Kopskoot. Rudie van RensburgЧитать онлайн книгу.
moes hulle beïndruk het.
Hy en Anderson is twee dae gelede ingeroep deur Nols Wyngaardt, stigter, direksievoorsitter en huidige besturende direkteur van Finco. Die ou man was eerlik met hulle, soos hy altyd is.
“Die direksie kon nie ’n finale besluit neem oor wie van julle twee die leisels by my gaan oorneem nie. Ons het besluit om die aanstelling met ’n maand uit te stel. Gaan bloot voort met julle werk soos voorheen. Ek sal mettertyd my finale aanbeveling aan die direksie voorlê.”
Dit was duidelik die sewentigjarige Nols gaan uiteindelik die laaste sê hê. Soos hy altyd in die meeste belangrike maatskappybesluite gehad het.
Vir die soveelste keer weeg Mike homself op teen Anderson. Op ses en vyftig is hulle ewe oud. Mike is hoof van Finco se individuele langtermynbesigheid, Anderson staan aan die stuur van korttermynbesigheid. Mike is al vier jaar in dié pos. Hy het dit gekry op ’n tydstip toe die wêreldwye resessie in sy beginstadium was. Agter hom lê ’n paar harde jare, maar hy het goed gedoen. Die bedryfswins van Individuele Besigheid het jaarliks gestyg met tussen veertien en sewentien persent.
Hy het ook die grondslag gelê vir heelparty inisiatiewe wat in die toekoms groot dividende sal afwerp. Hy het produkaanpassings geïmplementeer wat voorsien in die veranderende behoeftes van die mark. Hy het drastiese aanpassings gemaak om dienslewering aan kliënte en voornemende kliënte te verbeter. Hy het met sorg omgesien na sy topadviseurs. Hy het bykomende kursusse aangebied vir die ander eenduisend-vyfhonderd adviseurs om hulle te help om hul werk kostedoeltreffender en beter as voorheen te doen.
In teenstelling daarmee het Anderson, voorheen hoof van die sukkelende Werknemervoordele, met sy gat in die botter geval. Toe hy twee jaar terug hoof van Korttermyn-Besigheid geword het, was hulle teen die planke. Brande, oorstromings en diefstal het Finco se wins weggevreet. Toe swaai alles om. Natuurrampe was skielik afwesig in Suid-Afrika asof Anderson ’n towerstaffie geswaai het. Met diefstal het hy slim planne beraam, die kliënte gedwing om verskeie sekerheidsmaatreëls in te stel om te kwalifiseer vir volle uitbetaling. Die maatskappy het wel só kliënte verloor, maar dié wat oorgebly het en die nuwe kliënte verseker winsgewende besigheid. Anderson se bedryfswins van ses en twintig persent verlede jaar moes die direksie beïndruk het.
Ná twintig minute op die pad sien Mike die indrukwekkende hoofkantoor van Finco. Die spierwit gebou skep ’n aangename kontras teen die blougrys van Tafelberg. Finco is nou die derde grootste verskaffer van finansiële dienste in die land, hul groei van die afgelope tien jaar fenomenaal. Hulle het die twee grotes die stryd aangesê en is besig om hulle ernstig skrik te maak.
Hy parkeer diep onder die gebou, in die area gereserveer vir die Groot Sewe, soos die Finco-exco bekend staan by die maatskappy. Hy merk op die ou man se motor is nie daar nie; deesdae bepaal hy sy eie ure. Mike klim in die hyser wat gereserveer is vir die Groot Sewe en beweeg direk op na die negende verdieping.
Hy betree die uitgestrekte ruimte waar die topbestuurskantore geleë is. Hy hou van die nuwe gebou en veral van die negende verdieping se interieur. Die byderwetse argitektoniese en industriële glansstyl met staalsteunbalke, ontblote dakkappe, glasstene, chroom, aluminium, rousteen en groot dakvensters skep die indruk van innovasie en sukses.
Gloria, sy sekretaresse, kom vinnig orent toe hy sy ruim hoekkantoor nader. “Meneer Duvenhage, die hele plek soek jou!”
Hy glimlag net. “Wel, hier is ek. Sê vir hulle jy het my gekry.”
“Mike!” hoor hy iemand agter hom roep. Dis Desmond Vula, die hoof van Openbare Betrekkinge.
“Daar’s ’n lekker geleentheid vir jou om môremiddag op Summit TV oor langtermynversekering te gesels,” sê Desmond. “Daar gaan vier paneellede wees en hulle soek een van ons. Die ander drie paneellede is almal besturende direkteure van ons opposisie.”
