Gerugte van reën. André P. BrinkЧитать онлайн книгу.
het die geweld begin uitbrei. Oral van die Rand af het polisieversterkings begin saamtrek op Westonaria. Nog voor hulle volledig kon mobiliseer, het die mynkantore in ligte laaie gestaan. Gelukkig het die mynbestuurder daarin geslaag om net betyds weg te kom. Daarop het die stamgroepe – Xhosa’s, Zoeloes, Tswanas en Sotho’s – mekaar begin toetakel. Dit gebeur mos altyd. En eers teen Sondagmiddag kon die polisie dit waag om te gaan opruim.
Maandag het ek Charlie Westonaria toe gestuur om te gaan bestek opneem van die situasie, en die volgende oggend het ek self gaan kyk. Die polisie – daar was nog ’n stuk of honderd man met outomatiese wapens ’n ent van die ingang af op wag – was nie danig gediend met die gedagte dat ek my op die terrein waag nie.
“Dit sal nie die eerste keer wees dat ek met ’n spul oproeriges praat nie,” het ek my verweer.
Maar ek was tog nie baie op my gemak toe ek voor die groot hek stilhou en toeter nie. In die verte was mense in blou oorpakke besig om die teer skoon te spuit. Net doodkalm bly, het ek besluit. Wat jy ook al voel, moenie dat hulle agterkom jy voel ongerus nie. Dis soos ’n kwaai hond: as hy sien jy’s nie bang nie en jy kyk hom in die oë, dan kry hy respek.
Dit was Charlie wat hek toe gekom het. Maar op sy hakke was daar ander – ’n voorhoede van tien of twintig, en ’n ononderskeibare gepeupel in die verte. Nou nie meer soos die vorige week gehul in jasse nie, maar kaal of halfkaal in weerwil van die Juniekoue. Die skokkendste was om Charlie self so soos ’n barbaar te sien lyk.
Ek het by die venster uitgeleun.
“Maak oop, Charlie. Ek wil met hulle praat.”
“Nee!” het hy teruggeroep.
Agter hom het die voorhoede effens nader gekom.
Ek het die Mercedes afgeskakel en uitgeklim om hulle te wys ek is manalleen en ongewapen en nie bang nie.
Weer daardie gemor van bye van die ander dag.
“Hulle wil jou nie hier hê nie,” het Charlie gesê.
“Ek kan mos nie net hier omdraai soos ’n papbroek nie! Wat sal oorbly van my gesag?”
“Daar’s klaar niks oor nie.”
Agter sy bril het sy oë my weer opgeval: nou meer opgehewe, bloedbelope as gewoonlik. Het hy die nag nie geslaap nie? Of die een of ander onnoemlike brousel saam met die spul gedrink?
“Charlie, maak oop die hek!” het ek gebied.
Hy het die slot oopgesluit, maar die hek net op ’n smal skreef oopgestoot en met sy maer, skewe lyf uitgekom na my toe. Agter hom het die drom mense nog nader gestoot.
Toe vang hy my heeltemal onverhoeds. Hy draai half om na hulle toe en stoot sy vuis in die lug en skreeu iets. ’n Oomblik later buk hy en tel ’n baksteen op. En terwyl hy my aankyk, sy gewone glimlag verstrak tot ’n grimas, smyt hy met albei hande die baksteen dwarsdeur my voorruit. In die kampong gaan ’n geskreeu op. En ’n ent agter my hoor ek polisiemotors in beweging kom.
Ek het nie langer gewag nie. Ek het in die Mercedes gespring, ’n stuk van die versplinterde ruit uitgestamp en gemaak dat ek wegkom. Tussen my en die hek het ’n wolk stof in die lug bly hang.
“Wat het jou besiel?” het ek verwoed gevra toe Charlie die volgende oggend gehawend en uitgeput by die kantoor terugkom. “Het jy weer ’n bleddie barbaar geword of wat?”
Dié keer het hy nie geglimlag nie. “Wat wou jy hê moes ek doen?” het hy gevra. “As ek jou nie skrikgemaak het nie, het hulle jou daar uitmekaar geskeur. En nie net vir jou nie, maar vir my ook.”
“Wás dit toneelspel, Charlie?” het ek gevra, met ’n strammigheid in my keel.
“Ek wil bedank,” het hy skielik gesê. “Ek kan nie so aanhou nie. Ek is ’n sell-out, dis al. Ek knoei al glad saam met julle.”
