom herken. Nie dat dié soort meisie ooit die sakeblaaie van koerante of tydskrifte deurblaai nie, maar hy verkies om veilig te speel.
Toe hy in sy motor klim, is sy gedagtes vinnig by sy werk. Die komende maand of twee gaan uitmergelend wees. Nou lê dit tussen hom en Frank Anderson vir die pos van besturende direkteur, wat sy kanse aansienlik beter maak as toe daar vyf kandidate was.
Mike was aanvanklik teleurgesteld. Hy was oortuig sy lang lys prestasies by die maatskappy en sy voorlegging aan die direksie sou die knoop deurhak. Maar hy was verkeerd. Hulle moes iets in Anderson gesien het; dalk was sy voorlegging