Normaalweg sou hy só ’n versoek van die hand gewys het, dit gedelegeer het na iemand onder hom. Dit pas hom nie regtig nie, veral omdat hy môreoggend Johannesburg toe moet vlieg daarvoor. Maar aangesien hy nou soveel positiewe blootstelling as moontlik moet kry, knik hy instemmend.
“Reg met my,” sê hy.
“Thanks, Mike,” sê Desmond en drafstap met ’n breë glimlag terug na die hysers wat die algemene personeel gebruik.
Gloria lyk verslae. “Maar meneer Duvenhage, jy het twee belangrike afsprake môre, met die streekhoofbestuurders van die Vrystaat en Oos-Kaap. Hulle kom spesiaal …”
“Herskeduleer,” sê hy. “Pas hulle iewers in as ek terug is.”
Net voor hy by sy kantoor instap, vra hy: “Enige dringende boodskappe?”
“’n Klomp,” sug Gloria, “ek het dit op Meneer se lessenaar neergesit. Meneer se vrou het ook gebel. Sy vra of Meneer ná werk vir Bertus by sy krieketoefening kan gaan haal.”
Hy skud sy kop. “Laat weet haar ek gaan laat werk, sy sal ’n ander plan moet maak. En bespreek vir my op British Airways ’n tienuurvlug vir môreoggend.”
Hy is bly die ander maatskappye stuur hul besturende direkteure na die paneelbespreking. Dit verleen status aan die geleentheid. Dit gee hom ook die kans om te wys hy hoort in daardie geselskap. Hy kon nog altyd goed uit die vuis praat en hy ken sy vakgebied.
Hy blaai vlugtig deur die hopie boodskappe op die glimmende eikehoutlessenaar, frommel dan die velletjies papier ongeërg op en gooi dit in die snippermandjie. As dit dringend genoeg is, sal hulle hom wel terugbel.
Hy sien op sy rekenaarskerm Vula het pas ’n interne e-pos uitgestuur aan die sesduisend-agthonderd werknemers van Finco oor Mike se verskyning môre op die kassie. Hy glimlag tevrede. Dit gaan Frank Anderson in sy koffie laat stik.
5
Katrien staan terug en beskou haar handewerk. Ten spyte van haar aanvanklike weersin en steeds die vertwyfeling oor wat sy doen, moet sy erken dis ’n meesterstuk. Die sterk okerkleure afgewissel met grysblou, diepgroen en helderwit is haar gunstelingkleure. Ook die figure is tipies dié van Irma Stern. Elke kunskenner sal die skildery onmiddellik eien as dié van die Suid-Afrikaanse kunstenaar wie se werke tans die hoogste pryse op kunsveilings behaal.
Sy weet nou Rocco het haar in ’n strik laat trap. Hulle het nie toevallig daardie aand oor Irma Stern begin gesels nie. Die gesprek so twee maande gelede oor ’n glas rooiwyn voor die kaggelvuur was met voorbedagte rade.
“Sommige van Irma Stern se skilderye haal deesdae meer as twintig miljoen rand,” het hy gesê. “Ek wonder wat sy daarvan sou sê as sy nog gelewe het?”
Katrien het gelag. “Sy sou dit self nie kon glo nie. Veral nie omdat sy bloot ’n nabootser van Duitse Ekspressioniste was nie. Sy was nooit regtig oorspronklik soos byvoorbeeld Walter Battiss en ’n klomp ander nie.”
Sy wenkbroue het gelig. “Hoe kan jy só sê? Die kunskenners weet seker wat hulle doen. Battiss se skilderye haal nie naastenby daardie soort geld nie.”
Met haar deeglike kunsopleiding en kennis van kunsgeskiedenis is dit ’n onderwerp waaroor sy passievol is, al is sy in die minderheid van kunskenners wat Stern se werk nie werklik hoog ag nie.
“Stern het haar kunstande in Duitsland geslyp,” het sy verduidelik. “Daar het sy deurmekaar geraak met die Brücke-groep, wie se kunsbeweging later as Duitse Ekspressionisme gedoop is. Die meeste van haar skilderye trek maar sterk op hulle werk. Sy kon haar nooit losskeur van daardie styl nie. Die ooreenkoms is só groot dat jy op ’n uitstalling haar werk moeilik sal kan onderskei van die meeste van die Brücke-groep se kunstenaars.”
Rocco het sy kop geskud. “Nou waarom haal haar skilderye dan sulke astronomiese pryse? Daar moet tog ’n rede wees.”
“Dis ’n unieke styl vir ’n Suid-Afrikaner. Maggie Laubser het die naaste aan haar styl gekom en sy was ook deur Duitse Ekspressionisme beïnvloed. Maar min van hul skilderye het ’n ware en unieke Suid-Afrikaanse gevoel soos Battiss en Pierneef s’n.”
“Hmmm … Daar’s ’n ander ding wat nie vir