“Jy is net oormoeg, man. Daar’s tog g’n sprake van sell-out wees as jy help om bietjie rus en vrede te stig nie.”
“Deur my eie mense uit te verkoop?”
“Dis net ‘uitverkoop’ as jy dink in terme van groep teen groep. Hier is tog iets belangrikers op die spel, man.”
“Wie het ons geleer om te dink in terme van groep teen groep?”
“Wees nou redelik, Charlie.”
“Ek is gatvol vir redelikheid.”
“Wil jy regtig soos een van daardie spul word?” vra ek en kyk hom stip aan. “Jý?”
Deur sy ou, moeë, verkleurmannetjie-oë kyk hy my aan, asof hy my oor ’n groot afstand skaars kan sien. God, besef ek: die man ís gedaan.
“Sal jy my help?” vra hy. Sy stem klink soos droë gras wat skuur oor klippers. “As ons saam iets uitwerk, kan ons miskien deurbreek. Hulle het nou begin bedaar.”
“Ons kan. Natuurlik. Ek sal Maandagaand terug wees – ek moet die naweek weg.”
“Dit sal beter wees as ons die saak eers regsien.”
“Dis onmoontlik, Charlie. Ek móét Oos-Kaap toe. Dis dringend. En jy sê self hulle is nou uitbaklei.”
“As dit dan nie anders kan nie.” Hy glimlag uit blote gewoonte, totaal vreugdeloos. “Maar dis jammer. Dis bliksems jammer.”
Dit was eienaardig hoeveel teenstand ek moes oorkom om daardie naweek weg te gaan plaas toe, asof allerhande mense en dinge my wou belet. Charlie. Bea natuurlik, die dringendste van almal. Maar ook Elise, wat tog deur twintig jaar getroude lewe aan my kom en gaan gewoond moes geraak het.
“Ek kan nie verstaan wat jy vir ’n naweek daar wil gaan doen nie, Martin. As jy nou behoorlik vakansie wil neem vir ’n paar weke, dan kan ek en die kinders ook saamgaan.”
“Dis onmoontlik.”
“Maar dis so ver vir ’n naweek. In jou toestand.”
“Hou in vadersnaam tog op om so van my ‘toestand’ te praat asof ek swanger is of iets.”
“Maar dis nog skaars drie maande vandat jy –”
“Wat daarvan? Ek gaan tog nie die res van my lewe ’n invalide bly nie.” Ek het ’n ingewing gekry: “Buitendien wil ek vir Louis saamneem.”
Dit het haar verras. “Louis?”
“Dis hoog tyd dat ek en hy ’n slag alleen by mekaar uitkom. Hier lê hy nou al van Februarie af rond. Wil nie terug universiteit toe nie, wil niks meer doen nie. En dit help nie om hom trompop te loop nie, dan slaan hy net toe. Maar as hy saamgaan, dan kan ons ’n slag die saak tussen mansmense uitpraat.”
“Belowe jy?”
“Ek sê jou mos.”
Sy het my ’n rukkie stil sit en aankyk. Ons was nog aan tafel; die leeslamp in die hoek het gebrand. Ilse het vroeg al verskoning gevra en in haar kamer gaan leer, dit was eksamentyd. Louis was – êrens. Hy het nie ingekom vir aandete nie. Dit was ongewoon dat ek en Elise so alleen was vir aandete: gewoonlik het ek laat gewerk en sommer iets in die oond gekry as ek terugkom; anders was daar ’n partytjie of ’n onthaal of iets. Maar ek het direk van Westonaria af huis toe gekom, moeg en ontsteld ná wat daar gebeur het, en nie lus vir argumenteer nie.
In die stilte moes ek na haar kyk, van haar kennis neem. Miskien was dit die lig so van die kant af wat my vir die eerste keer pertinent laat besef het: sy word ook ouer, sy lyk haar jare, twee-en-veertig. Met hier en daar ’n grys strepie in haar donkerblonde hare, argeloos in ’n bolla agter haar kop vasgemaak. ’n Ou, vormlose trui los oor haar skouers, hoewel die binnenshuise verhitting dit eintlik onnodig gemaak het: sy het dit buite in die tuin aangehad, en versuim om dit uit te trek met die binnekom. Maar haar oë was nog die intense blou van hoeveel jare gelede, die Sondag op die plaas. Dieselfde blou, maar seker nie dieselfde uitdrukking nie. Weer ’n kwessie van Songs of Innocence – Songs of Experience? Eerder, eintlik: glad geen song meer nie. Ek dink dit is wat my die aand